DIE WEË VAN SATAN IN DIE KERK – Johan De Bruin

SKRIFLESING: Nehemia 6:1-14

SKRIF VIR OORDENKING: Neh 6:11, 12 “Maar ek het gesê: ….Ek sal nie ingaan nie. Want ek het duidelik gemerk dat God hom nie gestuur het nie,…”

TEMA: DIE WEË VAN SATAN IN DIE KERK

INLEIDING

God se afgesonderde kinders, veral dié wat in leier-posisies staan, durf nie in die raad van die goddelose wandel nie. (Psa 1:1) “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;”

Nehemia is in verskeie opsigte vir ons as kinders van die Here ’n bemoedigende voorbeeld, of as lidmaat van ’n kerk of as geroepene in geestelike posisies of as geestelike leiers. Hy het beide onderskeidingsvermoë sowel as deursettingsvermoë gehad; kenmerke wat noodsaaklik is vir Kerk vandag, vir ons as kinders van God.

In hoofstuk 6 sien ons 5 metodes wat gebruik was deur die vyand om die werk aan die mure te verhoed of van stryk te bring.

KOMPROMIE

Kompromie is die ooreenkoms deur toegewing van een of albei kante. Wanneer die kerk of kinders van God betrokke is , is dit gewoonlik van hulle kant af waar toegewings gemaak moet word.

(Neh 6:2) “Kom laat ons bymekaarkom in een van die dorpe, in die laagte van Ono; maar hulle het gemeen om my kwaad aan te doen.”

Die plek waar hulle wou ontmoet was ’n dorpie halfpad tussen Jerusalem en Samaria.

Die vyand se strategie is altyd “if you can’t whip them, join them – and then take over”.

As die vyand eers in die bediening ingekom het, die Kerk van Christus ingesypel het begin hy die werk van die kerk van binne verswak en die uiteinde is dat die werk misluk.

Satan is ’n meester bedrieër en daarom is sy dienaars gereed om hande te vat met God se kinders sodat hy hul hande kan verswak en laat verslap in die werk. (2Ko 11:13-15) “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”

(Spr 26:24, 25) “Die hater veins met sy lippe, maar in sy binneste koester hy bedrog. As hy sy stem lieflik maak, vertrou hom nie; want sewe gruwels is in sy hart.” Satan weet hoe om jakkals te speel as dit hom nie pas om soos ’n leeu te brul nie.

Hoe het Nehemia op hierdie uitnodiging/versoeking tot kompromie gereageer?

a. HY HET SY EIE GEDAGTES GEKEN EN WAS DOELGERIG.

V3 “Ek doen ’n groot werk, sodat ek nie kan afkom nie”.

Omdat hy totaal oorgegee en toegewy was aan die werk het sy hele wese in opstand gekom teen die versoek. Net so het ook Petrus en Johannes in (Hnd 4:19, 20) “Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

b. HY HET SY WERK GEKEN

“Ek doen groot werk..”

Alle werk vir God is groot geoordeel aan die ewigheid resultate. Wanneer ons duidelik en bewustelik besig is met die werk van God soos aan ons oorgedra deur Sy wil sal ons nie maklik in die versoeking val om dit te verwaarloos nie.

c. HY WAS BEWUS VAN DIE GEVAAR AS HY SOU AFGAAN.

(Neh 6:3) “Waarom moet die werk ophou sodra ek dit verlaat om na julle af te kom?”

Dit is meer eerbaar om te werk as om daaroor te praat. Wanneer ons afgaan na die laagte van wêreldse wysheid is dit gewoonlik ten koste van ons bruikbaarheid in die diens van God.

Dieselfde versoeking het tot Jesus gekom terwyl Hy aan die Kruis was. (Mat 27:40) “As U die Seun van God is, kom af van die kruis!”

Nehemia was vier keer so versoek sien vers 4, tog het sy skild van geloof hom gered. Efes 6

LISTIGHEID/SLINKSHEID

In vers 1 en 10 van hoofstuk 6 vind ons vername manne wat Nehemia teëgestaan het.

Sanballat beteken sterkte.

Tobia beteken die Here is goed

Gesem beteken reën. Reën is ook ’n tipe van seëning.

Semaja beteken God het gehoor.

Delaja beteken God het voorsien

Mehetabeël beteken Guns ontvang van God.

As ons kyk na hierdie name dan moes hierdie manne tot seën vir Nehemia en die Jode gewees het, maar ons sien dit is nie die geval nie.

Die satan gebruik mense wat jy nie verwag nie, om jou te laat struikel; om jou fokus te laat verloor met betrekking to die werk wat op hande is.

Ons moet in die senter van Gods wil wees as ons veilig wil wees.

Ons moet oor daardie onderskeidingsvermoë beskik om deur die planne van die vyand te sien.

(1Ko 12:7, 10) “Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, ….”

Ons moet pasop vir die glimlag van satan, hy is meer gevaarlik wanneer hy voorkom as vriend . Bly in jou posisie wanneer satan jou aanmoedig om tou op te gooi en God sal jou verseker seën.

LASTER EN SKINDER PRAATJIES

Ons sien in verse 5-9 hoe die satan hierdie groot wapen gebruik om die werk tot val te bring.

’n Ope brief is daar om ’n gerug te versprei. Lees vanaf vers 6.

Dit was bedoel om die gesag en integriteit van Nehemia te ondermyn.

Iemand het skinder soos volg gedefinieer. Skinder is die nuus wat jy gou moet maak om aan iemand te vertel voordat jy uitvind dit is nie die waarheid nie.

AB Simpson het gesê “I would rather play with forked lightning, or to take in my hands living wires with their fiery current, than speak a reckless word against any servant of Christ or child of God, or idly repeat the slanderous darts which thousands of Christians are hurling on others, to the hurt of their own souls and bodies.”

Ons moet versigtig wees om tyd te spandeer om sulke aantuigings te verdedig want dit sal ons fokus weg neem van die groot taak waarvoor God ons geroep het.

Nehemia het nie die fout gemaak nie, hy het gebid tot God vir sterkte en aangegaan met sy werk.

DREIGEMENTE

In verse 10-14 sien ons dreigemente wat gebruik word en weereens deur mense wat veronderstel is om tot seën van die werk te wees.

Semaja het nie gehelp om te bou aan die muur nie, maar verkies om in sy huis te bly. Daar waar dit vir hom gemaklik was.

Ons moet versigtig wees vir sogenaamde Christene wat altyd raad het, maar wat self niks doen vir Christus en Sy koninkryk nie. Wees ook versigtig dat u nie deur die vyand gebruik word om voortdurend beter te weet terwyl u aan wal staan nie.

Dit wat vir u voorgehou word, moet altyd opgeweeg word met wat die Skrif, die Woord van God vir ons sê.

HOE HET NEHEMIA SY FOKUS BEHOU OP DIE WERK?

Daar was drie oortuigings van Nehemia wat in hierdie gedeelte na vore kom.

a. Hy het geweet dat hulle leuens vertel en dat hulle hom wou ombring. Vers 2

Hy het daardie geestelike onderskeidingsvermoë gehad wat so noodsaaklik is vir elke kind van God, veral die wat in leier posisies staan soos leraars, Ouderlinge, diakens, Sondagskool, CVV en CJV. 1 Kor.12:10

b. Hy was oortuig en verseker van die grootsheid van die werk wat God aan hom toevertrou het.

Ons moet altyd gefokus bly op die taak waarvoor God ons geroep het, want daar is mense , mede-kinders van God wat op kyk na ons vir leiding.

Rom 15:1 En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.

c. Hy het geweet dat die Jode niks in gemeen gehad het met Sanballat en sy trawante nie. God se kinders is anders en moet anders wees as dié van die wêreld en daarom moet ons, ons afgesonderde posisie handhaaf.

(2Ko 6:14-7:1) “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige. Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.”

0:00
0:00