Skrif: Johannes 11: 1-16

Die verhaal van Lasarus is so bekend, maar het ons al opgemerk hoe vreemd dit eintlik is? Veral die eerste 16 verse. En kyk mooi na die eerste 6 van die 16: Die Apostel Johannes gaan uit sy pad om vir ons te sê hóé naby die Here Jesus aan hierdie twee susters Maria & Marta & hul broer Lasarus was. Dit was nie maar net ‘n oppervlakkige vriendskap nie.

Lasarus was baie siek. Sy een suster was Maria, die vrou wat die Here met reukolie gesalf het en Sy voete met haar hare afgedroog het. Die opvallende is egter dat – in Johannes se evangeliebeskrywing – Maria se oliesalwing-aksie eers in hoofstuk 12 plaasvind. Ten tye van Lasarus se siekte het dit dus nog nie gebeur nie. Maar Johannes wil beklemtoon watter band daar tussen Jesus en hierdie familie was en hoe besonderlik Maria die Here liefgehad het.

Voeg daarby nog vers 3 wat sê hoe Maria & Marta iemand na die Here Jesus gestuur het met hierdie boodskap: “Here, hý vir wie U lief is, is siek.” ‘n Vreemde manier om dit te stel, nie waar nie? Weer eens hoor ons die aksent op die Here Jesus se liefde vir Lasarus. Johannes wil hê ons moet die liefdesband tussen Jesus en hierdie familie letterlik sien & voel. Hierdie versoek om hulp wat hulle aan die Here stuur, kom nie sommer net van goeie kennisse nie – dit kom van mense met wie die Here innige bande het. Kyk ook vers 5: “Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad.”

Die rede waarom Johannes hierdie groot liefde wat die Here Jesus vir Lasarus, Maria en Marta het, so erg benadruk, is omdat hy weet dat dít wat nou gaan volg hoegenaamd nie soos liefde lyk/klink/voel nie. Trouens, mens sukkel om Jesus se vreemde optrede enigsins met liefde te verbind. Kom ons kyk bietjie daarna.

Toe die Heiland die berig van Lasarus se siekte ontvang, toe reageer Hy onmiddelik op die volgende manier: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie (sal nie die dood as fokuspunt hê nie), maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur (deur die siekte) verheerlik kan word.”

Jesus bring nie die siekte met die dóód in verband nie, maar met die eer van God en die verheerliking van Homself vir wie Hy regtig is: die Seun v God. Al sterf Lasarus ook van die siekte (en Jesus weet hy sal), sal dit die verheerliking van God wees wat voorop gaan – nie siekte & dood nie! Die fokus vd siekte is nie die dood nie – selfs al sterf Lasarus ook – maar die openbaarmaking vd wonderlike mag van God en sodat mense hulle sal verstom oor wie Jesus is.

Is dit nie ‘n verrassende, bevrydende manier van kyk na aaklige goed soos siekte & dood nie? Wanneer óns daarna kyk, is alles somber & katastrofies. Maar die Here Jesus keer dit om! Mens kan nog verstaan dat síékte op ‘n manier die Here kan verheerlik, maar die dóód? Kan dit regtig wees dat die Here Jesus Christus ook uit iets soos dóód ‘n Godwaartse fokus kan skep?

‘n Mens verstaan regtig nie kop of stert wat hier gebeur nie, want die volgende oomblik kíés die Here letterlik dat Lasarus sal sterf. Vers 6 sê dat – nadat Hy die berig ontvang het dat Lasarus siek is – Hy met opset nog twee dae langer vertoef en geen aanstaltes maak om na Lasarus te gaan nie. Dit is asof Hy eers wag tot Lasarus werklik dood is voordat Hy gaan. Het Hy onmiddelik gegaan, kon Lasarus genees word. Sy dood kon verhoed word. Is dít liefde? Dit is asof alles in ons koppe blaas wanneer ons hierna kyk. Is dít hoe liefde (agapé) maak?

In verse 5-6 staan daar letterlik in Grieks: “Jesus het vir Marta, Maria & Lasarus liefgehad, daarom, nadat Hy gehoor het Lasarus is siek, het Hy nog twee dae vertoef op die plek waar Hy was.” Die woord “daarom”. Ómdat Hy hulle liefgehad het, het Hy verkies dat Lasarus van sy siekte sterf!! Sy liefde vir hulle is die réde waarom Hy getalm het om vir Lasarus te gaan genees. En dit het sy dood veroorsaak. Sy liefde vir hulle het Lasarus se dood veroorsaak! Ons weet dit uit vers 14: Toe Jesus wél besluit om te gaan, het Hy geweet Lasarus is reeds dood. Jesus maak dus baie seker dat Lasarus dóód is wanneer Hy in Betanië kom. Vier dae, sê ‘n latere vers. Hy het al geruik.

‘n Mens kan natuurlik redeneer deur te sê: “Ag, vir die Here was dit maklik, want Hy het geweet Hy gaan vir Lasarus uit die dood opwek. Dus was Lasarus se siekte & dood glad nie so erg soos mý/óns/my kind/man/vrou se dood/siekte/krisis nie. Die hele situasie was glad nie so erg soos mýne/óns s’n is nie.

Mens moet egter versigtig wees om só te redeneer. Onthou dat Lasarus en sy susters glad nie geweet het dat hy uit die dood sal opstaan nie. Sy lyding & sterwensproses & dood & begrafnis was vir hulle absoluut traumaties net soos wat dit vir enige van ons sal wees, want dit was presies soos wat óns dit sal ervaar. En onthou: Jesus was afwesig. Hulle het alles deurgemaak sónder Hom. Hy het nie opgedaag nie. Na hulle gevoel, het Hy nie omgegee nie. Hy wou nie kom help nie. Hulle kon Sy vreemde optrede glad nie verstaan nie. Dit het gevoel asof Hy hulle verwerp.

Hou verder in gedagte dat daar ook nie ‘n verskil is tussen Lasarus se opstanding uit die dood en enige ander Christengelowige se opstanding nie. Al verskil is ‘n tydsverskil. Die 21ste eeuse kind vd Here se dood sal nie méér verskriklik wees as Lasarus s’n nie, want Jesus sal hom/haar ook opwek. Die tydsverloop tussen ons dood en opstanding is net langer as wat Lasarus s’n was.

Dit is juis die hele punt. Johannes 11 is bedoel om ons te laat sien dat Lasarus se opstanding uit die dood ‘n prentjiesbeeld is van óns opstanding uit die dood. Ons moet ons eie opstanding in syne lees. In vers 25-26 sê Jesus vir Marta: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sál lewe, al het hy ook gesterwe en elkeen wat lewe en in my glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” Dít is wat Jesus illustreer met Lasarus se opstanding. Wat nou met Lasarus gaan gebeur, sal met élke ware gelowige gebeur. Élke ware gelowige sal een of ander tyd sterf … en weer opgewek word – nie as ‘n soort geestelike wese nie, maar liggaamlik. Oor élke ware gelowige sal die Here een of ander tyd besluit dat die tyd vir sterwe aangebreek het. Élke ware gelowige sal egter ontdek dat die sterwe geen sterwe is nie, maar die aanbreek van ‘n oneindige lewe in Christus PLUS ‘n toekomstige liggaamlike opstanding. Dít is die groot toekomshoop wat die kind vd Here het wat geen ander mens op aarde besit nie!

Maar nog steeds bly die vraag: Hóé kan dit LIEFDE wees wat Jesus kon motiveer om Lasarus te laat sterf? Omdat Jesus vir Lasarus, Maria en Marta so líéfgehad het, haas Hy Hom nie om vir Lasarus te gaan genees nie, maar laat hom sterf. Liefde??

Is dit nie die stryd wat soveel Christengelowiges dikwels beleef nie? Wát presies ís hierdie liefde dan? Wat beteken dit? Hy het toegelaat dat ek siek word, Hy het toegelaat dat my geliefde sterf. Hy het hierdie of daardie ramp toegelaat. Hy het Hom oënskynlik nie gesteur aan my gebede nie. Talle mense het gebid, maar Hy het Hom oënskynlik nie daaraan gesteur nie. En tog het Hy my lief. Wat ís hierdie liefde dan? Hoe moet ek dit kleinkry?

Daar is twee goed wat vir die Here God van groter belang is as ons gesondheid en ons aardse lewe en tydelike geluk en welvaart. Ja, gesondheid & lewe ís vir die Here van groot belang, maar dat Hý verheerlik sal word en dat ons geloofsvertroue verdiep word, is vir Hom van groter belang. En Sy liefde soek altyd Sy beste vir ons. Sy liefde het die beste gesoek vir Marta, Maria & Lasarus. En die beste was dat hulle meer en meer sou agterkom hoe verstommend Hý is. En dat hulle geloofsvertroue sou verdiep. Dis presies wat verse 4 & 15 sê. Daar gee die Here die twee redes waarom Hy Lasarus se dood toegelaat het: a) Die Seun v God moet daardeur verheerlik word (almal sal hulle oor Hom verstom) en b) sodat hulle in Hom kon glo. Wat Maria en Marta meer as enigiets nodig gehad het, was ‘n volle ervaring van hoe verstommend die Here is asook ‘n dieper vertroue en geloof op Hom gebou.

Wanneer siekte of dood ‘n kind vd Here tref, dryf dit hom/haar nie wég van God/kerk/Woord/gebed nie, maar trek hom juis nader. Dwarsdeur al die pyn/trane/verdwaasdheid – vind daar ‘n opbouproses plaas. Op die een of ander wyse verheerlik die Here Homsélf en bou Hy geloofsvertroue in Sy kinders se lewens in – juis deur middel van siekte/dood.

‘n Christengelowige is iemand wat op ‘n dieptevlak leef waarvan die ongelowige niks kan verstaan nie. ‘n Ongelowige se kop slaan toe by die aanhoor van vanoggend se Skrifuitleg. Soos Tomas wat só na Jesus geluister het en maar net kon sê: “Ag, kom ons gaan sterf dan maar saam met Hom.” Hy kon nie kop of stert uitmaak van wat Jesus sê nie. Dit maak net nie sin nie. Totdat ‘n mens dit alles in die lig van die kruis begin sien.

Die éíntlike dood is nie Lasarus s’n of ons s’n nie – dis Jesus se eie dood. En dit is waar ons Sy liefde ontdek. Wanneer Hy toelaat dat Lasarus sterf en wanneer Hy hom uit die dood opwek, is dit omdat Hy vir Lasarus ingesluit het by Sy eie dood & opstanding. Wanneer Hy toelaat dat Sy kind siek word of sterf – is dit nie ‘n goedkoop manier van toestemming gee nie. Dis uiters duur, want Hy het dit self deurleef op die kruis en elke gelowige is daarby ingesluit – ingesluit by Sy kruisdood, ingesluit by Sy opstanding uit die dood. Só het Hy die oorwinning behaal en só is Hy in staat om binne-in ons traumas ons geloofsvertroue te verdiep en Homself te verheerlik.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00