Geskryf deur THEUNIS

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

                                     

 

                                   U HARDLOOP MOS SAAM MET MY.

  Dit is oggend, Here Jesus,

En my eerste gedagte wanneer ek wakker word,

Is nie noodwendig dat ek vir U wil dankie sê

Vir ‘n rustige, veilige nag nie.

Om eerlik te wees –

Al waaraan ek dink, is: Ek móét opstaan,

Badkamer toe gaan, ‘n happie eet, oefen,

En dan gaan werk.

Maar ek wil liewer terugklim in die bed,

‘n kussing op my kop sit, en verder slaap.

Want dit gaan nie net oor die vroegoggend-oefening nie, Here.

U weet dat die hele res van my dag

Ook net ‘n gehardloop,

‘n gejaag,

‘n altyd-vinniger-en-beter-geskarrel is.

Ek is so moeg, Here. Ek wil tot rus kom.

Waarheen hardloop ek? En waarom?

Ag, Here, natuurlik is daar nie ‘n maklike antwoord nie..

En natuurlik kan ek nie sommer stop

En die baan verlaat nie.

Vandag lyk die wêreld mos maar oral só.

Ek kan dit nie sommer eiehandig verander nie:

Ek moet tog werk..

En daar is vir ons wat wel werk het,

Te min hande vir te veel take.

En daarby moet ek tog ook oefen om fiks te bly

Om my beste te kan gee.

Nou ja, daar is dus nie die opsie

Van sommer weer in die bed klim nie.

Maar dankie dat ek met U kon praat

Oor so ‘n doodgewone ding.

Dankie vir die perspektief wat U my altyd gee

Wanneer ek dinge voor U uitpraat

En dankie dat U my weer ‘n sprankie sin gee in dié dolle gejaag.

Hier gaan ek dan nou maar weer, Here.

 

Hou my bewus van U, wat deur die dag se gehardloop by my bly, want

HERE U hardloop mos saam met my !!!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00