Geskryf deur THEUNIS
Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE tjcloete@absamail.co.za
ONTHAAL SAAM MET DIE PRESIDENT.
President Calvin Coolidge het vriende van sy geboorte dorp genooi om saam met hom in die Wit Huis te kom eet. Hierdie mense wat van die platteland kom het nie die tafelmaniere van die Wit Huis geken nie. Hulle het toe saam besluit om slegs die president dop te hou en presies te doen soos wat hy sou doen.
Indien die president sy glas neem om te drink dan doen hulle dit. Soos die geregte voor gesit word hou hulle die president dop om te sien watter lepel of mes en vurk gebruik moet word.
Alles het goed verloop totdat die koffie bedien word.
Die president het sy koffie in die piering geskink. Almal het presies gedoen soos hy doen. Daarna het die president melk en suiker in die piering gegooi en dit so in die piering geroer. Presies dieselfde hoeveelhede is so deur die gaste gedoen in hul pierings. Daarna het die president gebuk om die piering op die grond te plaas vir die kat om te drink.
WIE SE VOORBEELD VOLG JY?
Het jy geweet dat die duiwel word ’n mensemoordenaar genoem? JOH. 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.
Wie is daar wat ‘n moordenaar in sy weë sal wil volg? Wie is daar wat ‘n leuenaar wil volg? Wie is daar wat ‘n kwaadprater wil volg? So kan ons aan gaan om die vrae te vra. Tog is daar miljoene mense wat die vyand van hulle siele volg.
Is dit nie beter om iemand te volg wat vir jou lewe wil gee nie? Iemand wat vir jou vrede gee en blydskap en geluk? JOH. 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
WIE SE VOORBEELD VOLG JY? Alles lyk nou goed en wel maar wat is die uiteinde van jou lewe? SPR. 14:12 Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.
GEBED
Here, my strewe is om U as my God en Verlosser te volg – ALTYD! AMEN