IS U OPGEROEP DEUR DIE MEESTER? – Johan De Bruin

TEMA: IS U OPGEROEP DEUR DIE MEESTER?

SKRIFLESING: 2 Tim.2:1-7

TEKS VAN OORDENKING Joh. 11:28(b) “…Die Meester is hier en Hy roep jou.”

INLEIDING

Paulus maak gebruik van sewe praktiese voorbeelde in hierdie hoofstuk om die diensverrigting van kinders van die Here te beskryf.

Die Rentmeester, vers 1-2.

Die Soldaat, vers 3-4 en verse 8-13.

Die Atleet, vers 5.

Die Boer, vers 6-7.

Die werksman, verse 14-18

Soos voorwerpe in ‘n groot huis, verse 19-22.

Die dienskneg, verse 23-26

Ek wil graag met die hulp en leiding van die Heilige Gees na eienskappe kyk van die soldaat. Ons gaan in die tydjie wat tot ons beskikking is fokus op die soldaat in Christus se weermag.

As ons praat van die soldaat sluit dit almal in.

INHOUD

Die Soldaat

Die soldaat word opgeroep tot diens. In die dae toe ons nog militêre diensplig moes verrig het, moes ons eers registreer as dienspligtig. Dit het gepaard gegaan met verskeie vorms wat voltooi moes word, mediese toetse ens.

Dan die angstige gewag vir die oproep instruksie; waarheen, watter regiment, ens.

Dan op ‘n dag in die pos arriveer die kaartjie met jou weermag nommer op.

Daar word aangedui watter regiment/afdeling, waar jy moet aanmeld en wanneer en dan ook die vervoer reëlings indien vêr van die spesifieke kamp.

Dan het jy geweet, ek is opgemerk, in aanmerking geneem soos ek is, en ek behoort nou aan die spesifieke regiment, Infanterie, Pantser afdeling, Valskerm bataljon, Genie korps ens.

Die Here Jesus stuur ook Sy “oproep” instruksies uit tot u en my.

Luk 13:34 “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie.”

Joh. 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Hierdie oproep instruksies kom na u en my deur middel van getuienisse van ander kinders van die Here.

Deur eredienste soos hierdie waar ons die geleentheid kry deur God se Genade om reg te maak, te breek met dit wat ons weerhou om ten volle die Here Jesus te volg, en deel van Sy weermag te word.

Het u al hierdie uitnodiging, hierdie oproep bewustelik beantwoord.

EIENSKAPPE VAN DIE SOLDAAT

1.      Die soldaat vertrou die bevelvoerder van die afdeling waar hy homself bevind, met sy lewe.

Hy vertrou ten volle op sy Opperbevelvoerder, vers 11-13.

Jesus is die Bewerker van ons Saligheid. Captain of our salvation. Heb.2:10

Dit is geloof in Jesus Christus wat ons die oorwinning gee. 1 Joh.5:4

“Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.”

Deur ons identifisering met Christus se dood, graf en opstanding het ons die oorwinning vgl. Rom.6.

Joh.16: 33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Ons veg nie vir oorwinning nie maar vanuit ‘n posisie van oorwinning wat reeds oor die vyand behaal is.

2.      Hy openbaar goeie deursettingsvermoë, verdra teenspoed, moeilikheid, ongerief, ontbering en swaar of drukkende las in alle omstandighede.

‘n Toegewyde kind van God is gewikkel in ‘n oorlog wat Geestelike uithouvermoë, weerstandsvermoë, lydsaamheid en geduld in alle omstandighede, plekke ens. waar ek vir diens geroep en geplaas is, verg. Efes.6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.”

Word bekragtig deur jou gemeenskap met die Here. Stiltetyd, Bybelstudie, en gebed. Moet dit nie verwaarloos nie.

“in die krag van Sy sterkte”. My eie krag beteken niks, daarom moet ek versterk word in die krag van Jesus. Hoe is dit moontlik?

2Kor 12:10 “Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.”

Selfverloëning, self verootmoediging voor God.

Spurgeon skryf:

You will never get into the heart of happiness till you become unselfish and generous; you have but chewed the husks of religion which are often bitter, you have never eaten of the sweet kernel until you have felt the love of God constraining you to make sacrifice”

·         Die soldaat is toegewyd aan sy Opperbevelvoerder. In ons geval die Here Jesus Christus. Die Een wat hom geroep en gelys het. Heb.2:10 “….. Captain of their (our) salvation.”

Hy vermy die moontlikheid om vasgevang te word in die werksaamhede van die lewensonderhoud. Vers 4.

Dit spreek van absolute toegewydheid en prioriteit-bewustheid teenoor die Een wat hom gewerf, geroep en gelys het.

Hy verdra alles tot verheerliking van Jesus Christus vers 8-10.

Sy vertroue is op sy Opperbevelvoerder wat sy rantsoen sal voorsien en daarom fokus hy op die taak op hande as soldaat.

·         Hy dink aan die hele leërmag en nie net aan homself nie. Vers 10

Daar is baie siele wat bereik moet word, dus ‘n soldaat wat net aan homself dink is dislojaal en onbetroubaar, iemand wat deur sy mede soldate eerder vermy wil word as om saam, skouer aan skouer in een linie te veg..

·         Die soldaat is en bly lojaal.

Die soldaat sal nooit sy Opperbevelvoerder verloën nie.

Dink maar aan die grensoorlog ondervindings of enige ander veldslag.

Hy weet dat wanneer die “roll call”/ register afgelees word na die kontak met die vyand dit geopenbaar sal word en hy sy beloning kwyt sal wees.

Hy weet dat tydens die medalje parade hy verloën sal word.

Net so sal dit ook wees met die geroepe soldaat geestelik.

Kol 2:8 “Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.”

Ons moet versigtig wees om nie gevang te word deur, filosofie, misleiding, tradisies, menslike godsdiens, wêreldse leerstellings wat teen God is nie, valse leerstellinge.

·         Die soldaat kan duidelik uitgeken word.

Die soldaat staan uit tussen ander mense. Sy uniform en voorkoms maak hom/haar duidelik waarneembaar.

Kol 2:9, 10 “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag;”

Liggaamlik: die Griekse woord is “Somatikos”; wat beteken dit is in kontras met die wat in die wêreld is.

Die spraak en gedrag maak die soldaat uniek tussen ander mense.

Christus is vir my die belangrikste.

·         Soldaat se uitrusting.

Ons wapens en uitrusting is beproef verklaar deur Christus self en is tot ons beskikking.

2Kor. 10:4 “want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,”

Rom 13:12 “Die nag het vêr gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.”

2Kor 6:7 “in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter— en linkerhand;”

·         Die soldaat ken sy vyand.

Die vyand in die lewe van die Kind van God is:

Die wêreld   Joh. 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

1Jn 2:15 “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.”

Die vlees   Rom 8:6-8 “Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;”

Die Satan  1Pe 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”

2Ko 2:10, 11 “Aan wie julle iets vergewe, vergeef ek ook; want wie ek ook vergeef het—as ek iets vergeef het—dit was om julle ontwil voor die aangesig van Christus, sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie.”

AFSLUITING

As kinders van die Here is ons soldate in Sy weermag.

Ons plaas nie ons geloof en vertroue in onsself in ons gevoelens en emosies nie. Dit sal ons verseker faal. Maar ons moet dit plaas in Christus ons Opperbevelvoerder.

J. Hudson Taylor het dikwels gesê “It is not by trying to be faithful, but in looking to the Faithful One, that we win victory”

Hoe verrig ons diens as soldaat in die posisie waartoe God ons geroep en gelys het.

‘n Gelowige soldaat het sy Kapelaan genader vir advies: Laas nag toe ek by my bed gekniel het om te bid het die ouens begin om my te bespot en belaglik te maak. Wel het die kapelaan geantwoord lê net in jou bed en neig jou hart tot God in stilte en Hy sal jou hoor.

Na afloop van ‘n paar dae vra die kapelaan hoe dit gaan met die tye van aandgebed. Die soldaat het geantwoord: Ek het u advies gevolg vir drie aande maar my gewete het my gepla omrede ek my Here verraai het, so ek het weer begin stil word en gebid soos voorheen. Wat het toe gebeur vra die kapelaan?

Dit was verstommend nie een het my bespot of probeer belaglik maak nie. Al vyftien man in ons tent het saam met my gekniel en ek het hardop vir almal gebid.

My wense vir u elkeen vir u studie-tyd wat voorlê is die woorde van Helena Garret: “May a dying Saviour’s Love; And a risen Saviour’s power; And an ascended Saviour’s Glory be the comfort and joy of your heart.” Amen 

0:00
0:00