Die Wegraping ...Feit of fantasie? Deur Pastoor Jannie Viljoen

NHOUD:                                                                 Bl.

 

Hoofstuk 1:                Inleiding – Die Drie Komste van Jesus.  1.

 

Hoofstuk 2:                Die Wegraping.                                  3.

 

Hoofstuk 3:                1 Thessalonisence 4:15 – 17                 10.

 

Hoofstuk 4:                Die Groot Verdrukking.                                13.

 

Hoofstuk 5:                Die Ou Joodse Bruilof Tradisie.             20.

 

Hoofstuk 6:                Spotters.                                           24.

 

INLEIDING – DIE DRIE KOMSTE VAN JESUS.

 

       

 

Om die Bybelse lering rondom die wegraping van die kerk na die hemel te verstaan, is dit nodig om eerstens te besef dat die Bybel drie verskillende komste van Jesus aankondig:

 

Die eerste koms, nl. Sy geboorte.

 

Die tweede koms, nl. Die wegraping van die kerk.

 

Die derde en finale koms, nl. Om te regeer op die aarde.

 

In die Ou Testament sien ons baie profesie rondom die eerste koms van Christus – dat Hy Sy hemelse heerlikheid sou prysgee ter wille daarvan om in die vlees, as die Seun van God, na die aarde te kom. Jesaja 7 vers 14 is een voorbeeld:

 

“Daarom sal die Here self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immanuel noem (wat beteken ‘God met ons.’).”

 

        Hierdie, en ander soortgelyke profesie in die Ou Testament is vervul toe Jesus gebore is uit ‘n maagd in Bethlehem soos wat ons dit aangeteken sien in bv. Matteus 1, Lukas 2 en Johannes 1 verse 1, 2 en 14. Dit is Christus se eerste koms na hierdie aarde.

 

        Die tweede koms van Christus word egter dikwels verwar met, of as dieselfde gesien, as Sy derde of finale koms. Dit is te wyte aan die feit dat baie mense hierdie twee komste as een wederkoms reken, terwyl die Bybel tog duidelik onderskei tussen die wederkoms van Christus om Sy Bruid op te neem in die hemel en dan die derde of finale wederkoms, wanneer Jesus met koninklike heerlikheid en mag sal terugkeer om te regeer oor die nasies.

 

        In hierdie Bybelstudie sal ons sien dat die tweede koms van Christus, nl. die Wegraping van die Kerk na die hemel, die derde of finale koms voorafgaan met ongeveer sewe jaar (Dan. 9:27). Die Bybel leer dat die Wegraping gaan plaasvind net voordat ‘n tydperk van groot oordeel oor ‘n God-verwerpende wereld gaan kom.

 

“Maar pas op vir julle self, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dat DIE DAG julle nie skielik oorval nie, want soos ‘n strik sal hy kom oor ALMAL wat op die HELE aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ONTVLUG en voor die Seun van die mens te staan”  (Luk. 21:34-36).

 

In die volgende hoofstukke gaan ons meer noukeurig kyk na die Skrifte in hierdie verband.

 

DIE WEGRAPING.

 

       

 

Die woord “rapture”  (Engels), of “wegraap”  (Afrikaans), verskyn nie as sulks in die Engelse of Afrikaanse vertaling van die Bybel nie, maar die Griekse woord “harpuzo,”  wat in 1 Thessalonicense 4:17 in die Afrikaanse Bybel as “weggevoer”  vertaal word, waar Paulus praat van die koms van Christus vir Sy Bruid, word in Latyns vertaal as “raptiere.”  Die Engelse vertaling van hierdie woord is “rapture.”  In hierdie verband is die Engelse woord “rapture,”  of in die Afrikaans vertaal, “wegraping,”  dus ‘n aanvaarbare woord om die skielike wegneem van die Kerk na die hemel te beskryf. Die Griekse woord “harpuzo,”  of”wegraping”  in Afrikaans, beteken dus in Bybelse verband om skielik verplaas te word vanaf een plek na ‘n ander, en die Bybel gebruik woorde soos “caught up”  in Engels en “wegvoer”  in Afrikaans soos wat ons dit aangeteken sien in byvoorbeeld 1 Thessalonicense 4:16,17:

 

“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, SAAM MET HULLE in wolke WEGGEVOER (raptiere) word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”

 

        Hierdie wegraping of wegvoering van die Kerk in die hemel in kan onmoontlik met die finale koms van Christus na die aarde verwar word. Die Bybel onderskei baie duidelik tussen hierdie twee gebeure. Vergelyk die volgende Skrifte i.v.m. hierdie twee onderskeie gebeure:

 

1.1    Die Wegraping: 

 

In die wegraping kom haal Christus Sy Kerk (alle wedergebore gelowiges) en voer hulle weg na die hemel,

 

                “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap (sterf) nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons (die lewendes) sal verander word …”  (1 Kor. 15:51,52).

 

                “… want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal voor wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met die geklank van die basuin van God en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word, die Here tegemoet in die lug …”  (1 Thess. 4:15-17).

 

1.2    Die Finale Wederkoms:

 

Terwyl met Sy finale wederkoms, daal Hy neer tot op die aarde om te oordeel:

 

                “En in die dag sal Sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem le, aan die oostekant …”  (Saggaria 14:4).

 

2.1    Die Wegraping:

 

Die wegraping geskied voor die Groot Verdrukking:

 

                “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom (die Groot Verdrukking) te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan”  (Lukas 21:36).

 

2.2    Die Finale Wederkoms:

 

Die finale wederkoms geskied na die Groot Verdrukking:

 

                “En dadelik NA die verdrukking van daardie dae sal … al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid … (Matt. 24:29,30).

 

3.1    Die Wegraping:

 

Met die wegraping word gelowiges na die Vader se huis met baie wonings in die hemel geneem,

 

                “In die huis van My Vader is daar baie wonings;… Ek gaan om vir julle ‘n plek voor te berei. En as ek gegaan en vir julle ‘n plek berei het, kom ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is”  (Joh. 14:2,3).

 

3.2    Die Finale Wederkoms:       

 

                Terwyl daar na Christus se finale koms ‘n nuwe hemel en nuwe aarde geskape word:

 

         “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan … (Openb. 21:2).

 

4.1    Die Wegraping:

 

                Tydens die wegraping vind daar nie ‘n oordeel op die aarde plaas nie,

 

                “… so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Dan sal daar twee op die land wees, die een sal weggeneem word en die ander agter gelaat word. Twee vroue sal by die meul maal; die een word weggeneem en die ander word agter gelaat.”  (Matt; 24:39b-41).

 

4.2    Die Finale Wederkoms:

 

                Terwyl die bewoners van die aarde geoordeel gaan word met Christus se finale koms,

 

                “Kyk, die Here het gekom met Sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense …”  (Judas 14b-15a).

 

                “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel … En Sy naam is ‘Die Woord van God’ … En uit Sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaaf regeer …”  (Openb. 19:11-15).

 

5.1    Die Wegraping:

 

                Die wegraping is uitsonderlik ‘n feestelike geleentheid vir die gelowiges,

 

                “… sodat die beproefdheid van julle geloof … bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus … Daarom … wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.”  (1 Petr. 1:7,13)

 

                “… by die wederkoms van die Here … sal ons wat in die lewe oorbly … in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”  (1 Thess. 4:15,17,18).

 

5.2    Die Finale Wederkoms:

 

                Terwyl die finale koms van die Here gepaardgaan met vrees en dood:

 

                “Naby is die groot dag van die Here, naby en baie haastig … Die dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid … En Ek sal die mense in benoudheid bring … Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die Here te red nie, maar deur die vuur van Sy ywer sal die HELE AARDE verteer word; want Hy bring vernietiging … oor die INWONERS VAN DIE AARDE”  (Sefanja 1:14-18).

 

6.1    Die Wegraping:

 

                Die lewe op aarde, voor die skielike wegraping, sal normaal en onveranderd voortgaan, sonder die besef dat daar iets groots gaan gebeur,

 

                “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sonvloed toe hulle geeet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sonvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie”  (Matt. 24:38,39,42).

 

6.2    Die Finale Wederkoms:

 

                Terwyl die gebeure wat die finale koms van Christus vooraf gaan absoluut katastrofies op die aarde en in die hemelruim sal wees:

 

                “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid … en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En DAN sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid”  (Lukas 21:25-27)

 

7.1    Die Wegraping:

 

                Tydens die wegraping vind die bruilof tussen die Lam en die Bruid plaas,

 

                “… het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof … Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie”  (Matt. 25:10,13).

 

7.2    Die Finale Wederkoms:

 

                Terwyl die Bruid, met Christus se finale koms, saam met Hom terugkeer aarde toe om te regeer:     

 

                “En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne … en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank”  (Openb. 19:14 en 20:6).

 

8.1    Die Wegraping:

 

                Tydens die wegraping sal net Sy eie Hom sien,

 

                “… maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is”  (1 Joh. 3:2).

 

8.2    Die Finale Wederkoms:

 

                Terwyl, met die finale koms van Christus, elke oog Hom sal sien:

 

                “En dan sal hulle (die nasies – vers 25) die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid”  (Lukas 21:27)

 

                “… en dan sal AL DIE STAMME VAN DIE AARDE … die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid”  (Matt. 24:30).

 

      Hierdie bogenoemde Skrifte onderskei baie duidelik tussen die twee wederkomste van Christus. Die wegraping van die Kerk in die hemel in na Christus toe het duidelike Skrifgedeeltes, terwyl die Skrifte wat na die finale wederkoms van Christus na die aarde toe verwys, heeltemaal anders is en nie met die wegraping-Skrifte verwar of vereenselwig kan word nie. Hierdie Skrifte maak dus ‘n duidelike onderskeid tussen die wegraping en die finale wederkoms van Christus, en plaas hulle as twee verskillende en afsonderlike gebeurtenisse.

 

1 THESSALONISENCE 4: 15 – 17

 

       

 

        “Want dit sê ons vir julle deur die Woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal voor wees nie, want die Here self sal van die Hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug en so sal ons altyd by die Here wees.”

 

        Hierdie bogenoemde Skrifgedeelte is sekerlik een van die duidelikste en mees omvattende Skrifgedeeltes wat handel oor die wegraping van die Gelowiges. Kom ons bestudeer hierdie Skrifgedeelte van naderby:

 

Eerstens:

 

        Jesus daal neer uit die hemel MET ‘n GEROEP. Wat hierdie “geroep” sal wees word nie vir ons geopenbaar nie. Ons sien egter dat dit veroorsaak dat die Christene wat al gesterf het, nou skielik, by die wederkoms, opgewek word: “… en die wat IN CHRISTUS GESTERF HET, sal eerste opstaan.” 

 

        Met die opwekking van Lasarus in Johannes 11 word daar ook gepraat van Jesus wat met ‘n groot stem na hom geroep het: “… het Hy met ‘n groot stem geroep: ‘Lasarus, kom uit!’ En die oorledene het uitgekom …”  (Joh. 11:43,44). Die ander dooies in daardie begrafplaas het net so in hul grafte gebly – net Lasarus het die Here se stem gehoor! Hier by die wederkoms van Christus is dit dan ook so – net die gestorwe Christene hoor hierdie roepstem van Jesus. Die ongeredde massas bly in hul grafte tot en met die laaste oordeel: “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie”  (Openb. 20:5).

 

Tweedens:

 

         Die Christene wat nog lewendig is by die wederkoms van Christus, gaan nou saam met die opgestane Gelowiges die Here tegemoet in die lug: “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, SAAM MET HULLE IN WOLKE WEGGEVOER WORD DIE HERE TEGEMOET IN DIE LUG …” 

 

        Paulus voeg verdere inligting oor hierdie gebeure by in Een Korintiers hoofstuk vyftien, waar hy oor die opstanding en die wederkoms van Christus praat:

 

        “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons (die lewendes) sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word”  (vers 51-53).

 

        Paulus openbaar in hierdie Skrifgedeeltes dat die wegraping gaan plaasvind gedurende ‘n tyd dat baie Christene nog leef. Christene wat al gesterf het se liggame sal skielik onverganklik opgewek word. Die lewende Christene se liggame sal skielik, in ‘n oogwink, met ontsterflikheid beklee word – gereed vir die hemelse tuiste! “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beerwe nie; ook beerwe die verganklikheid nie die onverganklike nie” (1 Kor. 15:50). Omdat ons nie met hierdie sondige, natuurlike en sterflike liggame in die hemel kan lewe nie, moet dit verander word!

 

        “Daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek”  (1 Kor. 15:43,44).

 

        “So is ook die opstanding … daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid”  (1 Kor. 15:42).

 

       

 

        Hierna sal alle Christene dan met hul verheerlikte, hemelse liggame, opgeneem of weggeraap word in die hemel in na hul Verlosser, Jesus Christus.

 

        Die bekleding met verheerlikte en onsterflike liggame is nie net sodat ons in die hemel kan lewe nie, maar ook “… sodat Hy die gemeente voor Hom kan stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees”  (Efesiers 5:27).

 

        Die wegraping van alle weergebore gelowiges is ‘n onweerlegbare Skriftuurlike feit. Daar is ongeveer vyftig Skrifgedeeltes in die Ou en Nuwe Testament wat hierdie feite rondom die wegraping openbaar maak. Maar wat sou die rede vir ‘n wegraping wees? Waarom voer God Sy kerk vooraf weg na die hemel terwyl Hy al die ongelowige mense op die aarde los?

 

        Hierdie vraag bring ons by ‘n tydperk wat vir die wêreld voorlê en wat deur die Bybel genoem word, “Die Groot Verdrukking”  (Matt. 24:21), of “Die Dag van die Here”  (2 Petrus 3:10).

 

DIE GROOT VERDRUKKING.

 

       

 

        Om die Bybelse lering oor die wegraping reg te verstaan, moet ons weet wat die Bybel oor ‘n tydperk, wat die Groot Verdrukking genoem word, te sê het. Daar is baie Skrifgedeeltes wat vir ons ‘n eind-tydperk voorhou waar God geweldige oordele, oor ‘n wêreld wat Hom verwerp het, gaan bring. Alhoewel die wêreld, en veral die Kerk, vanaf sy vroegste bestaan, vervolging en verdrukking van verskillende aard beleef het, is die verdrukking wat die Bybel hier voorhou meer spesifiek in sy doel.

 

        Hierdie Groot Verdrukking is in die eerste plek gerig op God se finale interaksie met Israel as ‘n nasie, maar terselfdertyd ook God se finale oordeel oor die heiden-nasies. Wat Israel betref is dit interressant om te sien dat hulle as ‘n soewereine nasie in hul eie land weer hervestig is. Hierdie gebeurtenis het plaasgevind gedurende 1948 en is die vervulling van baie Ou Testamentiese profisie:

 

        “En Ek sal hulle (Israel) plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit die land wat Ek hulle gegee het nie …”  (Amos 9:15).

 

        “Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ‘n herder sy kudde”  (Jer. 31:10b)

 

        “… en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die Here jou God jou verstrooi het. En die Here jou God sal jou bring in die land wat jou vaders in besit geneem het, en jy sal dit in besit neem…”  (Deut. 30:3b,5a).

 

(Sien ook Jer. 30:10-11; 31:10-11; Eseg. 11:16-17; 34:11-13; 36:16-24; 37:11-13, 21-22; Zef. 3:20)

 

        Die doel van die Groot Verdrukking is dus eerstens om Israel weer terug te laat keer tot God, en Jesus Christus, wat deur Israel verwerp is, aan hulle te openbaar as die ware Messias:

 

        “As jy in die nood is en al hierdie dinge (die Groot Verdrukking) AAN DIE EINDE VAN DIE DAE oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na Sy stem luister”  (Deut. 4:30).

 

        “Kyk Hy kom op die wolke (aan die einde van die Groot Verdrukking), en elke oog sal Hom sien, OOK HULLE WAT HOM DEURSTEEK HET (die Jode)…”  (Openb. 1:7a).

 

        Baie Skrif-verwysings dui daarop dat God deur die eintydse Groot Verdrukking grootliks met die Jode as ‘n volk gaan deel. Die Ou Testament, wat spesifiek op die Joodse nasie gerig is, gee die volgende name aan hierdie verdrukkings-tyd wat vir Israel voorle:

 

Jer. 30:7            “En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob.”

 

Deut. 32:35        “Die dag van hul ondergang.”

 

Dan. 12:1          “’n Tyd van benoudheid.”

 

Sef. 1:15,16       “’n Dag van grimmigheid, benoudheid en angs … ‘n Dag van woestheid en verwoesting.”

 

        Die eindtyd verdrukking is dus ‘n spesifieke periode waar God grootliks met Israel as ‘n volk gaan werk. Ons ken dit ook as Daniel se “70ste week” profesie (Dan. 9:25-27). Die gebeure gedurende hierdie sewe jaar tydperk was nie ‘in detail’ aan Daniel openbaar gemaak nie; Jesus het dit verder openbaar in Mattheus 24:4-31 en aan Johannes in Openbaring 4:1 tot 19:21.

 

        Nie alleen is hierdie sewe jaar verdrukkings-tydperk ‘n tyd waarin God met die Jode as ‘n volk werk om hulle tot bekering te bring nie, dit gaan ook ‘n tyd wees waarin God Sy oordele gaan uitstort oor die res van ‘n ongelowige wereld wat Hom as die ware God verwerp het. Die volgende Skrifte wys op sommige van die verskriklike oordele wat oor die wereld gaan kom:

 

        “Kyk, die Dag van die Here kom verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg … En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hul ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van die tiranne verander … Ek sal die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die Here van die leërskare en vanweë die dag van Sy toorngloed”  (Jes. 13:9,11,13).

 

        “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie (d.w.s. ‘n spesifieke tydperk, nl. sewe jaar), sou geen vlees gered word nie (d.w.s. oorbly nie); maar terwille van die uitverkorenes (nl. die Joodse volk) sal daardie dae verkort word”  (Matt. 24:21,22).

 

        “En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom”  (Lukas 21:11).

 

        “… en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en rotse gese: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van Sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?  (Openb. 6:15-17).

 

        “En in dié dae (die Groot Verdrukking) sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug”  (Openb. 9:6).

 

        Geen wonder dat Jesus gesê het dat as daardie dae nie verkort was nie, sou geeneen op aarde oorleef het nie! (Matt. 24:22).

 

        Terwyl ons nou gesien het dat die Groot Verdrukking ‘n tydperk in die toekoms is wat spesifiek met Israel as ‘n nasie te doen het, maar dan ook met ‘n ongelowige mensdom, kan ons met reg vra:

 

MAAR WAT VAN DIE GELOWIGES?

 

        Wat gaan met Jesus se Kerk gebeur gedurende hierdie tyd van God se oordeel oor ‘n sondige wereld, ‘n ongekende tyd van verdrukking en vernietiging? Wanneer Jesus na hierdie spesifieke tyd van verdrukking verwys, maak Hy die volgende verklaring in Lukas 21 vers 36:

 

                “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom (die Groot Verdrukking) te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan …”

 

        Hier het ons die rede vir die wegraping van die Kerk: “… om al hierdie dinge wat kom TE ONTVLUG en voor die Seun van die mens te staan.”

 

        Die ware Kerk van Jesus Christus bestaan uit al die bloedgewaste, wedergebore gelowiges – hulle wie vergewe en regverdig is deur hulle geloof in Christus as persoonlike Verlosser. Hierdie Kerk is NIE ONDER GOD SE OORDEEL NIE! “Daar is dan NOU geen veroordeling vir die wat in Jesus Christus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees”  (Rom. 8:1). Sommige beweer dat Jesus die Kerk deur die Groot Verdrukking sal laat gaan om haar te “suiwer.” Hierdie teorie is on-Bybels gesien aan die feit dat ware gelowiges geregverdig is deur die Bloed van Jesus en nie deur verdrukking nie! (1 Joh. 1:7). Verdrukking mag ons wel nader na God trek en ons help om sonde af te lê, maar redding en regverdigmaking is deur geloof in Christus en nie deur werke nie (Ef. 2:8).

 

        Van groot belang, wanneer daar geleer word of die Kerk deur die Groot Verdrukking sal gaan aldan nie, is Openbaring hoofstuk drie, verse sewe tot dertien, wat die brief aan die Kerk van Filadelfia is. Alhoewel die briewe aan die sewe kerke in Openbaring hoofstuk drie geskryf is aan sewe bestaande kerke in Johannes se tyd, is hierdie kerke ook profeties van die sewe kerk-tydperke in die Kerk se bestaan op aarde.

 

        Dat hierdie spesifieke Kerk in Filidelfia profeties na ‘n eindtyd kerk verwys, word geopenbaar in die woorde van Jesus aan hierdie kerk: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie”  (vers 11). Jesus openbaar ook verder dat hierdie eindtyd-kerk ‘n ware gelowige kerk is: “… jy het my woorde bewaar en my Naam nie verloen nie”  (vers 8).

 

        Omdat hierdie ‘n ware en gelowige kerk is, verseker Jesus haar dat sy nie deur die Groot Verdrukking sal gaan nie: “ Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar VAN (Grieks: “ek” – “uit van” of “weg van”) die uur van beproewing wat OOR DIE HELE WERELD GAAN KOM om die bewoners van die aarde op die proef te stel”  (vers 10).

 

        Nog ‘n aanduiding dat die ware gelowiges nie deur die Groot Verdrukking sal gaan nie, maar weggevoer gaan word na die hemel, word gesien in die Boek van Openbaring tussen hoofstukke drie en vier. Vanaf hoofstuk een tot drie word daar intensief van die Kerk gepraat, terwyl, vanaf hoofstuk vier tot agtien, wat uitsluitlik oor die Groot Verdrukking handel, die Kerk nêrens genoem word nie, nie eers een keer nie! Indien die Kerk deur die Groot Verdrukking moet gaan sou Jesus sekerlik dit hier bevestig het? Dit is egter eers in hoofstuk negentien, wanneer Christus finaal terugkeer na die aarde om ‘n einde aan die Groot Verdrukking te maak, dat die Kerk weer genoem word, en dan in verband met die Kerk wat saam met Hom terugkeer na die aarde in krag en heerlikheid! Die Bybel is duidelik dat “God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur ons Here Jesus Christus”  (1 Thess. 5:9).

 

        Dat Christus sy Kerk gaan wegraap voor die Groot Verdrukking word ook duidelik uitgebeeld in die Ou Testament in die manier wat God met Sy eie kinders gehandel het, wanneer Hy die goddeloses geoordeel het. Die Apostel Petrus gee ‘n baie duidelike voorbeeld hiervan in 2 Petrus, hoofstuk twee. Die konteks van hierdie brief van Petrus wys dat hy hier praat van die valse profete van die eindtyd, hulle wat die wederkoms van Christus (3:3,4), en die die Dag van die Here, die Groot Verdrukking (3:10-11) bespot. Petrus gebruik nou Ou Testamentiese voorbeelde in hoofstuk twee om daarop te wys dat voordat Hy Sy toorn oor die goddeloses uitstort, Hy eers Sy eie kinders wegneem sodat hulle nie daardeur geraak sal word nie.

 

        “… en die ou wereld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die Sondvloed oor die wereld van goddelose mense mense gebring het; en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand … en die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense … die Here weet om die godsaliges UIT (Grieks: “ek” – “uit van” of “weg van”) versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word …”  (2 Petr. 2:5-9)

 

        Baie Skrifte verwys na Israel in die toekomstige Verdrukking, maar nie een Skrif maak melding van die Kerk op aarde  gedurende die Groot Verdrukking nie. Die Bybel-geskiedenis openbaar dat God grootliks met Israel as ‘n volk werk vanaf Abraham tot en met Christus, maar wanneer Christus kom en Israel Hom verwerp as hul Messias, word hulle slegs vir ‘n tyd opsy gesit sodat Christus aan die nie-Joodse nasies (die heidene) openbaar gemaak kan word, om sodoende Sy Kerk, Sy Liggaam op aarde, te vestig.

 

        “God het Sy volk (Israel) wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie … Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene (nie-Jode) gekom om hulle jaloers te maak … die verharding het ten dele oor Israel gekom totdat die volheid van die heidene ingegaan het … en so sal die hele Israel gered word”  (Rom. 11:2,11,25,26).

 

        Na die wegraping van die Kerk, “wanneer die volheid van die heidene ingegaan het,” gaan God dus weer aan Israel aandag gee as ‘n volk deurdat Hy toelaat dat hulle deur die Groot Verdrukking gaan sodat hulle uiteindelik sal terugkeer na Hom deur Jesus te aanvaar as hul Messias wanneer Hy kom om hulle aan die einde van die Groot Verdrukking te red van die afgryslike heerskappy van die Anti-chris en die goddelose nasies. Die profeet Esegiel profeteer van hierdie dag:

 

        “… en al die nasies sal my strafgerig sien wat Ek voltrek het, en My hand wat Ek op hulle gelê het (die Groot Verdrukking). En die huis van Israel sal weet dat Ek die Here hulle God is, van die dag af en verder … En hulle sal hul smaad vergeet en al hul ontrou wat hulle teen My begaan het, as hulle in hul land veilig woon en daar niemand is wat hulle verskrik nie … En hulle sal weet dat Ek, die Here, hulle God is …”  (Esegiel 39:21,22,26,28).

 

        Die “laaste-dae plan” van God word dus duidelik in die Bybel vir ons opgeteken. God het Israel as volk nie verstoot nie, maar net eenkant geplaas sodat Hy sy Bruid in hierdie dispensasie kan vestig op aarde. Sodra Sy Bruid volkome is gaan Hy haar wegraap in die hemel in sodat Hy Sy oordele op die goddelose wereld kan uitwerp in die Groot Verdrukking. Terselfdertyd vestig God Sy aandag op Israel wat nou weer as ‘n volk in hul eie land woon om hulle dan aan die einde van die Groot Verdrukking van die magte die van Anti-chris te red, waar hulle dan hul redder, Jesus Christus, as hul Messias sal erken en aanvaar.

 

DIE OU JOODSE BRUILOF-TRADISIE

 

       

 

        Soos wat ons in die vorige hoofstukke gesien het, is God besig om volgens ‘n spesifieke plan met Israel, die Kerk en die nasies te werk. Dat God met Israel gaan handel gedurende die eindtye word baie duidelik geopenbaar in menige Bybelse profesië (Jer. 30:7; 33:6-9; Eseg. 36:24-27; Sagg. 12:10-11; ens).

 

        Totdat die tyd egter aanbreek dat God weer aan Israel, as ‘n volk aandag gaan gee (na die wegraping van die Kerk), word die Kerk in hierdie dispensasie voorberei as die Bruid van Christus. Wanneer die apostels Paulus en Johannes van die Kerk praat, gebruik hulle die simboliek van die Bruid:

 

        “Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een Man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel” (2Kor. 11:2).

 

“… kom hierheen, ek sal jou die Bruid toon, die vrou van die Lam”  (Openb. 21:9).

 

        Om te verduidelik en uit te beeld hoe Hy, Jesus, Sy Kerk voorberei vir die wegraping, gebruik Jesus ‘n ou Joodse bruilof-tradisie wat wel bekend was vir die Jode in daardie dae.

 

        Wanneer die jong bruidegom na sy voornemende bruid se huis gaan om “ouers te vra,” het hy drie spesifieke dinge met hom saamgeneem. Die eerste item was ‘n voorafbepaalde som geld aan die pa om vir sy bruid te betaal. Dit versinnebeeld die prys in bloed wat Jesus aan die Vader betaal het om vir Homself ‘n Bruid, die Kerk, los te koop:

 

        “Omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is (nie) … maar deur die kosbare bloed van Christus …”  (1 Petr. 1:18,19).

 

        Die jong Joodse bruidegom het dan ook ‘n huwelikskontrak en ‘n vles wyn met hom saamgeneem. As die vader van die bruid tevrede was met die kontrak, is dit verseel met die gebruik van die wyn. Dit verwys na die kontrak wat Jesus vir Sy Bruid, die Kerk, met die Vader aangegaan het en verseel is met Sy bloed:

 

        “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by my verbygaan … nogtans nie My wil nie maar U wil”  (Matt. 26:39).

 

        Nadat die kontrak verseël is, was die bruid en die bruidegom nou amptelik verbind (verloof). Omdat Christus Sy bruid, die Kerk, met Sy bloed gekoop het, word die gelowige dus beskou as “verbind” aan Jesus: “Want ek het julle aan een Man verbind om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel”  (2 Kor. 11:2). Nadat die kontrak so verseël is, het die bruidegom teruggekeer na sy vader se huis om vir sy bruid die “huwelikskamer” te gaan voorberei. Daarom het Jesus, die hemelse Bruidegom, vir Sy volgelinge gesê:

 

        “Ek gaan om vir julle ‘n plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is”  (Joh. 14:2b,3).

 

        Terwyl die jong Joodse bruidegom weg was om vir hom en sy bruid ‘n plek voor te berei, het die bruid haarself gereed gemaak vir haar bruidegom. Terwyl die hemelse Bruidegom weg is om ‘n plek vir Sy Bruid, die Kerk, voor te berei, is die Kerk besig om haarself in gereedheid te kry terwyl sy in afwagting vir Sy terukoms, om Haar te kom haal, wag.

 

        “… want ons weet dat wanneer Hy verskyn, ons aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het reinig homself, net soos Hy rein is …”  (1 Joh. 3:2,3).

 

        Gedurende hierdie tyd begin die jong bruidegom om die bruilofskamer of die “chadar” gereed te kry. As enige een dan vir hom sou vra wanneer hy sy bruid gaan haal, het hy geantwoord: “Net my vader weet.”  In Israel was dit die tradisie dat slegs die bruidegom se vader, eers wanneer hy tevrede was dat die bruilofskamer gereed was, toestemming gee dat sy seun sy bruid kan gaan haal. Wanneer Jesus praat oor die tyd wanneer Hy Sy Bruid, die Kerk, gaan kom haal, sê Hy: “… maar van daardie dag en die uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader …”  (Mark. 13:32).

 

        Wanneer die bruilofskamer volgens sy vader gereed is, het die bruidegom sy bruid gaan haal. Dan het die huweliks-seremonie plaasgevind. Op daardie dag, volgens Joodse tradisie, word hulle as rein en heilig beskou. Wanneer Jesus Sy Bruid kom haal om Haar saam met Hom in die hemel op te neem, sal Hy Haar voor Hom stel, “verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees”  (Efes. 5:27).

 

        Na die huweliks-seremonie bly die bruidegom en sy bruid in die huwelikskamer vir sewe dae. Dit verwys na na die sewe jaar wat die Kerk saam met Christus in die hemel sal wees na die wegraping. In die Joodse tradisie verskyn die bruidspaar na die sewe dae om die bruilofsfees te begin. Na die sewe jaar in die hemel verskyn Christus en Sy Bruid, die Kerk, om die duisenjarige vrederyk op aarde te begin:

 

        “En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne … en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank”  (Openb. 19:14; 20:6b).

 

Wie is hierdie “leërs … bekleed met wit en ryn fyn linne …?” Dit is nie engele, soos wat party dit uitlê nie. Openbaring 19 vêrs 8 noem duidelik dat dit die bruid van Christus is, die Kerk, die Gelowiges: “En aan haar (die Bruid) is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.”

 

‘n verdere aanduiding dat hier in Openbaring nie gepraat word van engele nie, maar van die Gelowiges wat saam met Christus terugkeer om ‘n einde aan die Groot Verdrukking te maak, is ‘n Ou Testamentiese profesie in Sagaria hoofstuk 14:1 – 9. Dat hierdie profesie handel oor die finale koms van Christus om ‘n einde aan die Groot Verdrukking te maak kan duidelik gesien word in vers 4: “En in dié dag sal Sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê …”

 

Dan lees ons in hierdie profesie, wat handel oor die finale koms van Christus, in vêrs 5 dat die Gelowiges saam met Christus sal kom (Soos wat Openbaring 19:14 dit duidelik stel): “Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sagaria 14:5b).

 

Omdat die Bybel duidelik leer dat die Gelowiges saam met Christus terugkeer ná die Groot Verdrukking, is dit dus duidelik dat die gelowiges nie in die Groot Verdrukking sal wees nie. Dit is dan ook wat die Bybel duidelik openbaar, soos wat ons alreeds gesien het.

 

        Die Bybel openbaar baie duidelik dat die Bruid van Christus, die ware Kerk (alle wedergebore Christene), weggeraap gaan word met die wederkoms van Jesus in die lug. Hy sal haar dan opneem in die hemel om by Hom te wees (Joh. 14:3). Hierdie gebeurtenis kan enige oomblik plaasvind: “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. Daarom moet julle gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie”  (Matt. 24:42,44).

 

        Onthou, daar sal groot sigbare tekens aan die hemel en op die aarde wees net voor en gedurende Christus se finale koms (Matt. 24:29-30). Maar, met die wegraping sal daar geen vooraf tekens wees nie. Die wegraping geskied skielik, in ‘n oogwink!

 

        Nadat Jesus in Mattheus 24 verse 42 en 44 openbaar het dat Sy verskyning by Sy wederkoms on-aangekondig gaan wees, het Hy die volgende gelykenis vertel:

 

        “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom op hierdie manier besig sal vind … maar as daardie slegte dienskneg in sy hart se: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van die dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie, en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie … en hy sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveindstes maak … daar sal geween wees en gekners van tande …”  (Matt. 24:45-51).

 

SPOTTERS.

 

       

 

        “… Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: ‘Waar is die belofte van Sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af …”  (2 Petrus 3:2,3).

 

        Die volgende stelling deur ‘n prominente leraar dui op die groeiende houding van menige Christen i.v.m. die Bybelse leringe aangaande Christus se tweede wederkoms:

 

        “Jy kan boeke bestudeer oor hemel toe gaan in ‘n sogenaamde wegraping as dit jou stig. Ons wil die Bybel bestudeer om te leer om te leef en lief te hê om sodoende die hemel na die aarde te bring”(1)

 

        Hierdie foutiewe en valse lering, dat Christene die wêreld gaan inneem en oorheers voordat Jesus na die aarde toe kan terugkeer, is grootliks te wyte aan die verwarring wat meegebring word deur die leerstellinge van die “Latter Day Rain,”  “Manifested Sons of God” en “Dominion”  predikers. Die wegraping van die Kerk en die hemel as ‘n weklikheid het so ‘n vae begrip vir baie Christene geword dat die Skrifgedeeltes wat daaroor handel meestal slegs by begrafnisdienste aangehaal word.

 

        Jesus se leringe wat betref hierdie spesifieke hoop vir die eindtydse Kerk, om Haar uit te red uit ‘n bose wêreld wat voorberei word vir Goddelike oordeel, het verlore gegaan vir baie Christene. Die politieke en sosiale agenda van die groter kerk het so ‘n belangrike rol begin speel in hierdie wêreld dat die eintlike doel van die kerk van die Here Jesus Christus, om die mense voor te berei vir die hemel, grootliks geïgnoreer word. Dat die Bybel hierdie toedrag van sake in die eindtydse kerk voorspel het is duidelik in die volgende profetiese woorde van die Apostel Lukas wanneer hy sê:

 

        “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgerye en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en die dag (die wegraping, gevolg deur die Groot Verdrukking) julle nie skielik oorval nie. Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug (deur die wegraping) en voor die Seun van die mens te staan”  (Luk. 21:34-36).

 

        Is die uitsluitlike doel van die Kerk die onderwerping van die gemeenskap aan koninkrykswaardes soos sommige predikers leer? Is dit die Kerk se taak om beheer te neem oor die nasies soos wat Ern Baxter leer?

 

        “God se kinders gaan begin om te regeer en hulle gaan beheer neem oor die magte van Satan. Hulle gaan diaboliese prinse onderwerp. Die donker magte wat oor die parlementsgeboue van die nasies hang gaan verlam word deur die gesamentlike gebed van ‘n gemeenskap wat hul autoriteit in die gees opneem. As die staf van Sy sterkte uit Sion uitgaan sal Hy die duiwel van die aarde af verdryf en God se kinders, gesamentlik onder die wil van God, sal God se doel en wil laat heers.”(2)

 

        Hierdie leerstellings van die “kingdom Now” predikers, wat sê dat die Kerk die wêreld ten goede gaan laat verander, en dat Christene die nasies gaan oorheers en politieke en ekonomiese heerskappy oor die mensdom sal voer voordat Christus na die aarde toe kom, is nie net on-Bybels nie, maar ook misleidend. Gaan daar ‘n groot eindtydse herlewing kom wat die wêreld gaan omkeer om hele nasies in te bring in ‘n aardse koninkryk waarin Christene gaan heers en regeer wat dan weer op sy beurt aan Christus opgedra gaan word, soos wat John Wimber geleer het op die Docklands, Engeland konferensie?

 

        “Daar is iets hoër as om ‘n denominasie te wees en dit is om die eindtyd weermag te wees en betrokke te wees in hierdie groter beweging (die “Kingdom Now” – beweging) om alles op aarde en bo die aarde onder die voete van Jesus te bring.”(3)

 

        Die lering dat Christene die hele wêreld moet bekeer en oorheers voordat Christus kan terugkeer het die oorheersende tema van menige kerke en denominasies geword. George Grant, wat die “Dominion” lering aanhang het eenmaal gesê: “Die weermag van God (nl. die Kerk) is veronderstel om die wêreld te oorwin en te onderwerp, en daaroor te heers” Hierdie vals leerstelling van die “Kingdom Now” beweging, wat sy oorsprong het in die “Latter Day Rain” beweging gedurende die laat 1940’s, en wat verwerp is as ‘n valse en on-Bybelse leerstelling deur die meeste kerke van daardie tyd, het nou onder die vaandel van die “Dominion” leerstelling en “Transformation” beweging die mees dominante evangelistiese beweging geword.

 

        In plaas van ‘n Christelike eutopia op aarde in die laaste dae, waarsku God se Woord ons dat:

 

        “… daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars … onheilig … bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie … meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God…”  (2 Tim. 3:1-4).

 

        Vir baie Christene is die wederkoms van Christus vir Sy Bruid, die Kerk, ‘n vae gebeurtenis wat iewers in die verre verskiet lê. Vir menige gelowige het dit so ‘n vae begrip geword dat dit nie eers meer deel is van hul geestelike raamwerk nie. Dat die wederkoms van Christus vir Sy bruid bespot en vergeet sal word was eeue terug geprofeteer in die Woord van God:

 

        “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hul eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van Sy wederkoms?”  (2 Petrus 3:4).

 

        Soos ons egter gesien het in hierdie voorafgaande Bybelstudie, is die wegraping van die Kerk ‘n voldonge feit gegrond op die Woord van God. Ons moet alles toets en onderwerp aan die Woord van God en nie op die verbeeldingsvlugte van mense staatmaak nie! Jesus gaan terugkom om Sy Bruid, die Kerk, te kom haal soos Hy belowe het!

 

HY WAT DIT GETUIG, SE JA, EK KOM GOU. AMEN, JA KOM, HERE JESUS!

 

(Openbaring 22:20)

 

VERWYSINGS:

 

1.     How Close Are We? Dave Hunt, Harvest House Publishers, 1993, P. 212.

 

2.     National Men’s Shepherds Conference, Kansas City, Missouri, September, 1975.

 

3.     The New Prophets, Bill Randles, Plumbline Publishing, Pietermaritzburg, S.A., 1999, P. 108.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00