Stiltetyd Verwerk uit: My tyd met Hom – Dr Francois Carr

My siel is stil tot God; van Hom is my heil (Psalm 62:2).

Dit is so belangrik vir elke gelowige om daagliks ongehinderde tyd alleen saam met God te spandeer.  Daar is nie ’n spesifieke patroon of metode wat ons behoort te volg nie, want elke gelowige en geestelike leier het sy eie styl, roetine en voorkeure. Die belangrikste is egter om ’n woord van die Here, vanuit Sy Woord te ontvang, gemeenskap met God as die Vader, Seun en Heilige Gees te ervaar, asook te verseker dat ons te alle tye van Sy heerlike Teenwoordigheid bewus is en voor Hom wandel.

In hierdie artikel wil ek egter my eie persoonlike ervaring en ondervinding met u deel.  My daaglikse tyd van gemeenskap met die Here is in die oggende sowel as in die aande. Dawid het gesê: “Ek sal U vroeg in die môre soek.” Vroeg in die môre sal U my stem hoor.” Ek voel dat dit baie beter is om met God vroegdag te begin – Sy aangesig eerste te sien en om my siel naby Hom te kry, voordat dit by ’n ander persoon is.”

1.    Voorbereiding

Om God te ontmoet , moet ons onsself voorberei.

Genoeg slaap of rus

Gemeenskap met die Here begin die vorige aand. Die koms van elektrisiteit, televisie, multi media en ons druk sosiale programme het daartoe gelei dat ons minder rus en gou moeg en afgemat voel.  Dit kan maklik gebeur dat ons verslaap vir ons daaglikse afspraak met die Here of baie moeg en slaperig voel.  Dit affekteer ons konsentrasie en soms gee ons dan moed op of “beleef” nie die Heer se teenwoordigheid of nabyheid nie.  Ons moet poog om wel genoeg te rus.   

Stil hart

Ons leef ook verder in ’n tyd waar daar soveel impulse van buite, veral deur die media, na ons kant toe kom. Dit bring mee dat baie gaan slaap met beelde van geweld, seks, naaktonele en selfs vloektaal in hulle gedagtes. Dit is belangrik om met ’n stil, skoon hart en gemoed te gaan slaap, aangesien dit ’n duidelike invloed het op ons gemeenskap met die Here.

Wakker wees

Ek volg ’n heel eenvoudige “metode”. Dit bestaan uit die volgende: Ek staan op vanuit my bed. Ek was my gesig, hare, skeer, borsel my tande en trek aan. Ek maak ’n koppie koffie en gaan na my stil plek, (nie op my bed nie), vir my tyd saam met Hom. Ek is dus heeltemal wakker en kan konsentreer op wat ek doen.

Verwagting

Sommige mense spandeer slegs tyd in Bybelstudie en gebed om iets daaruit te kry.  Ek spandeer egter tyd saam met Hom omdat ek lief is vir Hom, Sy Stem wil hoor, Sy wil vir my lewe te wete wil kom en Hom graag wil behaag. Dawid skryf in Psalm 25:5: “U verwag ek die hele dag”. Ek kom dus na die Here in die oggende met ’n verwagting in my hart dat die Here met my sal praat, of om bloot Sy hart met my te deel.

Gesindheid van eerbied en gehoorsaamheid

Dit is God in die Hemel wat deur Sy Gees en Sy Woord met my wil ontmoet. Ek besef dus dat Hy die nodige respek en eerbied van my hart verdien. Ons hele houding moet dit weerspieël.

Ek glo dat ons baie keer seën van die Here mis, omdat ons nie gewillig is om na Hom te luister nie, omdat ons reeds besluit het om nie te gehoorsaam nie. Ons lees in Jeremia 42 van die volk Israel wat die Here God kom raadpleeg het, maar reeds besluit het om nie te gehoorsaam nie. Ons moet dus nie na die Here kom met enige vooropgestelde idees nie, maar met die gesindheid en gewilligheid om te gehoorsaam.

2.    Openingsgebed

Ek bid slegs ’n kort gebed aan die begin om eers net my hart stil te maak en in te stel om na Hom te luister. Ek bid en vra vir Hom om met my te praat en Sy wil en hartklop aan my bekend te maak deur die lees van Sy Woord. 

Hulpmiddele

Soms sing ek net ’n aantal liedere tot die Here om Hom te aanbid. Ek begin dan om uit Sy Woord te lees. Andere kere kom die oortuiging in my hart om ’n gedeelte uit ‘n dagstukkieboek te lees en dan weet ek dat die Here dit wil gebruik. Dikwels kry ek die oortuiging om na ’n boodskap te luister op CD of DVD. Die doel van hulpmiddels is om my hart voor Hom stil te maak. Die Woord moet egter daagliks gelees en bestudeer word.

Stil word

Indien my hart stil en ingestel is op die Here, begin ek dadelik om my Bybel te lees en te luister na wat Sy Woord vir my vir die dag is.

3.    Lees uit Sy Woord

Laat die Woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid (Kolossense 3:16).

Ons lees in die Bybel dat die Here God met ons sal praat deur Sy Seun, Jesus Christus. Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun  (Hebreërs 1:1).  Die Bybel leer in Johannes 1:14 dat die Here Jesus die Woord is, wat vlees geword het. Dit is dus duidelik – om my Bybel te lees is om met die Here Jesus gemeenskap te hou. Soos wat ons Hom hoor praat deur Sy Woord en Sy dade bestudeer – leer ons Hom beter ken. Die Woord is juis God se manier om met ons te praat. Ek het besef dat dit nie noodwendig die antwoord is om bloot net deur die Bybel te lees nie, maar om die Bybel die geleentheid te gee om “deur my te lees en my te verander”. En daarvoor is tyd, oordenking en bepeinsing nodig.

4.    Persoonlike gebed

Ons sien gebed dikwels as ’n geestelike aktiwiteit of selfs werk.  Dit is waar, maar as dit nie gebaseer is op ons liefdesverhouding met die Here nie, dan sal dit swaar word. Die fokus is om gemeenskap met die Here te geniet en te reageer op wat Hy aan my getoon het. Dit gaan dus oor my verhouding met Hom en om Hom beter te leer ken, eerder as om spesifieke gebede te bid.  Ek het nou klaar my daaglikse gedeelte uit die Woord van die Here gelees en die Hy het met my gepraat. Nou bid ek oor die sake waaroor die Here met my gepraat het. Ek wil seker maak dat ek dit verstaan en ook toelaat dat die Woord wortel skiet in my hart en groei. Daarom noem ek hierdie tydjie van gebed, my persoonlike gebed.  Die Here het met my persoonlik gepraat en ek moet nou reageer.

Ander aspekte wat in hierdie gebedstyd figureer is:

Aanbidding en Lofprysing

Soms bestaan my tyd saam met Hom uit die sing van liedere in aanbidding.  My hart is na my tyd van gebed so vol van lof vir wat Hy vir my gedoen het. 

Sonde-oortuiging

Soms word ek oortuig van my sonde en het berou wat lei tot sondebelydenis.  Ek vra vergifnis daarvoor en indien ek net teen Hom gesondig het, ontvang ek Sy vrede.  Indien daar egter ’n derde party betrokke is, maak ek ’n nota, om na my tyd saam met Hom, dit te gaan regmaak met daardie persoon.  

Voorbidding en Intersessie

Soms oortuig die Here my van die nood van iemand of ’n gemeente en ek voel dit swaar op my hart om daarvoor te bid. Ek doen nou intersessie wat daarop gerig is om te bid vir die nood waarmee die Here my belas het. 

Openbaarmaking van ’n waarheid

Dit gebeur soms dat die Here ’n nuwe geestelike waarheid of iets rakende God die Vader, Seun en Heilige Gees openbaar.  My gebed is dan daarop gerig dat ek dit sal verstaan en deel maak van my lewe.

Gebedsverhoring

Die Here weet ook van my daaglikse behoeftes en dit wat daar in my gebedsboekie en joernaal opgeteken is. Somtyds antwoord die Here bloot die vrae of gebede in my hart.  Dit lei weereens na danksegging in my hart en gebed.

Aksie neem

Soms is daar die oortuiging in my hart om iets te doen.  Dit is daarop gerig om vir iemand tot seën te wees en tot verheerliking van die Here en Sy naam.

5.    gebedsboekie en joernaal

…en skryf wat jy sien in ’n boek (Openbaring 1:11).

Gebedsboekie

Ek glo dat ek nou met vrymoedigheid met die Here Jesus kan praat oor my direkte en indirekte behoeftes, asook oor alles wat in my hart is Ek lees dan deur my gebedsboekie en my inskrywings. Daar is reeds soveel gebedsverhoringe aangeteken en dit opsigself bring lof en dank in my hart, sowel as bemoediging om Hom weer te vertrou vir verdere gebede en versoeke. Ek lees deur die sake en gebedsversoeke wat nie afgehandel is nie en bid weer daarvoor.  Ek kyk ook na watter sake daar is waaroor die Here opnuut met my gepraat het gedurende my tyd saam met Hom. Ek teken dit dan aan. Ek bid weer daarvoor en sal ook voortgaan om daagliks daarvoor te bid totdat dit afgehandel is. Ek kyk verder na ons persoonlike omstandighede, behoeftes, benodighede asook ons bediening en bepaal of daar enige spesifieke behoeftes is waarvoor ek graag wil bid. Ek teken dit aan en bid daarvoor.

Gebedsjoernaal

Dit is wel belangrik dat die spesiale ontmoeting, openbaring of woord van die Here aangeteken word. Dit is baie bemoedigend om terug te kyk en daardeur te lees.

gehoorsaamheid

As julle my liefhet, bewaar my gebooie (Johannes 15:15).

My tyd saam met die Here is nou verby, maar nie noodwendig altyd afgehandel nie.  My tyd saam met die Here is slegs finaal afgehandel, indien ek dit gedoen het waaroor die Here met my gepraat het.

Die liefde van die Here Jesus

Jesus Christus het Homself verneder en gehoorsaam geword tot die dood aan die kruis, daarom het God Hom so uitermate verhoog. Waarom het Hy dit gedoen?  Hy het die gesindheid van gehoorsaamheid geopenbaar. 

Gehoorsaamheid versus ongehoorsaamheid

Hoeveel mense is daar nie wat hulself laat mislei en gerusstel deur die gedagte dat volkome gehoorsaamheid nie moontlik is nie. Ongehoorsaamheid word selfs daagliks bely, maar nie versaak nie. My ongehoorsaamheid bring mee dat my hart nie gerus is nie en my vrede met die Here versteur word.  Dit affekteer my wandel met  die Here asook my geestelike groei. Is gehoorsaamheid moontlik? Dit is voorwaar moontlik as jou wandel met Hom gebaseer is op ’n liefdesverhouding met die Here Jesus. 

Ek wil so graag met Hom wandel asook Hom behaag en daarom sal ek Hom gehoorsaam in alles, ongeag die koste, want sonde bedroef Hom.  Ek wil Hom graag gehoorsaam, want ek is lief vir Hom.

Mag die Here jou waarlik ontmoet in jou stil tye saam met Hom.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00