FUTURISTIESE REKLAME

’n Jong dame in ’n deftige blou uitrusting loop verby ’n flitsende reklamebord in sentraal Tokio. Binne sekondes flikker die skerm en ’n advertensie, wat ’n verfrissende glasie wyn en ’n bord prosciutto by ’n nabygeleë Italiaanse restaurant voorstel, verskyn.

Dit lyk soos net nog ’n advertensie — maar daar is ’n verskil. Die reklamebord het nie net die verbyganger as ’n vroulike kantoorwerker in haar dertigerjare geïdentifiseer nie, maar ook besluit dat sy die tipe persoon is wat eerder ’n elegante Italiaanse restaurant bo die bierkroeë wat onder haar manlike kollegas gewild is, sal verkies.

Welkom by die toekoms van advertering! Verskuil tussen die gewone advertensies wat in Japan voorkom, is daar ook nuwe generasie slim, digitale reklameborde. Hulle gebruik gesofistikeerde gesigsherkenning tegnologie om die advertensie aan te pas, afgelei van die voorkoms van die verbyganger asook die onmiddellike omgewing.

So sal ’n jong dame wat as ’n stylvolle twintigerjarige geïdentifiseer word, oor ’n nuwe nabygeleë boetiek ingelig word; of die middeljarige man wat in ’n harde reënbui in die straat afstap, mag ’n flitsende beeld van die naaste winkel wat reënjasse verkoop sien.

“Die reklameborde identifiseer verbruikers na aanleiding van hulle ouderdom en geslag en ook deur op ’n intelligente manier die omliggende omstandighede te evalueer,” verduidelik NEC se Chris Shimizu. “Afhangende daarvan of ʼn persoon byvoorbeeld ’n pak klere of ’n T-hemp en denimbroek aan het, kan die borde bepaal of dit ’n student of salaristrekker is en ooreenstemmend adverteer. Hierdie reklameborde is ’n wêreld-eerste in terme van die vlak van gesofistikeerdheid wat by die tegnologie betrokke is, wat hulle in staat stel om hierdie baie spesifieke detail te identifiseer.”

Japan se nuwe reklameborde gaan nie heeltemal so ver om die kliënt op sy naam te noem nie, maar hulle is waarskynlik so vol selfvertroue dat hulle ’n drankie sal voorstel wat heel moontlik ’n dorstige individu sal oorreed om een te koop.

Fundamenteel tot die tegnologie is ’n klein kamera bokant die skerm wat die beeld van die persoon na data omskakel, wat dan weer vergelyk word met ’n ingeboude rekenaardatabasis waarin die profiele van 10 000 werklike persone opgeneem is.

Die stelsel word vir grensbeheer tussen Hong Kong en Sjina gebruik en daar word tans beplan om dit ook aan die Noord-Amerikaanse mark bekend te stel.                    Bron: globeandmail.com 2010 12-25

Die wêreld met al sy tegnologie is nie in staat om ons as die huisgesin van God uit te ken nie!

Julle is dus nie meer ver van God af nie,
nie bywoners nie, maar medeburgers
van die gelowiges en lede van die huisgesin van God

(Ef 2:19, NV).

Bevestig die Heilige Gees die wonderlike werklikheid dat jy aan die familie van God behoort?

                                                                        OORGENEEM VANAF JAPANSENDING

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00