VISSMOUS OP 72

Naka Shinga het alles, behalwe die klere aan haar lyf, in die driedubbele ramp wat Japan op 3/11/11 getref het, verloor.

Toe Singa se man op die ouderdom van 42 sterf, word Singa, wat toe 38 was, die broodwinner. Sy moes haar vier kinders en bedlêende skoonmoeder versorg.

 Om in haar gesin se behoeftes te voorsien, begin sy as ʼn vissmous werk. Met ’n klein motorfietsie trek sy haar tweewiel karretjie. So verskaf sy klein vissies, salm en gedroogde vis regdeur die dorp. Die getoet van haar vishoring word ʼn bekende geluid in die dorp en word selfs oor naweke gehoor.

“Selfs nadat Ouma dood is en die kinders die huis verlaat het, het ek nooit gevoel dat ek ledig was nie, want ek het aanhou werk,” vertel Shiga.

 Op 11 Maart was Shiga by die huis toe sy ʼn sterk krag deur haar liggaam voel stroom. Onmiddellik besef sy dat daar ʼn tsoenami op pad is. Sy kruip buitentoe waar ʼn buurman haar met sy bakkie oplaai voordat hulle voor die aankomende tsoenami vlug.

 Die volgende dag moet Shiga en ander mense in haar omgewing Fukushima verlaat as gevolg van die ramp by die kernkragaanleg.

 Shiga word ʼn paar keer na verskillende skuilings verskuif. Hier word sy telkens met ander leefstyle gekonfronteer. Sy ken niemand nie en het ook niks om te doen nie. Elke dag sit sy voor die venster en staar na buite. Sy word baie depressief en verloor 7kg. Toe sy die situasie nie langer kan hanteer nie, keer sy na Fukushima terug waar van haar vriende nou in tydelike huise woon.

 Sy besef dat haar omstandighede haar nie hoef te verhinder om ʼn visverkopingsbesigheid te begin nie. Sy begin vis aan ʼn paar huishoudings verskaf en sodoende verbeter haar eie en die ander mense se gemoedstoestand.

 Shiga, wat nou 72 jaar oud is, ontvang gereeld besoekers by haar woonplekkie. As voornemende kopers inloer, glimlag Shiga vriendelik en bied hulle ʼn sitplekkie aan by die kotatsu (ʼn lae tafeltjie wat met ʼn kombers bedek is en waaronder ʼn elektriese verwarmer gemonteer is). Nadat sy haar produkte soos pakkies salm en gesoute inkvis aangebied het, word daar nie verder besigheid gepraat nie. Hulle praat eerder oor die probleme wat hulle in die gesig staar en sy het altyd ʼn bemoedigende woord vir haar gaste. Yoshiaki Mori, 65, ʼn voormalige hoenderboer en buurman, sê, “Ek het baie angs- en paniekaanvalle gekry, maar vandat Naka-san hierheen getrek het, voel ek meer vrymoedig om met mense te praat.”

“Die drievoudige ramp het vele ontberinge meegebring, maar ek kry baie bemoediging uit my gesprekke met my bure. Ons kan ook lekker saam lag,” sê Shiga.                                                                             Bron: Yomiuri Nuus, K. Takano

Net soos Jerusalem van ouds het rampspoed Japan getref.

Die eens florerende kus van Japan is nou in chaos gedompel. Mense ly steeds.

Ag hoe verlate sit die stad wat vol mense was!
Sy het soos ʼn weduwee geword,
sy wat magtig was onder die nasies;
die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword

(Klaagl 1:1, OV).

Hoe goed is dit nie om bemoedigers soos Shiga in sulke hopelose situasies te hê nie.

Die hart van die wyse maak sy mond verstandig
en vermeerder die lering op sy lippe.
Vriendelik woorde is soos ʼn heuningkoek:
soet vir die siel en ʼn genesing vir die gebeente

(Spr 16:23-24, OV).

Mag ons altyd op die uitkyk wees vir hulle wat ly en hulle bemoedig.

Neil en Dawid Verwey

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00