Alles of iets?

Die gemeente het ’n bus gehad waarmee hulle die kinders en ander wat vervoer probleme het, aangery het kerk toe. So gebeur dit dat die busbestuurder die Saterdagmiddag in die dorp stap en soos die Here hom lei by huise aandoen en mense na die diens toe nooi. Hy arriveer by die huis en klop en ’n klein seuntjie van so om en by tien jaar maak die deur oop. Die busbestuurder vra of hy met mamma of pappa kan praat waarop die outjie antwoord dat hulle is vir die naweek weg en hy moet na sy boetie kyk.


Die seun nooi die oom in en die busbestuurder begin die seun te vertel van die Here Jesus en by die einde vra hy die seun of hy nie Jesus in sy hart wil innooi nie. Die seuntjie maak toe so en die oom nooi hom en sy boetie om die volgende dag saam kerk toe te gaan. Die seun vertel toe dat hy nog nooit in die kerk was nie want sy ouers gaan elke naweek weg en dan moet hy na sy boetie kyk.

Die Sondagoggend het die oom die twee seuns kom haal en kerk toe geneem. Hulle het in die bank gesit en hulle verwonder aan die mense en alles wat in die kerk is en gebeur. Die predikant het toe die geleentheid gegee vir die mense om hulle tiendes en offergawes te gee. Die seun het die bordjie dop gehou en gekyk hoe die mense hulle geld ingooi. Die bordjie het toe tot by hom gekom en omdat hy niks gehad het om in te gooi nie , het hy die bordjie geneem en so ’n klein rukkie teen hom vas gedruk en toe weer aangegee. Hy het aangehou om die bordjie dop te hou totdat dit by die agterste ry klaar was.


Hy spring toe op en skreeu:-  “Wag!” en hardloop na agter.

Hy vra toe vir die oom om die bordjie net ’n oomblik vas te hou en die diaken gee dit vir hom. Hy hou die bord vas, maar toe sit hy dit op die grond en gaan staan binne in die bord op die geld en sê:- “Liewe Jesus, ek het niks om te gee nie maar ek gee myself vir U vandag!”


Vriende hoe baie gee ons nie vanuit ons oorvloed nie? Hoe maklik is dit om die hand in die sak te steek en te gee maar wanneer dit by jou en jou lewe kom dan is dit te moeilik. Is dit nie wat die Here vir jou en my gedoen het aan die kruis nie? Hy het Sy alles gegee sodat ons Hom kan dien. Vra Hy nie ook jou alles nie?


MATT. 16:24  “Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”

:25  “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.”

:26  “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?”


GEBED

Here, ek gee my totaal oor aan U. Neem my en gebruik my in U diens!

AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00