GOD SE VOORSIENING!

In ’n sekere gemeente , nie baie groot nie, het ’n vrou tot bekering gekom. Sy was lief vir die Here Jesus Christus en het hom met haar hele hart gedien. Haar man was die dorp se slagter en hy het nie die Here gedien nie en hierdie vrou van hom baie sterk teë gestaan in haar ywer om die Here te dien. Sy was getrou om die gemeente se dienste by te woon en dit het haar man baie kwaad gemaak. Hy het haar gedurig gedreig , maar sy het aangehou om die Here te dien.

Dit is een more terwyl sy gereed maak om na die diens te gaan , het hy weer begin om te vloek en te skel op haar. Hy was so kwaad dat hy haar gedreig het, dat indien sy sou gaan, hy haar keel sou afsny sodra sy by die huis kom. Sy het tot God geroep, maar geen verligting in haar siel ervaar nie. Sy het wel klaar gemaak en na die diens toe gegaan. Die oomblik toe sy by die deur uitstap, het hy weer op haar geskreeu en gesê, dat hy sal nie haar keel afsny nie, want hy het iets anders in gedagte, hy sal haar in die warm oond gooi as sy terug kom.

Sy het met vrees en bewing na die diens vertrek. Daardie Sondagoggend het die predikant gepreek oor Daniël se drie vriende wat in die vuuroond gegooi is en hoe die Here hulle bygestaan het. Hierdie boodskap was net vir hierdie vroutjie gewees. Sy het geweet dat die Here met haar praat en sy was gewillig , al het sy ’n duisend lewens, om dit neer te lê vir die Here. Bemoedig deur die Woord het sy terug gegaan huistoe.

Sy was gewillig om in die oond gegooi te word vir die Here en by die huis het sy die ergste verwag. Groot was haar verbasing, toe sy haar man vind, kalm en rustig, maar onder die diepe oortuiging van sonde. Hy het God gesoek vir sy lewe.

God toets jou soms ,deur vir jou deur moeilike omstandighede te stuur, maar meer nog, om ander vir die Here te bereik deurdat jy vasstaan in die Here. Hoeveel keer hardloop mense nie weg van dit wat God van hulle verlang nie?

LUKAS 9:62  “En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”

GEBED

Here, stel my instaat om ten alle tye my keuse U te maak en nooit terug te deins nie. AMEN

  

0:00
0:00