Skrif: Johannes 11: 17-44

Verlede Sondag het ons uit die eerste deel van Johannes 11 gesien hoe die Here Jesus – ómdat Hy vir Lasarus, Marta en Maria liefgehad het – vir Lasarus laat sterf het! Die Here se liefde vir ons beteken nie dat Hy noodwendig verhoed dat ons siekword, ly en sterf nie. Sy liefde vir ons beteken dat Hy Homsélf aan ons gee en Homself aan ons toon.

Ons mag nooit die liefde van God vir ons meet aan hoeveel gesondheid & voorspoed Hy gee nie. Ons kan nie Sy liefde meet aan hoe Hy verhoed dat ons of ons geliefdes sterf nie. Dit sou beteken dat God nie iemand soos die Apostel Paulus liefgehad het nie. Want hy het allesbehalwe voorspoed, welvaart, gesondheid gehad. Hy het min voorspoed geken en min geld gehad. Tewens hy het ‘n martelaarsdood gesterf.

Ons moet die Here se liefde vir ons meet aan die mate waartoe Hy Homsélf aan ons gee en Homself aan ons openbaar. God se liefde beteken dat Hy ons ingesluit het by die geskenk van die ewige lewe teen die koste van Sy Seun se lewe (Joh 3:16). God se liefde vir ons kom tot uiting in die feit dat Hy ons ingesluit het by die Here Jesus Christus se dood en opstanding – dat Hy ons laat reg wees vir Homself in Christus – selfs al is ons verkeerd. Sy liefde vir ons kom na vore in die feit dat Hy ons nie meer veroordeel, verdoem en vervloek vir ons sondes nie, omdat Christus as ons plaasvervanger die vloek geword het.

U sien dit is heeltemal iets anders as om te sê: “Hoe kan God my liefhê as Hy teëspoed, siekte en dood in my lewe toelaat?”

Dit is die groot beginsel wat die Here vir die drie mense wat Hy so liefgehad het – Maria, Marta en Lasarus – geleer het. En dit is baie belangrik dat ons dit benadruk, want in verse 17-44 word die Here Jesus minstens drie maal op ‘n subtiele manier verkwalik dat Hy vir Lasarus laat sterf het en word Sy liefde elke keer onder verdenking geplaas. Dit was algemene kennis dat Jesus met opset dae lank gebly het waar Hy was en nie opgedaag het om vir Lasarus te genees nie. Nou kom drie verskillende mense en bevraagteken Sy optrede en Sy liefde. En dit is baie duidelik dat dit Hom emosioneel ontwrig en ontstel het.

Die eerste wat Jesus bevraagteken het, was Marta, daarna Maria en daarna die roubeklaers.

MARTA: Verse 20-21: “Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan. Sy sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” U hoor die verwyt.

MARIA: Vers 32: “Maria het by Jesus se voete gekniel en vir Hom gesê: Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie.”

ROUBEKLAERS: Verse 36-37: “Kon Hý wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterf nie?” Met ander woorde: “As Hy opgetree het soos ‘n mens van liefde sou verwag, sou niemand gehuil het nie.”

Waarop ons veral moet let, is die Here Jesus se reaksie op hierdie 3 verwyte. Want in Sy reaksie sien ons Sy heerlikheid. Onthou die hele doel waarom Hy vir Lasarus laat sterf het, was om Sy heerlikheid te openbaar.

Ons sien Sy heerlikheid in Sy drie-ledige reaksie op die mense wat Sy liefde bevraagteken: 1) Hy is nie ‘n klip nie, maar word diep ontstel & ontroer & verontrus deur die Marta, Maria en die roubeklaers se verwyte. En selfs in Sy ontsteltenis, openbaar Hy nog steeds Sy liefde. 2) Hy is self die opstanding uit die dood 3) Hy is die teenwoordige Christus, nie die Christus van die verlede of toekoms nie. Wat Hy in die verlede & toekoms was en sal wees, is Hy nóú.

Kom ons kyk ‘n bietjie van naderby na hierdie 3 reaksies:
1 Sy gemoed het vol geskiet (OAV: Hy het geweldig bewoë geword in Sy gees) (v33), Hy was aangedaan (OAV: ontstel) (omgeroer > dieselfde Griekse woord wat in hfst 5 gebruik word vir die water van die Bad v Betesda wat geroer word) (v 33), Hy het gehuil (v 35), Sy gemoed het weer volgeskiet (OAV: geweldig bewoë geword) (v 38).

Hierdie emosies was die Heiland se reaksie op die mense se twyfel in Sy liefde. Dit was nie in die eerste plek emosies van meegevoel & teerheid met die mense se droefheid & rou nie. Dit was emosies van omgekraptheid met die feit dat die mense Hom so maklik betwyfel & selfs verwyt. Hy is nie ‘n klip nie. Hy beleef hierdie emosies. En tog is dit nie emosies omdat Hý betwyfel word nie. Dit is nie selfbejammering/selfgerig nie. Hy huil nie oor die feit dat Hý in ‘n negatiewe lig kom nie. Hy huil nie oor Homsélf nie. Nee, hierdie emosies is juis weer ‘n teken van Sy liefde, want Hy sien hoe die mense se ongeloof/verwyte/suspisie/bevraagtekening hulle daarvan weerhou om Sy ware heerlikheid in mense se lyding/siekte/dood te kan raaksien.

Dit is vandag steeds so: Die oogklappe van ongeloof/verwyte/bevraagtekening maak mense blind om die Here se ware heerlikheid te sien in negatiewe omstandighede. Dít is wat Hom so ontstel. Wanneer mense Hom verdink van liefdeloosheid of Sy optrede kritiseer of allerlei onwaarhede oor Hom kwytraak, is Hy ontsteld omdat Hy die blinde mense liefhet. In stede van toorn & wraak uit te giet oor mense wat dwaashede praat, is Hy in Sy gemoed ontroer en ontstel as uitdrukking van liefde. Juis daarin sien ons Sy heerlikheid.

2 Hy is die teenwoordige Christus, nie Christus van die verlede of toekoms nie. Hy is die Christus van nóú, nie van gister of môre nie.

Luister net hoe Marta redeneer: Vers 21: “Kon U dan nie 4 dae gelede verhoed het dat my broer sterf nie?” Sy haak vas by die Jesus van GISTER (verlede tyd). Toe weer vers 24: “Ek weet my broer sal opstaan op die laaste dag..” Die Jesus van môre (toekoms). Sy glo vas dat die Here Lasarus se dood in die verlede kon verhoed het en dat Hy by die voleinding vir Lasarus sal opwek… Sy ry wipplank tussen gister en môre, maar verloor die Man wat voor haar staan heeltemal uit die oog!

Wat is dit wat sy nie snap nie? Dit gaan nie oor die Jesus van gister of van môre nie, maar oor die Jesus van NOU!! Christus wat lewe en wat nou teenwoordig is. Hy wat nou iets doen. Nie kán doen nie, maar dóén. Dit gaan nie oor wat Hy gister kon gedoen het nie. Dit gaan ook nie oor wat Hy in die toekoms sal doen nie. Dit gaan oor die Jesus van nóú! Hy is self die aanbreek van die finale opstandingsdag. Hy is nóú die opstanding van die toekoms! Hy ís alreeds die aanbreek van die opstandingsdag. Wie Hom glo, sal nié sterwe nie. Die liggaamlike dood is net soos om aan die slaap te raak, maar Jesus is self die lewe, daarom is dit onmoontlik om ooit te sterf. Hy is nóú die opstanding & lewe, dus indien ek nóú liggaamlik sterf, sal ek nóú leef.

Hoor wat sê die Heiland in vers 25: Ek IS die opstanding & die lewe – wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.

Vers 40: Marta, as jy dít glo, sal jy die heerlikheid van God sien. Nie “sien is glo” nie, maar “glo is sien”. Net maar glo, niks meer nie. Die Here voeg geen voorwaardes by nie. Glo Hom en Sy woorde dat Hy jou by Homself insluit en jy kan weet dat jy aan Hom deel het.

Hoor u dit? Ons kan vrae en waaroms vra oor die Jesus van GISTER (wat kon verhoed het dát dit of dat gebeur). OF ons kan ons troos soek by die Jesus van môre (opstanding by wederkoms). Maar, die antwoord & die troos lê al die tyd by die Jesus van nou. Die krag en effek van Sy kruisdood van 2000jr gelede is nóú nog net so werkend, want Hy is nóú steeds die gekruisigde. En Hy is nóú my plaasvervanger. Ek is ingesluit by die Christus wat nóú leef. Daarom is ek nóú reg & onskuldig & aanvaarbaar voor God, selfs al faal ek hoeveel keer per dag. Want God beoordeel my nie volgens my gedrag nie, maar volgens Christus se meriete wat Hy aan my toesê. Die meriete wat Hy nóú aan my toesê.

Die groot EK IS. Daar lê geweldige krag in hierdie woorde. EK IS. Onthou maar Johannes 18:6 – mense agteroor op die grond geval…

3 Jesus is self die opstanding uit die dood. En Hy sal dit nou prakties openbaar aan almal wat teenwoordig is. Hy sal nou openbaar wat presies by die uiteindelike opstanding van die dooies sal gebeur.

Kyk, hulle het gedink dat die dood finaal is. Dat die dood bó Jesus staan. Noudat Lasarus dood is, kan Jesus niks meer doen nie. Die dood sit vir Jesus ore aan. Ná alles is Marta nog glad nie oortuig nie. Toe Jesus die radikale ding doen om die klip voor die graf weg te rol, sê sy: “Here, hy ruik al, want dis reeds die 4de dag.” Sy kan haar glad nie indink dat Jesus bó die dood staan nie. Maar Jesus berispe haar nie. Hy sê: “Glo my net en jy sal die openbaring van die wonderlike mag van God sien. Ek is self die opstanding.”

Daardie oomblikke moes darem vir die mense ontsettend gewees het. Jesus bid eers tot Sy Vader. Hardop, sodat almal Sy eenheid met Sy Vader kan sien en kan glo dat Hy die Messias is. Hy dank die Vader dat Hy alrééds verhoor is (nog voordat Hy bid) en dat die Vader Hom altyd verhoor. Só is dit ook met elkeen wat by Christus ingesluit is. Die behandeling wat Hy van Sy Vader kry, kry die gelowige ook (verhoring), want Hy het op die kruis die behandeling van die Vader gekry wat die gelowige verdien om te ontvang, naamlik om níé verhoor te word nie. In Getsemané en op die kruis is Christus (as ons plaasvervanger) níé verhoor nie sodat ons nou verhoor wórd. Die Vader het nou elke gelowige nét so lief soos Hy vir Christus het (Joh 17:23).

En dan roep die Here met ‘n harde stem: “Lasarus, kom uit.” Net een keer. Met gesag. Soveel gesag dat ‘n man binne-in die dood dit kan hoor en onmiddelik reageer! Indien Hy nie sy naam genoem het nie, sou al die dooies dalk opgewek word. Vers 43: Die oorledene het onmiddelik uit die graf gekom. Dit is dieselfde gesag van Sy mag waarmee Hy aan elke gelowige ‘n nuwe liggaam sal gee op die laaste dag (1 Kor 15). Dit is dieselfde gesag waarmee Hy die oorspronklike skepping met super intelligensie in die lewe geroep het (Gen 1). Wat hier met Lasarus gebeur is die oorspronklike skepping asook van die finale voleinding in die kleine. Dis ‘n kyk-weer vd skepping en ‘n voorskou van die voleinding. Alles vind plaas slegs deur ‘n woord te spreek. Verbysterende gesag!

Dít is die heerlikheid van die Here Jesus Christus. Hy is self die opstanding! Hy is die aanbreek van die groot vernuwing van alle dinge – insluitend ons fisiese liggame. Lasarus se opwekking is net ‘n voorskou van elke gelowige se opstanding.

Verstaan u met hoeveel sekerheid en toekomshoop ons bevoorreg is om te mag lewe! Laat ons weer luister na die Here se woorde in vers 25&26: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in my glo, sál lewe al het hy ook gesterwe. En elkeen wat lewe en in my glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jý dit Marta?”

Glo ú dit?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00