TEMA: JESUS: VERWERP OF AANGENEEM?
SKRIFLESING: Johannes 1:9-14
INLEIDING
Terwyl Eugene Suter aan die Yale Universiteit studeer het, het sy vader gesterf. ‘n Erfporsie van om en by $400 000.00 is ten gunste van hom nagelaat. Eugene Suter het dit egter geweier en is later deur die regslui wat die boedel hanteer het voor die hof gedaag om hom te dwing. Hy het steeds geweier en die betrokke regter, Regter William Collins het beslis dat die jongman ‘n reg daartoe het om te weier. So is hy dan wettiglik van sy erfporsie onthef en ook van al sy familie bande. So is daar baie mense vandag in die wêreld wat ‘n groter erfporsie verwerp as Suter; deur te weier om weergebore te word.
Sal u erfporsie onopgeëis bly?
Wedergeboorte is ‘n vereiste vir elke mens om reg met God te kom. In die ongeredde toestand is ons almal in werklikheid in rebellie teen God en alles wat Christelik is.
Rom 3:23 “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,”
Die loon van hierdie ongeredde toestand, toestand van sonde en rebellie teen God is die dood, ewig weg van die aangesig van God en Sy Heerlikheid.
Rom 6:23 “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”
Wat is en gaan jou besluit wees vandag; gaan jy Jesus wegstoot, vir ewig of gaan jy Jesus aanneem en die ewige lewe saam met Jesus, beërwe?
Ek wil na twee groepe persone kyk met behulp van die Heilige Gees en die Ewige Woord van God. Afgryslike Ewige Sekerheid vir die wat Jesus verwerp/wegstoot en die Heerlike Ewige Sekerheid vir die Wat Jesus aangeneem het.
DIE WAT JESUS EN GOD SE GENADE VERWERP.
Ons lees in Joh.1:11 “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.”
Die Waaragtige lig wat in die wêreld (Kosmos) gekom het, na Sy eiendom, is deur hulle verwerp (Joh.1:9)
KOSMOS = die wêreld, die heelal insluitend sy inwoners.
Daar is vandag nog steeds ‘n onwilligheid, ‘n rebelsheid, ‘n georganiseerde kosmiese onwilligheid om die Waaragtige Lig te erken.
Niemand het in daardie tyd en ook nou en tot in ewigheid ’n verskoning dat hulle nie geweet het wie en wat die Lig na verwys nie. Rom.1:20 “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Wat is ons verskoning en is dit geldig? Is dit waterdig?
Wat is die uiteinde, die resultaat van so ’n stap? Onthou ek hoef nie eers ’n keuse te maak nie, ek moet net stil bly.
Dan 12:2 “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.”
Die Verlosser se hartseer
Gypsy Smith, ’n Evangelis het die verhaal eendag vertel.” ’n Groep Sigeuners moes eendag noodgedwonge ’n sterk stygende rivier stroom oorsteek. ‘’n Jongman het desperaat probeer om sy moeder te red van verdrinking en het haar verskeie keer van hom af weggestoot sodat hy haar na behore kon ondersteun. Maar sy het aan hom vasgeklou terwyl hy gesmeek het dat sy moes los sodat hy haar kon red. Sy het nie geluister nie en verdrink, By haar begrafnis het hy oor die kis in die graf gebuig en verskeie keer die woorde herhaal: Hoe hard het ek probeer om u te red maar u wou nie luister en my toelaat nie. U eie wil was die grootste hindernis” Hierdie is dalk die tragiese woorde van ons Verlosser Jesus Christus wat eendag vir jou moet sê Hoe hard het ek probeer om jou te red maar jy wou nie luister en my toelaat nie. Jou eie wil was die grootste hindernis
Ons lees hierdie verskriklike woorde in Luk 13:34 (b) “hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie.
Spr.8:36 “Maar hy wat my mis (teen die Here kies/sondig), benadeel sy eie lewe (tree gewelddadig op teen sy eie siel); almal wat my haat, het die dood lief.”
Hierdie mag u laaste kans wees vandag, wat is u keuse, gaan u stilbly of gaan u opstaan en ’n daadwerklike stap en besluit neem om Jesus aan te neem?
Maar ons sien in die tweede plek daar was dié wat Jesus, die Waaragtige Lig, aangeneem het en die Heerlike sekerheid van kindskap van God ontvang het.
Joh.1:12 “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;”
“AANGENEEM HET”
Die woord wat vir “aangeneem” gebruik word, het ook die betekenis van om te ontvang, te erken, te omhels met my hele wese en dan die instruksies te volg.
Die wat glo dat Jesus die Waaragtige Lig is. Dat Jesus gekom het om ons van ons sondes te verlos.
Mat 1:21 “en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”
Joh. 6:47 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.”
1Joh 5:13 “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”
“MAG GEGEE”
Dit verwys na gesag, die vermoë, die reg, die voorreg. Dit verwys ook na krag en volmag wat ek ontvang as wedergebore kind van God..
Rom 8:17 “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”
1Joh.3:1 “Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.”
Heb 2:18 “Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.”
Filip 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Hierdie mag gee my die status om deel te hê in die Hemelse Familie van God
Dus as God Sy Naam aan ons gee is dit om aan ons te toon wie Hy is, wat Sy Naam alles vir my inhou.
Ps 5:12 “Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet.”
‘WAT IN SY NAAM GLO”
Om ‘n kind van God te wees is ‘n groot voorreg. ‘n Voorreg wat net deur God gegee kan word.
Om ‘n kind van enige ouerpaar te wees is ‘n voorreg bo baie ander kinders wat wees is. Maar om ‘n kind van God te wees is soveel groter voorreg.
Efese 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;”
Spr. 18:10 “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.”
Wat ‘n versekering en sekerheid as ek Jesus aangeneem het. Ek kan al die beloftes in Sy Woord my eie maak.
2Kor 1:20 “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.”
Toe Jesus op aarde was, het die mense na al die wonderwerke en tekens wat in hul midde gedoen en plaasgevind het, Jesus steeds verwerp. Sommige het wel geglo maar dit geheim gehou uit vrees vir ander mense omdat hulle mense se aanvaarding meer begeer het as die van Jesus.
Is u een van hulle vandag?
Ons vind in die volgende Skrifgedeelte die “finale keuse” opgeteken.
Joh_12:44-50.
Hier is die laaste uitnodiging deur Jesus voor Sy kruisiging.
Jesus sou nie weer met die skares praat nie.
Wat het Jesus in die gedeelte gesê?
à Ek het die Vader aan julle geopenbaar.
à Om in Jesus te glo is om in die Vader (God) te glo.
à Elkeen wat in Jesus glo sal nie in die duisternis bly nie.
à Wie Jesus verwerp, verwerp die ewige lewe wat God die Vader aan ons wil gee.
à As ons Jesus verwerp is ons verseker van hierdie Woord wat ons sal oordeel in die oordeelsdag…
Die Lewende Woord spreek, nou is dit u finale keuse om te maak; om ook deel te word van die wonderlike sekerheid dat u kind van God kan wees.