Die Splinter In Die Oog – Johan De Bruin

TEMA: Die Splinter In Die Oog

SKRIFLESING: Matt.7:1-6

INLEIDING

Het u al ooit ‘n chirurg dopgehou as hy/sy voorberei vir ‘n operasie?

Dit wil amper voorkom asof dit ‘n ritueel word. Met geoefende hande begin hy die skrop proses, daarna word die handskoene aangetrek gevolg deur die teater jas. 

Wat interessant is dat hy nie net skrop waar daar vuiligheid is nie. Hy skrop oral en alles sodat hy seker kan wees dat daar geen moontlikheid is dat kieme oorgedra of infeksie veroorsaak kan word nie.

In ‘n mate is dit wat die Here hier vir ons voorskryf om te doen. Ons is besig om voor te berei vir ‘n morele operasie as ons dit so kan stel.

As ons bevoorreg is om regstelling of berisping te doen teenoor ‘n mede broer of suster in Christus moet ons onsself eers voorberei vir die proses.

Voordat ons kennis van infeksies gehad het, het chirurge voortdurend geopereer sonder dat hulle werklik seker gemaak het dat alles skoon is. Toe die meganika  of die proses waardeer siektes oorgedra word verstaan is en hoe dit infeksie veroorsaak was daar meer voorkomende maatreëls ingestel om dit te voorkom.

Wat hier vir ons voorgeskryf is, is die voorkomende maatreëls vir die wat regstelling moet toepas en soms ook moet berispe.

INHOUD

On kritiek te lewer is deel van die gewone mens se fakulteit, sy wese.

Daar is 2 dinge van groot belang wat uit hierdie gelese gedeelte navore kom.

1.      EERSTENS DAT OORDEEL IN DIE BEDOELING OM TE VEROORDEEL IETS IS WAT ‘N KIND VAN GOD NIE MOET DOEN NIE WANT ONS GAAN GEOORDEEL WORD

Die tyd waarin die werkwoord geskryf is in vers 1 dui op ‘n eens-en-vir-altyd finale oordeel wat gaan plaasvind. Daarom die waarskuwing moet nie oordeel nie, maar oordeel jouself want daardeur berei ons onsself voor vir die Groot Oordeel wat kom en om nou hier ander broers en susters te dien in liefde. As ons onsself nie oordeel nie, maak ons onsself nie net seer nie maar ook die wat ons moet bedien met die Woord.

Om kritiek te lewer oor ‘n medemens is om myself verhewe te stel bo die persoon en dit is nie wat God in Sy Woord ons leer nie. Ons moet mekaar dien in liefde.

Wanneer iemand in die gewoonte verval om heeltyd kritiek te lewer en fout te vind kan jy weet dit is nie van die Heilige Gees nie. ‘n Mens wat die heeltyd gekritiseer word, eindig op in iemand wat goed is vir niks en dit is nie van die Heilige Gees af nie.

Mense so dikwels, regverdig dit deur te sê die Heilige Gees het my gewys. Ek wil vir u vandag sê met die outoriteit van die Woord van God dat as u kritiek lewer of oordeel dan is dit nie van die Heilige Gees nie.

Die Heilige Gees alleen kan uitwys wat verkeerd is in iemand se lewe sonder om so iemand te verwond en seer te maak.

Die Heilige Gees wys aan ons as daar iets verkeerd is, nie met die doel sodat ons moet kritiseer nie, maar met die uitsluitlike doel om in gebed in te tree vir daardie broeder of suster.

Ons moet ook baie versigtig wees om te bid vir onderskeidingsvermoë, want dit verhoog ons verantwoordelikheid voor God geweldig want jy gaan nie daaruit kom deur te praat nie maar slegs deur daardie lewe van iemand op jou te neem deur intersessie-gebed totdat God daardie lewe reg stel.

1Joh.5:16 “As iemand sy broeder ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee—vir die wat nie ‘n sonde tot die dood doen nie. Daar is ‘n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.”

Ps.106:23 “Toe het Hy gesê dat Hy hulle sou verdelg, as Moses, sy uitverkorene, nie voor sy aangesig in die bres gaan staan het om sy grimmigheid af te keer, dat Hy nie sou vernietig nie.”

Eseg.22:30 “En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.”

Jes.59:16 “En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie; daarom het sy arm Hom gehelp en sy geregtigheid het Hom ondersteun.”

God soek vandag manne en vroue wat na Sy hart is, wat vertrou kan word om in die bresse te tree, in die gaping te staan wanneer die Heilige Gees dinge wat verkeerd is in lewens van ander Christene aan ons uit wys. Maar ook om in te tree vir ‘n samelewing wat korrup en siek is.

As die Heilige Gees iets verkeerd in iemand anders se lewe uitwys aan my is die eerste stap om eers self-ondersoek te doen, sit ek nie dalk met dieselfde sonde probleem in my lewe nie. Indien wel, maak reg voordat daar enigsins gedink kan word om in te tree.

As ons die Soeklig van die Hemel toelaat om tot by die wortels van ons lewens in te skyn, sal ons verstaan waarom Jesus vermaan dat ons nie moet oordeel nie. Daar is nie tyd daarvoor nie

Ons vra so dikwels: Is ek van enige nut? Jesus leer ons

Joh.7:38 “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Die Christen wat kritiseer en oordeel is die teken van ‘n gemiddelde Christen en daar is geen teken van die beeld van Jesus in hom/haar nie.

Een van die grootste en ware lesse wat ons moet leer as kinders van God is om die dinge wat ons nie verstaan nie, dinge wat in mede broers en susters se lewens na vore kom wat moeilik verstaanbaar is, by God self te laat.

Daar is altyd die een ding in iemand se lewe wat ons nooit sal verstaan nie daarom sê die Woord van God vir ons

Luk.6:37 “En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.”

Joh.7:24 “Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel.”

Rom.2:1 “Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ‘n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.”

Jak.4:11 “Broeders, moenie van mekaar kwaad spreek nie. Dié wat kwaad spreek van sy broeder en sy broeder oordeel, spreek kwaad van die wet en oordeel die wet; en as jy die wet oordeel, is jy nie ‘n dader van die wet nie, maar ‘n regter.”

2.      DIE ONVERMYBARE GEVOLGE VAN OORDEEL.

Gal 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”

Oswald Chambers skryf “If you have been generous, you will meet with generosity again; if you mete out criticism and suspicion to others, that is the way you will be treated.

As ons Romeine 2 lees dan kom die beginsel navore.

Ek is self skuldig aan dit waarin ek iemand anders oordeel/kritiseer.

Elke verkeerde wat ek in jou sien, vind en openbaar God in my lewe.

Elke keer as ek jou oordeel, veroordeel ek myself.

Rom 2:1, 21-23 “Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ‘n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge. v21 – jy dan, wat ‘n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat ‘n mens nie mag steel nie, steel jy? Jy wat sê dat ‘n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat ‘n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof? Jy wat jou op die wet beroem, onteer jy God deur die oortreding van die wet?”

As ons oordeel plaas ons onsself in ‘n verhewe posisie, superieur posisie. Dit mag ons glad nie toelaat nie. Dit is die werk van die Heilige Gees soos reeds genoem.

Die Heilige Gees oordeel, maar Sy oordeel is om so ‘n persoon tot bekering te bring en om nuwe karakter eienskappe na vore te laat kom.

Die grootste eienskap van ‘n heilige kind van God is nederigheid.

Daardie nederigheid wat my laat besef dat al hierdie sonde wat ek sien in ander kon in my navore kom was dit nie vir die Genade van God nie, daarom mag ek nie oordeel nie. Want as ek so oordeel en meet met die maat wat was sal ek weer so gemeet word. Die toets is om uit te roep tot God “oordeel my soos ek my mede broers en susters geoordeel het; ek is oortuig dat ons almal dan in die ewige verdoemenis die hel sal beland.

God sy dank wat ons oordeel deur die Wonderbare Kleed van Geregtigheid en Genade van Jesus Christus waarmee ons gekleed is.

Die Here help ons daartoe om nie te oordeel nie en indien iets aan ons geopenbaar word, onmiddellik selfondersoek te doen en dan in te tree.

Amen.

0:00
0:00