JOHANNES-REEKS NO 47 (slot)

Tema: Sewe verrassings

 

Skrif: Johannes 20:1 – 21:25

 

Ons Here Jesus is op ‘n Vrydag gekruisig – in die middel van die jaarlikse Paasfees. Hy het in Homself die betekenis van die Paasfees – wat oor ‘n tydperk van talle eeue gevier is – vervul. Daarom word Hy gekruisig juis op dieselfde tyd as wat die Jode hul lammers slag – om aan te dui dat Hý die Lam is waarheen die lammers al die eeue vooruitgewys het.

 

Die Saterdag was die Sabbat en daardie dag was Hy in die graf en in die mag van die dood. Hy het letterlik in die arms van ons dood gelê. Óns dood – geestelik sowel fisies – het Hy in Homself opgeneem & Hom volledig daarmee vereenselwig.

 

Johannes 20 beskryf wat die Sondagoggend vroeg gebeur het. Eintlik praat hfste 20-21 van 7 verrassings.

 

EERSTE VERRASSING > 20:1-2 > Die groot klip wat voor die graf geplaas was, is weg! Dis baie vroeg die Sondagoggend. Dis nog donker. Maar hier kom Maria Magdalena – uit wie Jesus vroeër 7 duiwels gedryf het – na die graf toe aan. En die massiewe klip voor die ingang is weg! Sy kon nie binne-in die graf sien nie, want dit was donker. Maar sy draai om en hardloop terug na Petrus & Johannes. “Hulle het die liggaam uit die graf verwyder en waar sal dit nou wees?”

 

Verrassing nr 1: Die graf is leeg.

 

TWEEDE VERRASSING > 20:3-10 > Die grafdoeke is onaangeraak!Dit moes ‘n ammusante gesig gewees het. Petrus & Johannes hardloop nou met groot spoed na die graf toe – sekerlik met iets wat kan ligmaak in die hand. Johannes is jonger en hardloop vooruit. Maar toe hy daar kom is hy te bang om in te gaan. Maar nie Petrus nie. Hy stuit mos vir niks. Hy gaan in. En Johannes volg.

 

Tot hulle stomme verbasing sien hulle hoe die grafdoeke wat soos verbande om die liggaam gedraai was, nog net so in posisie lê – dis nie opgefrommel nie. Die doek wat om die kop was, lê ook net so in posisie, effe apart van die res. Byna soos ‘n kokon – maar die liggaam is nie daar nie. Die liggaam het soos ‘n flinder ontsnap, en die doeke onaangeraak gelaat.

 

Toe Johannes dit sien, het hy gegló. Hoewel hy nog nie die Skrif verstaan het, dat Christus móés opstaan nie! Hy het ook nie onthou dat Jesus dikwels gesê het dat Hy uit die dood sal opstaan nie. Maar nou het hy besef: die liggaam kon nie gesteel/verwyder wees nie. Dan sou die grafdoeke óf opgefrommel wees óf saam met die liggaam weg wees.

 

Christus is opgewek in die krag van ‘n oneindige lewe! Dit was nie dieselfde as Lasarus of die dogtertjie van Jaïrus se opstandings nie. Hulle het weer teruggekeer tot die graf. Maar nie so met Christus nie. Daarom het Sy liggaam nuwe dimensies gehad (en besit dit steeds). Hoewel Hy steeds Hý was en steeds eg méns was (wat bv vis eet) kon Hy deur soliede voorwerpe beweeg (mure/deure/grafdoeke), was Hy nie gebonde aan die aarde se gravitasiekrag nie en nie afhanklik van suurstof nie. Alhoewel Hy steeds eg méns is, is Hy in staat om in die geestelike dimensie te leef en binne-in die lieflike Godheid te leef. Dit was nié die geval met Lasarus of die dogtertjie van Jaïrus nie.

 

Groot 2de verrassing: Grafdoeke onaangeraak, maar die liggaam is weg!

 

DERDE VERRASSING > 20:11-18 > Die Here word gesien! Petrus & Johannes gaan terug na waar ookal hulle gebly het. Maria Magdalena is weer terug by die graf. Die Here is nie daar nie! Petrus-hulle het blykbaar nie vir haar verduidelik wat hulle gesien het nie. Sy huil. Haar Here is weg. Nou sit daar twee engele op die plek waar die liggaam gelê het. In die gedaante van mans.

 

“Waarom huil jy?” Antwoord: “My Here is weg en ek weet nie waarheen hulle met Hom is nie.” Intussen staan die Here agter haar, maar sy besef nie dis werklik Hý nie. Sy sien Hom aan vir die tuinier (die graf was in ‘n tuin). Alhoewel dit presies dieselfde Here was wat gekruisig is, was daar wel ‘n verskil in Sy voorkoms ná die opstanding. Maria se geestelike oë moes verlig word om Hom te kon herken. Hy verlig haar oë deur te práát/woorde: “Maria.” Haar eie naam, gespreek deur die Seun v God, verlig onmiddelik haar begrip. En sy SIEN! “Raboni, meester!!” sê sy. En sy storm om haar arms om Hom te gooi.

 

“Moenie my aankleef nie” (Grieks) (vers 17) regeer die Here – bedoelende: “Moenie probeer om My by jou te hou nie, want ek moet opvaar. Ek sal nie só by jou kan bly nie”.

 

“Ek het ‘n boodskap wat jy na my broers moet neem.” Wat ‘n manier om Sy dissipels te noem. Hulle wat Hom in die steek gelaat het, maar by Hom geen verwyt teenoor hulle nie, net liefde & ‘n verhouding!

 

“Gaan sê vir hulle: Ek gaan na julle Vader en my Vader, julle God en my God.” Nie: “ons Vader”, want hulle staan nie in presies dieselfde relasie tot die Vader as Hy nie. Hy en die Vader is één God! Hoewel die gelowige opgeneem is in die lewe van die Drie-eenheid, is die gelowige nie god nie. Dan storm Maria daar weg om die groot nuus aan die ander te gaan vertel.

 

‘n Mens sien hier iets van die genade van die Blye Boodskap. ‘n Vrou met ‘n verlede – wat verag was. ‘n Vrou wie die Here van duiwels verlos het. Maar dís die mens wat die opgestane Here eerste sien! Voeg daarby die feit dat – in die ou nabye ooste – ‘n vróú as niks geag is nie. Vroue was byvoorbeeld verbied om in howe te getuig, want hulle is nie betroubaar geag nie. Om ‘n vróú ‘n getuie van iets soos ‘n opstanding uit die dood te maak, was baie riskant. Tog onderstreep dit hoe eg die verhaal is.

 

VIERDE VERRASSING > 20:19-23 > Die Here verskyn skielik – terwyl die deure gesluit was! Daar was net 10 dissipels teenwoordig. Om een of ander rede was Thomas afwesig. Maar Jesus staan meteens in hulle midde! En Sy eerste woord: VREDE.

 

Die storm op die See v Galilea het bedaar toe Jesus vantevore hierdie woord (shalom) gespreek het. So-ook die storm in hierdie mense se binneste. Hulle kon die Here sien. Hy wys vir hulle Sy hande, Sy sy. Meteens verander alles. Blydskap vul die atmosfeer. Christus leef en Hy is mét Sy mense. Hulle kan nie twyfel nie. Hulle sien die merke van die spykers en die spies. En hulle hóór Hom weer. Dit is nie die einde nie. Dis ‘n nuwe begin. “Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook.”

 

Dan sê die Here iets oor die betekenis waarvan mense nog altyd gedebateer het. Lees dit in verse 22-23> “Hy blaas op hulle en sê: Ontvang die Heilige Gees”. Wat niks anders beteken as dat hulle vir die 7 weke wat sou volg, toerusting met krag nodig gehad het nie. Dit was ‘n periode van 40 dae waar die Here periodiek aan hulle sou verskyn vóórdat die uiteindelike uitstorting van die Gees op Pinksterdag sou plaasvind. In hierdie periode moes hulle met krag toegerus wees. En onthou: Jesus bring die salwing met die Heilige Gees met Hom saam vanuit Sy eie verhouding tot die Gees binne-in die Drie-eenheid/Godheid! En daardie salwing deel Hy graag met Sy mense. Daar is nie ‘n teken van selfgesentreerdheid/selfsug by Hom nie. Élke gelowige het deel aan die salwing van die Gees waarin Jesus self deel het.

 

Dan sê die Heiland: “As júlle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe. As julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.” (v 23).

 

Nóg ‘n vers waaroor deur die eeue heen gedebateer is. Lê dit werklik in die mag van ‘n méns (apostel of wie ookal) om ander mense se sondes te vergewe?? Nee, mense se sondes word vergewe wanneer ander mense aan hulle die Blye Boodskap verkondig dat Christus hulle vergifnis is (dat hulle op die kruis vergewe is)! Die sleutelmag wat elke Christen in sy/haar hand hou, is om óf die Blye Boodskap met ander te deel of dit van ander te weerhou! Weerhou jy dit, kan die persoon nie die realiteit van vergifnis smaak nie. Deel jy dit, kan die persoon die realiteit van vergifnis persoonlik ontvang! Dit is die groot verantwoordelikheid waarmee elke Christen daagliks rondloop. Ja, aanvanklik was dit die Apostels se verantwoordelikheid, maar later dié van alle gelowiges.

 

VYFDE VERRASSING > 20:24 e.v > Die onsigbare Here hoor wat die Elf praat toe hulle later vir Thomas vertel wat hy gemis het. “Ons het die Here gesien!! Hy het met ons gepraat. Ons het die merke in Sy hande gesien! Ons het Hom gesien!” Maar Thomas glo nie ‘n woord wat hulle sê nie. “As ek nie daardie merke sien en daaraan vat nie….” Vir hom was dit net ‘n feeverhaal.

 

Maar 8 dae later is al elf weer bymekaar terwyl die deure gesluit is. Meteens staan die Here weer tussen hulle en sê “VREDE vir julle, Shalom”. En onmiddelik reik Hy na Thomas uit – presies rondom dit wat Thomas ‘n week tevore gesê het. “Kom, bring jou vinger en voel die merk in my sy en kyk na my hande. En gló”.

 

Thomas het gedink hy het net met 10 ander mense gepraat. Die verrassing is: Die Here het dit ook gehoor – al was Hy liggaamlik afwesig! En nou gee Hy daardie woorde aan Thomas troosvol terug. Die Here oorwin Thomas se ongeloof met sy eie woorde! En Thomas sê: “My Here en my God”. Wat Dawid vir God genoem het, noem Thomas vir Jesus! En Jesus aanvaar dit, want Hy ís dit! Hy is HERE en Hy is GOD almagtig. En Hy is dit persoonlik vir ‘n méns – soos Thomas. Nie net vir Thomas wat gesien het nie, maar ook dié wat nié gesien het nie. Jy hoef nie aan die Here se hande te vat om te glo in Sy Here-wees en Sy Godheid en dat Hy jou persoonlike Here is nie! Jy het slegs Sy woorde nodig. Sy woorde is so kragtig dat dit jou oortuig om persoonlik te bely: MY Here en MY God.” Dit is die essensie van Christen-wees.

 

SESDE VERRASSING > 21:1-14 > Die krag van die Here word weer eens gesien > Dink aan wat 3,5 jaar tevore gebeur het, toe die Here deur ‘n groot skare omsingel was omdat hulle Sy Woord wou hoor. Daarom het Hy in ‘n boot geklim en vanuit die boot gepreek. Daarna het hulle die see ingevaar en Christus sê: “Laat sak julle nette en julle sal ‘n groot vangs hê”. Hulle kon net tevore niks gevang kry nie, maar op Sy Woord gooi hulle die net uit. Toe hulle die net intrek wou die boot sink van die gewig van die vis! Petrus besef dat hy in die teenwoordigheid van die Almagtige is. “Gaan weg van my Here, want ek is ‘n sondige man.”

 

Nou is dit ná Christus se opstanding. ‘n Klompie van hulle besluit om te gaan visvang – op dieselfde see van Galilea – maar vang niks. Teen ligdag hoor hulle iemand roep van die strand af: “Het julle iets gevang? Nie? Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle maak toe só, en sukkel om die net in te trek, só vol vis was dit.

 

Toe sê Johannes vir Petrus: “Dis die Here”! Toe Petrus dit besef, spring hy in die water, want hulle was nie ver van die land af nie. As die Here op die strand is, gaan hý (wat Petrus is) beslis nie in die skuit sit nie! Al het hy net ‘n klompie dae tevore ontken dat hy die Here ken. Die opgestane Christus het veroorsaak dat die ou dinge verby is. Kyk (fokus op) na alles wat nuut geword het! Die Here kom nie om gedien te word nie, maar om té dien!

 

Toe hulle aan land kom, het Hy reeds vis en brood gereed vir hulle om te eet. Weer eens kon hulle Hom nie direk herken nie, omdat Hy ietwat anders gelyk het. Maar omdat hulle geestelik aangeraak was, het hulle geweet dis Hy. Niemand kan die opgestane Here liggaamlik herken nie (2 Kor 5:16). Almal wat Hom herken, herken Hom geestelik – deur Sy woorde te glo. Soos daardie dag by die see van Galilea.

 

SEWENDE VERRASSING > 21: 15-24 > Die Here se Woord word weer gehoor > Nadat hulle geëet het, neem die Here vir Petrus eenkant. En ‘n diepte gesprek vind plaas. “Het jy my baie lief (Grieks: agape > opofferende liefde), méér as hulle hier?” Dalk verwys Hy met “hulle hier” na die vis omdat Petrus weer na sy ou beroep teruggekeer het terwyl die Here hom eintlik geroep het om ‘n “visser van mense” te wees (Mat 4:19).

 

“Ja Here, U weet dat ek van U hou” (Grieks: Filia > liefde wat vriende & familie vir mekaar het).

 

“Laat my lammers wei”.

 

Ja Petrus hét die Here liefgehad, maar gedagtig aan hoe hy Hom verloën het, kon hy homself beswaarlik daartoe bring om dit openlik te sê. Hy het so erg gefaal. Hy kan nie die woord “agape” oor sy lippe kry nie. Daarom hou hy maar by “filia”.

 

Maar Petrus het nie besef hóéveel medelye die Here met hom het nie. En Hy het vir hom nog ‘n groot taak gehad. Daar is skape na wie omgesien moet word.

 

Die omsien na die Here se skape, plaas die Here in die hande van mense wat weet dat hulle mislukkings is. Súlke mense roep Hy om Sy skape te laat wy.

 

Weer vra Jesus: “Het jy my agape”.

 

“Here U weet dat ek vir U filia”.

 

“Pas my skape op”.

 

‘n Derde keer: “Simon seun van Johannes, filia jy my?”

 

Skielik word Petrus diep bedroef, want die Here sê nie “het jy my lief” nie, maar “hou jy van my”. Die Here gebruik nou ook die woord “filia”. En boonop voel dit vir hom of die Here die 3 verloënings omkeer.

 

“Here u weet alles. U weet dat ek vir U filia.”

 

“Laat my skape wei.”

 

Kan u sien hoe dit die Here Jesus se intersessie was wat vir Petrus opgetel het? Petrus was nie op homself aangewese om op te staan nadat hy geval het nie. Die Goeie Nuus vd evangelie is mos dat Gód in Christus Jesus gekom het om vir ons in te staan.

 

Dit was ‘n helende woord van die Here. Hy het Petrus se verwonde gemoed gesond gemaak.

 

‘n Mens se mislukkings is nie die einde van jou pad nie. Selfs al het jy drie keer of 300 keer misluk. Die Here Jesus het mens geword en het al jou mislukkings saam met jou deurleef & Hom met jou mislukkings kom identifiseer. Immanuel = God mét ons. Met Jesus se menswording het God Sy tent kom opslaan reg binne-in die hel van ons lewens. Dit was met Petrus die geval. En ook met jou.

 

Toe spreek die Here ‘n profetiese woord oor Petrus se toekoms uit deur vir hom te wys dat hy eendag God sal verheerlik deur ‘n martelaarsdood te sterf. Hy sal vasgebind word en gebring word waar hy nie wil wees nie en doodgemaak word ter wille van sy Here se Naam.

 

Hý wat gefaal het om voor ‘n diensmeisie te bely dat hy ‘n Christen is, hý sal die voorreg gegun word om ‘n martelaar vir Sy Here te wees.

 

Toe kyk Petrus oor sy skouer en sien vir Johannes en hy vra: “Here en wat gaan van hóm word?”

 

Jesus sê: “As dit my wil is dat hy bly lewe totdat ek weer kom, is dit nie jóú saak nie. Jý moet my volg. Moenie jou oog op hóm hou nie.”

 

Die einste Johannes hét op die ou end al die ander apostels oorleef. Hy het baie oud geword. En dit is hý wat al hierdie woorde neergeskryf het – wat ons by die afgelope 47 geleenthede as die “Johannes-evangelie” bestudeer het.

 

Sy getuienis is betroubaar en waar. Hy was ‘n ooggetuie.

 

“Maar Johannes, waarom vertel jy ons nie méér nie? Ons wil nóg hoor. Ons wil nóg 47 studies aan jou woorde spandeer.”

 

Kyk na vers 25 en 20:31: “As ek julle meer moes vertel, sou ek nooit kon stop nie. Wat ek gehoor en gesien het, is te veel vir die grootste biblioteke van die wêreld. Maar wat ek wel geskryf het, is absoluut genoegsaam om enigiemand te oortuig dat Christus die Here is, die Seun van die lewende God. En wie glo, hét die Lewe in Sy Naam. Dit is vas en seker.”

 

Amen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00