Geroep to Reinheid om bruikbaar te wees in God se Akker – Johan De Bruin

Tema: Geroep to Reinheid om bruikbaar te wees in God se Akker..

Skriflesing: Jes 6:1-8

Teksvers van oordenking: Jes.6:5

‘n Kaptein in die Heilsleer was besig om ‘n boodskap te bring in Hyde Park, Londen toe ‘n man vanuit die skare hom in die rede val. “Ons het niks teen Jesus van Nasaret nie” het hy gesê.; maar ons het dit teen die Christene, want julle is nie op standaard en ons sien nie die Beeld van Christus in julle nie”.

Lewende voorbeelde van Christus is wat die wêreld in ons wil sien.

Petrus leer ons in 1 Pet.1:15-16 “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”

Lev 11:44a “Want Ek is die HERE julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig…..”

Geen wonder dat Jesaja sy onreinheid onmiddellik besef het toe hy in die teenwoordigheid van God gekom het nie.

Baie kommentaar skrywers beskryf dan ook hierdie as Jesaja se roeping om uit te gaan en nie soseer sy redding nie. Hy was reeds gered en in die diens.

Maar die “onrein lippe” dui vir ons aan waar was die probleem. Jesaja was geroep om die volk hulle oortredinge te verkondig en redding/bekering vir hulle uit te roep. Tot op hierdie ondervinding was hy stil gewees of gedwing om stil te wees volgens die kommentaar van Gill, en dit is hierdie oortreding wat hom laat besef het dat hy onrein van lippe was.

Dit kan ook beteken dat hy; nadat hy God gesien het in Sy Heiligheid, sy onwaardigheid besef het om die Woord van so ‘n Heilige God te verkondig.

Jes.6:5-8 “Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien! Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool in sy hand, wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het, en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen. Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my”.

Is U en ek waardig om hierdie groot taak, om uit te gaan en te verkondig, op te neem?

Ons het ook nie keuse nie, dit moet gedoen word. Die vraag is en bly; Is ons waardig; Is ons Gereinig en vervul met die Heilige Gees; het ons die ondervinding gesmaak van die gloeiende kool wat ons rein verklaar het.? Deel ons in die proses van heiligmaking

Is Harts reiniging ‘n opsie wat die kind van God kan uitoefen?

Lev 11:44a “Want Ek is die HERE julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig…..”

KJV  “For I am the LORD your God: ye shall therefore sanctify yourselves, and ye shall be holy; for I am holy:

Dit is duidelik dat hier geen keuse is vir die kind van God nie. Ek moet Heilig lewe. Ons sal as ek dit direk vertaal.

Die oorspronkilke geskrifte dui hier ‘n totale afsondering aan.

Die volk moes hulle afsonder van alle volke en volgens die insettinge van die Here lewe sodat dit duidelik kon wees vir almal dat hulle anders leef en optree; moreel heilig ens; omdat die Here hulle God Heilig is.

Net so gee God aan ons opdrag in die Nuwe Testament

Kom ons lees 2 Kor. 6:14-7:1

Jesaja het sy onreinheid besef in die teenwoordigheid van die Here.

2Kor 7:1 “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.

Wat is die heiligmaking soos ons dit in verskeie Skrifgedeeltes vind?

Lev 20:7 “Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is die HERE julle God.”

1Th 5:22 “Onthou julle van elke vorm van kwaad.”

2Kor 6:17 “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;

2Kor 7:1 “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.”

Heiligmaking is die proses van afsondering van onreinhede wat my geestelik en moreel kan en sal besoedel.

Ek kan nie waarlik afgesonder wees vir God as ek nog nie afgesonder is van sonde nie.

Eseg.20:41 “As ‘n lieflike geur sal Ek ‘n behae in julle hê wanneer Ek julle uit die volke uitlei en julle uit die lande versamel waarin julle verstrooi was, en Ek sal My in julle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies.”

Eseg 36:23 “En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, spreek die Here HERE, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken”.

God leer ons in Sy Woord dat Hy Sy karakter as die Heilige God, in ons sal openbaar om Hom as Heilig te openbaar aan die wêreld.

Joh 17:17  Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Oswald Chambers het soos volg geskryf.

“’n Heilige lewe lê nie in die nabootsing van Jesus nie, maar om toe te laat dat die volmaakthede van Jesus, hulle in my sterflike vlees openbaar.”

Heiligmaking is “Christus in jou”. Dit is ‘n wonderlike lewe wat aan my meegedeel word met heiligmaking; en wel meegedeel deur die geloof as ‘n soewereine gawe van Gods genade.

Heiligmaking beteken dat ek die heilige hoedanighede van Jesus Christus deelagtig word.

DIT IS SY;

Geduld, liefde, heiligheid, geloof, reinheid, Goddelikheid, wat in en deur elke geheiligde siel geopenbaar word.

Heiligmaking beteken nie dat ons uit Jesus die krag put om heilig te wees nie; NEE; dit beteken om uit Jesus te put die heiligheid wat in Hom geopenbaar was, en Hy openbaar dit in my.

WAT IS DIE HEILIGMAKINGSPROSES EN WIE IS DAARVOOR VERANTWOORDELIK?

1Thes. 5:23 “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!”

God maak ons heilig

Die afsondering van die mens van sonde en om afgesonder te wees vir God

Heiligmaking is moontlik gemaak deur Christus.

Deur Sy liggaam wat geoffer was het Hy ons vir ewig afgesonder en eenkant gesit vir God.

Die kruis staan tussen die kind van God en die wêreld.

2Thes 2:13 “Maar ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid,”

1Pe 1:2 “..uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus:…”

Efes.5:25-27 “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.”

Die Heilige Gees is verantwoordelik vir die Heiligmaking proses.

Hier moet ons baie versigtig wees oor die werk van die Heilige Gees en nie deur dwalinge vasgevang word nie. Die groot aanklag wat die Bybel oor die saak van geestelike misleiding teen Christene rig, is t.o.v. hulle naïwiteit, onkunde en gebrek aan insig oor gevaarlike dinge wat op ‘n onskuldige wyse aan hulle voorgehou word.

2Kor 11:4 “Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.

Daar is soveel dwalinge mbt tot die Heilige Gees dat ek graag ‘n paar wil uitlig ten opsigte van die werk van die Heilige Gees in die proses van Heiligmaking.

DIE HEILIGE GEES

‘N ANDER GEES

Die Heilige Gees getuig nie van Homself nie. Hy herinner ons aan wat die Here Jesus gesê het en maak Hóm ‘n groot werklikheid in ons lewe.

Die teenwoordigheid, krag en gawes van hierdie gees word ‘n oorweldigende werklikheid en Jesus Christus word subtiel op die agtergrond geskuif.

Hy oortuig jou van sonde sodat jy jou werklike probleem kan besef en vergifnis kan kry.

Hy laat jou lekker en ontspanne voel sodat jy al jou probleme kan vergeet en dink dat alles reg is.

Hy oortuig jou van God se geregtigheid soos wat dit deur Jesus se volmaakte lewe en sy soendood gestalte gekry het.

Hy oortuig jou d.m.v. bonatuurlike ervaringe soos val in die gees en ander ‘gawes’ dat God met jou is en dat sy krag jou oorskadu.

Hy doen sy oortuigingswerk in jou gees en openbaar jou hart en lewe soos wat God dit sien.

Hy gebruik mense om suggesties op jou oor te dra en indrukke te skep wat nie van God af is nie.

Hy spreek tot jou deur die Woord wat gees en lewe is, en bring sodoende ewige heilswaarheid onder jou aandag. Die Bybel, as God se Woord, word steeds vir jou kosbaarder.

Hy gebruik profete as menslike middelaars om boodskappe aan jou te rig oor wat God wil hê dat jy moet doen. Hy spesialiseer ook in buite-Bybelse openbaringe van God, bv. gesigte en drome.

Hy lei jou na die kruis waar jy van al jou laste bevry en van alle besoedeling van die gees en die vlees gereinig kan word. Hy lei jou dus altyd na Jesus wat jou Verlosser is.

Hy verdryf in eie reg die duisternis en skuld komplekse uit jou lewe sodat jy bly en ontspanne kan voel omdat jy in die lig wandel. Jy is dus van hom afhanklik om jou deur te dra.

Hy oortuig jou steeds van jou sonde sodat jy heilig kan lewe, deur die bloed van Christus gereinig kan word en voortdurend in die lig van God se teenwoordigheid kan wandel.

Hy oortuig jou nie van sonde nie, en het geen probleem om met leuens, bedrog, hoerery en halwe waarhede saam te leef nie. Hy gee juis aan sulke mense valse hoop dat hulle saak reg is.

DIE HEILIGE GEES

‘N ANDER GEES

Hy lei jou om in ‘n selfondersoek van alle sonde en ongeregtigheid afstand te doen en die Here vir ‘n rein hart te vertrou. Reiniging deur die bloed van die Lam en ‘n hart vervul met die Heilige Gees is God se weg vir ‘n oorwinningslewe.

Hy wil jou deur middel van innerlike genesing na ‘n geestelike herprogrammering lei waarin die letsels van die verlede, en selfs van voor jou geboorte, deur belydenis ‘reggestel’ word. Hy wil jou op dié wyse geestelik heroriënteer vir die toekoms en jou sorge laat vergeet.

Wanneer Hy iemand vervul dan word die persoon heilig, nederig en diensbaar gemaak, en word sy hoofdoel in die lewe die verkondiging van die evangelie van verlossing. Hy skakel by bidure en evangelisasie projekte in om siele vir Christus te wen.

Hy gee aan ‘n persoon ‘n nuwe selfbeeld wat aan hoogmoed en arrogansie grens. Sy hoofdoel in die lewe word die najaag van geestesgawes en die bywoon van hoogs emosionele lofprysing dienste waar tekens en wonderwerke gereeld plaasvind.

Hy leer jou bid. Hy snel jou onvermoë en swakhede te hulp en tree ook vir jou in. Hy gee aan jou verligte oë van die verstand sodat jy die dinge van God kan verstaan en ook intelligent, met oortuiging, en by jou volle positiewe, daarvoor kan bid.

Hy leer jou mediteer. Hy help jou om na jou ‘regter brein’ oor te skakel en mistiese ervarings te hê. Jy vergeet alles rondom jou, skakel jou ‘linker brein’ af, en ontdek dan die mistiese vlak wat iewers diep in jou onderbewussyn verskuil lê. Hierin vind jy ontvlugting.

Ons moet die Here bid om verligte oë van die verstand en ‘n Gees van Onderskeiding met betrekking tot alle aktuele sake wat ek sal teëkom in my lewe.

Gal 5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;

Die Woord van God is ook uiters belangrik in die proses van Heiligmaking.

Die Woord reinig ons van die teenwoordigheid van sonde, sonder ons daarvan af, en stel ons eenkant vir God.

Psa 119:9, 11. “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.

“Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.”

Joh 15:3 “Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.”

Soos wat ons daagliks met die Woord omgaan word sonde en ongeregtighede in ons lewens en harte openbaar gemaak en word daarmee gedeel. So word ons meer en meer verwyder en afgesonder van sonde.

Is Harts reiniging vervulling met die Heilige Gees en die proses van heiligmaking ‘n opsie?

Nee, Jesaja moes eers gereinig word voordat hy ten volle bruikbaar/diensbaar kon wees.

Harts reiniging is iets wat ons moet soek met ‘n dringendheid. Met eerlikheid.

Heb 12:14 “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;”

Wat is die stappe wat gevolg moet word om deur die Heilige Gees vervul en Harts reiniging deelagtig te word?

2Kor 7:1 “.., geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.

Reiniging

Dit is juis die sonde wat in ons woon wat verhoed dat ons ‘n oorwinnende lewe kan lei. Daarom moet ons dit bely.

1Joh. 1:7,9  “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Vra die Here in ‘n eenvoudige gebed om jou van alle sonde en ongeregtigheid te reinig.

Algehele oorgawe

Gee jou lewe algeheel aan die Here oor

Selfgesentreerdheid word Christus gesentreerd.

Geloof-stap

Plaas jou heelhartige vertroue vir jou reiniging in die Here Jesus se verlossingswerk.

Luk 11:13 “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?”

Joh 7:38, 39 “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo;..”  Kry Bevestiging uit die Woord.

HET EK HIERDIE ONDERVINDING VAN ‘N REINHART VERVUL MET DIE HEILIGE GEES?

Toets uself aan die lig van die volgende vrae?

·         Het ek al ooit vir God gevra vir hierdie gawe.

·         Het ek Christus se belofte in geloof my eie gemaak? Luk 11:13

·         Het ek enige bewys van die Heilige Gees se werk in my lewe?

·         Het die Gees vir my Jesus as Persoon ‘n werklikheid gemaak?

Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig. (Joh 15:26)

·         Begin ek die innerlike Stem van die Gees hoor?

·         Vertel Hy my wat om te doen, in kleiner sowel as groter besluite?

Jesaja was na hierdie ondervinding gereed en bereid om te gaan, ‘n duidelike bewys dat om in hierdie wêreld ‘n Verandering te maak, om vir God in die bres te staan, moet ek gereinig en vervul wees met die Heilige Gees.

‘n Vrou van Switserland het hierdie storie van haar land se blom, die edelweiss, vertel. Die naam van hierdie plant is ‘n storie opsigself. Die samestelling van hierdie woord in Duits beteken “Edel en wit”.

Die is ‘n klein meerjarige kruieplant en familie van die aster-plant en is baie gewild. Dit kom voor in die hoë pieke van die Alpe wat gewoonlik bedek is deur sneeu.

Die blom is so absoluut wit dat dit saamsmelt met die omgewing en daarom dan ook heeltemal sy eie natuurlike identifisering karakter verloor in die omgewing.

Selfs al word die blom gepluk en in papier gepers om dit te bewaar verloor dit nie die kleur of verkleur nie.

As ons soos die edelweiss wil wees, moet ons onsself  rein, heilig en opreg bewaar, daarna strewe om die hoogtes te behou met God.

Dan, soos wat God ons rein in hart en motiewe hou, sal Hy ons instaat stel om ons eie ek, my identiteit, in Hom te verloor, in Sy karakter.

Is U bereid om u identiteit; u eie ek; die self; in Christus Jesus se Identiteit te verloor?

Amen. 

0:00
0:00