Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE tjcloete@absamail.co.za My eie waterbak het al male sonder tal stukkend geval, Here. Dan het ek dit sélf probeer regmaak. Ek het die stukke probeer optel en dit probeer lym en las. Maar so ‘n kruik lek, Here. My lymwerk is swak, en my laswerk skeef. Die water loop vinnig weg en dié wat daaruit moet drink, bly dors. Daarom wil ek vandag kom vra dat Ú my sal heelmaak, Here. Ek weet dat ek altyd broos sal bly, en dit is ook reg so. Maak my egter só heel dat ek vir ‘n dors wêreld die lewende water kan aanbied. Maak my heel én vol. Maak my vriendelik en geduldig, eerlik en regverdig, liefdevol en sensitief. O, Bron van lewende water, vul my met Uself. Gee my moed en deursettingsvermoë. Gee my geloof en hoop. Maak my hardwerkend en help my om my plig goed te doen. Maak my werklik U beelddraer, ‘n héél mens wat ander sal inspireer, nié met my woorde nie, maar met wie ek is in Jesus Christus. Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00