Skriflesing: Hebreërs 6: 11-20
Titel: Rotsvaste sekerheid
Dikwels spook die vraag in ’n mens se gemoed: Kan ek óóit doodseker wees dat ek uitverkies is – dat ek ’n verloste kind van God is? 100% sekerheid dat ek by die Here sal wees indien ek vandag tot sterwe sou kom? Sommige mense aanvaar nie dat só ’n sekerheid enigsins moontlik is nie. Hulle dink dit is pure hoogmoed. Hoe op aarde is dit moontlik dat ’n heilige God OOIT 100% tevrede kan wees met ’n mens wat vol foute en sondes is en só ’n mens 100% kan aanvaar? Ondenkbaar! Hoe kan jy volle sekerheid hê as daar nog soveel gebreke en mislukkings in jou lewe is? Dan is dit mos beter om eerder ’n twyfelende patetiese houding te hê. U sien: dit is wat mense dink: Dit is onmoontlik om 100% deur die Here aangeneem te wees en TERSELFTERTYD nog soveel sondes te hê. Nee, dan maar liewer aanhou twyfel. Die onsekerheid veroorsaak darem dat ek op my tone bly en dat ek nie onverskillig en slap word nie.
Ander mense maak weer die sekerheid van verlossing afhanklik van hoe hulle innerlik VOEL. Die regte soort gevoel/ervaring/belewenis is baie belangrik. Jou sekerheid ry die heeltyd skoppelmaai soos wat jou innerlike lewe rondbeweeg.
Ander mense sê: Nee, van my redding & uitverkiesing kan/sal ek nooit seker kan wees alvorens die Here dit nie baie direk aan my kom openbaar nie. Hy moet direk en persoonlik (amper hoorbaar) vir my kom sê: Jy is Myne. Ervaring/droom/ervaring/belewenis/ritteltit/stem/visioen of enigiets bonatuurlik.
Wat mense nie besef nie: Tussen al die redenasies deur, is die satan self besig om hulle te mislei met leuens en hulle weg te hou van die volle vryheid en rykdom vd evangelie. Want wat sê die Wóórd onomwonde en duidelik? Die Woord sê dat élke gelowige volle sekerheid kan/mag/moet hê. Tewens: Geloof IS sekerheid. Want geloof klou vas aan iets wat GOD beloof het. En God sal jou nie mislei nie. Sy Woord is waar. Sy Woord IS sekerheid!
Die groot misverstand is egter: Ons dink: EK moet éérs “iets” bereik voordat ek sekerheid kan hê/ voordat die Here my sal wil aanvaar. Ons eerste instink is altyd – EK moet self iets DOEN. Doenerigheid is belangrik. Wil iets bereik. Wil iets goeds vir God aanbied sodat Hy my kan beloon met die ewige lewe. Wil eers ’n sekere VLAK bereik.
Dit is só bevrydend om te ontdek dat die Bybel ’n totaal ander taal praat. Kyk byvoorbeeld na die passie wat in die Hebreërskrywer se hart brand dat sy lesers volkome sekerheid vd hoop moet hê (v 11). Hy spoor hulle aan om ywerig te wees om die volheid vd sekerheid te kry. MAAR NOU: BAIE BELANGRIK: Wáárheen verwys hy sy lesers om sekerheid te kry? Waar vind? Wat doen? Waaraan geanker? Verwys hy hulle na die een of ander wonderlike ondervinding wat hulle moet bekom? ’n Belewenis? 5 stappe wat gevolg moet word? Sekere gebed hardop sê? Ingrawe in eie hart & gevoel om dáár te soek of daar sekerheid is? Eie lewe onder vergrootglas plaas om te kyk of die regte soort vrug daar teenwoordig is?
Die onbekryflike wonder is: Hy verwys sy lesers hoegenaamd nie terug na hullesélf om sekerheid te kry nie. Maar, hy verwys hulle na die absolute vastheid vd Here se beloftes. Die HG kom sê deur Hebr 6 : 11-20 vir Tafelberg se kerk: “Jy sal nooit sekerheid hê deur jou eie belewenisse/doenerigheid onder die vergrootglas te plaas nie.” Die Bybel skryf nie 4/5 stappe voor wat ’n mens moet volg om sekerheid te kry nie — en – indien ’n mens nie daardie stappe presies só ervaar het nie, is jy verlore. Die Bybel ken nie so iets nie. Die Bybel gee iets baie beter: Die HERE God se vaste belofte aan jou persoonlik wat jy net kan glo. Die sekerheid van ons redding berus op die Here se belofte wat Hy aan ons persoonlik in Sy verbond gegee het as ’n gratis geskenk. Wanneer ’n mens sover kom om daardie beloftewoord te aanvaar, dan WEET jy: Dit IS vir MY!
Ons geneigdheid is egter net andersom. Ons wil ons sekerheid gaan vasknoop aan een enkele gebeurtertenis in die verlede toe ONS ’n keuse gemaak het. Ons wil ons sekerheid vasknoop aan ONS keuse. En dan kom die duiwel en hy ondergrawe ons keuse: “Jy het dit nie opreg genoeg bedoel nie.” “Jy het nie genoeg berou gehad nie.” “Jy is nie nou meer so ernstig soos tóé nie.”
Hebreers 6 is deur die HGees gegee om ons juis hiervan te verlos. Om NIE sekerheid vas te knoop aan ENIGIETS ANDERS as Gód se beloftes nie. Want daar is een ding waarteen die satan niks kan sê nie: God se belofte dat Hy jou met Jesus se kruisdood op Golgota verlos het. As ’n mens dáárop bou, staan jy op ’n onwankelbare rots. Dit is presies wat die Hebreërskrywer doen. Hy wys nie sy lesers terug na HULLESELF om in hulle eie binneste rond te krap op soek na sekerheid nie. Hy verwys hulle na die belofte vd Here. Hy verwys hulle na die onmoontlikheid dat God ons sal/kan mislei. HY verwys hulle na Jesus wat voorgeloop het.
En hy gee vir hulle een konkrete voorbeeld wat hulle baie goed geken het: Abraham. Waarop het Abraham se sekerheid berus? Antwoord: Belofte/verbond/Eed. Die Here het by Homself vir Abraham gesweer. Belofte alleen genoeg. Eed bekragtig dit. En, wat het Abraham gedoen? Hy het dit GEGLO. Hy het aanvaar wat God vir gesê het. Sy sekerheid was die sekerheid van dit wat God gesê het. En dit geld nie net vir Abraham nie. ’n Mens moet mooi kyk. Die Hebreerskrywer spring van Abraham af na ONS toe. Kyk mooi en u sal dit sien. Hy praat die een oomblik nog van Abraham en dan van “ONS”. Wie is dit? Dit is alle gelowiges & hulle kinders. Die nageslag van Abraham uit alle nasies. Die Here gebruik dieselfde werksmetode met ONS as wat Hy met Abraham gebruik het. Watter werksmetode? Sonder dat ons dit verdien of dit werd is of daarna gevra het, kom knoop Hy Homself aan ons vas d.m.v ’n belofte EN Hy bekragtig die belofte met ’n Eed sodat ons met sekerheid kan wéét dat dit wáár is.
Wat is die belofte? Staan die hele Bybel vol. “Ek, as Vader, sal vir jou ’n God wees en ook vir jou nageslag. Ek, as Seun, kom was jou met My bloed. Ek, as HG, wil in jou woon vir ewig.” En waar sien ons die EED? Abraham kon dit sien in die besnydenis. En ons? Ons sien dit in die doop. Dit is soos God se handtekening. Soos ’n kontrak wat Hy onderteken. Dit is ’n anker vir die siel. Dit is vas en betroubaar. Dit is die waarheid. Dit mag geglo/aanvaar word.
God se belofte is nie iets vaag vir die toekoms nie. Dit hang ook nie af van hoe soet ek is nie. Dit is ook nie EK wat Sy belofte moet waarmaak nie. So asof die Here sou sê: “Ek sal moontlik iewers in die toekoms jou God wees – mits jy soet genoeg is nie”. Het Hy só met Abraham gewerk en gepraat? 1000 maal NEE. Gaan lees dit self in die Bybel. Wanneer die Here Sy beloftewoord gee, is dit so goed soos afgehandel. SO het Hy met Abraham gewerk.
Vraag: Indien die Here éérste na u en my gekom het en SY belofte gegee het, waarom moet ons dan nog éérs allerhande goed doen om in Sy goeie boekies te kan kom? Waarom kan ons nie net ons verlossing & redding aanvaar nie? Hy het ’n eed gesweer dat Hy my van die begin af aanvaar. Waarom kan ek Hom dan nie aanvaar nie? Dan is dit mos logies dat ek sal wegdraai van ’n lewe wat net rondom my eie ek sentreer ná ’n lewe wat om Hom sentreer.
Indien u hier sit en u het ’n goeie bekeringsondervinding in die verlede gehad – moenie dáárop vertrou om sekerheid te soek nie. Vertrou liewer op die Here se onfeilbare eed wat HY aan u gesweer het. Die belofte dat HY al u sondeskuld tot op die laaste sent op Golgota betaal het.
Indien u hier sit en u het nog nooit in die verlede ’n noemenswaardige ondervinding gehad nie – moenie sit en wag vir ’n geweldige ervaring nie. GLO vandag die Here se beloftewoord wat Hy aan u persoonlik gee. Die belofte dat HY u met Homself versoen het op die kruis toe u nog niks van Hom wou weet nie.
Dit is die goeie nuus van die evangelie: Ons hoef nie onsself gered te kry met ons doenery en met ons ondervindings nie. Die verstommende goeie nuus is dat ons tot rus kan kom in Christus Jesus wat ons op die kruis van Golgota volmaak verlos het van ons skuld en sondes en hel en verlorenheid. Wanneer ons tot hierdie rus gekom het, verander ons lewens handomkeer – spontaan. Die Gees van die Here doen dit. Daaraan mag ons van harte vaskleef.
Eintlik is geloofsekerheid ’n baie eenvoudige saak. Dit is om te weet dat wat God sê, wáár is. En wát sê Hy? Hy sê dat Hy jou gered het met Sy Seun se dood en opstanding. Jy het sekerheid omdat Gód sê. God het gesê en ek glo Hom. Jy het nie sekerheid omdat jý gekies het of jou hart vir die Here gegee het nie. Dan is jou sekerheid weer op jouself gebou. Nee, om jou hart vir die Here te gee beteken om van harte te glo wat God van jou persoonlik met ’n eed sê: Dat HY jou sondeskuld weggevee het op die kruis nog voordat jy kon kies – tot op die laaste sent. Dán kom jou onrustige en wispelturige hart tot ’n ewige rus.