Geskryf deur THEUNIS

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

WEES STERK EN WEES MOEDIG

 

Na die dood van Moses het God Josua aangestel as die nuwe leier van Isreal. Die Here God het vir Josua ‘n kragtige boodskap gegee. Hierdie boodskap is vir ons opgeteken in Josua 1: 5-9. Dit is vir ons belangrik om daarop te let dat die Heer drie maal die frase “Wees sterk en moedig” herhaal (vers 6,7 en 9). Ander vertalings sê “wees sterk en dapper” en “wees sterk en vasberade”.

 

Die Here het Josua geken en sy neiging om nie sterk en moedig te wees nie. Net soos ons moes Josua ook die neiging tot ‘n gevoel van onbekwaamheid, swakheid en ondoeltreffendheid ervaar het. Die Heer het hierdie natuurlike neigings in Josua aangespreek; “wees sterk em moedig”. Ons vind hierdie aanmoeding heel dikwels in die Ou en Nuwe Testament. Jesus het daarvan gepraat, so ook Paulus.

 

Wees sterk

 

Kom ons kyk na ‘n paar tekse waar dit voorkom.

 

Efesiërs 3:16 “ Mag Hy deur Sy Gees uit die rykdom van Sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word.”

 

Efesiërs 3:20: “ Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra.”

 

Efesiërs 6:10: “Ten slotte: Vind krag in julle verhouding met die Here, ja, in die krag van Sy sterkte.”

 

Herhaaldelik gebruik Paulus die woorde: mag, krag en sterkte. Dieselfde woorde wat die Heer vir Jesus gesê het, sê Hy ook vir elkeen van ons.

 

Ons word nêrens aangemoedig om in onsself sterk te wees nie. Ons het nie in onsself die vermoë om standvastig te wees in tye van teëspoed nie. Ons het nie die vermoë om vasberade te volhard in moeilike omstandighede nie. Ons het nie persoonlike bronne vir enigiets nie, maar God het. Hy is die Een wat ons die opdrag gee om sterk te wees. Hy is die Een wat ons daardie sterkte gee. Ons oorwinning is in Hom.

 

Paulus het hierdie Goddelike krag ontdek en gesê: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”  Nog ‘n vertaling sê: “ Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.” (Filippense 4:13). Sy sterkte, word ons sterkte. Ons moet ons nood aan Hom bekendmaak, Hom vertrou en volhard. Dan sal ons Sy sterkte ontvang.

 

Wees moedig

 

Moedig en bemoedig is aanmekaar verwant. Moedig kom in die middel van die woord ‘bemoedig’ voor. Ons word bemoedig as ons moed in ons het.

 

Hoe kry ons hierdie bemoediging:

 

–               Bemoediging kom van God. Hy is die God van bemoediging. Hierin is Dawid vir ons ‘n voorbeeld. Toe hulle in Siklag kom en dit afgebrand vind met vroue en kinders weggevoer,  was sy manne verbitterd en het onder mekaar gepraat om Dawid te stenig. Dawid kry sy krag en hulp van die Here. 1Samuel 30:6(c) lees: “Maar Dawid het by die Here sy God krag ontvang”

 

–               Bemoediging word gevind in die Woord van God . Romeine 15:4 sê “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif aan ons gee, vol hoop kan wees”.

 

–               Bemoediging word gevind, wanneer ons mekaar bemoedig. Ons moet almal die bediening van bemoediging omhels en uitleef.

 

Wat ons ookal op hierdie oomblik ondervind, hetsy ontmoediging, teleurstelling of wanhoop, hoor die woord wat uit die hart van God tot ons spreek. “Wees sterk en moedig”.

 

Hy sal ons in staat stel om sterk en moedig te wees. Ons moet net na Hom toe gaan en vir Hom vertel wat ons ervaar.

 

Mag elkeen van ons deur die hele jaar, elke dag, sterk, moedig, vasberade en dapper wees in die krag van die Heer.                                                                                OORGENEEM VANAF AKSIE 1:8

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00