Die noodsaak van bekering

Markus 1: 14-15

Sien in u geestesoog die volgende scenario: Twee mense (sê maar mans) is besig om afdraende te hardloop: reguit hel toe. Weg van God af. Hulle hardloop soontoe, want hulle het ’n onbetaalbare reusagtige sondeskuld by God. Dit maak ’n MUUR tussen hulle en God. Maar toe stuur God een van Sy amptenare agter hulle aan met ’n boodskap. Uiteindelik hardloop die boodskapper hulle in en hygend sê hy:

“ Julle ouens kan maar omdraai, terug na God toe. Want, Hy het my gestuur om vir julle te sê dat Hý al julle skuld betaal het. Hý het alles tussen julle en Hom reggemaak op Golgota. Draai maar om ”

Een van die mans se oë begin blink en hy glo onmiddelik dit wat die boodskapper sê. En omdat hy glo, steek hy in spore vas en draai hy om – terug na God toe. Maar, die ander man lag die boodskapper af – “ ag, dit is tog absurd – dat God my hemelhoë skuld kon afskryf en my die hel kon kwytskeld – NOOIT – dis verregaande – so-iets kán nooit gebeur nie ” – en hy hardloop doelbewus verder – hel toe …

Vraag: Waar gaan die tweede man eindig? Antwoord: Dáár waar hy gekies het om heen te gaan: die ewige verderf. Hoekom? Omdat Hy God tot leuenaar gemaak het en nie die boodskapper wou glo nie en dáárom nie omgedraai het nie.

Vraag: Waar gaan die eerste man eindig? Antwoord: Vir ewig by die Here. Waarom? Omdat hy geglo het en omgedraai het?? Nee – omdat God Sy skuld op die kruis uitgevee het! – en dáárom kon hy omdraai terug na God toe! Hy draai om OP GROND VAN die INHOUD vd verbysterende boodskap van God: “Ek het jou sondes in my Seun Jesus Xp se vloekdood gestraf en afgeskryf ”. Dit is dus nie sy OMDRAAI wat hom red nie, maar die inhoud van die boodskap wat hy begin glo – DIT red hom. Hy red nie homself met sy eie omdraai nie. Maar hy draai om omdat hy die boodskap hoor (en glo) dat hy gered is deur God se ontferming!

Vraag: Maar, indien dit dan nie sy omdraai is wat hom red nie, waarom moet hy dan omdraai? Indien die hel hom kwytgekeld is deur Jesus se bloed, waarom dan nog moeite doen om OM TE DRAAI? Waarom is die omdraai noodsaaklik? Antwoord: Indien hy nie omdraai nie, bewys dit dat hy God tot ’n leuenaar maak en God se reddingsdaad in Sy gesig teruggooi en voortgaan met hel toe hardloop en uiteindelik ook dáár sal eindig.

Hierdie beeld help ons om Jesus se ernstige woorde in Markus 1: 14&15 te verstaan, waar Hy vir die mense van Galilea sê: “God het Sy koninkryk tot by julle gebring. Daarom: Bekeer julle en glo die evangelie”. Die woord BEKERING is ’n Hollandse woord wat OMDRAAI beteken. Maar hoor wat sê Jesus: Om om te draai en om te glo is sinonieme. Dit is twee kante van dieselfde munt. Wanneer ’n mens – wat op pad is om hel toe te hardloop – die EVANGELIE hoor & glo, dan draai hy ook terselftertyd terug na God toe. Dit is onmoontlik om te GLO, maar nie om te draai nie. Dit is onmoontlik om ’n gelowige te wees en nie bekering te ken nie. Wanneer jy die Evangelie HOOR & GLO, dan draai jy om – terug na God toe!

En, WAT is die evangelie wat geglo moet word? EVANGELIE beteken GOEIE NUUS. WAT is die goeie nuus? Dit is die verbysterende nuus dat GOD Sy koninkryk gebring het tot BY mense wat besig is om hel toe te hardloop! Pleks van om aan hulle die verderf (wat hulle verdien) te gee, gee Hy hulle die koninkryk.

Met alle respek gesê: Sien u in Markus 1 hoe Jesus die mense van Galilea – wat verderf toe hardloop – van agter af inhardloop en al hygende sê: “Ek het vir julle ’n boodskap van My Vader: Hy sê julle mag omdraai terug na Hom toe, want Hy het Sy koninkryk tot by julle gebring. Hy gee julle die hemel i.p.v. die hel – omdat EK dit met my bloed verdien het. Glo hierdie goeie nuus en draai terug na Hom toe ”. Die presiese woorde: “ Die koninkryk van God het naby gekom – bekeer julle en glo die evangelie “.

Gemeente, die Bybel is glashelder duidelik: Dit is NOODSAAKLIK vir ELKE mens om tot bekering/omdraai te kom!! Jy kry altyd mense wat dink dat gedoopte verbondsmense nie bekering nodig het nie. Jy kry ook altyd mense wat dink dat – omdat Christus die redding op die kruis volbring het – bekering nie nodig is nie. Aan die ander kant kry jy ook altyd weer mense wat dink dat ’n mens jouself gered moet kry deur jou te bekeer. So asof die bekering die stukkie van ons redding is wat nog kortkom … So asof DIT die knoop deurhaak!

AL DRIE hierdie sieninge is gruwelike dwalings. Dit is misleiding. Jy word mislei wanneer jy dink dat ’n gedoopte mens nie bekering/omdraai nodig het nie. Jy word mislei wanneer jy dink dat bekering/omdraai onnodig is OMDAT Christus ons op die kruis verlos het. Jy word mislei wanneer jy dink dat die bekering jou eie menslike aandeel in jou redding is.

Wat is dan die waarheid? Die waarheid is: Indien ’n mens NIE omdraai terug na God toe en met Hom begin leef nie, dit die BEWYS is dat jy nog nie werklik die boodskap GLO dat Hy jou op Golgota volmaak vrygemaak het nie. Jy is steeds besig om Hom tot leuenaar te maak en daarom aanhou hel toe hardloop. Want INDIEN u & ek werklik Sy Woorde GLO dat Hy op die kruis die saak tussen ons & Hom 100% reggemaak het, SAL ons omdraai na Hom toe. Indien jy nie omdraai nie, glo jy nog nie Sy boodskap nie. En indien jy nie glo nie, sal jy nie omdraai nie. Dan sal jy aanhou & aanhou & aanhou verderf toe hardloop – en voortleef in allerlei geliefkoosde sondes – ook dié met die mooi naampies. Kerk van Tafelberg Gemeente: HOOR DIT: Dit is onmoontlik om te GLO dat jóú sondes Jesus se dood gekos het, en maar net rustig voort te leef in daardie sondes. Dit is onmoontlik om te GLO dat God Sy koninkryk tot by u & my gebring het – en nie om te draai na Hom toe en met Hom te begin leef nie! Dan het die boodskap nog nooit deurgedring nie. Dit het nog nie oopgegaan nie. Die skille sit nog voor die oë.

Kom ons sien dit positief: Bekering is vir ALMAL noodsaaklik – NIE omdat dit óns deeltjie is wat ons moet doen sodat God ons kan beloon met die ewige lewe nie — MAAR dit is noodsaaklik omdat dit nie anders kán nie. Wanneer dit tot jou deurdring WIE hierdie God is : Dat Hy nie kon wag tot by jou geboorte om jou lief te hê nie – daarom voor skepping reeds. Dat Hy met Sy Seun se vloekdood jou skuld afgeskryf het. Wanneer DIT deurdring – hoe onweerstaanbaar Hy is : dan SAL u omdraai na Hom toe. En dan SAL u probeer breek met alles wat Hom bedroef – want jy voel net: SO ’n asemrowende God MAG NIE seergemaak word nie.

Miskien is ú ook iemand wat dikwels twyfel of u werklik GLO – of u werklik tot bekering gekom het. Waarom twyfel u? Is dit omdat u nog altyd gedink het u moet vir die Here iets gee in ruil vir die ewige lewe? U dink die Here verwag van u ’n prestasie? U dink BEKERING is die groot prestasie wat u nog moet lewer sodat Hy u kan beloon met die ewige lewe? En nou weet u nie HOE om dit goed genoeg te doen nie!

HOOR DAN die blye boodskap dat die Here van u geen prestasie verwag nie. Sy redding is onvoorwaardelik. Hy HET die koninkryk naby gebring. Hy het sélf dinge tussen u en Hom reggemaak toe Jesus se bloed gevloei het. U hoef nooit daaroor te twyfel nie. Sy woorde is die waarheid. Maak dan Sy woorde u rotsvaste sekerheid. En wanneer Sy woorde u sekerheid is, MOET u omdraai na Hom toe en met Hom begin lewe. Hier en nou! Hoekom sê u dit nie vir Hom – in ’n eenvoudige gebed. Laat mý toe om u te help om só ’n gebed te bid:

Here, dalk het ek nie omgedraai na U toe en met U begin leef nie OMDAT ek nie U boodskap verstaan het en dit geglo het nie. U boodskap waarin U my verseker dat U self my saak met U reggemaak het deur Jesus se bloed. Ek kon dit nooit glo nie en daarom het ek aanhou hardloop WEG van U af. Ek het aanhou lewe in sonde. Ek het aanhou lewe net vir myself. Here ek het berou hieroor. Ek sien in hoe dwaas ek was. Ek was só dwaas om te dink U verwag van my ’n prestasie alvorens ek U kind mag wees. Vergewe asseblief dat ek so hard probeer het om my eie poorte hemel toe oop te kap en die heeltyd die poort wat U reeds oopgebreek het, misgeloop het. U Woord het my omgepraat. U Woord het vir my te sterk geword. Ek glo dat U my U kind gemaak het op Golgota. Daarom kan ek nie anders nie: Ek draai om na U toe. Ek wil van nou af met U lewe as U kind. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00