Belowe jy ook?

In die jaar 2004 was ek in die gemeente in Amanzimtoti. Dit was die Sondagoggend dat ek ’n boodskap gebring het vir mense wat nog nie die Here in hul lewe gehad het nie. Daardie more stap daar ’n jong man en sy vrou die kerk in. Wie is hulle? Ek weet nie. Ek was slegs gereed om die boodskap wat die Here op my hart gelê het te bring. Dit kan ek net noem, dat die vorige aand het die Here ’n boodskap wat ek die week voorberei het , laat sterf in my hart en ’n ander boodskap lewendig gemaak. Ek het vir die volle uur gepreek en aan die einde van die boodskap het ek gevra of daar iemand is wat hulle saak met die Here wil regmaak. Daar was reaksie in die gehoor en ek het die mense genooi om met my ’n afspraak te maak. Na die diens het een van die ouderlinge vir my kom vra of die vreemde jongman my kan spreek. Dadelik het ek hom genooi en eenkant in ’n vertrek het ek en hy gesels. Hy het my sy hele lewensverhaal vertel en alles wat hy al bereik het op die ouderdom van 29 jaar. Hy het my ook van sy stryd vertel en gevra ek moet saam met hom bid. Ek het ingestem op die voorwaarde dat hy my net gou twee vrae sal beantwoord. Die eerste vraag was:- Het jy al in jou lewe op ’n plek gekom waar jy met sekerheid kan sê dat indien jy vandag sterwe jy hemel toe sal gaan? Hy het gehuiwer en toe nee geantwoord. Ek het nie eers die tweede vraag aan hom gestel nie. Ek het hom die Evangelie verduidelik van:- Jy moet jou sondes bely en laat staan, jy moet Jesus Christus as jou verlosser aanneem en jy moet die Here dien met jou hele lewe. Hy het alles duidelik verstaan. Hy belowe my toe dat hy volgende Sondag na afloop van die diens sal agterbly en sy saak sal regmaak met God. Ek het vir hom gesê dit is reg so en ’n stuk papier uitgehaal en my pen. Ek vra hom toe:- Skryf hier dat jy verseker is dat jy volgende Sondag nog sal leef? Hy het geskrik , my in die oë gekyk met verbasing en gesê dat hy kan dit nie doen nie. Ek vra hom toe:- Wanneer is dan die beste tyd om die Here aan te neem? Nou, nou dadelik, het hy gesê. Ons het saam gebid en hy is daar weg. Die Dinsdag het ek hom besoek en met dankbaarheid het hy gesê dat hy vrees nie meer die toekoms nie. Sy vrou het agter sy rug vir my gesê dat hy is ’n ander mens. Donderdag-middag is hy dood. Hy het nooit die Sondag gesien nie. Hoe lank belowe jy nog dat jy jou saak met God sal uitmaak? As jy oud is? As jy met pensioen is? As jy jou doelwitte bereik het? Sit jou hand op papier en skryf neer dat jy God sal dien………wanneer , more? 2 KOR. 6:2 “Want Hy sê: …… Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” JESAJA 1:18-20 “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.” GEBED Here, dit is nou al baie lank dat ek belowe dat ek U sal dien. U weet tot nou het dit nognie gebeur nie. Ek is nie volkome aan U oorgegee nie. Ek gee my hele lewe NOU aan U. AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00