Dit klink darem altevol of die Rooms-Katolieke 'n sterk been het waarop hulle staan!

Dit klink darem altevol of die Rooms-Katolieke ‘n sterk been het waarop hulle staan! Veral as ons ‘n gedeelte soos Joh 6: 53-60 lees. Die RKK verstaan dit só dat die brood & wyn by die Nagmaal létterlik in Jesus se fisiese liggaam verander word. Die dissipels het dit destyds ook letterlik verstaan – dat Jesus letterlik geëet moet word. Daarom sê hulle in vers 60: “Sjoe, dís darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?”

 

Dit hou verband met Jesus se eie woorde toe Hy die Donderdagaand voor die kruisiging die Nagmaal ingestel het (Mrk 14:22): “Nadat Hy die brood gebreek het, sê Hy: ‘Neem & eet dit, dit is my liggaam.” En – jare later – praat Paulus dieselfde taal wanneer hy in 1 Kor 11:29 van die nagmaal sê: “Julle mense eet die brood en drink die wyn sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is. Daarom word julle deur die Here getug.”

 

Die brood & wyn is “die liggaam van Christus”. Die RKK verstaan dit só: Die oomblik wanneer die priester – tydens die Mis – die instellingswoorde prewel, word die brood & wyn letterlik misterieus verander – deur ‘n wonderwerk van Bo – om die regtige fisiese liggaam & bloed van Christus te word. Van daardie oomblik af is dit nie meer brood & wyn nie, dit hou op om brood & wyn te wees en dit word Christus self.

 

Nou verstaan die RKK die verlossing só: Jy word daagliks stelselmatiglik gered deurdat jy die fisiese liggaam van Christus insluk elke keer wanneer jy aan die Mis meedoen. Jesus kom letterlik in jou in. Jy sluk Hom in. Só kom God se genade in jou in. Dit word ingestort (gratia infusa) binne in jou in. Iets konkreet. Só red dit jou lewenslank.

 

Óns glo egter dat Jesus nie die woorde in Johannes 6 letterlik bedoel het nie. Dit kón nie! Hy het tog immers self in lewende lywe by die mense gestaan (en die Donderdagaand gesit) toe Hy dit gesê het. Die brood het beslis nie verander om Sy liggaam te word nie. Hy het dan liggaamlik daar by hulle gestaan. Net so min as wat die doopwater verander word in Jesus se letterlike bloed en Sy letterlike bloed oor die dopeling vloei.

 

Maar, juis op hierdie punt moet ons lig loop. Ons kan só in reaksie kom teen die RKK siening, dat ons heeltemal oorkantel na ‘n ánder uiterste toe. En die ander uiterste is dat die brood & wyn net maar ‘n simbool daarvan is dat Jesus 2000 jaar gelede gesterf het op die kruis. Net maar ‘n teken. Dit is die ander uiterste: Die brood & wyn is net tekens van wat Jesus 2000jr gelede gedoen het en waarin ons glo. Net simbole. Ons sien die tekens en verplaas onsself 2000jr terug en dink maar net terug aan wat tóé gebeur het. Herinneringstekens dus. Ons gebruik dit dus en dink maar net terug aan wat 2000jr gelede gebeur het.

 

Die waarheid oor die nagmaal lê iewers tussen hierdie twee uiterstes. Dit moet ons vanoggend deeglik ontgin. Wat beteken Paulus se woorde in 1 Kor 11 wanneer hy van die brood & wyn die volgende sê: “Dis ís Sy liggaam – en elkeen wat nagmaal gebruik moet dít reg onderskei”?

 

Dit is dieselfde as wat ons na ‘n kolletjie op ‘n landkaart wys en sê: “Dit is Kaapstad”. Niemand sal ontken dat dit Kaapstad is nie, terwyl almal weet die kolletjie sélf is nie die werklike Kaapstad nie.

 

Net so sê die Skrif: “Die brood is Sy liggaam”.

 

Wat beteken dit presies? “Die brood IS Sy liggaam” (teenwoordige tyd). “Maar, ek dog Hy wás ‘n liggaam. Ís Hy dan nog steeds liggaamlik?”

 

‘n Mens sal dit nooit regtig reg verstaan voordat jy nie begin verstaan dat ons Here Jesus nog steeds (op hierdie oomblik) MENS is nie. Hy besit nog steeds Sy verheerlikte menslike natuur én liggaam waarmee Hy met die hemelvaart vertrek het. Sedert Hy in Betlehem mens geword het, het Hy dit nooit weer afgelê nie. Ja – Hy ís óók waaragtig ewig God, maar Hy is ook nog steeds MENS alhoewel Sy menslike liggaam ná die opstanding verheerlik & onsterflik is. Dit is ‘n absolute misterie, maar dit is die waarheid. Dit is ‘n feit: Hy is steeds MENS by die Vader. Dit is so duidelik in die Woord:

 

Ná die opstanding gebeur dit in Lukas 24: 37-39 dat Jesus by geleentheid aan Sy dissipels verskyn, maar hulle dink dit is ‘n gees. Toe sê Jesus: “Kom, voel aan my hande en voete. Dis tog Ekself. ‘n Gees/spook het nie vleis en bene nie.” En vers 50 sê dáárdie Jesus het só liggaamlik – met daardie einste vleis en bene, opgevaar voor hulle oë. En in Handelinge 1:11 sê die engele vir die dissipels: “Hierdie Jesus sal net so terugkom soos julle Hom sien opvaar het.”

 

Wat is dus die situasie nóú, in die tyd tussen die hemelvaart en wederkoms – die tyd waar ons lewe? Hy behou steeds Sy menswees. Hy behou Sy menslike natuur & liggaam.

 

En juis daarin lê ons deurlopende daaglikse verlossing & ons hoop op die ewige toekoms. Want die feit dat daar ‘n MENS by die Vader is, is die waarborg dat óns ook daar sal kom! Voeg daarby dat Hy die mens is wat ons (wie kinders vd Here is) veronderstel is om te wees, maar nie is nie. Hy is dit IN ONS PLEK (plaasvervanger). Daarom die aangrypende woorde van die Apostel in 1 Tim. 2:5: “Daar is net een Middelaar tussen God en mens: die MENS Christus Jesus wat Homself as losprys gegee het..” Let op die teenwoordige tyd: IS. Hy IS – MENS!! En Hy is dit in ons plek. Middelaar. Hy ruil met ons plekke om. Dit wat ons s’n is, is Syne. Dit wat Syne is, is ons s’n. Ons sondige menswees word Syne en Sy volkome menswees word ons s’n!!

 

Ons moenie aan Jesus se kruisdood & opstanding dink as iets wat net 2000 jaar gelede gebeur het nie, want Hy is nóú die gekruisigde en opgestane Een. Ons moenie die fout maak om alles terug te skuif na die geskiedenis en dan glo ons nou maar dit wat tóé gebeur het nie! (Dink maar net terug nie). Hoe baie kerkmense se Christelike geloof bestaan daaruit dat hulle net in historiese feite glo (hoe belangrik dit ookal is). En dit terwyl díé Jesus wat 2000 jaar gelede gesterf het, NOU leef. Die kruisdood van Goeie Vrydag is NOU ‘n werklikheid en die opstanding is NOU ‘n werklikheid omdat Jesus NOU leef en steeds Mens is.

 

En ons ewige redding is om INGESLUIT te wees by Hom soos wat Hy nóú is. Om ingesluit te wees by Sy werklike regtige menswees en Sy werklike regte liggaam en bloed. Maar dit is nie óns wat onsself by Hom insluit nie. Dit is God die Vader wat dit deur die Heilige Gees doen. Deur die Gees word ons ingesluit by Jesus as Mens in die hemele – die Middelaar, ons plaasvervanger. Dit is iets wat nou plaasvind. Ons taak is om dit te aanvaar. Nie net met die kop kennisneem nie, maar gelowig persoonlik aanvaar. En DIT is waarvan die brood en wyn vd Nagmaal ons verseker.

 

Dit is waarom die brood Sy liggaam is. Want ín die brood ontvang ons Hom SELF soos Hy nóú is. Die brood is nie Sy liggaam omdat die brood & wyn fisies verander word en Sy liggaam & bloed word nie, maar omdat die brood die sigbare teken is wat aan my waarborg dat Jesus steeds in sy verheerlikte gekruisigde menslike liggaam is en dat die Heilige Gees my menswees by Sy Menswees insluit. Só insluit dat wat myne is, Syne is en wat Syne is, myne is. My sonde en korrupsie is Syne en Sy vryspraak en vergifnis is myne. Die brood & wyn help my om dit werklik te glo. Dis ‘n waarborg. ‘n Seël. Dis ‘n ding wat sekerheid gee.

 

Nou kan u begryp waarom klein kindertjies beswaarlik nagmaal kan gebruik sónder deeglike vooraf onderrig. Nie omdat God diskrimineer teen kinders of omdat Sy genade nie vir hulle bedoel is nie. Maar omdat die jong kind nie kan onderskei dat die brood & wyn Christus se werklike liggaam & bloed is nie. Hulle moet dit eers geleer word. Indien dit maar net simbole was, sou kindertjies dit kon gebruik, maar dit is baie méér as simbole.

 

Kom ons vat weer alles saam en maak dit prakties: God die Vader verlos ‘n mens deurdat Hy jou net eenvoudig insluit by die teenswoordige lewende gekruisigde en opgestane Jesus, wat nie net God is nie, maar ook ware MENS. Só word jou sonde, Sy sonde, en Sy vryspraak word jou vryspraak. ‘n Omruiling vind plaas. Jou ou lewe word Syne en Sy nuwe lewe word joune. Dit wat joune is, is Syne en wat Syne is, is joune. Jou boosheid/vuil gedagtes/kwaad/angs/verlatenheid/skuldgevoelens/haat/toorn/wroeging/moedeloosheid is 100% Christus s’n. En Sy genade/liefde/suiwerheid/reinheid/skoonheid/goedheid/seën/onskuld/

 

gehoorsaamheid is 100% joune. Hy kry jou behandeling en jy kry Sy behandeling. En só is jy voor God volkome reg en goed. So is jy vir God geheel aanvaarbaar. Hy kyk na jou en sien dat alles omgeruil is. Alles in jou wat gestraf moet word, is op Jesus en is in Sy kruisdood gestraf. Alles wat Hy is, is nou op jou. God die Vader sien jou in jou ingesluitwees met Christus – ‘n insluiting wat HY bewerk het. Dit is die diepste hartklop van ons verlossing. Dis die diepste hartklop vd Christelike Geloof. Dit is die sekerheid hiervan wat die mag van sonde in my binneste breek en veroorsaak dat ek moed skep & my kop kan optel. Wat die brood & wyn doen, is om my hiervan te verseker, my te verseker dat wat myne is, Syne is en wat Syne is, myne is.

 

‘n Praktiese voorbeeld: Piet Pompies is iemand wat baie sukkel met innerlike onreinheid en vuil gedagtes. Op ‘n dag begin hy die nagmaal se ware betekenis snap en glo. Hy besef dat die Heilige Gees hom (as ‘n liggaamlike mens) insluit by Jesus se liggaam. Dat Jesus geheel en al sy onreinheid en vuil gedagtes kry. En dat hy Jesus se reinheid en vryheid deelagtig geword het. Skielik besef hy dat die krag van die sonde gebreek is. Nie “gaan word” nie, maar “is”.

 

En dit is hiervan wat die nagmaalstekens ons wil verseker. Dit wat Jesus as Mens is, word werklik deel van jou, net soos die brood en wyn deel word van jou liggaam. Net so SEKER as wat ek met my fisiese mond die brood eet en die wyn sluk, net so seker sluit die Gees my (as totaal onwaardige) in by Jesus se menswees/liggaam wat Hy in hierdie oomblik by die Vader het. En wat gebeur – ek begin om dit werklik te glo/aanvaar! Dit is wat dit beteken om Sy liggaam te eet – om gelowig my eenheid (ingesluitwees) met Sy liggaam te aanvaar en daaruit te gaan leef. En dit verander my. Ek bewerk nie die insluiting/eenheid nie. Ek glo dat God dit bewerk het. En dit is die aanvaarding van daardie ingesluitwees wat my voedsel en drank is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00