TAFELBERG GEMEENTE Reeks oor gelykenisse nr 3

Tema: Die trouklere waarmee goeies én slegtes na die fees gaan

 

Skrif: Matteus 22: 1-14

 

Wat dink u: wat sal ‘n mens van nature kies indien jy die keuse sou hê om óf besig te wees met dinge wat ánder mense gelukkig maak óf om besig te wees met dinge wat oor jouself gaan en jóú gelukkig te maak?

 

Van nature verkies ‘n mens seer sekerlik om besig te wees met dinge wat oor jousélf gaan en wat jóú gelukkig maak. Jy verkies eerder dít as om besig te wees met dinge wat oor iemand anders se belange en geluk gaan.

 

Dalk is dit een van die redes waarom die deursnee mens so traag is om byvoorbeeld na iets soos ‘n troue toe te gaan.

 

Waarom gebeur dit dat ‘n familie uitnodigings stuur na spesiaal genooide gaste om ‘n huweliksonthaal by te woon en almal neem die uitnodiging aan, maar op die ou end is daar ‘n klompie wat wegbly? Of hulle kom maar bra ongemotiveerd daar aan. Eintlik kom hulle net om te eet. Hulle was spesiaal uitverkies om te kom deel in die familie se groot oomblikke, maar hulle vind redes en verskonings om nie te gaan nie. Waarom is dit so?

 

Een moontlike antwoord is: Dis vervelig. Dis vervelig want jy moet sit en kyk en luister hoe ánder mense gelukkig is. Jy moet sit en luister na toesprake wat oor ánder mense gaan. Van nature verkies ‘n mens dit eerder om besig te wees met dinge wat oor jouself gaan en wat jóú gelukkig maak.

 

Dink net hoe beledig voel daardie familie wanneer jy deur hulle uitverkies is om te deel in hulle spesiale oomblikke, maar jy sê dis vervelig. Want dit gaan nie oor jóú geluk nie. Die fokus is nie op jóú nie. Hulle voel in die gesig gevat.

 

Miskien het ons hier die groot rede waarom mense (van nature) nie in die koninkryk van die Here belangstel nie. Dit is gewoon vervelig, want dit gaan nie oor mý nie. In die koninkryk van die Here is ons immers die gáste. In die koninkryk gaan dit oor die spesiale oomblikke tussen die Vader en Sy Seun. En óns is spesiaal uitverkies om as gaste ingesluit te wees en in die grootse oomblikke te deel. Álmal (baie) is geroep/ingesluit maar net Een (min) is uitverkies – dis die Seun!

 

Maar dis nou juis die probleem. Die fokus val op die Vader en Sy Seun en nie op die gaste nie. En wie wil nou dáárin deel as jy kon besig wees met dinge wat oor jousélf gaan?!

 

Is dit nie een van die redes waar om goed soos Bybellees en gebed so moeilik is en ons eerder ánder dinge bó dit verkies nie? Dis gewoon vervelig. Dis nie opwindend nie. Behalwe dat dit moeilik is om met iemand te praat wat jy nie sien nie en nie onmiddelik antwoord nie en om ‘n Boek te lees wat maar sleg afsteek teen ‘n lekker fliek of storieboek, gaan dit alles eintlik nie oor jóú nie. Jy is ‘n gas by Sý banket!

 

Wanneer ons dit verstaan, verstaan ons die essensie van hierdie gelykenis waar ons Here Jesus verduidelik dat God die Vader die grootsheid van die diepte-oomblik tussen Hom en die Seun met almal deel – jy is ingesluit. Hy sluit gewoon die mense in – as gaste.

 

Maar die gaste wys hulle verveeldheid. Hulle wil net by hulle eie sake uitkom. ‘n Mens kan jou die verontwaardiging van die Vader voorstel. Hy wil die liefdesoomblik tussen Hom en Sy Seun met spesiaal genooides deel, maar hulle dink dis vervelig. Hulle vat hom in die gesig.

 

Toe gebeur daar ‘n verrassende ding. Die Vader gaan nooi toe enige denkbare vreemdeling van die strate af. Goeies én slegtes! Die patetiese slegtes is presies net so ingesluit. Hy sluit net eenvoudig goeies en slegtes IN by die liefdesoomblikke tussen Hom en Sy Seun. Hy vra nie vooraf hulle toestemming of hulle wil kom nie. Hy kies hulle. Hy sluit hulle in.

 

Ons weet waarop die Here Jesus hier sinspeel. Hierdie eerste genooides wat so verveeld is en die Gasheer beledig, verwys na die Jode. Húlle wat vir 1000e jare gedeel het in die beloftes en wat geroep was om te deel in die langverwagte Messias. Maar, waar is hulle toe die groot oomblik tussen die Vader en die Seun aanbreek? Skoonveld weg. Elkeen besig om sy eie grond te bewerk – by wyse van spreke. Want sien, Jesus was nie die soort Verlosser wat húlle wou gehad het nie.

 

Wat gebeur toe? Toe gaan die Vader by die Jode verby en maak aan die mense van alle nasies bekend dat hulle nou ingesluit is by die fees. Goeies en slegtes. Grieke, Chinese, Arabiere en selfs Afrikaners. Hy sluit net eenvoudig goeies en slegtes IN by Sy fees.

 

Die bevestiging van die insluiting staan helder en duidelik in die Bybel. Elkeen wat die Bybel hoor, hoor dit: JY ís ingesluit by die groot oomblik waar die Vader Sy liefde vir Sy Seun deel. Jy is INGESLUIT – ook al is jy hoé sleg en pateties.

 

Maar toe kom die verrassende skok. Van hierdie tweede groep uitverkorenes (wat van die strate af versamel is) word daar jou werklikwaar ook ‘n man uitgestuur!

 

Hoe is dit moontlik? Dit is dan júís goeies én slegtes wat genooi is. Waarom word een dan uitgestuur? Dis mos bitter onregverdig. Is die feesmaal dan nie júís vir die mankoliekes bedoel nie?

 

Ja dit is.

 

Maar hierdie man word nie weggestuur omdat hy sleg en pateties is nie. Hy word weggestuur omdat ook hý die troue vervelig vind – net soos die eerste groep genooides wat – met hulle verskonings – hulleself uitgesluit het. Ook hy beledig die Vader en sluit homself uit. Hy wýs sy verveeldheid.

 

Hoe weet ons dit?

 

Ons sien dit aan sy kleredrag. Hy kom sommer met slenterdrag daar aan. Sy werksklere. Hy verwerdig hom nie eens om darem iets spesiaals aan te trek nie. Dáárdeur toon hy sy minagting teenoor die Gasheer/Vader. Sy absolute verveeldheid.

 

Hy was ‘n buitestaander. Die Gasheer kón by hom verbygegaan het sonder om hom enige onreg aan te doen. Maar die Vader sluit hom uit loutere goedheid en guns met ‘n soewereine magsdaad IN by die bruilof.

 

En tóg minag hy die Gasheer. Hy verkies die duisternis buite die feesmaal. Tóg betoon hy geen belangstelling nie. Geen eer nie. Sy kleredrag wys dit. Dink net aan die Gasheer se teleurstelling.

 

Waaroor gaan dit ten diepste in Christenwees? Waaroor gaan dit in die koninkryk van God?

 

Dit gaan oor ‘n saak tussen die Vader en Sy Seun. Dit gaan oor ‘n fees. ‘n Bruilofsfees. Dit gaan oor ‘n koninkryk wat die Vader vir Sy Seun berei het. Die Seun is die uitverkorene. Dit gaan oor die liefde tussen Vader en Seun.

 

En.. dít deel Hy met spesiaal-genooides. En hierdie genooides is werklik álmal – slegtes en goeies. Hy sluit gáste in – sonder dat hulle vooraf aan enige voorwaardes hoef te voldoen – om te kom deel in Sý groot oomblik. Dit gaan nie in Christenwees oor die gáste se sake nie. Dit gaan oor Hóm. Maar, die gaste mag daarby ingesluit wees. Goeies én slegtes.

 

‘n Mens (géén mens) staan nie buite die koninkryk van God en leef in duisternis omdat jy sleg/korrup/sondig/pateties is nie.

 

Jy is ook nie gered binne-in die koninkryk omdat jy goed is nie.

 

Wíé is dit dan wat in duisternis is en verlorenheid ervaar? Dis wanneer jy hoor dát jy (as slegte onwaardige merietelose vreemdeling) INGESLUIT IS by die Vader se fees, maar … dan minag jy dit – omdat dit vervelig is. Want dit gaan nie oor jóú belange nie. Daarom dra jy sommer slenterdrag. Jy steur jou nie aan die Gasheer se feesklere nie. Want jy wil in elk geval net hê die affêre moet klaarkry sodat jy by jou eie dinge kan uitkom. Dít is die mens wat in selfopgelegde duisternis sit en tande kners. Dit is die mens wat weggestuur word. Dit is die mens wat dít waarby hy/sy as gas ingesluit is, minag omdat dit vervelig is en nie inpas by sy belange nie.

 

En wie is die mens wat by die feesbanket aansit? Dis beslis nie die goeie mens nie.

 

Wie is dit dan?

 

Dis die mens wat weet hoe sondig/sleg/korrup/mankoliek hy is. Wat weet hy verdien dit volstrek níé om by die Vader se fees ingesluit te wees nie. Maar, wat die uitnodiging hoor: Jý IS ingesluit. Jy is verkies. Dit is alles joune.

 

En dan pak ‘n oopmond-verwondering jou beet. Jy voel lus om WOW te skree. En jy trek gou die Gasheer se feesklere bo-oor jou werksklere aan. Want, jy eer die Vader wat jou gekies het en wat jou ingesluit het by Sy feesgewaad.

 

Wat is die feesklere?

 

U kan dalk vir ‘n oomblik dink aan ‘n gedekte nagmaalstafel. Sien die brood en die wyn. Sien Christus se sterwe. Sien Sy menslike liggaam in die hemele. Sy menswees – gebreek in die oordeel van God.

 

My en jou trouklere is CHRISTUS se lyding en sterwe wat bo-oor ons vuil klere aangetrek is.

 

Ek staan voor die Gasheer – aangetrek met Christus self. Ek staan nie voor die Vader as vreemdeling met vuil werksklere nie. Christus is bo-oor my slegtheid EN my goedheid aangetrek. Want ook my goedheid is nie goed genoeg nie (Jes 64:6).

 

Ek staan voor die Gasheer : aangetrek met Jesus wat IN MY PLEK op die eerste Kersdag gebore is uit die maagd Maria, gehoorsaam gelewe het aan die Wet, gely het, gekruisig is, gesterf het, opgestaan het, opgevaar het – en ál my sonde en ellende na Homself omgedraai het en ál die seën wat Hóm toekom, na mý toe draai. Dáárom is ek geregverdig en geheilig.

 

Wie is die mens wat die regte klere aanhet? Die goeies? Nee. Dit is die mens wat weet: ek is nie werd om hier te wees nie. Ek is net ‘n gas. Dit gaan nie oor mý sake nie. Ek deel net uit genade in hierdie oomblik. Ek is sleg. My liefde is power. Ek voel soos ‘n vreemdeling. Ek voel glad nie gereed om hier te wees nie.

 

Maar: Ek vertrou dáárop dat ek ingesluit is. Ek vertrou daarop dat Christus Jesus my trouklere is. Dat Sy kruis mý kruis is. Dat Sy lyding mý lyding is. Dat Sy ervaring van godsverlatenheid in mý plek was. Dat Sy gehoorsaamheid mý gehoorsaamheid is. Dat Sy opstanding mý nuwe lewe is. Dat – wat myne is, Syne is en wat Syne is, myne is! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00