Alexander die grote se gehoorsame troepe

Alexander die grote en ’n klein groepie van sy troepe het ’n baie sterk bewaakte stad met baie hoë mure genader. Alexander het buite die stad gestaan en met ’n groot stem geskreeu dat hy met die koning wil praat. Die koning het op die muur verskyn en Alexander gevra wat hy wil hê. Alexander het gesê dat die koning moet oorgee , die stad se poorte moet oop maak en alles wat in die stad is moet oorhandig word. Die koning het gelag en vir Alexander gevra waarom hy aan hom alles moet oorgee. Die koning het ook vir Alexander laat verstaan dat hulle baie goed beskerm is en dat Alexander hulle geen skade kan doen nie. Alexander het toe aangebied om die koning ’n demonstrasie te gee. Hy het ’n paar van sy manne in ’n lyn laat aantree en hulle die bevel gegee om reguit na ’n afgrond te marsjeer. Al die stad se mense het op die muur verskyn om te sien wat gebeur en met skok aanskou hulle toe hoedat Alexander se manne een vir een oor die afgrond marsjeer sonder om enigsins te huiwer. Hierdie manne het na hulle dood marsjeer. Nadat so ongeveer tien manne oor die afgrond marsjeer het, het Alexander die res van die troepe terug geroep. Die stad se mense en die koning het onmiddelik aan Alexander oor gegee. Hulle het besef dat indien die troepe gewillig is om selfmoord te pleeg vir hulle dinamiese leier, sal daar niks wees wat hulle sal stop vir ’n oorwinning nie. Is jy gewillig om gehoorsaam te wees aan die Koning van die heelal soos Alexander se manne was? Is jy vasberade, gewillig en verbonde aan die Here Jesus? Dink wat jy en ’n paar mense in jou omgewing kan uitrig as jy totaal oorgegee is aan die Here? PSALM 139:23 “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes;” PSALM 139:24 “en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” GEBED Here, ek gee myself volkome oor in die hand van my Meester om deur U gebruik te word tot U eer. Wat wil U hê moet ek doen? AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00