Gebed van Verootmoediging – Johan De Bruin

TEMA: Gebed van Verootmoediging

SKRIFLESING:       2 Kronieke 6:12-14 & 18-21 7:11-15

TEKS VAN OORDENKING: 2 Kronieke 7: 14

INLEIDING

Mense skram weg van die saak oor gebed; net soos daar weggeskram word van die boodskappe oor Heiligmaking en ‘n lewe van Heiligheid. Gebed gaan hand-aan-hand met ‘n lewe van Heiligheid. As ek nie daardie toegewyde lewe van Heiligheid en Reinheid nastreef en uitleef, kan ek nie daardie kragtige gebedslewe ervaar wat God vir my in gedagte het nie. Ek laat dinge toe in my lewe wat my onverskillig maak teenoor die Woord van God, teenoor my stiltetye, teenoor my getuienis. Ek bestudeer die Woord van God nie meer ywerig en met oorgawe nie.

Ek verwaarloos my stiltetye, die byeenkomste van die Heiliges, terwyl die Here vir ons opdrag gee in Sy Woord: “2Tim 2:22 ……en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep.”

Hoe lyk ons gebedslewe? Hoe lyk dit vandag en hoe het dit vanoggend gelyk voordat u en ek met ons daaglikse take begin het? Weet ek en is ek bewus dat ek vanoggend in die teenwoordigheid van God was. Het ek vanoggend die stem van die Here gehoor?

Ons lees in Jesaja 59: 15(b) en 16 die volgende; “..Toe het die HERE dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie. En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie;

Kom ons keer terug na ‘n gebedslewe wat God sal behaag; waar ons weer die gaping wat daar is in die gebed-stryd sal raak sien en die gaping sal vul.

WAT IS DIE STAPPE VAN DIE GEBED VAN VEROOTMOEDIGING?

VEROOTMOEDIG

(2Kr 7:14)  en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig”

Ons het Sondag oggend gesien om jouself te verootmoedig beteken om voor God te buig, die knieë te buig, op jou aangesig in die stof voor God te lê, om jouself ondergeskik te stel aan God se wil. Om verneder te word voor God.

Om te erken dat ek oorwin, oortuig is. Oortuig van sonde in my lewe; dinge/sake wat reggemaak moet word met God en mense.

GEBED

(2Kr 7:14)  “en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid” Hebr. “Pawlal” wat die volgende betekenis vir ons inhou.

Pawlal “gebed” word saam met smeking (supplication) gebruik.

Hierdie vorm van gebed vind ons 29 keer in die Bybel

Gebed is ‘n gesprek met God waar ek met woorde my gedagtes, idees, gevoelens met God deel. Waar ek my sondes op die naam bely voor God en smeek om vergifnis. Die interaksie van my gees met God, nie meditasie of iets soortgelyks nie, maar direkte gesprekvoering gerig tot God.

Dit is om die Here te smeek om genade; (Eks 32:11)  Maar Moses het die HERE sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, o HERE, sou u toorn ontvlam teen u volk wat U met grote krag en met ‘n sterke hand uit Egipteland uitgelei het?

Dit is om my siel uit te stort voor God (1Sa 1:15)  Maar Hanna antwoord en sê: Nee, my heer, ek is ‘n vrou beswaard in my gemoed: wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my siel voor die aangesig van die HERE uitgestort.

Dit is om in gebed uit te roep na die Hemel. (2Kr 32:20)  Maar toe koning Jehiskía en die profeet Jesaja, die seun van Amos, hieroor gebid en na die hemel geroep het,

Om God te soek met smeking (Job 8:5, 6) As jy na God soek en die Almagtige om genade smeek,  as jy rein en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou opwaak en jou woning herstel ooreenkomstig jou geregtigheid;

Om nader aan God te kom (Ps 73:28)  Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.

Aanvaarde gebed moet opreg en uit die hart wees. (Heb 10:22)  laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.

LIGGAAMSHOUDING TYDENS GEBED

Dit kan soms ’n vraagstuk word oor wat is korrek. Moet ek staan, moet ek buig, moet my oë toe wees ens.

Waar die woord pawlal gebruik word in gebed sien ek die volgende duidelik uit die Woord van God.

Ek kan staan voor God as ek bid. (Mar 11:25)  En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. Kyk ook Lukas 18:11

Ek kan kniel in verootmoediging (2Kr 6:13)  want Salomo het ‘n koperverhoog gemaak en dit in die middel van die voorhof opgestel; vyf el was sy lengte en vyf el sy breedte en drie el sy hoogte; en hy het daarop gaan staan en neergesink op sy knieë teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande na die hemel uitgebrei.

(Esr 9:5)  Maar op die tyd van die aandoffer het ek opgestaan uit my verootmoediging; en terwyl ek my kleed en my mantel skeur, het ek op my knieë my gebuig en my hande uitgebrei na die HERE my God

(Psa 95:6)  Kom, laat ons aanbid en neerbuk; laat ons kniel voor die HERE wat ons gemaak het.

Om in die stof voor God op my aangesig te wees, my neer te werp, eerbiedig te buig, uitgestrek op my aangesig voor God te wees. Die Engelse vertaling spreek van “to prostrate oneself”. Om jouself uit te put.

(Jos 7:6)  Toe het Josua sy klere geskeur en met sy aangesig op die grond geval voor die ark van die HERE, tot die aand toe, hy en die oudstes van Israel, en hulle het stof op hul hoofde gegooi.

(1Kn 18:42)  En Agab het opgetrek om te eet en te drink; maar Elía het op die top van die Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek.

Die gebed van verootmoediging gaan van my vereis om op my knieë ongemaklik voor God te wees. Om op my aangesig voor God te wees.

VEREISTES VAN GEBED IN VEROOTMOEDIGING

Dit moet ‘n Geestelike aanbidding wees, in Gees en Waarheid. (1Ko 14:15)  Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.

(Joh 4:23, 24) “Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Daar moet nie geheime/verborge sonde in my lewe/hart wees wat ek vertroetel nie

(Psa 66:18)  As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie.

(Spr 28:9)  Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel.

Skynheiligheid of voorgee lewe: hierdie gesindheid moet ook nie in die hart wees nie..

(Job 27:8 – 10)  Want wat is die verwagting van die goddelose (oorspronklike Hebr woord verwys na skynheilige) as Hy afsny—as God sy siel wegneem? Sal God sy geroep hoor as benoudheid oor hom kom? Of sal hy hom kan verlustig in die Almagtige, God altyd kan aanroep?

Die Woord van God leer ons in Ps 55:17 dat daar basies 3 tye van gebed was. Die oggend, middag en aand. Laat ons ons tye van gebed nie verwaarloos nie. EM Bounds skryf in sy boek “EM Bounds on Prayer” dat tussen my tye van gebed moet daar nie ‘’n tyd van biddeloosheid wees nie.

DIE ANTWOORD OP HIERDIE GEBED.

(2Kr 7:14)  en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.

God het belowe op hierdie verootmoediging sal Hy hoor vanuit die hemel, maar daar is ‘n laaste en finale voorwaarde: bekeer van hul verkeerde weë.

Die Here verwag van u en my om terug te kom vanuit die toestand waarin ons is tot Hom. Om weg te draai van die verkeerde in my lewe. Om te breuk met dit wat my bind.

Die letterlike betekenis is om die rug te keer op dit wat verkeerd is; om van rigting te verander.

Daar is drie belangrike beskouinge met die gedagte van die werkwoord om te bekeer. Engels “to turn”.

a.         Om te soek (vir water)

Joh 7:37  En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!

Joh 4:14  maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.

b.         Om iets oor te gee aan iemand

Mat 11:28  Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.

c.         Om iets te verander in iets nuuts of iets anders.

2Ko 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

(2Kr 7:14)  en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.

Wil u nie vanaand opnuut na die Here kom in eerlikheid en opregtheid van hart nie want die HERE God is ‘n son en skild; die HERE sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie. Ps.84:12

Die Here is ons genadig

0:00
0:00