DIE GOUE APPELS!

Die fabel word vertel van die vlug-voetige Atlanta wat al haar minnaars uitgedaag het om teen haar in ‘n wedloop te hardloop. Indien hulle haar sou wen, dan sal sy die prys vir hul oorwinning wees maar indien hulle verloor, dan moes hulle sterf. Daar was talle wat teen haar gehardloop het, verloor het en sodoende hul lewe verloor het.

Hippomenes het drie goue appels aan sy lyf versteek en vir die wedloop aangetree. Die wedloop het begin en net soos met die ander, het Atlanta hom dadelik verby gegaan en die voortou geneem. Hippomenes het ’n goue appel gegooi en Atlanta het die appel gesien. Dadelik het sy gestop en die appel opgetel en dit bewonder. Hippomenes het die voortou geneem en die afstand vergroot. Dit was nie lank nie of Atlanta het weer by hom verby gekom en die voortou geneem. Hippomenes het weer ’n appel gegooi. Atlanta was gefassineer deur die goue appel  en het weer gestop om dit op te tel en te bewonder. Hippomenes het weer die voortou geneem maar weereens nie lank nie en soos hulle die wenpaal nader het Atlanta tot langs hom gekom. Hippomenes het sy laaste appel gegooi. Atlanta het dit gesien en weer gestop om die pragtige blink appel op te tel.  Atlanta het die wedloop verloor omdat sy gestop het om drie goue appels op te tel.

In die tyd waarin ons lewe, is ons besig met die Geestelike wedloop en ons weet die koms van die Here is naby. Ons is besig om siele te wen en vir die Here te werk maar die Satan gooi sy goue appels na elkeen van ons. Sy drie goue appels is : – 1 JOHANN. 2:16  “Want alles wat in die wêreld is—1.die begeerlikheid van die vlees en 2. die begeerlikheid van die oë en 3.die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.”

Talle en talle kinders van God word in die tyd waarin ons lewe weg getrek van hul taak en die wil en gehoorsaamheid om Christus te dien deur na die goue appels wat die Satan uitgooi uit te draai.  Is jy een??? Is jy die een wat besig is om die wedloop te verloor omdat jy nie op die plek is waar God jou wil hê nie???

GEBED

Here, dit gebeur so maklik dat ek uitdraai vir die appels wat die Satan vir my uitgooi. Vader, gee my die onderskeiding om U wil te doen en te behou – altyd!!? AMEN 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00