TEMA: GOD SOEK WARE VOORBIDDERS
SKRIFLESING: Neh.1:1-11
SKRIF VIR OORDENKING:
(Jes. 59:16) En Hy (God) het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie; daarom het sy arm Hom gehelp en sy geregtigheid het Hom ondersteun.
(Jes. 63:5) En Ek (God) het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun.
(Eseg. 22:30) En Ek (God) het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.
INLEIDING
(Jes. 62:6, 7) o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!
Helena Garratt een van die stigter-susters van die AEB het geskryf “Think of a Saviour pleading in glory (His chief occupation) for a lost world, and on earth think of a Christian not pleading at all. Is it not inconsistent?”
Andrew Murray skryf “Learn to count it the highest privilege of your life to be a channel through whose prayers God’s blessings can be brought down to earth.”
E. M. Bounds skryf in sy boek “EM Bounds on Prayer” “Tussen my tye van gebed moet daar nie ’n tyd van biddeloosheid wees nie.”
’n Moeder van ’n verlore seun het gesê “Ek kan tot hom kom deur die God van die Hemel.”
Gebed is die kragtigste en magtigste krag waarmee die geredde siel te doen het. Elia het deur gebed God beweeg om die hemel te sluit sodat dit nie reën nie (Jak.5:17). Petrus was deur gebed uit die gevangenis verlos Hand.12:5.
Petrus skryf ook die volgende 1Pe 2:9 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, …” 1Pet.2:9
As ’n Koninklike Priesterdom het ons die verantwoordelikheid en die hemelse roeping om as voorbidders op te tree. Om in die bresse te tree; die gaping te vul en voor die aangesig van God te staan vir ander en vir die saak van God.
God soek voorbidders. ’n Man of vrou om in te tree vir siele, die Koninkryk van God ens., dit wat God op so ’n persoon se hart lê.
Maar hoekom?
OMDAT DAAR ’N BEHOEFTE IS AAN VOORBIDDERS
Die ongeregtigheid van die mense maak skeiding tussen hulle en God.
Jes. 59:2 maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.
Hulle tas in die duister rond en struikel helder oordag. Jes.59:10
Hulle sonde getuig teen hulle Jes.59.12
Die waarheid bestaan nie en het geval in die straat. Jes.59:14
En tog as ons hierdie toestand aanskou is daar niemand wat die hartseer verhaal raak lees, wat die ongesonde kern raaksien en verstaan nie. Wat die noodsaaklikheid begryp om ernstig in te tree by God vir volk en land nie.
Moses het die erns daarvan begryp in Exodus 32:32 Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het!
Paulus bid “Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.” Romeine 10:1
Noodsaak die huidige toestand van die Kerk en die werk van die Kerk, die lewe van die Kerk nie dat daar ook ’n ernstige oproep en soeke sal wees vir voorbidders nie.
AS GEVOLG VAN DIE AANSPORING WAT GEGEE WORD AAN VOORBIDDERS.
(Jes. 59:1) Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie;
(2Ko 1:10a) wat ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos;”
Is dit nie duidelik dat God voor elke voorbidder ’n geopende deur gee nie?
Elke voorbidder het die aansporing en bemoediging van die Seun van God.
(Heb 7:25) Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.
Ook die Heilige Gees (Rom 8:26) En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.
Daarom moet nie swyg nie, moet nie huiwer nie, meld aan by die Voorbidders linie. Ouderdom ens. maak nie saak nie. In sekulêre werk of nie u kan bruikbaar wees.
(Jes 62:6) o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie
AS GEVOLG VAN DIE MOONTLIKHEDE BINNE BEREIK VAN DIE VOORBIDDER.
Daar is soveel moontlikhede binne die bereik van die voorbidder, want ons het die kragtigste wapen, naamlik gebed. Gebed hou die hele wapenuitrusting aan mekaar. Sonder gebed is die wapenuitrusting nutteloos. Gaan lees gerus Efese 6.
(Efese 6:18) terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges
Aaron het ’n vurige voorbidder geword toe hy gehardloop het “En terwyl hy tussen die dooies en die lewendes staan, het die plaag opgehou.” Num.16:48
Daar het ’n aanhoudende gebed vir Petrus opgegaan en hy is verlos vanuit die gevangenis. Hand.12:5
Onthou hoe het die weduwee haar oorwinning verkry oor die onregverdige regter.
(Luk 18:3, 7, 8) “En daar was in daardie stad ‘n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?”
Laat ons wat “Konings en priesters vir onse God gemaak” is (Open 5:10) ’n voortdurende offer, ’n reukoffer opgaan voor God, vir die eer van Sy Naam, vir die redding van siele en die heiligmaking van die kinders van God.
OMDAT DAAR SAKE IS WAARVOOR GEREELD GEBID EN INGETREE MOET WORD.
Andre Murray gee in sy boekie “Bid sonder ophou. ’n Oefenskool vir voorbidding” die volgende sake wat gereeld in gebed voor God genoem moet word. Dit kan ons instaat stel om effektief te bid.
Vir die krag van die Heilige Gees. Hand.1:4 en 2:17 Die kerk is gebore uit die Heilige Gees en deur die Heilige Gees alleen kan dit groei.
Vir ’n magtige Gebedsherlewing Sag.12:10. Die Gees van gebed is die voorloper van die Gees oor alle vlees. Dink ernstig daaraan dat gebed alles moet regmaak, in u gemeente, in u kerk en oral.
Vir al die Heiliges Efese 6:18 Bid veral dat die Gees ons een moet maak in die liefde.
Vir ons Kerk, Jes.62:6. Dit is beter om die Here aan te roep as om te kla oor gebreke in die kerk. Bring almal en alles met wat goed of sleg is daarin – predikante, kerkraadslede, gemeentes, bidure, skole, sendingwerk – bring hulle na God in gebed.
Vir die Heiligmaking van alle Heiliges, Joh.17:15, 17. Vra God om die Gees van Heiligmaking oor uself en elke kind van God sal uitstort.
Vir predikante en sendelinge Efese 6:18, 19
Vir meer arbeiders en vir alle studente. Matt.9:37, 38.
Vir die Gees op die werk van die sending. Hand.13:2-4
Vir ons skole. Jes.44:3
Die Kerk van die toekoms Hand.2:17 Die seuns en dogters van vandag is die kerk van môre.
Vir die Gees van voorbidding. 1Thess.3:10.
Vir konings en regerings 1 Tim.2:1-2 en Spreuke 21:1
Vir geregtigheid en vrede1Tim.2:2
Vir die Gees van God oor die Christendom Open.3:1
Vir die Gees van God oor die Heidendom Joel 2:28
Vir Israel en die Gees van God oor die Jode Ps.122:6 en Sag.12:10
Vir u eie gemeente Kol.4:12
Vir die Gees van God op u eie werk. 1Kor.12:4
Die Gees in die Sondagskool Luk.18:16
Vir alle lydendes Hebr.13:3
Vir meer bekerings Hand.5:31Daar kan en moet bekerings wees. Waarom is hulle dan nie daar nie? Daar word nie genoeg daarvoor gebid nie.
Vir diepe oortuiging van sonde Joh.16:18Die Gees van selftevredenheid verhinder alle seëninge. AS die sonde nie geken en erken word nie, bly die werk oppervlakkig. Bid vir die Gees om ons van die sonde te oortuig.
Vir jong-bekeerlinge Kol.2:1,2. Bid en stry vir hulle dat God hulle mag vertroos en versterk en hulle deur die liefde aan Sy kinders verbind.
Vir die krag van die Gees met die Woord. 2Kor.3:6 en 1Petrus 1:12. Dit gebeur dikwels dat Bybelverspreiding, Bybel-prediking, Bybellees, en Bybelkennis kragteloos is omdat die Gees van God nie daarin werk nie. Waar God Sy Woord gee, wil Hy net so seker ook Sy Gees gee.
Vir die Gees oor Laodicea. Openb.3:15, 17 Waar is Laodicea? Oral in die land. Wie woon daarin? Christene, wat onder die invloed van die gees van die wêreld lou geword het. Wat is die sonde van Laodicense? Selftevredenheid en blindheid.
KAN EK NOG BEKOSTIG OM PASSIEF TE WEES AS KIND VAN GOD?
KAN EK BEKOSTIG OM NIE MY PLEK IN TE NEEM NIE?
(Jes. 59:16) En Hy (God) het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie; daarom het sy arm Hom gehelp en sy geregtigheid het Hom ondersteun.
O HERE, DAWID SKRYF Psa 119:126 Dit is tyd vir die HERE om te handel: hulle het u wet verbreek.