Skrif: Johannes 12: 37-50
Die einde van Joh 12 bring ons aan die einde van die Here Jesus se 3,5 jaar lange openbare bediening. Dit is net enkele dae voor Sy kruisiging. Vanaf hfst 13 praat Hy net met Sy dissipels alleen, die laaste aand voor Sy dood. Maar aan die einde van hfst 12 vind ons Sy laaste woorde in die openbaar uitgespreek.
Eintlik het die Apostel Johannes verse 37-50 effe moeilik aanmekaargesit. Want in vers 36 (wat ons verlede week gelees het) staan daar dat Jesus van die skare weggegaan het en Homself gaan verberg het. Wánneer & wáár Hy dus nou weer verskyn het en verse 44-50 se woorde uitgespreek het, weet ons nie. Dit was in elk geval iewers tussen die Maandag en die Donderdag voor Sy inhegtenisname. Johannes skryf dit neer omdat dit ‘n soort samevattende konklusie is van álles wat die Here gedurende Sy hele openbare bediening gesê het. En dan sluit die Here se openbare bediening met daardie samevatting af.
Eintlik is die voorafgaande verse 37-43 óók ‘n samevattende konklusie, maar dít word deur Johannes self gemaak. In verse 37-43 konkludeer Johánnes die Here Jesus se openbare bediening. In verse 44-50 konkludeer Jesus sélf Sy openbare bediening en Johannes skryf dit net neer.
Die mees voor die hand liggende manier om vanoggend se boodskap aan te pak is om eers Johannes se samevatting van Jesus se bediening (vv 37-43) te neem en te kyk wat dit beteken. En daarná die Here Jesus se eie samevatting (vv 44-50) te neem en te kyk wat die betekenis dáárvan is. Dan kan ons sien wat die betekenis vir ons eie lewens is.
1 JOHANNES SE SAMEVATTING VAN JESUS SE OPENBARE BEDIENING (vv 37-43).
Kom ons lees dit net weer om dit vars in ons geheue te kry:
Alhoewel Jesus so baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie.
So moes die woorde van die profeet Jesaja vervul word: “Here, wie het geglo wat ons gehoor het? En aan wie is die mag van die Here geopenbaar?” (AANHALING UIT JESAJA 53:1)
Waarom hulle nie kon glo nie, sê Jesaja ook elders:
“God het hulle oë blind gemaak en hulle verstand laat afstomp sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer en Ek hulle gesond maak nie.” (AANHALING UIT JESAJA 6:10)
Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van die Here gesien en oor Hom gepraat het.
Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie;
want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.
Eintlik is dit die hartseerste woorde in die hele Johannes-evangelie. Maar, dit is ‘n hartseer wat óns bly maak. Dis ‘n hartseer wat tot vreugde lei. Dis ‘n hartseer wat tot die verlossing van die wêreld lei.
In hierdie samevatting sê Johannes dat die volk Israel in ongeloof hulle verhard het teen die Here Jesus. Tragies. Presies wat Simeon geprofeteer het toe hy met die Baba in sy arms gestaan het: “Hierdie kind is bestem tot die val en opstaan van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word” (Luk 2:34). Die katastrofiese én glorieryke einde van die grootste lewe wat ooit op aarde geleef is, is veroorsaak deur Sy eie mense se ongeloof en hardheid van hart. Hy is gekruisig omdat Hy na Sy eie mense toe gekom het en hulle Hom verwerp het (Joh 1:11).
MAAR dit was nie die gevolg van ‘n toevallige hartseer & tragiese sameloop van omstandighede nie. Nee, dit is deur die Vader so bewerk. Want die doel van Christus se koms was blydskap & bevryding vir die wêreld (Mrk 10:45).
Dis belangrik om raak te sien dat God die Vader die ongeloof & verharding van die Jode bewerkstellig het MAAR dat hulle tog terselftertyd self verantwoordelik & skuldig was vir hulle ongeloof! “Gód het hulle oë blind gemaak en hulle verstand afgestomp…” (v 40). God was absoluut soewerein oor wie glo en wie nie glo nie EN TOG was die volk self verantwoordelik vir hulle ongeloof. Hulle het hulleself veroordeel (vgl Joh 3:18).
Alhoewel dit vir ons voel soos ‘n weerspreking, weerspreek dit nie mekaar nie. Beide is waar: God het die verblinding oor hulle gebring, maar hulle was self daarvoor verantwoordelik. Net soos Judas self verantwoordelik was vir sy ongeloof, maar tog het sy boosheid God se Raadsplan vervul! Geen mens se ongeloof dwarsboom God se Raadsplan nie & niks weerhou Hom om ál die skape vir wie Jesus gesterf het in die kudde te versamel nie. Die mens wat begin om die Blye Boodskap te glo, het ALLES aan God te danke. Maar die mens wat in ongeloof volhard het ALLES aan homself te wyte!
Kyk net ‘n bietjie met watter metode het God hierdie Jode se harte verhard. Ons sien dit in die manier hoe Johannes vir Jesaja aanhaal. Hy hoef nie vir Jesaja aan te haal nie. Hy kon net sê dat Israel nie hulle eie Messias geglo het nie. Maar hy haal vir Jesaja met opset aan – eers uit hfst 53 en dan uit hfst 6. Want Jesaja profeteer 800jr vooruit die twee redes waarom die volk nie in hulle Messias sal glo nie.
NOMMER 1: Omdat Hy fisies onaansienlik, onaantreklik, on-indrukwekkend sal wees – glad nie die verlosser-tipe nie. Hy was net nie die tipe materiaal waaruit ‘n mens sou dink die Messias sou bestaan nie! Beslis nie die soort Messias wat die volk wou gehad het nie.
NOMMER 2: Hy sal heilig, heerlik en hoog verhewe wees – gelyk met God self. Van só ‘n majesteit, glorie en krag wou die volk ook niks weet nie. ‘n Messias wat – aan die een kant so aards/onaansienlik is en aan die ander kant heerlik en majestieus – nee dankie! Nie vir ons nie. Ons kan nie ons verstand om só ‘n Messias kry nie.
U sien, die Here Jesus was die Man van wie Jesaja gepraat het. En die feit dat Hy aards & onaansienlik was en tog daarop aanspraak gemaak het dat Hy gelyk is met God, het die Jode erg aanstoot gegee. Dit het hulle verblind en hulle harte verhard. Gód het hulle oë verblind met die tipe Messias wat Hy vir hulle gestuur het, want Hý het 800jr te vore deur Jesaja se pen geprofeteer dat só ‘n Messias vir hulle ‘n steen des aanstoots sou wees! Hy stuur vir hulle ‘n Messias wat die gestalte van ‘n dienskneg het, wat dien, wat voete was, wat met sondaars saamkuier. Aan die ander kant maak hierdie Messias daarop aanspraak om die heerlikheid van God self te wees!
Die manier waarop God die Jode verhard het in hulle ongeloof, was om vir hulle presies die soort Messias te stuur wat Hy self geweet het (en voorspel het) nie vir hulle aanvaarbaar sou wees nie! Hulle kon nie Sy aardsheid & onaansienlikheid vat nie en hulle het Sy aansprake op Sy Godheid aanstootlik gevind. Juis dáármee verblind God hulle oë – met die tipe Messias wat Hy vir hulle stuur. Hy stuur vir hulle juis die tipe Messias wat hulle nodig gehad het, maar nie wou hê nie – en dít is die verblinding van hulle oë. Deur hulle verblinding gee hulle hulle Messias oor in die dood vd kruis. Daardeur red God die nasies en vervul Hy die moederbelofte van Gen 3:15. Dis hoe God se Raadsplan inmekaarsteek.
Ja, daar wás ‘n klompie Jode wat oënskynlik wel vir Jesus geglo het, maar eintlik het hulle ook net bevestig wat Jesaja 53 & Jesaja 6 gesê het, want hulle het die eer van mense bó die eer van God liefgehad. Daarom het hulle stilgebly oor hulle geloof, uit vrees dat die Fariseërs hulle nie uit die kerk sal verban nie (vers 42-43).
Dis baie goed dat verse 42-43 daar staan, want dit gee vir ons ‘n belangrike leidraad oor wat die EINTLIKE rede vir die Jode se ongeloof was en wat vandag nog die wortel van alle ongeloof is. Eintlik staan dit reeds in Johannes 5:44.
Die rede agter alle ongeloof en neutraliteit teenoor Jesus van Nasaret, is die mens se geneigdheid om die eer van die méns bó die eer van God lief te hê. Die mens se mens-liefde! Dit was die wortel van Israel se ongeloof. Dis vandag nog die wortel van alle ongeloof. Die innerlike geneigdheid om die méns lief te hê, die méns in die plek van God te plaas, die eie self in die sentrum te stel. Dit verblind jou geestelik dat jy nie kan sien hoe Christus Homself HERE oor jou gemaak het nie en hoe Hy jou opgeneem het in Sy liefde nie.
2 JESUS SE EIE SAMEVATTING VAN SY OPENBARE BEDIENING (vv 44-50).
Ons lees dit weer om dit helder in ons gedagtes te kry:
Toe het Jesus uitgeroep: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het.
En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het.
Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.
En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red.
Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel.
Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat.
En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe beteken. Wat Ek sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het.”
Dit is so duidelik soos daglig: Jesus en God die Vader is één. Dit is so sentraal in die evangelieboodskap en in die Christelike Geloof. Die mens wat nie op Jésus se verlossing vertrou nie, het glad nie vir God as Vader nie. “Wie die Seun verloën, het nie die Vader nie” (1 Joh 2:23). Dit is ‘n baie kernagtige samevatting van die Here se prediking tydens Sy openbare bediening. Hý alleen is die Lig. Buite Hom is dit duisternis. Die mens wat begin glo in Jesus se verlossing beweeg oor van die duisternis na die lig. Wég van die duisternis van onkunde ná die lig van Sy Woorde, Sy Waarheid.
Ons moet een ding goed verstaan: Die duisternis waarin ‘n ongelowige lewe, is nie die duisternis van sonde nie, want sonde & sondeskuld is totaal vernietig in Jesus se kruisdood. God hou niks meer teen die wêreld nie (2 Kor 5:19). Hy het die wêreld met Homself versoen deur die kruis. Sonde is nie meer ‘n faktor nie.
Die duisternis waarin ‘n ongelowige lewe is ook nie die duisternis van God se dreigende toorn & oordeel nie. Want Jesus het nie gekom om te veroordeel nie (v 47). Sy hart is ‘n reddende hart, nie ‘n veroordelende hart nie. Hy sê dit met Sy eie mond presies net so in v 47.
Wat is dan die duisternis waarin die ongelowige mens lewe? Dis die duisternis van onkunde oor die waarheid – die waarheid wat net in Jesus se woorde geleë is. Onkundig oor watse waarheid? Die waarheid van wat God oor mense glo. Wat glo God van jou? Hy glo dat Hy jou met Homself versoen het deur Jesus kruisdood. Hy glo dat jou sondeskuld weg is.
Maar solank as wat ‘n mens onkundig bly hieroor en aanhou om die leuen te glo, bly jy in duisternis. Jy bly gebind deur die leuen wat jy glo. Watter leuen? Die leuen dat jou sondes nie weggeneem is nie. Die leuen dat jy veroordeeld is. Die leuen dat jy eers jouself moet verbeter. Die leuen dat jy eers dit & dat moet doen voordat God van jou sal hou & jou aanneem. Dis ‘n leuen. God hou ónvoorwaardelik van jou – op grond van wat Jesus gedoen het. Jy hoef totaal NIKS te doen dat Hy van jou moet hou nie.
Jesus sê uitdruklik dat Sy woorde die ewige lewe ís (v 50). Sy woorde is Gees en lewe (Joh 6:63). Die waarheid binne-in Sy woorde, is ‘n mens se volle bevryding. En wat is die waarheid vervat in Sy woorde? Dat Hy jou nie veroordeel vir jou sondes nie (v 47). Mens veroordeel jousélf deur die leuen te glo dat Hy jou veroordeel en dat jy godsdienstige & morele dinge moet doen om Hom gunstig teenoor jou te stem. Jou begrip is verduister. Dis al. Dit is die vreeslike duisternis waarin soveel mense leef. En satan verblind mense se sinne dat hulle nie hierdie lig van die waarheid kan sien nie (2 Kor 4:4).
Kyk maar na ander Skrifgedeeltes soos byvoorbeeld Efes 4:17-21. Kyk hoe beskryf die Apostel die duisternis waarin die heidene leef: hy sê nie een woord oor die sondes waarin hulle leef of oor God se toorn nie. Dis nie hulle sondes wat die duisternis veroorsaak nie. Ook nie die toorn van God nie. Kyk wat sê hy: “Die heidene se gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister en hulle het nie deel aan die lewe wat God skenk nie ómdat hulle hardnekkig in hulle ONKUNDE volhard. Júlle is egter volgelinge van Christus ómdat julle onderrig is volgens die waarheid wat in Jesus is…” Met ander woorde: Húlle leef buite God se lewe omdat hulle in onkunde die leuen-oor-hulleself glo. Júlle is volgelinge van Jesus omdat julle in die waarheid-oor-julleself onderrig is.
As mense end-uit, tot by hulle dood, volhard om die leuen-oor-hulleself te blý glo, sal die Here se woord-van-waarheid hulle op die laaste dag veroordeel (v 48). Die Hére sal hulle nie veroordeel nie, want sover dit Hom aangaan ís daar geen oordeel meer nie – net redding. Die oordeel is verby – op Golgota! Dis die waarheid! Maar juis hierdie waarheid veroordeel die mens wat aanhou om die leuen te glo!
God – die Vader van ons Here Jesus Christus – is baie meer goed as wat ons ooit kan vermoed! Hy is ‘n miljoen keer méér goed as wat ons ooit kon dink Hy is. Moenie Hom ooit daarvan verdink dat Hy met gloeiende smeulende toornige oë na ongelowiges kyk en (met lekkerkry) vooruit beplan hoe Hy hulle in ‘n vlammende hel kan gooi nie!! As jy só oor Hom dink, dink jy absoluut verkeerd.
Só lyk die ware God: “Ek het nié gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar te red.” (v 47).
Wanneer die Here Jesus ál Sy prediking oor ‘n tydperk van 3,5 jaar openbare bediening saamvat, dan vat Hy dit só saam: “Ek het nié gekom om te veroordeel nie, maar te red.”
Hierdie Jesus was die grootste gawe wat God aan ú kon gee. Hy het nie beter gehad nie. Hierdie gawe het Hom iets gekos. Ja, Hy kón u sterre en planete gee, maar dit sou Hom niks kos nie, want Hy besit miljoene. Maar Sy Seun…. kos Hom alles. Dáárom het ú soveel kosbare waarde vir God. U as mens is so uiters waardevol en kosbaar. U waarde word gemeet aan die enorme koste van die gawe wat God gegee het.
Dalk is daar iemand wat vanoggend vir die eerste keer of by vernuwing vir die Here wil sê dat u Hom glo en Hom vir u saligheid vertrou.
Mens het nie nodig om ‘n spesifieke gebed te bid om in die regte verhouding met God te kom nie. Die belangrikste is dat vertroue in die Waarheid in jou hart moet posvat. Soms gebeur dit langsamerhand soos wat die lig vir jou begin deurbreek en jy die onderrig begin verstaan. Maar, soms gaan die lig vir jou eensklaps aan en dan wil jy dit onmiddelik vir die Here sê. Hier is u geleentheid om dit te doen.
Doen dit gerus met die volgende gebed:
“Vader ek weet dat U mý liefgehad het voor die skepping reeds en dat U my tóé al geken en gekies het. Here Jesus ek glo dat U in my plek op die kruis gesterf en sodoende gered het. Ek glo dat U bloed my van alle sondeskuld gereinig het. Ek glo dat U uit die dood opgestaan het en dat U lewe. U is my Here en Verlosser vir ewig. Op grond van U afgehandelde werk op die kruis, ís ek U geliefde kind. Dankie dat ek in U ewige lewe het. Vervul my met vrede en blydskap. Amen.