Geskryf deur THEUNIS
Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE tjcloete@absamail.co.za
WAT SIEN JY?
Gedrags wetenskaplikes het ontdek dat ons eintlik dinge sien waarvoor ons gereed is om te sien. Hierdie is alles saam gevat in ’n netwerk van die senuweestelsels wat genoem word die Netwerk Aktivering Sisteem.
Die Netwerk Aktivering Sisteem werk as volg:- Sodra iets tot ons aandag gebring word, dan is ons gereed om dit waar te neem / sien en dan sien ons dit omtrent orals waar ons gaan.
Kom ons gebruik ’n voorbeeld:- Jy neem die besluit om ’n nuwe voertuig te koop. Jy ondersoek alles en neem dan die besluit dat jy ’n sekere soort voertuig, ’n sekere bakwerk tipe en ’n sekere kleur gaan koop. Nou sal jy hierdie soort voertuig orals opmerk. Jy sal hierdie voertuig op die paaie sien, op die TV, advertensies, koerante en tydskrifte, ja, hulle is skielik orals. Voorheen het jy dit nooit opgemerk nie en nou is dit vir jou verbasend om al die voertuie te sien.
Nou wat het gebeur? Hierdie voertuie was nog al die tyd daar maar die oomblik toe jy gereed is, toe kom jou Netwerk Aktivering Sisteem in werking en jy sien die voertuie orals.
Hierdie kom in al ons ander aspekte van ons lewens voor. Jy sien waarvoor jy gereed is om te sien.
Is jy daagliks besig om die Woord van God te “sien” sodat jy God se weg kan bewandel? Sodra ons die Woord bestudeer dan onderhou ons die gebooie om God te behaag. Dus is dit belangrik om die Woord van God daagliks te “sien” sodat ons Bybelse “Netwerk Aktivering Sisteem” in werking sal wees. Dan “sien” ons die liefde, blydskap, vreugde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, vrede, ens. asook die sonde.
1 JOH. 2:5 Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is.
GEBED
Vader, dankie vir U Woord asook die Heilige Gees wat die Woord vir ons oop breek om te sien wat U weg is. AMEN