Geskryf deur THEUNIS
Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE tjcloete@absamail.co.za Ander se Wasgoed ‘n Jong getroude paartjie het in ‘n nuwe woonbuurt ingetrek. Die eerste oggend terwyl hulle ontbyt eet sien die jong vroutjie die buurvrou terwyl sy haar wasgoed buite ophang. “Daardie wasgoed is nie baie skoon nie,” sê sy aan haar man. “Die buurvrou weet nie hoe om wasgoed behoorlik te was nie. Miskien moet sy oorskakel na ‘n ander waspoeier toe.” Haar man het opgekyk na die buurvrou se wasgoed, maar het nie ‘n woord gesê nie. Elke keer wanneer die buurvrou haar wasgoed op die draad hang het die jong vroutjie dieselfde opmerkings oor die toestand van die wasgoed. Ongeveer ‘n maand later was die jong vroutjie die een oggend uiters verbaas om silwer skoon wasgoed op die buurvrou se wasgoeddraad te sien, “Kyk! Sy het geleer hoe om haar wasgoed behoorlik te was. Ek wonder wie het haar bietjie touwys kom maak?” Haar man antwoord toe, “Ek het vanoggend bietjie vroeër opgestaan en ons vensters skoongemaak!” Dit is soms ‘n goeie idee om eers te kyk of jou vensters skoon is want wat ons sien terwyl ons na ander kyk hang grootliks af van die vlekkeloosheid van ons eie vensters waardeur ons kyk. Voordat ons kritiek lewer is dit ‘n goeie idee om onsself eers af te vra of ons in staat is om eerder die goeie te sien eerder as die slegte in mense met wie ons verkeer. MATT. 7:3 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? MATT. 7:4 Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! MATT. 7:5 Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.