Transformasie en die Globale Dag van Gebed.
Herlewing of
Misleiding?
1. INLEIDING.
Die Transformasie beweging het gedurende die afgelope paar jare ‘n baie bekende beweging geword in kerke en onder individuele Christene. Elke jaar kom duisende mense reg oor die land bymekaar in sportstadiums vir gesamentlike gebeds- en herdenkingsdienste, en elke jaar groei die getalle. Dit is meestal die gevolg van die sensasionele Transformasie video van die “Sentinel” Groep, van ‘n man met die naam van George Otis Junior, wat die basis vorm van hierdie sogenaamde “herlewing.”
In hierdie video word vier gemeenskappe uit verskillende dele van die wêreld voorgehou, wat onder geweldige demoniese opressie, geweld en sonde gebuk gaan, en met Christelike gemeenskappe en kerke wat ‘n sukkel bestaan voer. In die video word daar gewys hoedat hierdie gemeenskappe “getransformeer” word van sukkelende, geestelik onderdrukte en sondige gemeenskappe na een waar die mense in hierdie gemeenskappe hulle in groot getalle na God keer, kerke fenominaal groei en waar God se outoriteit in die ekonomiese, politieke en sosiale lewe van hierdie getransformeerde gemeenskappe gevestig word.
Hierdie transformasie, volgens die video, is die gevolg van sekere spesifieke strategieë wat geïmplimenteer is. Die video hou voor dat kerke in hierdie gemeenskappe hul onderlinge verskille eenkant geplaas het, rekonsiliasie tussen geestelike leiers het plaasgevind, en gesamentlike gebedsbyeenkomste is gehou. Terwyl dit gebeur het, is daar terselfdertyd geestelike kartering (“spiritual mapping”) onderneem om die demoniese vestings en bindinge binne hierdie gemeenskappe te identifiseer. Soos wat hierdie inligting beskikbaar geword het, is daar gebedsmarse (“prayer walking”) georganiseer wat dan hierdie demoniese vestings met geestelike oorlogvoering verdryf het. Volgens die video het hierdie gesamentlike strategieë die magte van die duisternis oor hierdie gemeenskappe oorwin en verdryf sodat nie net geestelike oorheersing (dominion) gewen is nie, maar ook sekulêre oorheersing in die verskillende regeringsdepartemente deur die Christene in hierdie gemeenskappe.
Dit kom voorwaar wonderlik voor! Wie sal nie wil sien dat hul gemeenskappe ten goede verander nie? Watter kerkleier sal nie wil ervaar hoedat sy gemeente met groot getalle toeneem nie? Watter Christene sal nie wil ervaar hoedat groot getalle mense hulle na God toe keer nie? Watter mense sal nie wil sien hoe dat misdaad uit hul gemeenskap verdwyn nie?
Maar is dit werklik wat in hierdie gemeenskappe gebeur het? Is hierdie Transformasie beweging werklik effektief om verlore siele na God te bring? En wat is die gevolge van hierdie beweging se oproep aan kerke om te verenig? Is die geestelike kartering van demoniese vestings en die geestelike oorlogvoering teen demoniese magte Bybels? Is die Transformasie beweging ‘n nuwe beweging vanaf God, of is dit ‘n nuwe masker vir ‘n ou dwaalleer? Die kerkvader, Iranaeus, het eenmaal gesê:
“Dwalinge word nooit voorgehou in hul naakte waarheid nie, sodat dit nie dadelik ontbloot sal word vir wat dit is nie. Maar dit word skelm voorgehou in ‘n aantreklike voorkoms, om in hierdie uiterlike kleding van misleiding vir die onervare meer waar as die waarheid self te lyk” (Iranaeus – Against Heresy).
In die volgende hoofstukke gaan ons na die leerstellinge en aktiwiteite van die Transformasie beweging kyk. Ons gaan dit nie net opweeg teen die Woord van God, die Bybel nie, maar ook kyk na die historiese agtergrond van hierdie beweging. Ons gaan ook ondersoek instel na die persone wat hierdie beweging na die kerk toe gebring het.
Die Woord van God verwag van Christene om alle geestelike leringe te “meet” aan dit wat in die Bybel geopenbaar is sodat ons nie mislei word deur valse leringe nie.
“En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en ELKE DAG DIE SKRIFTE ONDERSOEK OF HIERDIE DINGE SO WAS” (Handelinge 17:11).
2. EENHEID.
‘n Biskop met die naam van Ryle het eenmaal gesê: “Kerklike eenheid in die abstrakte is sekerlik ‘n goeie ding; maar eenheid SONDER DIE WAARHEID is nutteloos” (Unity in the Dark, Donals Gillies, Billing & Sons, Ltd. 1964. P. 105).
Die Transformasie beweging beklemtoon, om effektief te kan wees, moet daar eenheid tussen kerke wees. Versoening tussen denominasies en kerke is van kardinale belang vir gemeenskapstransformasie. Indien gemeenskappe effektief ge-evangeliseer wil word, is dit ‘n voorvereiste dat kerke en kerkleiers nie net eenstemmigheid bereik nie, maar ook saam verenig. Die Transformasie beweging roep gereeld kerke en kerkleiers op vir inter-kerklike gebedsbyeenkomste en evangelisasie aksies. Die geestelike leiers wat hierdie aksies lei beklemtoon dat die “liggaam van Christus” verdeeld is en dat, om werklik effektief te kan wees, kerke en denominasies saam ‘n verenigde front moet vorm. Die oproep is: “Ons almal glo in Jesus. Kom ons plaas ons dogmatiese verskille eenkant en reik gesamentlik uit met die evangelie.”
Op die oog af blyk dit die regte ding te wees om te doen, siende die groot nood van ‘n verloregaande wêreld om ons. Maar wanneer hierdie “eenheid” die fundamentele waarhede van die Woord van God aantas, moet dit ons tot kommer wek. In sy boek, “Conspiricy to Silence the Son of God,” sê Tal Brooke: “Om geloof te verander vir die doel om eenheid te bewerkstellig, is om die waarheid te kompromeer, en wanneer ons die waarheid verander, word ons geloof vernietig” (Harvest House Publishers, Oregon, 1998. P. 48). Die natuur van God en die verlossingswerk van Christus is van die Bybelse waarhede wat aangetas word wanneer ons aan die Transformasie aktiwiteite deelneem.
Die eenheid wat deur George Otis Junior en sy “Sentinel” groep voorgehou word, is ‘n eenheid wat nie op die suiwere leerstellinge van God se Woord gebasseer is nie, maar eerder op die gesamentlike doel van gemeenskapstransformasie, ongeag verskille in Bybelse leerstellinge en geloofsoortuiginge. Voordat hy gedurende 1980 die “Sentinel” groep gestig het, was George Otis Junior betrokke by die “Luzanne” komitee vir Wêreld-evangelisasie wat deur Billy Graham in die vroë 1970s gestig is. Nie net word Rooms Katolieke, met hul onBybelse aanbidding van ‘n Moeder Maria en hul Heilige Mis, as lede in hierdie organisasie aanvaar nie, maar selfs mense van ander gelowe word ook deur hulle aanvaar as deel van die Liggaam van Christus! Gedurende ‘n onderhoud wat Robert Schuller met Billy Graham op 31 Mei 1997 gevoer het, het Billy Graham die volgende gesê:
“Dit is wat God besig is om vandag te doen. Hy roep mense uit die wêreld vir Sy naam, of hulle nou uit die Bhoediste wêreld, of die Christen wêreld, of die ongelowige wêreld kom, hulle is deel van die Liggaam van Christus omdat hulle deur God geroep word. Hulle ken miskien nie eens die Naam van Jesus nie, maar hulle weet dat hulle iets in hul harte nodig het en hulle keer hulle na die enigste lig wat hul ken, en ek dink dat hulle gered is en dat hulle saam met ons in die hemel gaan wees.”
Volgens God se Woord is die enigste weg na die Hemel slegs deur wedergeboorte wat teweeggebring word wanneer jy glo dat Jesus, as die Seun van God, vir jou sondes gesterf het, jy belei dat jy ‘n sondaar is, jy jou bekeer van jou sondige lewe, en vir Jesus aanneem as jou Verlosser en Saligmaker (Rom. 3:23; Joh. 3:3; Joh. 1:12,13). Jesus verklaar onomwonde dat ‘n mens slegs deur geloof in Hom die ewige lewe kan beërwe (Joh. 14:6).
Die “Sentinel” groep van George Otis Junior het nie ‘n spesifieke geloofsbelydenis nie (www.sentinelgroup.org), maar onderskryf die “Lausanne” Verdrag. Augustine Vencer, wat vir 9 jaar aan die stuur van hierdie geaffilieërde organisasies was, gee die volgende insig in hul doelstellings:
“Ek het ‘n paradigmaverskuiwing gesien in die manier waarna ons na die Groot Opdrag van Christus kyk … Ons moet uit die eng verlossingsboodskap van Christus beweeg … na ‘n nasionale, gemeenskapsplan om nasies te evangeliseer. Die oproep na ‘n Transformasiebediening is niks nuuts nie. Ons volg maar net in die tradisies van vroëere profetiese stemme … Daar is ‘n toenemende gewaarwording van eenheid en samewerking binne die Liggaam van Christus … om met nie-Christene, met Moslems, met wêreldregerings saam te werk. Hierdeur kompromeer ons geensins die evangelie van Christus nie. Ons het so eng geword in ons siening van God se spesiale genade, naamlik redding in Christus alleen … Maar God self is eerder geïntereseerd in gemeenskaplike genade … wat ons gemeenskappe nader sal bring aan koninkrykswaardes soos sosiale vrede en nasionale regverdigheid … As ons beweer dat die Koninkryk van God aan die kom is, dan moet ons hierdie waardes die hoofdoel van vandag se kerk maak.” (Information Letter, German Evangelical Alliance, English Edition, May 22, 2001).
Kom ons kyk mooi na wat Augustin Vencer hier sê. Sy uitgangspunt, wat ook dieselfe is as die Transformasiebeweging, sê dat die verouderde evangelisasie van ‘n persoonlike en individuele verlossing in Christus, moet verander na ‘n nasionale transformasie waar goddelike waardes die maatstaf in die gemeenskap word sodat die Koninkryk van God op aarde gevestig kan word.
Hierdie valse en on-Bybelse leerstelling, dat Christene die wêreld moreel moet transformeer, om sodoende beheer oor die wêreld te verkry en daardeur die Koninkryk van God op aarde te vestig sodat Christus kan terugkeer, het sy wortels in die valse “Moral Re-armament”-beweging van george C. Olson, wat om en by 1910 begin is en nou weer in die laat 1990’s deur George Otis Junior gepropageer word.
Hierdie is die kern van die Transformasiebeweging, wat slegs ‘n ander naam vir “Koninkryksteologie” is, en maar eintlik net ‘n herlewing van die “Moral Re-armament”–beweging (ook genoem “Moral Government Theology”), van George C. Olson is. Olson het geglo dat “… die gevestigde leerstellinge van erfsonde, menslike verdorwenheid, die verlossingswerk en regverdigmaking in Christus, foutief is … Hy vind nie die oorsaak vir verlossing en redding in Christus se sterwe aan die kruis nie, maar in die individu se vermoë om homself te transformeer” (“The Chaos of Cults,” J.K. van Baalen, Eerdmans Publishing Co. 1962. Ch. 14). Dit is dieselfde teologie wat George Otis Junior propageer.
Om dus met hierdie leerstellings te identifiseer in ‘n eenheidsbeweging soos die Transformasiebeweging, is om die duidelike waarskuwing van God se Woord te ignoreer: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? … Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here …” (2 Kor. 6:14,17).
“Ek sal met sekerheid beweer, siende dat ek glo ons in die laaste dae is, dat die kernvraag wat God se kerk konfronteer … nie EENHEID is nie … maar WAARHEID” (“The New Prophets”, Bill Randles, Plumbline Publishers, PMB. 1999. P. 103).
3. GEORGE OTIS JUNIOR.
George Otis Junior is die stigter en president van die “Sentinel”-groep wat die Transformasie-video produseer. Soos in die vorige hoofstuk vermeld, identifiseer en vereenselwig George Otis Junior hom met die “Moral Government” teologie van George C. Olson. Hierdie teologie leer dat die mens moreel neutraal gebore word. Dit ontken dat die mens ‘n sondige natuur, as gevolg van die Sondeval, erf. Volgens hulle teologie word sonde in die mens bewerkstellig deur verkeerde wilskeuses wat die mens maak. Redding, daarom, word nie bewerkstellig deur die versoening van Christus aan die kruis nie, maar word moontlik gemaak deur ‘n persoon se eie self-transformasie – d.w.s. mense kan hulleself moreel verander. Dit is die onderliggende leerstellings van die Transformasiebeweging van George Otis Junior. In sy boek, “The God they never knew,” openbaar George Otis Junior sy foutiewe en on-Bybelse leerstellings:
“As ons glo dat Jesus letterlik ons redding met Sy bloed gekoop het, beeld dit God uit as wraaksugtig en bloeddorstig en totaal onversoenbaar met Bybelse vergifnis” (P. 109).
“’n Sondige natuur word in ons lewens bewerkstellig deur die bewustelike toegee aan negatiewe dinge, met die gevolg dat dit alles wat ons doen, begin affekteer. Daarom erken ons dat daar ‘n sondige natuur teenwoordig is, maar ons moet ook besef dat dit deur ons eie toedoen bewerkstellig is. ‘n Voorbeeld hiervan is ‘n dwelmverslaafde. Hy kan nie help om na dwelms te hunker nie, maar die oorsprong daarvan was in sy keuses” (P.76).
“Die bewering dat Jesus vir ons sonde betaal het, het onmeetlike skade aan die Liggaam van Christus aangerig” (P. 93)
(“The God they never knew,” Bible Voice Publ., Van Nuys, 1978).
Vir George Otis is die Bybelse leerstelling, dat Christus vir ons sondes aan die kruis gesterf het, totaal onaanvaarbaar. Hy glo nie in die Bybelse leerstelling dat die mens in sonde ontvang en gebore word nie, maar leer dat die sonde deur die eie wil van ‘n mens gegenereer word wanneer verkeerde keuses gemaak word en dat ‘n mens daarom sy eie lewe kan regstel voor God deur ‘n wilsbesluit. Sonde, beteken vir Otis, om onder demoniese bindinge en misleiding te wees. Redding, volgens Otis, lê in die identifikasie, konfrontasie, en wegdryf van demoniese magte in die lug, sodat mense onder hulle invloed kan uitkom en sodoende vry kan wees om hul lewens te kan verander en volgens God se plan te kan lewe.
Hierdie leringe is nie net on-Bybels nie, maar ook uiters gevaarlik, want dit maak ‘n mens se redding afhanklik van eie, goeie werke. Hierdie korrupte leringe maak dus die mens sy eie verlosser! Elke Bybelgelowige Christen moet nie net hierdie man as ‘n ongelowige ketter beskou nie, maar moet ook niks met sy bediening en valse Transformasiebeweging te doen hê nie.
4. KONINKRYKSTEOLOGIE.
Die “Moral Government” – teologie van Gordon C. Olson, het deur die Transformasiebeweging, as Koninkryksteologie herleef. Ern Baxter, een van die Transformasie leiers, het by die Nasionale Manne Herderskonferensie in Amerika (Kansas City, Missouri), gedurende September 1975 gesê:
“God se kinders gaan begin om mag uit te oefen, en hulle gaan heerskappy oor die magte van Satan neem. Hulle gaan demoniese prinse laat val. Die donker magte wat oor die parlemente van nasies heers gaan verlam word deur die gesamentlike gebede van ‘n gesaghebbende gemeenskap … en God se kinders, gesamentlik, onder die wil van God, gaan Sy koninkryk en heerskappy vestig”
Koninkryksteologie, wat ook “Heerskappy-teologie” heet, is die onderliggende dryfveer van die Transformasiebeweging, verenigde gebedsaksies, gebedsmarse (“prayer walking”), en die Globale Dag van Gebed (“Global Day of Prayer”). Koninkryksteologie verkondig ‘n groot eindtydse herlewing wat nie net die wêreld vir Jesus gaan wen nie, maar terselfdertyd hele nasies en volke in die aardse koninkryk gaan inbring. In plaas van dat Christus, met Sy wederkoms, alle dinge gaan herstel (Handelinge 15:16), verkondig Koninkryksteoloë dat dit die Kerk is wat alles moet herstel voordat Christus kan terugkeer. Earl Paulk verkondig dat die Kerk,
“… deur God bemagtig is om die mense te word wat so verheelik gaan wees dat hulle die mag sal hê om Christus terug na die aarde te bring. Hierdie verheerlikte Kerk moet die aarde God se voetstoel maak voordat Christus kan terugkeer” (“The New Prophets,” Bill Randles, Plumbline Publishers, PMB. 1999. P. 17).
Dit is wat die Transformasie beweging se doelwitte, deur hul Geestelike oorlogvoering-strategië, is. Wanneer die demoniese vestings en geestelike magte van Satan oorwin is, en stede en dorpe getransformeer is in Goddelike gemeenskappe, dan sal die politieke, sosiale, ekonomiese en opvoedkundige instellings in die hande van Christene wees. Deur Christene wat dan in beheer van die wêreld is, word God se koninkryk dan hier op aarde gevestig. Professor Johan Malan, in ‘n e-nuusbrief 6/01, sê die volgende hieroor:
“Die Transformasie plan is in ooreenstemming met die Koninkryksteologie deurdat dit ten doel het om religieuse sowel as sekulêre heerskappy in die gemeenskap uit te oefen. Die Transformasie plan behels die hele gemeenskap. Die plan vir verlossing van demoniese bindinge is eerder gerig op die geemeenskap as op individue. Dit het ten doel om alle dele van die gemeenskap te verenig deur ‘n proses van rekonsiliasie. Kerkgangers, besigheidsmense, staatsamptenare, en politieke leiers moet almal verenig word deur ‘n gesamentlike doel en toekomsvisie. Die leiers in hierdie samelewing sal almal Christene wees, en kort voor lank sal alle boosheid en anti-sosiale magte verdwyn.”
Maar is dit wat die Bybel aan ons voorhou? Openbaar die Woord van God dat die eindtydse Kerk die wêreld gaan oorneem en God se Koninkryk op aarde gaan vestig voordat Christus terugkeer? Die Bybel openbaar egter die teenoorgestelde! Die Bybel openbaar glad nie dat die Kerk die wêreld gaan oorwin en dit in ‘n paradys gaan verander voor die koms van Christus nie. In Jesus se openbaring van hoe wêreldomstandighede net voor Sy koms gaan lyk, het Jesus gewaarsku: “En dan sal baie afvallig van die geloof word … en baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:10,12). Die wêreld gaan al hoe meer sy rug op God draai en goddeloosheid en boosheid gaan al hoe meer toeneem. Wanneer Jesus oor Sy wederkoms praat, waarsku Hy sy kinders, “… dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie” (Lukas 21:34). In plaas daarvan dat Christene die wêreld gaan oorneem, gaan die wêreld al hoe meer die ware Christene haat en vervolg: “Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam … en hulle sal van julle doodmaak … en julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam” (Lukas 21:12,16,17). In plaas van ‘n groot eindtydse herlewing, soos baie mense verkondig, waarsku die Woord van God dat daar ‘n groot geestelike wegval in die laaste dae in die Kerk gaan plaasvind. “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars … sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, … meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim. 3:1-5). Die bybel openbaar verder dat die eindtydse kerk ‘n “lou” kerk gaan wees (OPenbaring 3:14-17). Die Bybel leer verder dat die wêreld so korrup gaan raak dat God self ‘n einde daaraan gaan maak: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hul eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van Sy wederkoms? … Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elements sal brand en vergaan en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand” (2 Pet. 3:3.4.10). “En daar sal tekens wees aan maan en son en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid … en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Lukas 21:25,26). “En die konings van die aarde en die grotes en rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam, want die groot dag van Sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?”(Openbaring 6:15-17).
Die Bybelse openbaringe van die eindtyd leer beslis nie dat Christene die wêreld gaan oorneem nie. Die Transformasie idee, dat gemeenskappe en nasies hulle gaan onderwerp aan God se gesag, is om dinge na te jaag wat die Bybel nie belowe nie. Die mense wat die Transformasie “droom” najaag vergeet dat die mensdom in rebellie teen God is as gevolg van hul sondige natuur (Rom. 5:12; 3:23). Mense kan nie in goddelike en morele gemeenskappe getransformeer word deur demoniese magte en vestings bokant dorpe en stede te verdryf nie. Die sondige natuur van die mens is die probleem! Die enigste manier om mense van die mag van Satan te verlos is om aan hulle die Evangelie van Christus te bring. Dit beteken hulle moet met die Woord van God gekonfronteer word. Bybelse transformasie kan net plaasvind wanneer die Groot Opdrag van Jesus in Markus 16 :15 uitgevoer word: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” Die Transformasie strategie ignoreer die belangrikste Bybelse waarheid – die sondige natuur van die mens!
5. GEESTELIKE OORLOGVOERING.
Dit klink baie indrukwekkend om geestelike oorlogvoering te voer teen Satan en sy demoniese magte in die hemele. Maar is dit Bybels? Die Bybel leer nie dat Christene, deur sekere tegnieke toe te pas, demoniese magte in die lug kan aanval en verdryf nie. As dit nie Bybels is nie, hoe kan dit dan effektief wees?
Die tegnieke vir Geestelike Oorlogvoering wat deur die Transformasie beweging gebruik word sluit konsepte in soos “geestelike kartering” (spiritual mapping), die binding van “territoriale” of “gebieds- demone,” die afbreek van”demoniese vestings,” en “gebeds-marse” (prayer walking).
George Otis Junior leer dat gemeenskappe deur demone verblind en verlei word. Hy glo dat hierdie demoniese vestings territoriaal (gebiedsgebonde) is en dat dit ‘n struikelblok is wat eers verwyder moet word voordat gemeenskapstransformasie kan plaasvind. Otis, en ander leiers in hierdie beweging, leer dat, indien hierdie demoniese vestings nie afgebreek word nie, kan daar nie geestelike, sosiale en politieke transformasie plaasvind nie. Om ‘n dorp, stad of gebied effektief te transformeer, moet die demoniese vestings eers geïdentifiseer word. Dit word gedoen deur ‘n tegniek wat “geestelike kartering” (spiritual mapping) genoem word.
‘n Ander voorstaander van hierdie “tegniek,” is ‘n man met die naam van C. Peter Wagner. Dit is veral sy leerstellings oor geestelike oorlogvoering wat deur die voorstaanders van die Transformasiebeweging gebruik word. Wagner leer dat Satan sekere hoofdemone uitstuur om gemeenskappe, gebiede, dorpe, stede en lande geestelik te beheer en te bind. Wagner leer dat hierdie demoniese vestings aangeval en vernietig word deur tegnieke van “strategiese geestelike oorlogvoering.” Nadat die demoniese vestings deur geestelike kartering geïdentifiseer is, word die hoofdemoon of “sterk man” (“Strong man”) en sy demone deur gasamentlike gebedsaksies en gebedsmarse van Christene in die gemeenskap gebind en uitgewerp uit die gebied. “Hekwagters” (“gatekeepers”) word dan aangestel om die ingange na gebiede of dorpe te “bewaak” teen die terugkeer van die demoniese magte. Daar kan ook houtpale met Skrifgedeeltes op by hierdie ingange geplant word om die demone weg te hou. Die gebied of dorp word dan vir Jesus geëis en die demone kan nou nie terugkeer om die inwoners verder te verlei nie.
“Die vinnige uitbreiding van die Christelike geloof sal toeneem sodra die vestings en magte van Satan afgebreek is. Dan sal daar nie meer inhiberende faktore, geestelike misleiding of struikelblokke wees wat mense sal verhoed om in groot getalle by kerke aan te sluit en die Here te dien nie. Christene sal dan ook in sleutelposte in die munisipale en regerinsdepartemente aangestel word. Dit sal tot gevolg hê dat die Christendom onder idiale omstandighede vooruit sal gaan. Die transformasie of rekonstruksie van die hele gemeenskap sal in die politieke, sosiale en ekonomiese sfere realiseer. Vooruitgang, stabiliteit, en ‘n misdaadvrye samelewing sal veroorsaak dat almal in vrede en harmonie lewe. Die bose magte van die duisternis sal verbreek wees en die kinders van God sal die mag en heerskappy, wat die Here aan Adam gegee het en deur die sondeval verloor is, weer terugneem.”
(www.cephasministry.com)
Hierdie leerstellnge is die ou “Moral Government” teologie van Gordon C. Olson, wat in die vroë 1940’s deur die Amerikaanse “Assemblies of God” kerk sterk veroordeel is, en wat nou weer onder die bannier van die Transformasiebeweging herleef. Dit is baie duidelik dat hierdie misleiding baie doeltreffend is siende dat omtrent elke kerkdenominasie by die Transformasiebeweging en die globale Gebedsdag betrokke is, nie net in Suid Afrika nie, maar reg oor die wêreld!
Dit is ook onrusbarend dat George Otis , C. Peter Wagner en dié wat hul geestelike oorlogvoeringstrategië onderskryf, nie kan onderskei tussen die werkinge van God soos in die Bybel geopenbaar, en die mistieke tegnieke van die okkulte nie. Hierdie verwarring lei duisende Christene, wat hierdie on-Bybelse leerstellinge navolg, op ‘n gevaarlike geestelike dwaalspoor.
“Op sekere plekke het Otis se geestelike oorlogvoering-leerstellinge in die dimensie van die okkulte inbeweeg. Okkultiese praktyke word aangewend – mense besoek begrafplase om te bepaal watter demone daar heers, riviere en grotte in die berge word gekarteer, en Bybels word met olie gesalf en in die grond onder kerkgeboue begrawe … dit is HEKSERY!
(www.geocities.com)
Otis en Wagner se leringe in verband met geestelike oorlogvoering is gebasseer op hul foutiewe teorie in verband met territoriale of gebiedsgebonde demone. Otis en Wagner neem aan dat spesifieke demone heerskappy en mag uitoefen oor sekere gebiede, dorpe, stede en selfs lande. Volgens hulle kan hierdie plekke nie suksesvol evangeliseer word alvorens hierdie territoriale demone oorwin en verdryf is nie.
Dat daar nie ‘n enkele geval in die Nuwe Testament is om dié soort praktyk te regverdig nie, blyk dié min te skeel wat in hierdie aktiwiteite betrokke is. Die Apostel Paulus sou sekerlik hierdie tipe geestelike oorlogvoering uiters behulpsaam vind in sy sendingreise deur baie heidense lande , dorpe en stede. Maar daar is nie een enkele insident waar Paulus van hierdie tegnieke gebruik gemaak het nie! Die hele “territoriale geestelike oorlogvoering” teorie is gebasseer op ‘n insident in die Ou Testament in Daniël 10:13, waar daar melding gemaak word van die Prins van Persië wat ‘n engel teëgestaan het om by Daniël uit te kom. Peter Fenwick gee die volgende verduideliking hieroor:
“Omdat Daniël nie besig was met geestelike oorlogvoering in die moderne sin van die woord nie, omdat daar geen enkele ander voorbeeld hiervan in die hele Bybel is nie, en omdat die Bybel self geen verklaring van hierdie insident gee nie, is dit daarom verbasend dat ‘n definitiewe teologie rondom hierdie insident opgebou is en dat dit nou in die kerk ‘n baie prominente leerstelling geword het”
(“Blessing the Church?” Clifford Hill, Harper Collins, Glasgow, 1995. P. 43).
George Otis, C. Peter Wagner en die voorstanders van die Transformasiebeweging leer dat wanneer die oppressiewe invloed van territoriale demone verwyder is, dan sal mense vrygestel word om hulle in groot getalle na God te keer. Hierdie lering ignoreer egter die inherente sondige natuur van die mens! Maar omdat hulle nie glo dat die mens inherent sondig is nie, sien hulle nie mense as sondig nie maar eerder as mislei, en deur die “sterk man” of heersende demone oor ‘n gebied te verwyder, sal mense vry wees om volgens God se standaarde te lewe.
Een van die Bybelse teksverse wat deur hulle voorgehou word om hul geestelike oorlogvoering teen demoniese magte in die lug te propageer, is Matthéus 16:19: “En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”
Maar kom ons kyk mooi na wat Jesus hier bedoel het toe Hy hierdie woorde aan sy dissipel, Petrus gespreek het. In die konteks van hierdie hele skrifgedeelte in Matthéus sien ons dat “sleutels” wat Jesus aan Petrus gegee het nie die vermoë is om demone te bind of te verdryf nie, maar die verkondiging van die EVANGELIE! Die evangelie is die “sleutel” wat die hemel vir die mens sal oopsluit of toemaak. Wanneer mense die evangelie van Christus aanneem gee dit hulle toegang tot die ewige lewe, en as hulle die evangelie verwerp, is die hemel ‘n geslote plek vir hulle.
Die lug bokant die aarde is vol demoniese magte, maar daar is geen Bybelse getuienis dat daar territoriale demone is nie, en ons kan nie demone van een plek na ‘n ander dryf nie. Hierdie demone het die reg om daar te wees. God het hulle die reg gegee. Vanuit hierdie geestelike dimensie in die lug val hulle die mens aan in sy denke om sodoende die mens se aksies te manipuleer. Toe Satan vir Jesus in Matthéus 4 probeer versoek en gemanipuleer het om hom te aanbid, het Jesus hom nie gebind en verdryf met een of ander geestelike oorlogvoeringtegniek nie. Jesus het hom met die evangelie weerstaan” “Daar is geskrywe…” (Matt. 4:4,7,10). Toe die Apostel Paulus met een van sy sendingreise in die goddelose en heidense stad Athene aangekom het, “… het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was” (Handelinge 17:16). Paulus het nie nou soos Otis en Wagner die Christene in die stad opgeroep om geestelike oorlogvoering teen die demoniese magte bo die stad uit te oefen, deur hulle te bind en te verdryf, nie. Nee, Paulus het nou begin om die ware evangelie hier aan die mense te verkondig! Ons vind ook nie dat die hele stad hulle na God bekeer het nie, maar dat daar wel ‘n handjievol mense gelowig geword het (Handelinge 17:34). Op al Paulus se sendingreise vind ons dat hy meestal, in die dorpe waar hy gepreek het, verwerp is. Volgens die moderne Transformasie model van Otis en Wagner, was nie net Paulus ‘n groot mislukking nie, maar selfs Jesus en sy dissipels ook, siende dat hulle nie die massas mense, dorpe en gebiede, wat deur die demoniese magte verblind en gebind is teen God, kon bevry nie.
Demoniese vestings, volgens die Bybel, is glad nie wat Otis en Wagner aan mense voorhou nie. ‘n Demoniese vesting is nie die mag wat demone oor ‘n dorp of gebied uitoefen nie. Die Bybel leer dat ‘n “vesting” ‘n leun “teen die kennis van God” is (2 Kor. 10:3-5). ‘n Demoniese “vesting” is om ‘n leun te glo. Byvoorbeeld, ‘n man glo dat hy toegang tot God het deur die voorvadergeeste. Dit is ‘n demoniese vesting – hierdie leun wat hy glo en wat hom gevange hou en onder die invloed van demone bring. Hoe breek ‘n mens hierdie demoniese vesting af? Hy moet die waarheid vertel word! Hy moet vertel word dat Jesus die enigste weg na die Vader is (Joh. 14:6). Wanneer hy hierdie waarheid glo en Jesus aanneem as sy Verlosser, dan word hierdie demoniese vesting (leun) in sy lewe afgebreek. Ons breek demoniese “vestings” in mense se lewens af deur aan hulle die ware evangelie te bring: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons nie stryd volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word TEEN DIE KENNIS VAN GOD, en elke GEDAGTE GEVANGE NEEM TOT GEHOORSAAMHEID AAN CHRISTUS” (2 Kor. 10:3-5). Dit is ware geestelike oorlogvoering!
Die enigste wapen wat ons, volgens die Bybel, kan gebruik om teen Satan en sy bose magte in die lug oorlog te voer, is die “… swaard van die Gees – dit is die woord van God –“ (Efes. 6:17), wat mense uit die mag van Satan gaan verlos.
6. DIE TRANSFORMASIE VIDEO.
Die Transformasie video wat wyd versprei is deur die wêreld en wat met groot opgewondenheid deur kerke en Christene aanvaar is, is deur die “Sentinel” Groep van George Otis Junior vervaardig. In hierdie video word vier gemeenskappe bekendgestel en word die kyker bewus gemaak van die wonderlike transformasie wat in hierdie gemeenskappe plaasgevind het as gevolg van die geestelike oorlogvoerintegnieke van die Transformasiebeweging. Die vier stede en dorpe in hierdie video is (1) Cali in Kolumbië, (2) Almolonga in Guatemala, (3) Kiambu in Kenia, en (4) Hemet in Kalifornië.
Maar is hierdie wonderlike transformasie, soos deur die video in hierdie dorpe en stede voorgestel, werklik waar? Na die vrystelling van hierdie video, het onafhanklike ondersoeke gevind dat baie van die wonderlike stellings wat in die video gemaak word, nie net oordryf is nie maar dat ook baie van die stellings onwaar is.
1. Cali, Kolumbië.
Die Transformasie video beweer dat, as gevolg van die geestelike oorlogvoering in hierdie stad, is die dwelmhandel heeltemaal vernietig en het die baie kultusse drasties afgeneem. Die video wys dat Cali nou ‘n “veilige” stad is, waar ‘n groot persentasie van die bevolking sonder vrees lewe en waar geestelike herlewing in die orde van die dag is. Waar mense eers in vrees gelewe het, wandel hulle nou vry en veilig in die strate.
Die werklikheid is egter dat die dwelmhandel nog net so geweldig voortgaan soos in die verlede. Die rebelle, wat die dwelmhandel beskerm, val nog steeds kerke in Cali aan en baie van hierdie kerke, wat teen die dwelmhandelaars opstaan, is al deur hierdie dwelmbendes gedwing om hul deure te sluit. In die gebiede waar hierdie dwelmbendes in beheer is, en waar hulle Christene toelaat om byeenkomste te hou, het hulle ‘n 6nm. aandklokreël ingestel en verbied hulle ook enige ander Christelike aktiwiteite (www.cnn.com – search Cali, Columbia).
Sataniese kutusse val nog steeds kerke en Christene in Cali aan. Consuelo Zuluaga, ‘n maatskaplike werker in Justopaz, sê dat party kerke al veelvuldige aanvalle beleef het (www.bijbelnet.org).
Volgens die nuusbrief van Ruth Ruibal, die weduwee van die vermoorde pastoor Julio Ruibal wat in die video voorkom, is die situasie in Cali ‘n “sinistere duisternis,” ‘n plek waar haar kerk gewapende wagte moet huur. Die moordenaar van Julio loop vry rond en erken openlik dat hy Julio vermoor het. Hy besit die grond aangrensend die kerk en dreig om van die ander familielede van Julio ook te vermoor (www.ruibal.org).
2. Almolonga, Guatemala.
George Otis maak aanspraak op die video dat 92% van die inwoners hier nou Christene is as gevolg van die transformasie beweging. Hy beweer verder dat daar nie net ‘n 1000% groei in die groente produksie plaasgevind het nie, maar dat die produkte ook groter in voorkoms is. Dit word alles toegeskryf aan die geestelike voordele van die Transformasie tegnieke. Die video wys verder hoedat wetenskaplikes vanoor die wêreld na Almolongo kom om die wonder van die ekstra groot groenteprodukte te bestudeer.
Die werklikheid is egter dat slegs ongeveer 65% van die inwoners hulleself as Christene identifiseer. Baie is egter slegs nominale “Christene.” Van die toordokters in die gebied noem hulleself nou “profete” en gaan maar aan met hul on-Bybelse praktyke (www.christianity.net).
Die oorlog in Guatemala, wat 36 jaar geduur het en eers in die middel 1990s geïndig het, het hierdie gebied se landbouproduksie heeltemaal tot stilstand gebring. Nadat die vyandighede gestaak is, was dit natuurlik dat die landbou se produksie vinnig begin vermeerder het. Tweedens was die groenteprodukte nie soseer bekend vir die grootte daarvan nie, maar eerder vir die gesondheidsprobleme wat deur die oorgebruik van insektedoders veroorsaak is. Die gebruik van gifstowwe het die kwantiteit en grootte van die produkte vermeerder, maar met newe-effekte. Die wetenskaplikes wat hier na Almolongo gekom het, was nie daar om die “wonderwerk,” wat as gevolg van transformasie plaasgevind het, te bestudeer nie, maar eerder om die gesonheidsprobleme, wat deur die oormatige gebruik van insektedoders veroorsaak is, te ondersoek.
3. Kiambu, Kenia.
Die video wys hoedat daar ‘n herlewing in Kiambu uitgebreek het vanaf die “gebedsgrot,” en beweer dat baie mense vanaf Nairobi hierheen stroom om deel te wees van die getransformeerde gemeenskap. ‘n Sendeling van die “African Inland Mission” in Kenia sê dat sy geen kennis dra van enige geestelike herlewing in Kiambu nie.
(www.godsglory.org)
4. Hemet, Kalifornië.
Die video hou voor dat, na die implimentering van die transformasie tegnieke, daar ‘n 75% afname in die dwelmhandel plaasgevind het, dat eenheid tussen kerke bewerkstellig is, dat daar ‘n 14% toename in kerkbywong plaasgevind het, en dat daar ‘n ooglopende afname in misdaad is. Die realiteit is egter dat geeneen van die kerke, wat gekontak is, ook nie die auteurs van ‘n artikel oor die dwelmhandel in Suid Kalifornië, enige kennis dra van ‘n afname in die dwelmhandel, ‘n toename in kerkgetalle, en dat hulle nie bewus is van enige “herlewing” in Hemet, soos wat die Transformasie video voorhou nie.
(www.antioch.com).
Die Transformasie video van Otis reflekteer nie die ware toedrag van sake in hierdie dorpe en gemeenskappe nie. Otis bedrieg opsetlik sy kykers. Sy verskuilde agenda is om evangeliese Christene se fokus vanaf die Groot Opdrag, wat die verkondiging van die Woord aan verlore mense is sodat hulle gered kan word, te verskuif na nuttelose geestelike strategië, wat nie mense se harte kan verander nie en wat geen uitwerking op Satan en sy demoniese magte het nie. Indien ons, as evangeliese Christene, hierdie valse en sogenaamde “beweging van God” wil oorleef, moet ons bewustelik terugkeer “… na die heilige Skrifte … wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Jesus Christus” (2 Tim. 3:15).
7. DIE GLOBALE DAG VAN GEBED.
Gedurende Pinkster Sondag op 15 Mei 2005, is gelowiges van alle denominasies deur die Transformasiebeweging byeengebring in sportstadions dwars oor die wêreld om saam voorgeskrewe gebede te bid, terwyl hulle per satelietsein met Christene in ander lande verbind was. Daar was baie opregte Christene, veral in Suid Afrika, wat hieraan deelgeneem het, min wetende dat hulle betrokke is by die on-Bybelse Koninkryksteologie en Geestelike Oorlogvoering van George Otis Junior en C. Peter Wagner.
In die brosjures wat die Globale gebedsdag adverteer, sowel as in die gebedsgids, is daar verskeie aanhalings en gebedsvoorskrifte wat op ‘n subtiele wyse die idiologië en idees van die Koninkryksteologie voorhou.
* Beskrywing: Tien dae van gebed vir … die transformasie van die nasies.
* Visie: … om die glorie van God hier op aarde te openbaar … om die nasies van die wêreld te seën.
* Missie: Om ‘n koepel van gebed oor al die kontinente te vestig. Om te bid … vir die transformasie van al die nasies.
In die 10-dae gebedsprogram wat die Globale gebedsdag op Pinkster Sondag voorafgegaan het, kom van die volgende gebedsversoeke voor. Let op die subtiele verwysings na die Koninkryksteologie en die Transformasie idees.
* … vir Christene om in verwagting te leef dat die beloftes van transformasie in hul leeftyd vervul sal word.
* … dat God se regverdigheid en geregtigheid die wyse waarop die handelswese en politiek bedryf word, sal transformeer.
* … dat die vrede van Christus se koninkryk ‘n verandering sal teweegbring in die manier wat stede en nasies regeer word.
In die voorgeskrewe gebed met die titel: “’n Gebed vir die Nasies,” word die volgende gebede gevind. Let weereens op hoe daar na Koninkryksteologie verwys word:
* Laat U koninkryk in elke volk van hierdie wêreld gevestig word sodat regerings met regverdigheid en geregtigheid sal regeer.
* Mag U seëninge elke mens op hierdie aarde transformeer.
* Gee ons wysheid en insig in elke sfeer van hierdie lewe.
* Koning van Heerlikheid, ons nooi U om na die nasies van hierdie wêreld te kom … om alle dinge te herstel. Ons verwelkom U om U werk in ons stede, ons mense en ons volke te voltooi.
Die volgende gebed-sin van “’n Gebed vir die Nasies” openbaar een van die kernleerstellings van die Transformasiebeweging:
* Bekragtig die Kerk om na die beeld van Christus getransformeer te word.
Een van die kernleerstellinge van Koninkryksteologie is dat die Kerk in die endtye, as die verpersoonliking van Christus, die nasies gaan regeer.
“Sommige glo dat die tweede koms van Christus in die Kerk sal manifesteer …Die kerk, as sy Liggaam, gaan as die verheerlikte en oorwinnende Christus op aarde manifesteer. Hulle gaan die wêreld oorwin en dan die nasies met ‘n ysterhand regeer’ (www.letusreason.org).
Die Bybel openbaar egter dat dit Christus self, wanneer Hy na hierdie aarde in krag en heerlikheid terugkeer, dat dit Hy sal wees, en nie die kerk nie, wat die nasies gaan oorheers en met ‘n ysterhand regeer (Openbaring 19 en 20). Hierdie valse leerstelling, dat die Kerk die wêreld gaan oorwin en oor die nasies regeer voor Jesus se wederkoms, is om die mens in die plek van Christus te plaas en om aan die Christen prerogatiewe oor te dra wat slegs aan Christus behoort.
Twee van die “sleutelwoorde” wat gereeld voorkom in die Transformasie gebede, is om te bid vir die “heling” en “seëning” van die nasies. Wat bedoel hulle hiermee? Dit maak eers sin wanneer ons sien hoedat hierdie twee woorde in die teologie van die Transformasie- of Koninkryksteologie inpas. Koninkryksteologie leer dat dit die Kerk is wat die Abrahamietiese Verbond moet vervul. In Genesis 12:1-3 lees ons dat al die nasies deur die saad van Abraham geseën sal word. Die “saad” verwys egter nie hier na die Kerk soos Koninkryksteoloë beweer nie, maar verwys na Christus, wat as die Messias uit die nageslag (of saad) van Abraham, die Verlosser van die wêreld sal wees. Maar omdat die Koninkryksteoloë die Kerk in die plek van Christus plaas, sien en leer hulle dat dit die Kerk is waardeur al die nasies geseën sal word. Hulle beweer dat Abraham, en selfs Jesus, asook sy dissipels, in hierdie doel gefaal het en dat dit nou van die Kerk afhang om die nasies te “seën” of te red! Alan Vincent, leer byvoorbeeld, dat elke dorp, stad en familie op aarde hierdie “seëning” deur die Kerk sal ontvang (www.velocity.net).
Die man wat verantwoordelik is vir die implimentering van die Globale Dag van Gebed in Suid Afrika, is Graham Power, ‘n ryk sakeman van Kaapstad. Graham Power het, gedurende ‘n manne-ontbyt, onder die bediening van ‘n voormalige Koi bendelid, in ‘n beswyming neergeval waar hy beweer die Here aan hom openbaar het, terwyl hy ‘n buite-liggaamservaring ondervind het, dat ‘n herlewing aan die suidpunt van Afrika gaan begin wat dan verder oor die hele wêreld sal versprei. Hierdie strategie om met die Transformasie van die wêreld te begin, en wat op 15 Mei 2005 met die Globale Gebedsdag in Kaapstad ‘n aanvang geneem het, was nie ‘n onlangse “openbaring” wat die Here aan Graham Power gegee het, soos hy beweer nie. Dit is al baie jare deur die Koninkryksleiers en hul teoloë beplan.
Die geskiedenis van hierdie gebeurtenis (die Globale Dag van Gebed) … is ten nouste verbonde, vir meer as ‘n dekade al, aan die Fuller Teologiese Seminaar van die Koninkryksleiers” (Onderskydingsnuusbrief, Vol. 16, No. 3, Mei/Junie 2005, “Discernment Ministries,” benoni. P. 1,2).
Nie net word die on-Bybelse Koninkryksteologie in die gebede van die Globale Dag van Gebed bevorder nie, maar die predeking van die Woord van die Here word heeltemaal geïgnoreer om plek te maak vir geestelike oorlogvoeringsgebede en tegnieke. Op die program-biljet vir die Globale Dag van Gebed word daar voorgestel dat daar geen verkondiging van die Woord by hierdie geleentheid moet plaasvind nie:
“Dit word aanbeveel dat geen toesprake, predikasie, of uitdagings gedoen word nie, sodat hierdie geleentheid toegewy kan word as ‘n buitengewone Dag van Gebed” (www.gdopusa.org).
Die Bybel herinner ons egter dat dit slegs, “die Heilige Skrifte (is) … wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.” (2 Tim. 3:15). Verder waarsku die Skrif ons dat “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, die is verwaand en verstaan niks nie …“ (1 Tim. 6:3,4) en dat ons “… moet vlug van hierdie dinge …” (vers 11).
Hoe kan ons dan as Christene, wetende die on-Bybelse teologie en die misleidende agenda van Otis, Wagner en die Transformasiebeweging, enige deel hê aan die Globale Dag van Gebed?
8. HEMEL OP AARDE?
Transformasie en Koninkryksteologie verkondig albei dieselfde idee dat die Kerk so magtig gaan word dat dit eventueel die wêreld gaan oorneem en heeltemaal verchristelik. Met ander woorde, in plaas van dat Christus met Sy wederkoms Sy Koninkryk op aarde gaan vestig, leer hulle dat dit die Kerk is wat die koninkryk van Christus op die aarde gaan vestig en dan oor die nasies van die wêreld gaan regeer. In die handleiding van die Globale Dag van Gebed vir 15 Mei 2005, word die volgende gebed voorgehou:
“Bid met verwagting dat elke mens en nasie binnekort die transformerende teenwoordigheid van Jesus Christus deur Sy kinders sal ondervind (naamlik die Kerk). Bid met versekering dat Jesus (deur Sy Kerk) binnekort al die Vader se doelstellings (om Sy Koninkryk op aarde te vestig) sal bereik, en die hemele sal oopmaak om die aarde met Sy manifesterende glorie (naamlik Sy verheerlikte Kerk) te vervul. [Verduidelikings bygevoeg].
‘n Mens wonder wat het geword van Jesus se lering in Johannes 14 wat sê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle ‘n plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (vers 2-3). In plaas daarvan om te bid en te waak vir die wederkoms van Christus (Matt. 24:42) om Sy Bruid, die Kerk, hemel toe te neem, beweer die Transformasie en Koninkryksmense dat die Kerk die hemel na die aarde toe gaan bring.
Hierdie on-Bybelse lering het sy ontstaan gehad in ‘n sogenaamde “profetiese openbaring” wat in ‘n Pinkster byeenkoms in Kanada in 1948 gemaak is. Hierdie “profesie” is gegee om die “ware” uilegging van Romeine 8:19 wat sê: “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God,” te “openbaar.” Die “profetiese openbaring” van hierdie vers het die grondbeginsel gelê vir die Koninkrykslering dat die kerk so verheerlik sal word dat dit uiteindelik heerskappy oor die wêreld gaan neem. Wanneer Romeine 8:19 in konteks van verse 14 tot 25 gelees en verklaar word, vind ons duidelik dat hier gepraat word van die gelowige se uiteindelike liggaamlike opwekking en verheerliking in die hemel: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon … En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam” (verse 11 en 23).
Die Bybelse leringe in verband met die koms van Christus vir sy Bruid word deur die aanhangers van Transformasie en Koninkryksteologie óf verwerp óf weggeredeneer deur Bybelverse te verdraai of buite die konteks aan te haal. Die Bybelse lering dat Christus sy Bruid gaan kom haal om haar in die Hemel in weg te voer (1 Thess. 4:13-18) word deur hulle verwerp. Volgens hulle gaan die Christene sondeloos, perfek en onverganklik as “kinders van God” manifesteer om dan die Koninkryk van God op aarde te vestig.
“(Die Kerk) is deur God bestem om tot so ‘n mate verheerlik te word dat ons Christus terug na die aarde kan bring. Hierdie verheerlikte Kerk moet die aarde God se voetstoel maak voordat Christus kan terugkeer” (“The New Prophets,” Bill Randles, Plumbline Publiseerders, PMB. 1999, P.17).
“(Christus) kan nie persoonlik terug na die aarde kom alvorens die gemanifesteerde kinders van God die nasies onderwerp het en heerskappy oor hulle uitoefen nie … Hierdie gemanifesteerde kinders van God glo dat hulle nie net as ‘n gesamentlike geheel as Kerk, die ‘Christus’ op aarde gaan vorm nie, maar dat hulle individueel ook ‘Christusse’ gaan word” (“Understanding Deception,” Roy Liversey, Bury House Christelike Boeke, 1987, P.181).
Dit is dan ook wat baie van hierdie Koninkryksteologie navolgers openlik verkondig:
“Wanneer Kennith Copeland verkondig: ‘Jy het nie ‘n god in jou nie, jy is een,’ en Benny Hinn sê: ‘Ek is ‘n klein Messias wat op die aarde loop,’ kan ons slegs tot een gevolgtrekking kom, dat hulle met kettery besig is … Die president van TBN, Paul Crouch, stel dit so: ‘Ek is ‘n klein god!’” (“Christianity in Crisis,” Hank Hanegraaf, Harvest House Publiseerders, Oregon, 1997, P.110).
In plaas van ‘n nuwe en heerlike eutopia op aarde, soos wat die Koninkryksteoloë ons wil probeer oortuig, waarsku God se Woord dat, “… dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim. 3:1-5). “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21). Daarom vermaan God se Woord: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).
Hoe heerlik en vertroostend, in ‘n wêreld wat al hoe meer boos word, is die woorde van 1 Thessalonisense 4:16-18:
“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
In 1 Thessalonisense hoofstuk 4 word die stappe van die wegraping baie duidelik uiteengesit: In vers 16a sien ons hoedat die Here Jesus vanuit die hemel neerdaal. Dan word die Christene wat al gesterf het opgewek met nuwe verheerlikte liggame (vers 16b; 1 Kor. 15:52a). Terselfdertyd sal die lewende Christene se sterflike liggame in ‘n oogwink in ontsterflike liggame verander word en saam met die opgewekte Christene weggevoer word, om die Here in die lug te ontmoet, om dan saam in die hemel weggevoer te word (1 Kor. 15:52b; 1 Thess. 4:17).
Maar hoe systap die Koninkryksteoloë hierdie duidelike lering van die wegraping van gelowiges? Skrifgedeeltes soos “Dan sal daar twee op die land wees; die een word geneem en die ander word agtergelaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word geneem en die die ander word agtergelaat” (Matt. 24:40,41), word verklaar dat God dié wat sy Koninkryk op aarde teëstaan, onder Sy oordeel weggeneem gaan word.
“… nadat almal ontvang het wat aangebied is en die aarde SKOONGEMAAK IS VAN ALMAL WAT NIE WIL ONTVANG NIE, kan God se Koninkryk gevestig word” (“Discerment Newsletter,” Vol.16, No. 3, Mei/Junie 2005, “Discernment Ministries,” Benoni).
Hierdie valse leerstelling, dat die kerk die wêreld gaan oorheers, en dat diegene wat dit teëstaan deur God uit die weg geneem gaan word, lê die fondament vir die valse Eenwêreldkerk onder die heerskappy van die Antichris (2 Thess. 2:1-12). Hierdie Skrifgedeelte spreek van die koms van Christus in die eindtye en die wegraping van die Kerk (vers 1). Dit praat van die groot afval wat gaan kom en die openbaring van die Antichris (vers 3). Hierdie afval is die groot wegval van Bybelse waarhede (sien Matt. 24:10-12).
Is hierdie leerstellinge van die Koninkryksteoloë nie besig om die gronslag te lê vir die Antichris om “… in die tempel van God as God (te) sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4)? Onthou, die Bybel leer dat die Antichris homself gaan voordoen as “Christus” (Joh. 5:43), en dat sy koms sal wees met “… allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen … en daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie …” (2 Thess. 2:9-12).
Die leerstellinge van Transformasie en Koninkryksteologie is dat hulle die wêreld gaan oorneem en dit dan aan Christus gaan oorhandig. MAAR WATTER CHRISTUS? GAAN DIT DIE ANTICHRIS WEES? Die Bybel openbaar dat Satan homself kan voordoen as “’n engel van die lig” (2 Kor. 11:14). Gaan hy die een wees wat hierdie wêreldse koninkryk in ontvangs gaan neem? Dit blyk so te wees! Want die Bybel sê duidelik dat Christus die Antichris van sy aardse koninkryk “… met die asem van Sy mond sal verdelg en deur die verskyning van Sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:8).
9. GEVOLGTREKKING.
Transformasie en die Geestelike Oorlogvoeringstegnieke van George Otis Junior en C. Peter Wagner is nou al diep verskans in Christelike denominasies en elke jaar vermeerder die kerke en lidmate wat daaraan deelneem. Hierdie sogenaamde “herlewing” word deur baie as ‘n soewereine beweging van God gesien en baie sien dit as die lank verwagte “Groot Herlewing” van die eindtye. Ander waarsku egter, met verwysings na die Skrif, dat dit deel is van die groot afval en verleiding van die laaste dae waarvan 2 Thessalonicense hoofstuk 2 van praat.
Ek glo dat baie mense wat jaarliks betrokke is by die Transformasie byeenkomste opregte Christene is. Hulle is eerlik opreg maar ook heeltemaal mislei. Baie volg maar net hul geestelike leiers wat self ook mislei is. Party is miskien bekommerd oor sekere aspekte van hierdie beweging, maar hul verlange na ‘n geestelike herlewing is so sterk dat hulle die Bybelse mandaat om alles met die Woord van God te “toets,” ignoreer.
Ek was self een wat ‘n paar jaar gelede betrokke by die Transformasiebeweging was. Dit het alles so goed en opwindend voorgekom. Ek het later egter bekommerd begin raak oor sekere leerstellings, veral oor hul sogenaamde “geestelike oorlogvoering” strategië. Ek het begin om ’n persoonlike studie oor die oorsprong en leerstellings van George Otis Junior en sy Transformasiebeweging, van C. Peter Wagner en sy Geestelike Oorlogvoeringstrategië, en van die Koninkryksteologie te maak. My konklusie is dat die Transformasiebeweging on-Bybels is, en dat dit ‘n herlewing is van die valse Heerskappy-teologie van Gordon C. Olson onder die dekmantel van Koninkryksteologie. George Otis Junior, die man wat Transformasie aan die wêreld voorgestel het, glo nie dat Christus vir ons sondes gesterf het nie, maar leer dat die mens homself kan transformeer wanneer die bindende magte van Satan in die lug verslaan is. Die geestelike oorlogvoeringtegnieke van C. Peter Wagner het meer in gemeen met okkultiese praktyke as Bybelse beginsels.
Die Kerk van Jesus Christus staar geweldige geestelike dwalinge en misleiding in die gesig. In plaas van ‘n groot geestelike herlewing, waarsku die Woord van God dat daar ‘n wêreldwye afval van Bybelse waarhede gaan kom (2 Tim. 3:1-5; 2 Petrus 3:3-17; 2 Thess. 2:3), en dat die Kerk in die laaste dae ‘n “lou” Kerk sal wees (Openb. 3:14-17).
Die Woord van God is duidelik oor wêreldtoestande in die laaste dae, dat “… een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander … aardbewings … hongersnode … pessiektes … op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid … mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom … EN AS HIERDIE DINGE BEGIN GEBEUR, KYK DAN NA BO EN HEF JULLE HOOFDE OP, OMDAT JULLE VERLOSSING NABY IS” (Lukas 21).
Die kinders van die Here word nie aangemoedig om hemel op aarde te hê nie, maar word eerder gewaarsku om nugter te lewe, “… dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag (die Groot Verdrukking – vers 35) julle nie skielik oorval nie” (LUkas 21:34).
Die Apostel Paulus maak ‘n duidelike onderskeid tussen dié wat vir hierdie wêreld en die dinge van hierdie wêreld leef, dat hulle “… wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf … HULLE BEDINK AARDSE DINGE” (Filippense 3:18-19), en dié wat waarlik aan Christus behoort, dat “… (hulle) burgerskap is in die hemele, vanwaar (hulle) ook as verlosser verwag die Here Jesus Christus …” (vers 20).
Indien U, die leser, by die Transformasiebeweging en sy Geestelike Oorlogvoering, Koninkryksteologie, of die Globale Dag van Gebed betrokke is, en het deur die lees van hierdie boekie besef dat U by ‘n on-Bybelse beweging betrokke is, is die Woord van God duidelik: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb. 18:4).
Vir enige verder hulp of navrae is U welkom om die skrywer te kontak:
Pastoor Jannie Viljoen
Posbus 270
Vryheid 3100
jdviljoen@cybersmart.co.za