DIE PRYS MAAK DIE VERSKIL.

Die jong seun het die verantwoordelikheid gehad om elke dag na skool sy pa te voer. Die seun se pa was van so ’n aard beseer dat hy baie dinge nie vir homself kon doen nie. Die seun moes sy moeder help en sy opdrag was om elke dag na skool, sy pa te voer.

Hierdie seun het groot geword en toe hy ’n tiener was het hy op ’n sekere dag uitgevaar. “Waarom moet ek altyd my pa voer? Ek kan nie eers saam met my vriende gaan nie. Hoekom moet ek dit altyd doen?” Sy moeder het gedink dat dit is nou die tyd om die seun die waarheid te vertel. Sy het hom eenkant geneem en begin. “Dit was nie lank na ons troue nie, dat ons huis aan die brand geslaan het. Ons het die brandweer ontbied maar voordat hulle kon kom het ons ontdek dat ons baba nog in die huis was. Jou pa het in die huis gehardloop en die baba gevind en al manier hoe hy uit die huis kon kom, was om vanaf die tweede verdieping te spring. Hy het dit gedoen met die baba in sy arms. Die baba was ongedeerd maar hy het sy rug gebreek, die vlamme het sy keel en longe beskadig en van daardie dag af moes ek na hom omsien. Daardie baba was jy my seun!”

Sy het opgestaan en aangegaan met haar werk. Die seun het lank gesit en dink en toe na sy pa gegaan om hom te voer. Noudat hy weet watter prys sy pa betaal het, het hy sy pa in ’n ander lig gesien en was dit nooit meer moeite om sy pa te voer nie.

Maak die prys van Paasfees by jou ’n verskil? Besef jy wat Jesus vir jou gedoen het aan die kruis? Wanneer ons die prys verstaan wat dit God gekos het sodat ons gered kan word , dan maak dit die verskil. Dit is dan dat jy met begrip by die voete van Jesus kan gaan sit.

FILIP. 2:5 “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.”

:6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,

:7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;

:8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

GEBED

Vader dankie vir U Seun! Dankie dat Hy die prys vir my betaal het. AMEN

0:00
0:00