MOENIE JOU GEVOELENS VERTROU

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

MOENIE JOU GEVOELENS VERTROU.

 

’n Helikopter loods het hierdie verhaal vertel. Hy het die opdrag gehad om ’n paar manskappe na ’n boot te vlieg. Nadat hulle opgestyg het, het daar ’n baie digte mis oor die see opgestoot. Hy moes baie laag vlieg en hy het besef dat, indien hy ’n fout maak, hy homself en die manne sal verongeluk. Die ergste van alles was, dat hy geheel en al sy balans verloor het – dit is algemeen vir vlieëniers wat met hul instrumente vlieg.   Sy verlies van balans was so erg, dat ten spyte van sy instrumente hy geglo het hy vlieg op sy sy. Dit was vir 15 minute dat hy gevlieg het met die instrumente en die hele tyd het hy die gevoel beveg om die helikopter horisontaal te kry soos hy voel. Daar was groot dankbaarheid toe hulle deur die digte mis is, dat hy sy opleiding vertrou het om nie sy gevoel te volg nie, maar die instrumente.

 

Dit is wat mense wat deur die geloof lewe doen. Hulle weet dat gevoelens kan jou mislei maar die Woord van God is waar, geloofwaardig en konstant. Die Christelike lewe , soos loop op die water , is menslik onmoontlik. Die Christelike lewe kan slegs gelewe word deur die krag van die Heilige Gees. Jy moet een ding baie goed verstaan en weet , storms gaan daar wees in jou lewe. Daarom wanneer jy in ’n storm is waar die wind baie sterk waai en die golwe hoog is en dit vir jou voel jy gaan oorweldig word , weet dat die God wat die storm stil gemaak het, het die storm toegelaat oor jou lewe. Hou jou oë op die Here en moenie toelaat dat jou gevoelens jou in die verkeerde rigting stuur nie.

 

LUKAS 8:24 “En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het ‘n stilte gekom.”

 

LUKAS 8:25 “En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!”

 

GEBED

 

Vader die storms wat oor my lewe kom kan ek nie altyd verstaan, hanteer en oorwin nie. Baie dankie dat ek slegs op U kan vertrou en dat U my nie sal los nie.

 

U is die Een wat die oorwinning op die regtetyd sal gee. AMEN 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00