DIE HOOGSTE BOME KRY DIE MEESTE VUUR.

Dit is die jaar 1991 en dit is die Amerikaanse Ope Golf kampioenskap  te Hazeltine Golf klub net buite Minneapolis. Die is ’n pragtige sonskyn en windstil  dag.

Terwyl die toeskouers saam met die spelers op die baan stap en die spel volg, het niemand die weerstoestande dop gehou nie. Stil stil en baie gou het die donker grys wolke die blou lug versteek. Die volgende oomblik gewaar elkeen – ’n golfspeler se nagmerrie – blitse in die grys wolke. Die klub se storm sirene gil oor die baan om almal te waarsku van die naderende donderstorm.

Veertig-duisend toeskouers hardloop vir skuiling teen die storm en die weerlig strale. ’n Groot groep mense soek skuiling onder ’n tien meter hoë Wilgerboom naby die elfde afslaan punt. Een van die amptenare vra dat hulle skuiling op ’n ander plek moet gaan soek en so hardloop sommige voort opsoek na beter skuiling teen die reën en wind. Ander het net onder die boom bly staan.

Weerlig slaan ’n boom by die tiende putjie en die boom breek in die helfte. Die bas word “afgeskil” soos ’n mens ’n piesang sou skil. Die volgende oomblik , voordat die groep onder die Wilgerboom kon herstel van die skok, is daar weer ’n geweldige harde slag, hierdie keer is dit die Wilgerboom by die elfde afslaan punt wat getref word. Twaalf mense word platgeslaan soos die kegels by ’n kegelbaan. Ses staan bedwelmd op maar die ander bly op die grond lê. Een man sterf , steeds met sy hande in sy broeksakke, ja, die groot boom het die meeste vuur getrek.

Is dit nie wat met Job gebeur het nie? Het jy al daaraan gedink dat dit met jou ook kan gebeur? Hoe meer jy geestelik groei, hoe meer staan jy die kans om die weerlig van die lewe na jou te trek. Ons as God se kinders moet dit verstaan en weet , dat die hel se magte hou nie van die Geestelike hoë bome nie.

Dink aan Paulus hoe hy gely het? Paulus het vas bly staan in Christus.

Jy verstaan nie waarom jy nou ly nie, waarom die hartseer, waarom die trane, waarom die stryd, waarom die verdrukking, maar God laat dit toe tot Sy eer en om jou sterk te maak om hoër te groei en sterker te word in Christus – tot Sy verheerliking en ook om ander te dien en te help in hul stryd.  

GEBED.

Here, baie dankie dat U genade vir my genoeg is. Help my om lojaal aan U te bly in die moeilike omstandighede wat ek ervaar en wat U my waardig ag om deur te gaan.   AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00