TEMA: Verootmoedig jou voor God.

SKRIFLESING:       2 Kronieke 7:1-3, 11-16, Jes. 56:6, 7 en Markus 11:17

TEKS VIR OORDENKING: 2 Kronieke 7:14

INLEIDING

Ons gaan in die paar dae tot ons beskikking kyk na die:

Noodsaaklikheid van verootmoediging.

Sonde en die uitwerking daarvan in die lewe van ‘n kind van God.

Gebed in verootmoediging of gebed van verootmoediging.

Waar is die voorbidders?

Hoe lyk die voorbidder en waarvoor moet hy/sy bid.

Dit sal ons doen deur die leiding en instaat stelling van die Heilige Gees.

Maar eerstens moet ons bereidwillig wees om onsself te verneder onder die kragtige hand van God.

1Pe 5:6  Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.

Verootmoediging en variasies daarvan kom in 90 Skrifgedeeltes voor deur die Skrif. Dit beklemtoon die belangrikheid daarvan om jou te verootmoedig voor God.

Om jouself te verootmoedig beteken om voor God te buig, die knieë te buig, op jou aangesig in die stof voor God te lê, om jouself ondergeskik te stel aan God se wil. Om verneder te word voor God.

Om te erken dat ek oorwin, oortuig is.

Daarom moet ek myself oopstel vir die Woord van God sodat die Heilige Gees my kan oortuig van wat verkeerd is.

Joh. 16:13  “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.

Jes. 2:17 “Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.

Iemand het soos volg geskryf: “Not until we take the place of a servant, can the Lord take His place of Master”

Waarlik, ons is nooit hoër as wanneer ons op ons laagste gebuig is voor die Genadetroon van God nie.

Kind van God, is u bereid, gewillig om in hierdie dae u hart en siel geheel en al oop te stel sodat die Gees van God kan inkom om die oortuigingswerk te doen?

Ek wil vandag saam met u deur die leiding van die Heilige Gees kyk na ons teks van oordenking, want daarin is vir my die proses van verootmoediging, vernedering voor God opgesluit.

1.            Wie is dié wat hulle moet verootmoedig?

(2Kr 7:14)  “en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is,”

Dit is vir my duidelik uit hierdie gedeelte dat God praat met Sy eie volk, en as ons dit geestelik deurtrek na ons tyd verwys dit na al die Bloed gewaste kinders van God. Die wat die getuienis het van redding. Vers 13 beskryf vir ons ook Geestelike toestand tydens afvalligheid. Net kinders van God kan lou word, afvallig word.

2.            Waarom daar verootmoediging moet wees in die lewe van die kind van God?

In Josua 5 kom die volgende vir my duidelik na vore.

God se kinders moet eers voorberei word voordat hulle met oorwinning vertrou kan word.

Dit is nodig om herinner te word dat ons lewe en ook liggame aan God behoort en nie tot sonde aangewend moet word nie.

Daar moet ‘n Gilgal wees asook ‘n voortdurende terugkeer na Gilgal, waar ons opnuut weer tot God terugkeer en toelaat dat die Heilige Gees ons harte besny. Gilgal het ‘n belangrike rol gespeel in Samuel se bediening en so ook in die lewe van die volk. Gilgal beteken “’n wiel wat draai” Hoe dikwels doen u aan by Gilgal?

Ook sien ons die volgende in die Woord m.b.t. verootmoediging.

Om te deel met sonde. 1Kon 8:35, 36(a) “As die hemel toegesluit bly, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe”

Om te deel met trotsheid van hart. Jes. 2:17 “Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.”

(Spr. 29:23)  Die trotsheid van ‘n mens verneder hom, maar die nederige van gees sal eer verkry.

So dikwels na oorwinnings kom daar weer toetse en dit is daar om weer laag voor God te wees om ons te herinner aan ons menslikheid en verganklikheid. Rigters 15:18 “Daarop kry hy baie dors en roep die HERE aan en sê: U het deur die hand van u kneg hierdie groot verlossing gegee, en moet ek nou van dors sterwe en in die hand van die onbesnedenes val?”

Om in afsondering te wees voor God Lev 16:30, 31 “Want op hierdie dag moet hy vir julle versoening doen om julle te reinig; van al julle sondes moet julle voor die aangesig van die HERE rein word. ‘n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Dit is ‘n ewige insetting.

Om te deel met biddeloosheid Ps 35:13 “En ek—toe hulle siek was, het ek ‘n roukleed gedra; ek het my siel gekwel met vas, en my gebed het teruggekeer in my boesem.”

Om te deel met geestelike doodsheid Ps.119:107 “Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na u woord!”

Wanneer God ons tugtig Ps.119:71, 75 “Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer. Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het.”

Verdruk is dieselfde woord in Hebreërs as verootmoedig.

Om God te vertrou vir ‘n spesifieke saak. Esra 8:21 “Toe het ek daar ‘n vastyd uitgeroep aan die rivier Ahawa, om ons te verootmoedig voor die aangesig van onse God ten einde van Hom ‘n voorspoedige reis te vra vir ons en ons families en al ons goed.”

3.            Metodes wat God gebruik om ons te verootmoedig voor HOM.

Die profete het die volk gewaarsku om nederig en in verootmoediging voor God te wandel.

God het die Babiloniërs gebruik om die volk te verneder.

God stuur oor ons tugtiging, omstandighede, beproewinge om ons te verneder, te verootmoedig voor Sy aangesig. Jak 4:8-10 “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”

God stuur pynlike omstandighede sodat ons, ons kan verootmoedig, verneder voor HOM. Deut.8:2 “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.”

2Kor 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.”

Gevolge van verootmoediging.

Vreugde op vreugde Jes.29:19 “En die ootmoediges sal vreugde op vreugde smaak in die HERE, en die behoeftiges onder die mense sal juig in die Heilige van Israel.”

Ontvlug die toorn van die Here Sef.2:3 “Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”

Matt.5:3 “Salig is die wat arm (oorspronklik word dit gekoppel aan bedel, kan vir die self sorg nie) van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”

Ek sluit af: Die vraag is, is u en ek eerlik en opreg voor die Here om tydens hierdie reeks-dienste te buig en toe te laat dat God ons verootmoedig; om te deel met watter saak ook al die Heilige Gees ons oortuig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00