Getransformeerde/ Veranderde dienswerk – Johan De Bruin

SKRIFLESING Johannes 21:1-13

SKRIF VAN OORDENKING (Joh. 21:10) Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het.

TEMA Getransformeerde/ Veranderde dienswerk.

INLEIDING

Daar moes vir die dissipels ’n merkwaardige ooreenkoms gewees het tussen die gebeure hier en die van Luk. 5:5-11. Dieselfde omstandighede moes herinneringe voortgebring het van wat daardie dag gebeur het ook by die meer van Gennesaret. Daar het Petrus besef hy is verlore en ’n sondaar en het die Here versoek om van hom af weg te gaan Luk.5:8. Hier is dalk vir hulle ’n vernuwing van die opdrag wat Jesus vir hulle gegee het in Luk.5: 10(b).

Vir elke kind van God is in hierdie hoofstuk ’n waardevolle les opgesluit m.b.t. dienswerk.

Miskien sit u hier vanoggend en dink by uself “ek is nie voltyds in diens van die Here nie”. Ek het nuus vir u, elkeen van ons wat die getuienis in die hart dra van redding, is ’n dienskneg in diens van die Meester.

Maar ons sien die volgende in hierdie hoofstuk na vore kom m.b.t. dienswerk.

1. Dienswerk in die krag van die vlees.

2. Die gebrek van vrug op vleeslike dienswerk

3. Die resultate as God die dienswerk rig.

4. Die Here se voorsiening aan Sy diensknegte.

5. Die enigste motief vir dienswerk.

1. DIENSWERK IN DIE KRAG VAN DIE VLEES

Die dissipels was op die plek waar die Here hul bestel het. (Mat 28:10) “En Jesus sê vir hulle: Moenie vrees nie. Gaan heen en vertel my broeders dat hulle na Galilea moet gaan; en daar sal hulle My sien.”

Hulle was gehoorsaam om na die plek te gaan soos in opdrag van die Here. Maar die geduld het ontbreek. Hulle moes wag op die Here.

Petrus het ongeduldig geword deur te wag. (Joh. 21:3) “Simon Petrus sê vir hulle: Ek gaan visvang.” Die gevolge van hierdie optrede van Petrus is Hulle sê vir hom: “Ons gaan ook saam met jou.” Totaal buite die wil van die Here, ongehoorsaam aan Sy opdrag, keer hul terug daarna wat voorheen vir hulle gewerk het toe hulle nog nie deur die Here geroep was nie. Keer terug na die bekende-wêreld waarin hulle voorheen gewandel het. Baie mense sal sê daar is niks verkeerd in wat hulle gedoen het nie. Dit mag so wees, maar die opdrag was om na Galilea te gaan en daar sal hulle die Here sien. Daarom was hierdie optrede buite die wil van God. Die feit dat dit nag was gee vir ons ’n verdere verduideliking dat ons moet optree soos mense van die lig. Die Here het ook nie aan hulle verskyn gedurende die nag nie; hulle was nie daar waar die Here hulle bestel het nie. Ons lees vêrder in vers 3 “En hulle het uitgegaan en dadelik in die skuit geklim, en in daardie nag het hulle niks gevang nie.” Wees versigtig om op te tree in die krag van die vlees en nie in die krag van die Gees van God nie.

2. DIE VRUGTELOOSHEID VAN VLEESLIKE DIENSWERK

Hierdie geliefde dissipels, so ook elkeen van ons, moet die les leer dat sonder die Here kan ons niks doen nie. (Joh 15:5) “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”

Hulle het nie die woorde van Petrus oordink of dit binne die wil van die Here is nie. Nee, almal klim in die skuit en vaar uit op die see van Galilea. Totaal buit die wil van God.

Ons lees in vers 4: “En toe dit al dag geword het, staan Jesus op die strand; maar die dissipels het nie geweet dat dit Jesus was nie.”

Die woordjie “en” dra by tot die feit dat hulle buite die wil van God was. Jesus staan op die strand, maar die dissipels het nie geweet dat dit Jesus was nie. Geestelik was hulle nie op die plek om die Here te herken nie. Geestelike vermoëns het ontbreek omrede hulle buite die wil van God was. Hulle het Hom nie verwag nie.

Hoe dikwels nader die Here tot ons, maar ons is nie bewus daarvan nie. Hoe dikwels tree ons op in die krag van die vlees en kan ons Jesus nie sien of herken nie. Hierdie manne het teruggekeer na hulle wêreldse roeping en dus beset deur hulle vleeslike behoeftes, drange en herken Jesus nie.

Joh.21:3 “En hulle het uitgegaan en dadelik in die skuit geklim, en in daardie nag het hulle niks gevang nie.”

Hierdie gebeure is beslis opgeteken vir ons om te leer. Wag op die Here en op Sy krag. Efs 6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.”

Jes 40:31 “maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”

3. GOD RIG DIE DIENSWERK.

Eers is daar die belydenis dat ons verkeerd opgetree het. Erkenning dat ons buite die wil van God was.

(Joh 21:5) “En Jesus sê vir hulle: My kinders, het julle nie iets om te eet nie? Hulle antwoord Hom: Nee.”

Ons moet hier oplet. Jesus gebruik nie die aanspreekvorm van liefde soos in Joh.13:33 “Little children” Tek.-nee-on” wat dui op geliefdes, “darlings”. Jesus gebruik hierdie aanspreekvorm “pahee-dee-on wat dui op aanspreekvorm vanaf ‘’n afstand, dit dui ook volgens 1 Kor.4:20 op die wat swak, onkundig, oningelig en kinderagtig is.. Wat bevestig dat hulle geestelik nie naby aan Hom was op daardie tydstip nie.

Die Here vra die vraag of hulle iets het om te eet. Seker weet die Here dat hulle niks gevang het nie. Maar die vraag is nodig

Voordat die Here die oorvloedige vrug gaan gee, moet ons eers ons eie onvermoë en swakheid erken. Voordat Hy sy krag uitstort oor ons moet ons eers bewus gemaak word van ons eie leegheid. Ons moet ons niks-wees voor God erken en die plek van hulpeloosheid inneem voor God.

Geestelik en figuurlik gesproke kan ons sê die dissipels op die see dui ons aan hier in die wêreld. Die Here Jesus op die strand, ’n toonbeeld van die Here Jesus in die hemel. Die Here het vanaf die strand met hulle gespreek. Hoe wonderlik om te weet dat die Here vanuit die hemel met ons bemoeienis maak en ons lei waar ons moet gaan. Wees net maar stil en wag op Sy stem.

(Joh 21:6) En Hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie.

Die Here Jesus het as’t ware die visse in die net gelei. Dit is die suksesverhaal van dienswerk. Dit is nie deur ons welsprekendheid, oorredingsvermoë, ens. nie maar alleen deur Sy soewereine krag. (Joh 12:32) “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” Joh 3:30 Hy moet meer word, maar ek minder.

Hulle het gehoor, gehoorsaam en gedoen. Dit is die les vir ons “Die opdrag is Sy verantwoordelikheid, ons verantwoordelikheid om te gehoorsaam sonder murmurering, te bevraagteken, onmiddellik te gehoorsaam.

4. GOD SE VOORSIENING

(Joh 21:9) “En toe hulle geland het, sien hulle ‘n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood.” ’n Bewys van die karakter van Jesus volgens Heb 13:8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Die Here is nie ongevoelig ten opsigte van ons behoeftes as diensknegte in Sy diens nie. Die Here sal voorsien in ons liggaamlike behoeftes sowel as die geestelike. (Psa 103:14) Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.

5. DIE ENIGSTE MOTIEF VIR DIENSWERK

(Joh 21:10) “Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het.”

Bring die siele wat in die net gevang is, na die Here toe. Bring hulle in as ’n offer en ’n bewys aan die Here dat die net laat sak is op Sy bevel.

Die Here wys hierdeur aan Sy dissipels dat die sukses daarin is om te werk op Sy bevel en te handel met onmiddellike gehoorsaamheid op Sy Woord.

Ons lees in Joh.4:36 “En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees.”

Nog ’n ander waarheid word hier aan ons geopenbaar.

(Joh 21:11) Simon Petrus het in die skuit geklim en die net op die land getrek, vol groot visse, honderd drie en vyftig in getal; en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.

Wat ses manne in die skuit nie kon vermag nie, het Petrus manalleen gedoen.

Toe Petrus van die skuit afgespring het, het hy na Jesus gegaan op die strand. Nou, in die teenwoordigheid van Jesus, aan Sy voete, het hy die krag om manalleen die net in te bring. Toe Petrus die Here van vêraf gevolg het Matt. 26:58 was hy swakker as die draad van ’n spinnerak; maar nou in Sy teenwoordigheid is hy sterk en magtig. Die plek van krag en sterkte is in die teenwoordigheid van die Here.

Waar vind u u krag en sterkte?

(Psa 27:14) Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!

Waar bevind u uself in hierdie oggend? In die teenwoordigheid van die Here; gereed om te dien? Of is dit die werk van iemand anders om die visse in te bring, miskien die Kerkraad of die leraar?

Mag die Here ons elkeen genadig wees.

0:00
0:00