EN DAN?

Oupa sit die een middag saam met sy kleinseun op die stoep van die plaashuis en koffie drink. Rustig bulk die beeste in die kraal en koer die duiwe in die bome.

Oupa:- “ My kind, wat beplan jy vir die toekoms?” 

Seun:- “ Oupa, dit is belangrik dat ek eers skool voltooi!”

Oupa;- “En dan?”

Seun:- “ Oupa , dan gaan ek universiteit toe om te leer!”

Oupa: “En dan?”

Seun:- “Oupa, dan gaan ek vir my ’n goeie werk kry waar ek baie geld kan kry.”

Oupa:- “En dan?”

Seun:- “ Oupa, dan gaan ek ’n huis koop en trou en ek wil ook kinders hê.”

Oupa:- “En dan?”

 Seun:- “ Oupa, dan sal ek ook eendag met pensioen gaan.”

Oupa:- “En dan?”

Seun:- “ Oupaaa, en dan….en dan…. en dan sal ek seker dood gaan!”

Oupa:- “En dan?”

Seun:- “Oupaaaa, dan sal ek ……..dan sal ek…….. ek weet nie!”

Vriende, hoe baie mense beplan nie hulle lewe hier op aarde nie? Alles word beplan tot sukses toe. Hulle werk dag en nag en beplan en pas aan en werk.

Nooit , of baie min dink mense aan die sekonde na die dood. En dan? Waar gaan jy jou ewigheid deurbring?

Die afgelope vakansie het ek mense ontmoet wat nog nooit – ja, nog nooit van die verlossing van Christus Jesus gehoor het nie. Hulle weet nie wie Jesus Christus is nie! Hulle weet niks van die kruis en die verlossing van sonde nie. Hulle weet nie van ’n hel of ’n hemel nie.

Is dit nie tyd dat jy jou lewe in oorweging bring en weer kyk wat is die hoofsaak en wat is die bysaak nie? Hoe groot verskil kan jy in mense se lewe maak met getuienis, gebed, cd’s, finansies, ensovoorts?

Ek het ’n sendeling ontmoet wat onder groot druk die Evangelie verkondig met minimale hulp. Eenvoudige dinge soos ‘n “donkie” warmwaterstelsel wat vergroot en herstel moet word. ’n Boot wat hy as geskenk gekry het maar hy moet dit self gaan haal maar hy het nie die finansies nie. Bybels wat hy benodig asook traktaatjies. Sy kinders wat matriek moet skryf maar daar is nie finansies nie.

Waarmee is jy besig? En dan?

Lei God jou om hierdie sendeling te help? Kontak my vir meer inligting asseblief?

MATT. 10:42  En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker kou water laat drink, omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.

GEBED

Here, ek is gevang in die gejaag van die lewe. Elke dag is vir my oorlewing. Open my oë om die nood van die mensdom te sien wat oppad is na die gapende hel.

AMEN

0:00
0:00