Afvallig – Ja of Nee!

Dit is tydens die eerste wêreld-oorlog dat ’n predikant een van die rykste families se seun na die Here gelei het. Hierdie jongman het die diens bygewoon maar na die diens het hy dadelik sy Geloof en sy besluit vir die Here aan sy mede soldate getuig. Die oorlog het geeindig en hierdie seun moes terugkeer na sy familie en sy rykmans lewe voor die oorlog. Hy het weer met die predikant gepraat oor die vrees wat hy het dat hy afvallig sal word wanneer hy weer tussen pa, ma, broers , susters en vriende moet lewe. Die predikant het hom aangemoedig om te volhard om sy Geloof voor die mense te getuig en wanneer hy dit sou doen dat hy nie afvallig sal word nie. Die predikant het hom verseker dat hy geen van sy vriende hoef prys te gee nie, maar dat hulle hom sal verlaat. Na aanleiding van hierdie gesprek het die jongman besluit om vir die eerste tien mense wat hy ontmoet en wat saam met hom die wêreld en sonde gedien het van sy geloof in Christus te vertel. Hierdie jongman het skaars van die trein geklim toe hy ’n meisie op die stasie ontmoet wat hy sosiaal geken het. Sy was baie verheug om hom te sien en wou dadelik weet hoe dit met hom gaan. “ Die wonderlikste ding het met my gebeur!” het hy geantwoord. “Jy is verloof en gaan trou?” het sy gevra. “ Nee, dit is beter as dit! Ek het Christus Jesus as my Verlosser aanvaar.” Antwoord hy. Hierdie meisie het gefrons, ’n paar beleefde woorde gespreek en geloop. ’n Rukkie daarna het hy ’n jongman ontmoet wat hy geken het voordat hy oorlog toe is. “Dit is goed om jou te sien! Ons gaan nou weer lekker partytjies hou!” het die jongman gesê. “ Ek het ’n Christen geword.” Het die jong Christen gesê. Weereens het die gesprek verander en die jongman is weg. Dieselfde het gebeur met ’n jong paartjie en twee ou vriende. Teen hierdie tyd het die nuus versprei dat hy ’n Christen geword het en talle vriende het gestaak om hom te besoek. Wat het hy gedoen? Niks anders as om te getuig wat die Here Jesus vir hom gedoen het nie. Dieselfde getuienis wat hom bevestig het in Christus het hom geskei van mense wat nie die Here wou dien nie, eintlik, wat nie eers van Hom wou hoor nie! ROM. 10:9 “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;” ROM. 10:10 “want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” ROM. 10:11 “Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.” Is jy daagliks bereid om van die Here te getuig al kos dit jou, jou vriende? Wie is vir jou die belangrikste – Jesus of vriende? Weet die wêreld dit? GEBED Here, ek sal daagliks waar U dit van my verwag U Naam verkondig en bely dat U my God is! AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00