BESKIKBAAR VIR N BESONDERE TAAK.

SKRIFLESING: 1 KRON.10:11-11:9

 

TEKS: 1KRONIEKE11:3

 

So het dan al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom, en Dawid het met hulle ‘n verbond gesluit in Hebron voor die aangesig van die HERE, en hulle het Dawid as koning oor Israel gesalf volgens die woord van die HERE deur die diens van Samuel.

 

Vanaf my bekering in 1983 is my gebed dat ek saam met n groep mense Herlewing in n gemeente sal sien. Dan vra ek gereeld met groot eerbied en verwagting, hoe lank nog Here?

 

Elke keer as ek deur die Bybel lees en by 2 Kron 7:1,2 en 1 Konings 8:10,11 kom, dan gryp dit my hart opnuut aan om te volhard in gebed saam met baie ander kinders van die Here vir n Godgewerkte Herlewing. Want Hy alleen kan dit stuur.

 

Sou dit toevallig wees dat ons as gemeente se gewone Bybel leesprogram in die week juis dit is? Weereens het dit my hart aangegryp.

 

2 Kronieke 7:2 

 

die heerlikheid van die HERE het die huis van die HERE vervul.

 

Voor dit egter kon gebeur, moes daar nog eers baie belangrike en noodsaaklike dinge gebeur. Baie deeglike voorbereiding.

 

Daar het egter nou n tydperk aangebreek in Dawid se lewe waar hy n besondere taak moes verrig. Wat was dit? Dit was nie die voorreg om die Tempel te bou nie.

 

Voordat hy hierdie besondere taak kon verrig, moes iemand vir hom plek maak. Saul moes uit die weg kom.

 

Handelinge 13:21,22 

 

En van toe af het hulle ‘n koning begeer, en God het aan hulle gegee Saul, die seun van Kis, ‘n man uit die stam van Benjamin, veertig jaar lank. En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, ‘n man na my hart, wat al my welbehae sal doen.

 

Hoe lank moes Dawid wag?

 

Hy was beskikbaar, maar moes wag. Dit waarmee ons almal sukkel, soek, sukkel en wag! Saul het 40 jaar lank regeer as koning. Dawid self moes ook eers deur n proses van versoekings en swaar beproewinge gaan.

 

Luister vriende, ons bekering vind in een oomblik plaas, maar om bruikbaar en beskikbaar te wees bly vir ons as mens n lewenslange proses.

 

1 Kronieke 11:9

 

En Dawid het gedurigdeur groter geword, en die HERE van die leërskare was met hom.

 

Hy was beskikbaar omdat dit opgeteken staan dat hy n man na die hart van God was.

 

Handelinge 13:22

 

“Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, ‘n man na my hart, wat al my welbehae sal doen.”

 

Daar is n gesegde “Nuwe besems vee altyd skoon” Ek dink egter dit hang af van die besem nie, maar die hart en passie van die een agter die besem. Jy kan met n nuwe besem ook half vee.

 

Dawid se hartsgesindheid het hom beskikbaar vir die groot taak gemaak.

 

Gaan lees self Dawid se verhaal.

 

Wat het alles met hierdie besondere man van God  gebeur tot hier?

 

As jong man agter skape vreesloos die skape beskerm teen die Leeu en n beer. Hy was al gesalf as Koning maar moes wag op God se tyd.

 

Hy verslaan die reus Goliat nadat sy oudste broer hom verneder, hy was onskuldig en liefdeloos gehaat en vervolg deur sy skoonpa Saul.

 

Dink aan die hartseer na die dood van sy beste vriend Jonathan, die voortdurende stryd met die jarelange vyande van Israel, die Filistyne.

 

Al die krukke is van Dawid weggeneem waarop mense soms steun. Hy het sy vrou verloor, sy kind verloor, sy beste vriend verloor, sy skoonpa en ook sy waardigheid toe hy hom as geestes versteurd moes voordoen voor die vyande toe Saul hom wou doodmaak.

 

Hy moes op n plek kom waar hy niemand en niks het, behalwe God om op te vertrou.

 

Was dit alles tevergeefs?

 

Nee, dit was alles om hom voor te berei vir n besondere taak.

 

Dawid was getoets en gevorm deur “indiens opleiding”

 

Daarom was hy beskikbaar vir die besondere taak. Wat was Dawid se besondere taak waarvoor hy gewillig was?

 

Dit was nie Dawid se voorreg om die Tempel te bou.

 

Lees 1 Kron.17 en 2 Sam.7

 

Baie belangrik is om te let op sy gesindheid nadat hy die teleurstellende nuus hoor van die profeet Natan.

 

Iets baie interressant is dat daar een skandelike donker kol in Dawid se lewe is wat ons nie in Kronieke vind! Wat is dit, en waarom?

 

As mense aan Dawid dink:

 

Wat is dit waaraan hulle die eerste dink? Sy sonde met die mooi vrou van een van sy dienaars. Waarom lees ons niks daarvan in Kronieke, maar alles in die boek Samuel?

 

Wat leer ons uit dit? Is dit dat God sonde toesmeer in die Bybel? Nee vriende, sommige mense het donker kolle van die verlede wat soos n omweers wolk oor hulle hang, maar die Here alleen kan dit mos uitvee en nooit weer aan dit dink nie.  

 

Terwyl die Here nie die sonde van mense toesmeer in Sy Woord, het Hy al lankal dit vergewe terwyl mense nog loop en krap daaraan.

 

Lees die hele verhaal in 2 Sam.11,12 met sy gevolge en die skryf van Ps.51 oor Dawid se berou. Dit is opgeteken in die Woord. Asook sy belydenis.

 

Psalm 51:10,13 

 

Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. :13 Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.

 

Weet u wat dit is om in sonde te val en uitgevind te word, die skande, verwyte en om nie meer beskikbaar en bruikbaar vir die Here te wees? Lees Gal. 6:1-5

 

Die verhaal van Dawid se sonde

 

Jy vind dit nie in Kronieke, want dit is nie meer relevant vir die rede waarom die boek geskrywe is.

 

Waarvoor is Kronieke geskryf? Lees jy 1+2 Kronieke dan sien jy dit dek 2 Sam 1+2 wat handel oor die Konings se geskiedenis.

 

2 Sam beskryf die lewe van Dawid, 1 Konings die lewe van Salomo en bou van temple.  2 Konings gaan oor die Konings van Juda en Israel, die afval en ballingskap.

 

Samuel en Konings is dus geskrywe voor die ballingskap, en Kronieke na die ballingskap. Dit was geskrywe heel waarskynlik deur Leviet en die fokus is op kerklike en georganiseerde aanbidding.

 

Die doel van die boek

 

Om die Kerk van Christus te leer dat sy sterkste eienskap moet wees dat elke lid daarvan ten volle aan die Here toegewy moet lewe en dat hulle Hom met alles wat hulle het moet dien. Kommentaar uit “Bybel in praktyk”

 

Let mooi op hoe daar verwys word hier na “die hele Israel” 1 Kronieke 11:1,4,10

 

Baie belangrik om raak te sien is dat voor die ballingskap hulle n Koning gehad het, en na die ballingskap? Daar was geen koning, want God is nou die Koning.

 

Die fokus val dus nou op die instruksies vir die herbou van die tempel.

 

Kyk vir n oomblik na die ryke geskiedenis wat vir ons soveel nuttige lesse leer in die tyd waarin ons leef.

 

Kronieke, Esra en Nehemia volg op mekaar. Lees 2 Kron.36:22-23.

 

Wat was eerste herbou? Die Tempel of die stad, poorte en die mure? Eers die Tempel, daarna die stad en die mure. Dit is n Bybelse beginsel.

 

Mattheus 6:33

 

 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

 

Hierdie kosbare boek Kronieke

 

Dit het so baie belangrike inligting prakties en geestelik vir die Kerk van Jesus vir die dag waarin ons lewe. Die Ou Testament raak weer lewendig in ons harte, prys die Heer.

 

Weereens word die Bybel as die enigste betroubare literatuur bewys.

 

Met die geslagsregister en geskiedenis wat presies opgeteken is na al die jare in ballingskap, en bewaar gebly het.

 

Sonder hierdie kosbare boek is die Bybel soos dominos spel sonder dubbel 6 en 0

 

Kronieke laat die geadresseerdes in 3 rigtings kyk:

 

Kyk terug – Hulle geskiedenis van die verlede en God se handelinge met hulle deur die jare.

Kyk vorentoe – Profetiese belofte oor die toekoms wat wag. Al is Dawid nie meer daar nie, die lyn van Dawid se geslagsregister sal vir ewig bly.

Kyk na die hede – Die teenwoordigheid van die Here met die herbou van die tempel.

 

Kom ons keer terug na ons boodskap met die tema  “Beskikbaar vir n besondere taak”

 

Dawid word nie deur God toegelaat om die temple te bou nie, maar wel om al die voorbereidings te doen. Hy was beskikbaar vir n geweldige groot, belangrike en besondere taak.

 

Daar is baie belangrike inligting in Kronieke wat jy nie in Samuel en Konings vind.

 

1 Kron.22 – 29:9 lees :9

 

Vergeet van die verlede van Dawid wat deur God se genade vergewe en uitgedelg is.Gaan kyk hoe het Dawid geeindig?

 

1 Kronieke 22:9-13

 

:9 Kyk, ‘n seun sal vir jou gebore word; hy sal ‘n man van rus wees, en Ek sal hom rus verskaf van al sy vyande rondom; want Salomo sal sy naam wees, en vrede en rus sal Ek oor Israel in sy dae gee. :10 Hy sal vir my Naam ‘n huis bou, en hy sal vir My ‘n seun wees, en Ek vir hom ‘n Vader; en Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel bevestig tot in ewigheid. :11)  Nou, my seun, mag die HERE met jou wees, dat jy voorspoedig kan wees om die huis van die HERE jou God te bou soos Hy oor jou gespreek het. :12  Mag die HERE jou net insig en verstand gee en jou aanstel oor Israel; en dit om die wet van die HERE jou God te onderhou. :13  Dan sal jy voorspoedig wees as jy sorgvuldig die insettinge en verordeninge onderhou wat die HERE aan Moses oor Israel beveel het; wees sterk en vol moed, wees nie bevrees en wees nie verskrik nie.

 

Hy was Gewillig vir n besondere taak, al was dit geringer in mense se oe.

 

Charles Spurgeon se woorde is hier van pas “It take more than you can tell, to play the second fiddle well”

 

Omdat Dawid gewillig was kon die Here hom gebruik vir die besondere taak.

 

:9  En Dawid het gedurigdeur groter geword, en die HERE van die leërskare was met hom.

 

In my hart is daar n verwagting van n nuwe seisoen wat vir my, vir jou en die gemeente aanbreek. Die vraag is “Is jy gewillig”

 

Allen Redpath se woorde het my aangegryp “The Church became a place where Christians live alone together”

 

Mense kom kerk toe en verdwyn na die erediens, bang hulle moet iets doen. En tog is dit beter om saam te werk, as om alleen te probeer klaarkom.

 

Dawid was gewillig

 

Dawid het ook gewillige hulp gehad. Kyk na al die helde van Dawid in 1 Kronieke 11:10-47

 

Die volgende boodskap kom uit hoofstuk 12 wat handel oor die “Nuwe seisoen breek aan” vir Dawid en die volk.

 

Daarna sal ons kyk na “Die Ark terug in Jerusalem”

 

Is jy beskikbaar vir die besondere taak?

 

Is daar donker kolle van die verlede in jou lewe, en jy voel nie om betrokke te raak?

 

Het alles wat met jou gebeur het tot nou jou nie voorberei vir iets meer? Die goeie en die slegte, die hoogte en laagte punte, die eerbare en oneerbare dade.

 

Het jy nie al lank genoeg uitgestel vir die besondere taak wat die Here op jou gele het nie?

 

Is jy tevrede om so stok siel alleen te bly en niks vir ander en vir die Here te beteken?

 

Wil jy nie saam met ander mense saam met jou n verskil maak?

 

Daar is een besondere taak wat net jy kan doen. Vind uit wat dit is.

 

Dit mag minderwaardig lyk of klink, maar dit is vir jou deur die Here bepaal.

 

Amen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00