SY WOONPLEK IN DIE ‘OMGEE’ HART (vol deernis) Lukas 19:41

Pieter Scholtz

 

     Dit is ongelooflik hoe God uit sy pad uit gaan om ons te laat verstaan en te glo dat Hy ons liefhet, hoe Hy ons hoogste belange op die hart dra en hoe graag Hy ons weldoener wil wees! As ons dit besef sal dit sal ons vertroue in Hom as die Gewer van alle goeie gawes herstel. Maar die leuen van die Satan, dat God jou en my nie werklik liefhet nie, is so diep ingewortel in die hart en by ons denkpatrone ingeweef, dat ons elke ramp en traan en trauma altyd eerste voor God se deur wil lȇ!

 

    Kan ons dit nog ontken as mense gans te maklik en gedurig vra en sȇ; ‘waar was God toe dit of dat gebeur het’ of, ‘as Hy ‘n God van liefde is, hoe kan Hy dan so ‘wreed’ wees om mense so te straf, of om so iets toe te laat om te gebeur?’ Dit wys hoedat rebelse mense, moedswillig en opstandig, elke vraagteken en verwyt na God se kant toe mik en Sy woord en karakter op hulle ashoop gooi! Hulle ken God nie en weet niks van Sy heiligheid nie. Hulle het ook geen sin vir geregtigheid en geen begrip van wat God se LIEFDE Hom gekos het om vir ons ‘só ‘n groot saligheid’ (Heb.2:3) te bewerk nie!

 

Al glo ons en weet ons van God se liefde omdat ons dit oral en in die Bybel ontdek, lees ons die letterlike stelling of verklaring van ‘God is liefde’ eers vir die eerste keer in 1 Joh.4:8,16! Dit sȇ nie – ‘God het lief’ – nie, omdat dit net sou handel met wat Hy doen of die vrug van sy liefde, terwyl ‘God IS liefde’ sy Wese en deernis beskryf wat uit Hom voortvloei omdat Hý LIEFDE IS!  ‘Jesus het geween!’  Het Hy dan nie hierdie ‘kroon van Sy skepping’ so uniek, soos geen ander lewende geskape wese nie, met die vermoë om soos Hyself, met goddelike (agapé) liefde lief te hê en met die reg en vermoë om self te kies om daarvoor plek te maak dat God ook Sy eie liefde in ons kan uitstort nie?  

Die Skrif praat immers van die drie uitstaande maniere waarmee God Sy liefdeshart, vol van Sy goddelike (agapé) liefde en vol deernis en omgee, duidelik sigbaar en herkenbaar maak, sodat ons nie net daarvan kan weet nie, maar die waarheid en werklikheid daarvan sonder enige twyfel kan glo, aanvaar en dit dan met dieselfde gesindheid en met dinamiese krag en sekerheid, self te ondervind en uit te lewe: HOE doen Hy dit?

 

DEUR SY LIEFDE AAN ONS TE OPENBAAR (1Joh.4:9) – om te sien wat dit is en hoe dit werk:

 

Dit IS daar om vir die grootste sondaar uit vrye genade vergifnis te skenk, sonder enige verdienste.

Dit IS daar om vir elke hopeloos verslaafde, vrymaking en verlossing te beloof en dit te waarborg.

Dit IS daar om elke verloste ‘n oorwinnende koningskind en mede-erfgenaam met Christus te maak!

Dit is NIE emosioneel, sentimenteel of eksperimenteel nie, want dis volkome afgehandel en voltooi!

Dit is NIE wisselvallig, veranderlik of verganklik nie … só rotsvas dat al jou aandele daarin veilig is!

Dit is NIE uitsoekerig, voortrekkerig of partydig nie, want alle mense smaak van Sy goedertierenheid.

 

DEUR SY LIEFDE AAN ONS TE BEWYS (Rom.5:8) – as die Satan sȇ – God het jóú nie lief nie!

 

Deurdat God Sy enige en geliefde Seun nie terug gehou het nie, maar Hom aan ons almal oor te gee.

Deurdat Christus Homself aan ons oorgegee het, dan kan jy die Een vertrou wat vir jou gesterf het!

Deurdat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars, swak en goddeloos was. Rom.5:5,8,13.

Wanneer die Satan dus weer vir jou wil influister – kyk hoe gaan dit met jou … God het jóú nie lief nie – wys hom net die Kruis en hy vlug! En as hy vir jou wil sȇ – jý het misluk en hy wys jou jou verlede – wys hóm dan op sý toekoms, en hy sidder!

 

DEUR SY LIEFDE IN ONS HARTE UIT TE STORT (Rom.5:5) – God se genesing vir harde harte!

 

Maar dit kom teen ‘n prys, want dit kan net grondvat en wortel skiet in harte wat sag en gebroke is.

Dit kom in sy suiwerste vorm want dit is God self se eie, egte liefde wat Hy in ons harte uitstort.

 

Dit kom NIE om jou en my gemaklik, voorspoedig of ‘happy’ te maak nie, maar bruikbaar – om dit weer ‘uit te stort’! Hier is ‘n onverbiddelike wet van God – wat jy nie gebruik nie, verloor jy!  ‘n Ou dogtertjie het gebid en vir Jesus gesȇ: ‘liewe Jesus, my hartjie is so klein, ek kan nie baie HOU nie, maar ek kan baie OORLOOP! Wat is die geheim om altyd ‘n brandende hart, gevul met God se vurige liefde te behou? – koester dit elke dag en bly naby die ‘VUUR!’

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00