DIE NAG WAG.

Rembrandt se bekende skildery, DIE NAG WAG, is gerestoureer en weer na Amsterdam se Rijksmuseum gestuur.  Die kurator het ’n eenvoudige maar indrukwekkende eksperiment gedoen.

Hulle het al die besoekers gevra om enige vrae te stel met betrekking tot die skildery. Die kurator het toe die mees algemene vrae geneem en dit rangskik volgens die gewildheid.

Hierdie vrae het somtyds aspekte bevat wat kurators nie maklik oor praat nie:- Wat is die prys van die skildery? Is die skildery ooit vervals? Is daar foute in die skildery? Hoekom het Rembrandt die skildery geskilder? Wie is die mense in die skildery?

Die kurator het toe die vrae en die antwoorde  geneem en dit teen die mure van die kamer geplak waar die skildery hang.

Die merkwaardige uitvloeisel van die eksperiment was, dat die gemiddelde tyd van die beskouing van die skildery deur die mense van ses minute tot ’n halfuur verbeter het. Die besoekers het die vrae gelees en dan die skildery bestudeer.  Die besoekers het aangevoer dat die vrae hulle nuuskierigheid geprikkel het om die skildery meer te bestudeer. Die vrae het die besoekers gehelp om die skildery in nuwe lig te sien.

JESAJA 34:16  Soek in die boek van die HERE en lees!

Dit is – glo ek – vir elkeen van ons bekend dat ons die Woord van die Here moet lees. Die Woord van God is vir ons gees en siel voedsel. Dit gee ons krag en ook lig op die pad van ons lewe. Die Woord van God bevat wonderlike diep waarhede MAAR as ons dit nie lees en dan vir onsself vra Wie, Wat, Waar, Wanneer , Hoekom, sal ons nie die Waarhede besef en raaksien nie. Dus hoe meer ons die Woord lees hoe meer gaan ons by die Woord van God stilstaan en tyd spandeer.

Die wêreld lees nie die Bybel nie – die wêreld lees die lewe van kinders van God.

GEBED

Ons Vader, dankie dat ons die Woord het wat ons daagliks begelei. Dankie vir U Gees wat dit vir ons oopbreek en dat ons dit in ons hart kan bewaar. AMEN 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00