SKRIFLESING: Nehemia 1:1-11
SKRIF VIR OORDENKING: (Neh. 1:3) “En hulle het vir my gesê: Die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangenskap daar in die provinsie, verkeer in groot ellende en in smaad, en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur verbrand.”
(Esg 22:30) En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.
TEMA: HERSTEL DIE POORTE
INLEIDING
Ons kan nooit daaraan dink om herstelwerk te begin as ons nie eers bekommerd raak oor die bouvalle nie. Ons moet eers besef dat daar herstelwerk nodig is alvorens ons kan begin herstel. Het u al ooit na u eie geestelike lewe gekyk, goed gekyk? Het u al ooit lank genoeg stil geword, gevalueer en vergelyk wat u kan wees deur die genade van God en wat u vandag is? Het u al gekyk na die moontlikhede wat God u gewys het of getoon het en hoe vêr u daarvan afgewyk het? U het woord ontvang rakende die toestand van u geestelike lewe: of deur u stilte tyd, Bybelstudie of boodskappe vanaf hierdie kansel. Nehemia het die nuus ontvang en het 4 maande lank geween, getreur, gevas en gebid. Dit is gevolg deur belydenis van sonde, erkenning van die toestand van die volk en hul geestelike lewe.
Daar was ’n spesifieke patroon wat gevolg was met die herstel van die mure en die poorte en ons gaan in hierdie kort tydjie daarna kyk en hoe dit geestelik toegepas moet word.
In Nehemia 3 beskryf die Woord van God vir ons waar die herstelwerk begin het. Die herstelwerk het begin by die Skaappoort, daarna die Vispoort, die Ou Poort, die Dalpoort, die Aspoort, die Fonteinpoort, Waterpoort, die Perdepoort, die Oospoort, daarna die Wagpoort en die beskrywing eindig weer by die Skaappoort.
’n Spesifieke volgorde en as ons geestelik daarna kyk dan sien ons die groei van die kind van God daarin.
Die woord bou in hoofstuk 3 verwys om te herstel, Hebr. Baw-naw betekenis: “to rebuild”.
Dit beteken dat geen nuwe materiaal benodig was nie. Al die materiaal was daar behalwe die houtwerk wat Nehemia vanaf die koning ontvang het.
Waarom moet ons vandag soveel nuwe metodes “invoer” om mense by die kruis te kry, om mense te trek om by God uit te kom. Die regte metode is daar, ons moet dit net raaksien, die Ou Ou Evangelie, “Bring my die Ou-ou tyding” is die lied wat ons so dikwels sing.
Rom 1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Die woord “herstel” word 35 keer gebruik in hoofstuk 3 en een keer in hoofstuk 4.
Dit beteken om te versterk, om sterk te maak. Nehemia was nie bereid om ’n kits metode, goedkoop metodes te vind om die muur gou te herstel nie. Nee, hy het die muur versterk en sterker gemaak. Daar is nie iets soos kits-bekerings, goedkoop bekerings nie, goedkoop godsdiens nie. Dit kos ’n prys.
Luk 14:28 “Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?”
Waarom is die mure vervalle en die poorte verbrand?
“Die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur verbrand.”
Ons lees “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.” Ps.34:8
Ps 34:10 “Vrees die HERE, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie.” U kan ook Deut. 6:24 en 10:12, 20 gaan lees.
Die vrees vir die Here was nie meer daar nie, en daarom het die mure verval, is die poorte verbrand.
Eseg. 11:9, 12 “En Ek sal julle daar uitbring en julle oorgee in die hand van vreemdes en strafgerigte onder julle oefen. (12) En julle sal weet dat Ek die HERE is, omdat julle nie in my insettinge gewandel en my verordeninge nie gehou het nie, maar gehandel het volgens verordeninge van die nasies wat rondom julle is.
Dan lees ons hierdie verskriklike woorde in Esegiël 11:23 “En die heerlikheid van die HERE het opgestyg uit die stad uit weg en het gaan staan op die berg wat oos van die stad lê.”
Kom ons begin by die Skaappoort.
Die Skaappoort was naby die tempel geleë. Daardeur was die diere vir die offer doeleindes gebring na die priesters.
Die enigste poort wat nie sluitbalke en grendels het nie. Ons kan enige tyd na Jesus toe kom.
Die Skaappoort herinner ons dan ook aan Jesus, ons Verlosser.
Joh. 10:11 “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”
Joh. 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Jesus is vir ons die ware Skaappoort waardeur ons moet gaan om gered te word. Geen ander naam is gegee in die hemel of op of onder die aarde waardeur iemand gered kan word nie, behalwe Jesus Christus die Seun van God.
Ons as sondaars het soos skape verstrooid, elkeen ons eie pad geloop.
Jes. 53:6 “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”
1Pe 2:25 “Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.”
Jesus het self ook gesê “(Joh. 3:3) “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
(Hand 16:31) “Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
In Engeland het daar twee broers gewoon. Al het hulle in een huis grootgeword was die een “goed” en die ander “sleg”. Al die mense het geweet dat die verskil gelê het in hulle geloof in Jesus Christus: die een was ’n gelowige en die ander ’n ongelowige.
Een namiddag laat was die “goeie” broer op pad na een van sy vele kerklike verpligtings met die Bybel onder die arm.
Op die dieselfde oomblik het die slegte broer al slingerend en onder die invloed by die tuinhekkie ingestrompel.
Toe hulle bymekaar kom staar die slegte broer sy goeie broer aan en vra met ’n sleeptong en dronkmanswysheid: “Glo jy wat in daardie Bybel staan?”
“Natuurlik” sê sy broer, “ek glo elke woord daarvan!”
“Glo jy as die Bybel sê dat ook slegtes gered kan word?” vra die slegte broer.
“Ja, Jesus is magtig om enigeen te red” antwoord sy broer.
“My liewe broer” sê die half besope broer met pyn in sy oë, “ek en jy woon nou reeds 22 jaar onder dieselfde dak en jy het dit nog nooit vir my gesê nie. As ek sulke goeie nuus gehad het en ’n slegte broer soos ek gehad het, sou ek op my knieë op stukkende bottelstukke oor die breedte van Engeland gekruip het om dit vir hom te gaan sê. En jy het dit nog nooit vir my gesê nie!”
Wat ’n aanklag! Moet ons enigsins vêrder gaan?
(Mat 10:32, 33) “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.”
DIE VISPOORT: DIE POORT VAN GETUIENIS.
Christus se uiteindelike doel is om vrede vir ons sondige mensdom te verkry, en die verkondiging van die boodskap van vrede is reeds besig om dwarsdeur die wêreld te versprei.
Jes. 52:7 “Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!”
Rom 10:15 “En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!”
Efese 6:15 “en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.”
(FB Meyer) het gesê “Ons moet in ons getuienis nie huiwer of in ons hart die waarheid verberg wat aan ons toevertrou is nie, aangesien daardeur smaad en lyding oor ons gebring kan word. Daar is niks wat vir ons eie erns en toewyding so bevorderlik sal wees as ons gedurige getuienis vir Christus nie. Die bevordering van die koninkryk van God word nie soseer bepaal deur merkwaardige veldtogte en preke nie, as deurdat ons elkeen vir ons naaste sou sê: “Ken die Here!” “Maak reg met die Here”.
ONS PERSOONLIKE GETUIENIS IS ONSKATBAAR.
(Joh. 4:28, 29) “Die vrou het toe haar waterkan laat staan en na die stad gegaan en vir die mense gesê: Kom kyk ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”
Die Samaritaanse vrou het ’n hele stad aan die voete van Jesus gebring met haar belydenis. Baie Samaritane het in Jesus geglo deur die woord van die vrou wat sy getuig het. Dit was die aanvang van ’n groot herlewing vir die stad Sigar.
Dit was DL Moody se gewoonte om elke dag met iemand oor Jesus te praat. FB Meyer skryf dat in sy bediening hy dieselfde toegepas het en dit was die mees vrugbaarste tye van sy bediening.
Hoe lyk dit met u, my broeder? Wat verhinder u getuienis? Sonde in u lewe.
Dan word die volgende waar: “Some Christians are like arctic rivers – frozen at the mouth”.
(Jes. 1:18) “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”
Wanneer ons deur die Vispoort gegaan het en getuig wat Christus vir ons gedoen het en kan doen vir ander, ondervind ons dat hierdie nuwe geloof in Christus getoets word en dit raak moeiliker; dan is dit tyd om deur die Ou Poort te gaan, om die waarhede van ouds te leer.
DIE OU POORT.
Nadat ons deur die Skaappoort van redding, deur die Vispoort van getuienis gegaan het, moet ons deur die Ou Poort van die kennis van God’s Woord gaan.
(Neh. 3:6) “En die Ou Poort het Jójada, die seun van Paséag, en Mesúllam, die seun van Besódja, herstel; hulle het dit met balke uitgelê en sy deure en sy sluitbalke en sy grendels ingesit.”
Die woord “OU” verwys na iets wat verbygegaan het, maar dit spreek ook van iets solied, en onveranderlik soos ’n fondament.
Jójada beteken “Die Here weet” of “kennis van die Here”
Wanneer ons begin getuig (Vispoort) nadat ons by die Skaappoort was, ons redding, kom ons gou agter dat ons by die fondament moet bly; Die kennis van die Woord van God. Jer. 6:16(a) “So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.”
Vandag, meer as ooit tevore word die beginsels, die waarhede waarop die Kerk van Jesus “gebou” is, uitgegooi en as verouderd beskou. Nuwe idees, nuwe metodes moet gevind en geïmplementeer word. Wanneer ons hierdie Bybelse waarhede en beginsels soos redding, heiligmaking, heilige lewenswandel, ens. uitgooi/verwerp sal ons vind dat die mure verbrokkel en die poorte verbreek word en die vyand wat buite moet wees het toegang tot ons siele.
Joh. 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
(2Ko 4:2) Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan.
(2Ti 2:15) Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.
Maar dit verwys ook na die ou-mens wat moet sterf.
Wanneer ek by die Vispoort deurgaan wag die Oupoort waar ek die ou-mens, die “eie ek” sal moet afsterf. Ek kan nie getuig as die “eie-ek” nog in die pad is nie.
Jesus herstel nie die “ou-mens” nie, Nee ek word verander.
Rom 7:24, 25 “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!”
(2Ko 5:17) “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
Deur die werking van die Heilige Gees word hierdie neiging van die ou mens om te sondig dood gemaak en daardeur word ons afgesonder van sonde en beklee met ’n geheiligde karakter, aanneemlik om aan God te behoort.
(Gal 5:16) “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”
Die Ou Poort is ’n belangrike poort in die lewe van ’n kind van God want daarsonder kan ons nie wandel volgens en in die wil van God nie.
Die Ou Poort verwys ook na gemeenskap. Jer.6:16
Laastens, as ons kyk na die bouers: Die Skaappoort is gebou deur die Priesters, die Vispoort deur broers, maar die Ou Poort is herstel deur twee nie-verwante mense. Hieruit leer ons ook dat ek nie alles alleen kan doen nie. Ek moet leer om deel van die liggaam te word.
(Heb 3:13) “Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.”
Heb 10:25 “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”
Onthou, Christus is met ons in alles en daarom wanneer die pad of die taak moeilik lyk of word dan is ook die liggaam van Christus daar om ons te ondersteun.
Gal 6:2 “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.”
1Kor 12:24(b) “maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, (25) sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. (26) En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”
Reik uit na u mede-broeders en susters in Christus en die pad vorentoe, die stryd om die Evangelie uit te dra lyk dan nie meer so moeilik en onoorkombaar nie.