Geskryf deur ;THEUNIS

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

WIT BROEK, WIT HEMP EN WIT BLOMME!

Jeannette George was op die vliegtuig huistoe en oorkant haar het ’n vrou met ’n baba gesit. Die baba was geklee in pienk en elke keer as daar iemand verby stap het sy gesê:- “Dada , Dada!”. Almal in die vliegtuig het geglimlag en die pragtige kind geniet.

Die moeder het gesê dat Dada wag op die lughawe. Die ou babatjie was baie soet tydens die vlug en vriendelik.

Tydens die vlug het hulle turbulensie gekry. Die vliegtuig het baie geskud en dan was dit rustig en dan weer geskud en so het dit vir ’n hele tydjie aangegaan. Elke keer wanneer hulle die turbulensie kry het die baba ongelukkig geword maar die mamma het ’n slim plan gehad. Sy het die kind vrugtesap en vrugte gevoer en dan was sy weer stil.

Terwyl almal gedink het dit is ’n goeie idee, het die turbulensie van buite die vliegtuig na binne in die baba se gastro-sisteem verskuif en al die vrugte en sap wat afgegaan het , het weer opgekom.

Wel , die proses van opkom was baie slegter en morsig as die proses van afgaan. Dit wil ook voorkom asof die volume vermeerder het in die afgaan en opkom, want dit was nie net die baba en moeder wat vuil was nie maar ook ’n paar passasiers in die onmiddelike radius – ingesluit Jeannette George.

Die moeder het natuurlik baie sleg gevoel oor die situasie en verskoning gevra, maar die passasiers het verstaan en die verskoning aanvaar. Wel , wat kon die moeder nou juis doen omtrent dit? Die baba het gehuil en aaklig gelyk. Die passasiers het nou nie gehuil nie, maar hulle het ook aaklig gelyk en daarmee saam ook ’n reukie gehad aan hulle.

Sodra hulle geland het, was die baba weer gereed om “Dada , Dada “ te roep. Die res van die passasiers het nie so gou herstel nie, want hulle was oortrek van verwerkte vrugte en sap.

Daar het ’n jong man gestaan en wag vir die vliegtuig op die lughawe. Wit broek, wit hemp en ’n bos wit blomme. Die mamma het die baba net so in sy hande gedruk en toe gehardloop om haarself skoon te kry. Terwyl hulle na die bagasie afdeling loop het hierdie man die baba in sy arms geneem en haar die hele tyd gesoen en gesoen en gesoen en gedruk en haar hare gestreel. Dit wou voorkom asof hy nie ’n probleem gehad het met die verwerkte vrugte en sap asook die reukie nie. Hy was baie, baie bly om sy dogtertjie te sien.

Jeannette George het na die liefde van die pa gekyk en haarself gevra:- “Waar het ek ooit die gedagte gekry, dat my Hemelse Vader my minder liefhet as ’n pa met ’n wit broek, wit hemp en wit bos blomme?”.

Besef jy vandag dat God jou liefhet? Hy koester jou en wil jou soen en streel en verwelkom! Was jy vandag al in Sy arms? Het jy ’n ontmoeting met Hom gehad?

1 JOH. 4:19 Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.

:20 As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?

:21 En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.

GEBED

Baie dankie Here Jesus dat U my liefhet net soos wat ek is! AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00