SKRIFLESING: Neh. 3:6-15

SKRIF VIR OORDENKING: Mat 11:29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;

Sag 3:2 Toe sê die HERE aan die Satan: Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?

Eseg. 21:26 so sê die Here HERE: Die tulband moet weg, en die kroon moet af! Dit bly nie so nie: Na bo met wat nederig is! Na onder met wat hoog is!

TEMA: HERSTEL DIE POORTE VAN VEROOTMOEDIGING EN REINIGING

INLEIDING

Ons het gesien dat die Ou Poort verwys na die fondament, iets wat onveranderlik is en bly, die Woord van God. Maar dit verwys ook na die aflegging van die ou mens. Die sterwe van die self.

As ons na die kaart kyk dan sien ons daar is ’n taamlike afstand tussen die Ou poort en die Dal/Vallei poort.

Aan die begin, na ons redding voel dit asof alles net goed kan gaan. Niks kan verkeerd loop nie. Ons begin selfs kyk na ander kinders van die Here en begin fout vind met hulle optredes ens. Maar een of ander tyd moet die Dalpoort kom in die kind van God se lewe. Een of ander tyd moet ons kom buig onder die kragtige hand van God.

Ons gaan kyk na die volgende poorte met hierdie boodskap: Die Dalpoort, die Aspoort en die Fonteinpoort.

DIE DALPOORT

Die Dalpoort het ook toegang verleen na twee valleie.

Aan die weste kant was die Vallei van Hinnom, waar kinders deur vuur geoffer was in die tyd van 2 Kon.16:3; 23:10; 2Kron 28:3 ens. Koning Josia het hierdie euwels-gebruik gestop deur die vallei seremonieel onrein te maak deur mense bene daaroor te strooi 2Kon.23:10, 13-14. Vandaar het dit die stortingsterrein geword van die afval van Jerusalem. As gevolg van hierdie besoedeling, onreine toestande asook heidense menslike-offergawes wat gebring was het die naam verander na Ge-Hinnom of dan Gehenna, die naam wat vir die hel self gebruik word en ook Poel van Vuur. (Matt.5:22; 10:28 en 23:15, 33)

Dus hierdie poort herinner my gedurig as kind van God, waar ek vandaan kom; dat ek deur God se Genade alleen uit die helse vuur gered is.

Tweedens is daar aan die Ooste kant die vallei van Kedron. Die vallei waardeur Jesus na Getsémané moes gaan.

Joh. 18:1 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor die spruit Kedron gegaan waar daar ‘n tuin was, waarin Hy self gegaan het en sy dissipels.

Kedron beteken dan ook modderig, swaar, donker, mistig.

Een of ander tyd in ons geestelike lewe sal ons deur hierdie poort moet gaan van beproewinge, toetse en swaarkry. Die Here Jesus moes hierdeur na Getsémané; daarom moet u en ek dit te wagte wees. By hierdie poort moet ons, onsself verootmoedig. Dit is wat die Dalpoort eintlik beteken.

Die poort spreek van nederigheid, van verootmoediging, van die “leeg word” van die self.

“Only if man strikes rock bottom in the sense of his own nothingness will he strike the Rock of Ages.”

Die enigste weg opwaarts is afwaarts op jou knieë.

As ons nie nederigheid leer nie, sal ons vernedering leer.

1Pet 5:6 Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.

Dit is ’n poort wat ons keuse is om deur te gaan, maar onthou, hoogmoed en trots sal nie die hemel beërwe nie.

Die poort word gebruik deur die Here Jesus om ons geestelike groei te verseker. Is u bereid om daardeur te gaan? Onthou altyd, in die natuur groei niks op die top van die berg nie, maar groei is in die vallei, vrugte word gegee in die vallei. Geestelik is dit nooit ’n lekker ondervinding nie, maar dit bring altyd vrug voort. Hierdie poort moet gereeld herstel word in ons geestelike lewe.

Ons lees die volgende in Gen. 26:19

(Gen. 26:19) En terwyl die dienaars van Isak in die dal grawe, vind hulle daar ‘n put met lewendige water.

Sodra die kind van God dit verstaan, die vlees afsterf, besef vanwaar hy/sy uitgered is, kan ons dieper delf as net die oppervlak, kan ons onsself verootmoedig voor God, en dieper delf na die lewende water. Ons moet dieper grou, geestelik, sodat ons kan groei en vernuwe kan word in Christus. Dan is ons gereed vir ’n wandel met God te midde van watter omstandighede ook al.

Ons moet ons wil, verstand (gees, siel en liggaam) totaal oorgee aan die wil van God.

(Rom 12:1) Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.

Tydens verootmoediging en vernedering van die self onder die kragtige hand van God kom daar karaktereienskappe, gewoontes waarvan ek nie bewus was of is nie, na vore en daarmee moet gedeel word by die Aspoort. Engels gebruik die woord “Dung”. Dit is self beskrywend.

DIE ASPOORT

(Neh. 3:14) En die Aspoort het Malkía, die seun van Regab, owerste van die distrik Bet-Hakkerem, herstel; hy het dit opgebou en sy deure, sy sluitbalke en sy grendels ingesit.

Daar word min oor die poort geskryf; ook deur kommentaar skrywers. Die poort was ongeveer 475meter vanaf die Dalpoort, vêr verwyder van die paaie. Dit was gebruik om die afval vanaf Jerusalem hier uit te bring en te verbrand in die vallei van Hinnom.

Dit spreek van afsondering voor God. Eenkant alleen waar die Gees van God met my besig kan word; waar die karaktereienskappe, gesindhede, gewoontes wat nie tot eer van God is nie, kan uitkom, m.a.w. dit wat vuil/onrein is.

Net soos koning Josia 2 Kon.22-24 Jerusalem en die tempel gereinig het en al die altare en instrumente van goddeloosheid verband het in die vallei van Hinnom, net so moet ons laer afgaan na die Aspoort en toelaat dat die Heilige Gees na vore bring dit wat tot oneer van God is, sodat dit uitgewerp kan word deur die Aspoort in die vallei van Hinnom.

Maar wat is hierdie onreinheid of die afval wat uitgegooi moet word.

(1Ko 5:8) Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.

(Rom 6:6) aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

Wat is die “oue mens”

Kom ons lees Efesiërs 4:17 – 5:21

Dit is die onreinheid, die vleeslik afval, wat uitgewerp moet word.

Wanneer God ons deur die Vallei (Dalpoort) ondervinding neem, is dit gewoonlik om hierdie onsuiwerhede, onreinhede, vleeslike afval, an vore te bring, wat andersins nooit opgemerk sou word nie. Sodra dit na die oppervlak kom, moet dit uit ons lewens gewerp word, deur die Aspoort om verbrand te word. En as dit verband word, beteken dit dat dit nie weer kan terugkom nie, wees versigtig om weer in die as te gaan krap.

As ons die kaart in gedagte hou dan is dit duidelik dat ons vanaf die Skaappoort afwaarts beweeg het. Maar as ons deur die Aspoort gegaan het wag die draai opwaarts.

Maar hoe kan die afval uitgewerp word? Kom ons kyk na die Fonteinpoort.

DIE FONTEINPOORT

(Neh. 3:15) En die Fonteinpoort het Sallum, die seun van Kol-Hosé, owerste van die distrik Mispa, herstel; hy het dit opgebou en dit oordek, en hy het sy deure, sy sluitbalke en sy grendels ingesit, ook die muur van die dam van die waterleiding by die koning se tuin, en tot by die trappe wat van die Dawidstad afloop.

Die Fonteinpoort is baie naby aan die Aspoort en geestelik beteken dit sodra ek deur die Dalpoort geneem is afwaarts na die Aspoort en ek van al die vleeslike afval ontslae geraak het, die lewende waters van die Fonteinpoort begin vloei.

Die Fonteinpoort spreek tot ons van die reinigende werking van die Heilige Gees in ons lewens. Lees ook Joh.4:14

Die Fonteinpoort was naby die bad van Siloam geleë. Die bad het water van ’n kanaal ontvang wat deur die rotse gekap was en gevloei het van die fontein van die maagd volgens oorlewering.

Num. 20:8 Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei en die vergadering en hulle vee laat drink.

(2Sa 22:32) Want wie is God buiten die HERE, en wie ‘n rots buiten onse God?

Wat verklaar die Woord van God vir ons m.b.t. die fontein?

Daar is heelwat simboliese verwysings na fonteine in die Skrif

Wysheid : (Spr. 13:14) Die onderrig van die wyse is ‘n fontein van die lewe, om die strikke van die dood te ontwyk.

Vrees van die Here: (Spr. 14:27) Die vrees van die HERE is ‘n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk.

Verhouding met God: (Hgl 4:15) U is ‘n fontein van die tuine, ‘n put met lewende water wat van die Líbanon afvloei.

Geregtigheid: (Spr. 10:11) Die mond van die regverdige is ‘n fontein van lewe, maar die mond van die goddelose verberg geweld.

Reiniging en vernuwing: (Sag 13:1) In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid.

Reiniging, wysheid, geregtigheid, verhouding met God; is genoemde begrippe nie sinoniem met die uitstorting van die Heilige Gees nie?

(Jes. 44:3) Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge.

Kom ons kyk net kortliks na ’n paar belangrike punte waarvoor die Heilige Gees daar is vir ons:

Trooster/Raadgewer Joh.14:16, 26

Gees van die Waarheid Joh.14:17; 15:26; 16:13

Leermeester/Onderwyser Joh.14:27

Die Uitbreider van ons geheue Joh.14:26

Die Getuie van Jesus in ons Joh.15:27

Dinamo’s Krag Hand.1:8

Ons Profesie Hand.2:17

Ons Heiligheid Rom.1:4

Die Liefde van God Rom.5:5

Ons Hoop Rom.5:5

Die Lewe Rom.8:2, 6, 11

Ons Hulp in swakheid Rom.8:26

Hierdie lys kan aangaan en aangaan. Die punt is duidelik, dat die Fonteinpoort spreek van die Lewende Water van die Heilige Gees wat ons lewens reinig en bekragtig vir die Geestelike lewe, ’n Heilige lewenswandel.

Hierdie poort was ook die mees vervalle en beskadig!

(Neh. 2:14) En ek het verder gegaan na die Fonteinpoort en na die Koningsvywer. Maar daar was geen plek vir die dier om onder my verder te gaan nie. ’n Bewys dat die poort die middelpunt was van aanvalle van die koning van Babel. 2 Kon.25:4

Geestelik is dit vandag die poort wat die meeste in puin is en geruïneer word asook afgewater word. Feitlik goedkoop gemaak word. ’n Heilige lewenswandel word deur die siele vyand verag asook deur die wêreld en selfs binne kerke vandag word daar met kinders van die Here wat hierdie pad wil wandel, die spot gedryf.

Onthou, daar was geen mure herstel tussen die Aspoort en die Fonteinpoort nie. Ons weet nie waarom daar nie inligting gegee is nie, maar ek glo dit is ’n uitnodiging van God vanaand aan elkeen van ons, dat daar hulp is, onmiddellike hulp, om van al hierdie vleeslike/sondige afval finaal ontslae te raak, die Heilige Gees is daar, onmiddellik as u gewillig is om te buig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00