Ons sê jammer omdat God alles reggemaak het

Esegiël 36: 22-32

”Jammer-sê, maak alles reg”. Is daar nie derduisende Christene wat só redeneer nie? Op die vraag: “Hoe kom dinge tussen ’n mens & God reg?” – is die antwoord van baie: “Jý maak dit reg. Jy sê jy’s jammer” —- “Jy sê ekskuus”. Jy wys jou berou. Ek, as mens, maak alles reg deur my berou te toon. En die Here? Hy aanvaar wat ek sê. Ek doen, dan doen Hy. Ek sê jammer en Hy aanvaar dit. Dit is die meganisme wat ons geneig is om te gebruik: Ek maak reg en Hy aanvaar dit.

Maar: het u al ooit gedink wie is die God wat binne só ’n meganisme inpas? Dit is die ondergeskikte God. Dit is die God wat moet vergewe. Wat my moet aanvaar

Hy moet net aanvaar dat alles reg is, want ek het so gesê. Hy is só afhanklik van mý liefde/ iemand wat Hom tog net sal dien. Hy moet my ekskuus aanvaar, anders verloor Hy my dalk. Sien u die geesteshouding wat agter hierdie meganisme sit? Menslike magsverklaring. En God? Hy is die afhanklike Een wat moet aanvaar wat ék sê.

Maar intussen twyfel ek gedurig OF die Here mý magsverklaring aanvaar het en OF alles nou reg is, want ek weet nie of my jammer-sê opreg genoeg was nie! Want kyk: Indien my jammer-sê alles regmaak, moet my jammer-sê van hoogstaande kwaliteit wees. Nou kom die twyfel: Was ek opreg genoeg? Moes ek nie MEER berou getoon het nie? Moes ek nie MEER hartseer gewees het nie? Moes ek nie MEER pateties gewees het nie? Want indien ek BAIE pateties en hartseer is, aanvaar die Here mos my magsverklaring baie vinniger…

In Esegiël 36 keer die Heilige Gees hierdie hele meganisme onderstebo. Dit is soos ’n hemelse openbaring wanneer dit vir jou oopgaan. Hier is dit die HERE wat ’n magsverklaring maak teenoor Sy gemeente wat letterlik alles verbrou het. Hulle sit in Babilon in ballingskap en die mense van Babilon vra: “WIE IS DIE WARE GOD? Ons god BEL is die ware god, want dit is hý wat julle gevangenes in ons land gemaak het. Júlle God is swak en hulpeloos”. Verstaan u op watter manier die volk Israel die HERE se Naam verontheilig het? As gevolg van hulle sonde, spot die heidene met die HERE – verkleineer Hom.

En nou sê die Here: Ek gaan die eer van My Naam herstel. Julle het My Naam oneer aangedoen, maar Ek gaan My Naam herstel. Ek gaan My heiligheid laat blyk. Wanneer die nasies sien wat Ek met julle gaan doen, sal hulle agterkom: hier is ’n ANDER God aan die werk!! En nou gaan Ek iets met julle doen wat My Naam sal herstel…

Gemeente, nou sit ’n mens op die punt van jou stoel. Want, WAT gaan die Here met Sy mense maak? Hoe anders sal Hy die eer van Sy Naam kan herstel as om hierdie volk nou vir eens en vir altyd van die aardbol af te vee?? DAN sal die nasies weet: Hier is ’n ander God aan die werk… Maar, dit is juis NIE hoe die Here Sy totale andersheid laat blyk nie. In vers 25 sê Hy hoe Hy die eer van Sy Naam sal herstel – wat Hy met Israel sal doen…

Hy sê: Ek sal SELF alles regmaak wat júlle tussen My en julle verkeerd gemaak het. Ek sal julle saak met My regmaak. Want julle jammer-sê en ekskuus-sê kan nie julle skuld wegneem nie. Julle berou en trane kan nie die muur tussen My en julle afbreek nie. Daarom sal EK dit afbreek. EK sal julle wegvat tussen ander mense wat My nie wil dien nie. EK sal reinigingswater oor julle uitgooi en julle sal rein wees. EK sal julle reinig van julle onreinheid en julle afgodery. EK sal julle ’n nuwe hart en nuwe gees gee. EK sal die kliphart uit julle uithaal en julle ’n hart van vleis gee. EK sal My Gees in julle gee. EK sal van binne-af maak dat julle My dien. EK sal maak dat julle My volk is en Ek julle God is. EK sal julle bevry van alles waarmee julle jul verontreinig het. EK sal alles tussen julle en My regmaak.

Sien u hoe asemrowend die HERE letterlik Homself gaan verbind aan mense wat besig is om van Hom af WEG te hardloop?! Die HERE lê letterlik ’n band tussen Hom en die drosters. En die manier waarop die Here hierdie band lê, is met beloftewoorde/magsverklaring: “EK maak alles reg wat julle verkeerd gemaak het” . As vrye geskenk. Soos wat ’n weldoener in sy testament sy multimiljoenrand huis bemaak aan ’n plakker wat in ’n pondok bly! Terwyl hy aan die plakker absoluut NIKS verskuldig is nie!!

’n Paar eeue nádat hierdie woorde uitgespreek is, het God dit letterlik gedoen deur die koms van Sy Seun. Deur JESUS se lyding en sterwe en begrafnis en opstanding het God ons (drosters) saak met Hom reggemaak. Hy het alles reggemaak. Alles wat u & ek breek, het Hy heelgemaak. Alles wat u & ek verkeerd draai, het Hy reg gedraai. Jesus se lyding en sterwe het aan ú ’n splinternuwe nuwe hart en nuwe gees gegee. En met die koms van die Heilige Gees op Pinksterdag het Hy Sy Gees IN ons gegee om ons van binne-uit te regeer. Só het Hy die heiligheid & eer van Sy Naam herstel. Hy het ons vrygemaak van ’n plakkerspondok en ons vasgemaak aan die multimiljoenêrswoning van God – nét deur Jesus se dade. Nóú kan al die nasies sien dat Hý die God is wat anders optree as die afgode en anders as die menslike logika.

En wat is die GEVOLG/RESULTAAT van dit alles? Hoor nou die skreiende ironie: Vers 31. DAN – m.a.w. NADAT Ek alles reggemaak het wat julle verkeerd gemaak het – DAN – sal julle nadink oor julle booshede en slegte gedrag EN sal julle julle skaam daaroor. M.a.w. DAN sal julle jammer-sê. DAN sal julle tot insig kom. DAN sal julle ekskuus-sê.

Sien u WIE maak die magsverklaring? Nie die méns met sy jammer-sê nie. Maar die HERE wat alles regmaak nog voordat die mens kan dink aan jammer-sê. En wanneer ’n mens DIT ontdek, DAN sê jy jammer. Wanneer jy ontdek hoe die Here Sy eie eer herstel het op Golgota. Wanneer jy ontdek hoe Hy jou in ’n posisie van magteloosheid geplaas het. Wanneer jy ontdek hoe jou sonde die lyding en dood van die vlekkelose Jesus gekos het. DAN sê jy ekskuus. Maar jy swaai niks met jou jammer-sê nie. Jy bewerk niks met jou jammer-sê nie. Jy betaal niks met jou jammer-sê nie. Jy gee die EER aan Hom, want kyk net!! – alles wat jy breek, het Hy heelgemaak – alles wat jy skeef draai, het Hy reggedraai. O, Sy onverklaarbare genade BREEK my, dit maak my gelyk met die grond! Ek besef: EK kan niks vergoed nie. Maar, ek het hierdie geloof in my hart: HY het alles reggemaak – dáárom sê ek jammer. Dáárom vlug ek weg van die sonde – soos ’n mens vlug uit ’n brandende stad.

Dit mag dalk wees dat hier iemand is wat al-twyfelende wonder: “Is al hierdie dinge regtig op MY van toespassing? Het die Here regtig vir MY aan Homself vasgebind d.m.v. hierdie beloftes — vir MY —- terwyl ek alles totaal opgemors het? Het Hy regtig alles tussen my & Hom reggemaak sónder my jammer-sê – sodat ek nou mag jammer-sê??”

U hoef nie langer te wonder of ú ingesluit is nie. Want die Here het Sy handtekening aan u gegee – Sy sigbare handtekening wat Sy beloftes onderstreep/waarborg — Die DOOP. En hierdie handtekening is aan u PERSOONLIK gegee – op u eie naam. En Hy het u voorgespring. Nog LANK voordat u besef het dat u in ’n plakkerspondok bly, het Hy met Sy handtekening bevestig dat u ’n miljoenêrswoning erf. Net maar ERF.

GLO dit … en raak verslae. Verslae van verwondering. En begin dan om ekskuus te sê. Sê dan iets soos: “Ek is bitter bitter jammer Here, dat ek met my verharding en sonde weggeloop het van ’n God soos U. Ek het nooit besef dat U so ’n God is nie. Ek het drooggemaak en verbrou, maar baie dankie dat ek weet dat U my gekies het. Die doop waarborg dit aan my. En ek glo dit. Amen.”

Lees doopformulier 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00