Geskryf deur THEUNIS

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

WAT HET JY IN JOU HAND?

 

Moses was tagtig jaar oud toe God aan hom verskyn het in die brandende bos by die berg Horeb. Eksodus 3 en 4 vertel van die dramatiese gebeurtenis toe God Moses geroep het tot ‘n leier van Israel met die opdrag om die Israeliete uit Egipte na die beloofde land te lei.

 

Moses het nie dadelik met groot entoesiasme gereageer nie, inteendeel hy was baie onwillig.  Sy gevoel van onbevoegdheid het hom oorweldig. Daarna het daar ‘n dialoog tussen God en Moses ontstaan. Die Here vra toe hierdie deurslaggewende vraag aan Moses. “ Wat is daar in jou hand?” en hy antwoord  “ ’n staf ” (Eks. 4:2) .  Daaropvolgende het die Here ‘n wonderwerk met die staf gedoen. Hy verander dit in ‘n slang en weer terug in ‘n staf (Eks. 4:3-5). Hierdeur het God aan Moses ‘n baie belangrike les geleer.

 

In Eksodus 4:7 sê die Here aan Moses: “ Neem dan hierdie staf in jou hand waarmee jy die tekens moet doen”  en dan sien ons in Eks. 4:20  dat Moses in gehoorsaamheid aan die Here die staf van God in sy hand geneem het en die Here gevolg het. Wat wil die Here vir ons hierdeur kom leer?

 

Kyk na die staf van God

 

Eerstens moet ons kyk na die staf van God. Dit was wel die staf van God, maar Hy plaas  en vertrou dit  in die hand van Moses. Dit was ‘n geskenk van God aan Moses. Ons kan sê dat God dit aan hom geleen het vir ‘n baie spesifieke opdrag.

 

God doen ‘n wonderwerk met die staf

 

Tweedens sien ons dat God ‘n wonderwerk met die staf gedoen het om Moses te oortuig dat Hy groot en wonderlike dinge kan doen met die staf wat Hy in Moses se hand gegee het. Dit was net ‘n vooruitskou van baie meer wonderwerke wat sou volg.

 

God se krag word geopenbaar

 

Derdens, dit was God se krag wat openbaar is in hierdie hele gebeure. Dit was nie Moses se bonatuurlike krag wat gewerk het nie, maar die Almagtige God wat betrokke was om groot dinge deur Moses te doen.

 

God wil jou en my met Sy staf vertrou om iets vir Hom te doen! God wil deur ons werk en Hy stel sy middele tot ons beskikking. God wil Homself deur ons aan die wêreld openbaar deur Sy krag!

 

Nou vra God ook vir u en vir my die deurslaggewende vraag : “Wat het jy in jou hand?”  Nie wat jy wens jy in jou hand wou gehad het nie. Nie wat jy sou gedoen het as jy iets anders in jou hand gehad het nie. Nie wat jou broer of vriend in sy of haar hand het nie, maar “wat het jy in jou hand?” Dan volg die vraag: “Wat doen jy met wat God in jou hand geplaas het?” Sal jy dit alles vir God gee en neem wat Hy in jou hand wil plaas?

 

Kom ons word stil en maak ‘n deeglike opname van wat God reeds in my en jou hand geplaas het. Hy het baie dinge, uniek en spesiaal in ons hand geplaas bv.  natuurlike talente, geestelike gawes, akademiese opleiding, werkservaring, spesifieke vriendskappe, geopende en geslote deure, mislukkings en suksesse, spesiale oomblikke, bedieningsgeleenthede en baie meer.  Elkeen van ons is uniek. Hierdie unieke mengsel van gebeurtenisse en gawes maak elkeen van ons baie uniek.

 

Die seuntjie het net vyf brode en twee vissies gehad. Dit is wat hy in sy hand gehad het.  Wat het die Here nie gedoen toe hy dit wat hy gehad het, aan Hom gegee het nie.

 

Watter uitdagings ons ookal tëekom, gee dit wat jy het vrywilliglik en met verwagting alles in die hand van die Here en sien uit na die wonderwerke wat Hy doen. Hy wil jou met iets groots vertrou, Hy wil wonderbaarlike middele tot jou beskikking stel en wil Hom kragtig deur jou bekend maak.

 

Ek wil afsluit met Eksodus 17:5 en 6.  “Die Here het toe vir Moses gesê: “Vat die stok waarmee jy op die Nylrivier geslaan het………… Slaan met jou stok op die rots by Horeb. Ek staan daar en wag vir jou.”  Die Here wag vir jou en my om te kom, Hy is reeds daar!!                                                     Verwerk en oorgeneem van Aksie 1:8

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00