Jh 12:23-24 : Die Heilige Gees en Christus (4)

LAAS IS DAAROP GEWYS DAT DIE HEILIGE GEES VERAL IN DRIE AREAS IN DIE HERE JESUS SE LEWE GEWERK HET. Eerstens het die Gees Sy verhouding met die Vader bewerkstellig. Tweedens het Hy Jesus toegerus om as Kneg van die Here Sy roeping waarvoor Hy na hierdie wêreld toe gekom het te gehoorsaam. En derdens het Hy Christus bekragtig om na 'n sondegebroke wêreld uit te reik. 
Ons het voorts aanvaar dat die Gees ten minste ook op hierdie drie maniere in elke ware kind van God sal werk. En 'n nadere ondersoek van Skrifgegewens bevestig so 'n aanname.
Aan die eerste van hierdie drie werksareas van die Gees het ons reeds aandag gegee. Nou moet ons nader kyk na nommer twee en drie.

DIE GEES VAN DIENSBAARHEID

In Jesus se lewe het Sy seunskap Hom nie verhef bo die roeping tot diens en lyding nie. Die Heilige Gees het Hom ook toegerus om God se Lydende Kneg te wees. Jesus het immers gekom om te sterf. Hy was die "koringkorrel" wat in die grond móés val ten einde vrug te dra (Jh 12:23-24).

DIE HEILIGE GEES RUS TOE OM TE DIEN

Dat diensbaarheid  –  en die noodwendige lyding wat daarmee gepaard gaan  –  ook aan die hart lê van alle dissipels se roeping, is 'n onontkombare Nuwe Testamentiese beklemtoning. Wat meer is, dis onlosmaaklik verbonde aan die gawe van die Heilige Gees.
In Sy laaste ure saam met die dissipels gee die Here swaargelaaide lering in die bovetrek. Die heel eerste ding wat Hy by hulle wil inprent, is juis hierdie roeping. Só gewigtig is die saak dat Hy van 'n handelingsgelykenis gebruik maak om dit tuis te bring: Hy was hulle voete. As Hy dan klaar is, sê Hy dít vir hulle: "Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle 'nvoorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dít verseker Ek julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen" (Jh 13:12-17).
'n Groot deel van die Gees se werk in ons het te doen met toerusting tot diensbaarheid. Dis waaroor die gawes van die Gees gaan  –  die sogenaamde charismata. In 1Kor 12-14 beklemtoon Paulus oor en oor dat ons ons gawes moet aanwend tot opbou van mekaar. En in 1Pt 4:10 sê Petrus: "Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God" (OAV).

DIENSBAARHEID EN LYDING LOOP HAND AAN HAND

Diensbaarheid hou feitlik altyd tot 'n mindere of meerdere mate lyding in. Die twee dinge loop hand aan hand in elke lewe wat deur die Heilige Gees beheer word.
Dis wanneer die vroeë Christene tydens vervolging bid, dat die plek geskud word deur die Heilige Gees. Belangrik is dit om raak te sien dat hulle nie vir krag pleit nie, maar vir vrymoedigheid om aan te hou getuig, ten spyte van die skrikwekkende implikasies wat dit vir hulle mag inhou (Hd 4:23-31).
Dieselfde Gees wat Paulus oortuig dat gevangeneskap en vervolging in Jerusalem op hom wag, dring hom ook om dit met ferm tred tegemoet te gaan (Hd 20:22-23).
Ook Petrus beklemtoon dat Christus se dissipels onontkombaar in Sy lyding deel. Dit, sê hy dan, "is 'n bewys dat die Gees van heerlikheid, die Gees van God op julle bly" (1Pt 4:12-16).
In Rm 8 skryf Paulus oor die inwoning en werk van die Gees. Hy getuig in ons dat ons kinders van God is en roep in ons, "Abba, Vader!". Dan gaan die apostel onmiddellik voort: "en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word" (Rm 8:17; OAV). En in die volgende verse werk hy dan die tema van lyding verder uit.

VEELEERDER SWAARKRY AS LEKKERKRY

Vandag sluk baie Christene maar swaar aan bogemelde beklemtonings. Praat hulle van die Gees, dink hulle aan opwinding en sensasie. So 'n mentaliteit is natuurlik nie nuut nie. Die apostels het al daarmee te kampe gehad.
Die gemeente in Korinte was behep met die Heilige Gees en Sy werk. Vir die lyding wat dit noodwendig meebring, het hulle egter min ruimte gehad. So ingenome was hulle met al die bonatuurlike geestesgawes wat hulle beoefen het, dat hulle selfvoldaan en gearriveerd was. Paulus is sarkasties as hy dit só beskryf: "Julle het mos klaar alles wat julle begeer! Julle is al klaar ryk! Julle regeer al klaar soos konings!" (1Kor 4:8).
Maar dan gaan hy onmiddellik voort om so 'n gesindheid ernstig af te wys  –  'n gesindheid wat bloot belangstel in die Gees as 'n bewerker van godsdienstige ervaringe en bonatuurlike krag (4:14). Waarin die Korintiërs roem, is nie die apostels se belewing nie. En, as hulle sou wou roem, wie kan meer aanspraak maak op die volheid van die Gees as hulle?
Só kontrasteer hy dan húlle belewing met sy lesers se aanmatigende aansprake: "Dit lyk vir my God het aan ons, die apostels, die laaste plek in die ry gegee asof ons mense is wat tot die dood in die arena veroordeel is. Ons het 'n skouspel geword vir die wêreld, vir engele sowel as vir mense. Ons is dwaas ter wille van Christus, julle is verstandig in Christus; ons is swak, julle is sterk; julle geniet aansien, ons word verag. Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors, ons is armoedig aangetrek en word mishandel. Ons swerf rond en werk hard met ons eie hande. Ons word uitgeskel, en ons antwoord met seënwense; ons word vervolg, en ons verdra dit; ons word beledig, en ons bly vriendelik. Ons het die uitvaagsels van die wêreld, die skuim van die samelewing geword, en dit is nou nog so" (1Kor 4:9-13).
Die kronieke van die koms van die koninkryk van die hemele hier op aarde is in bloed geskryf. Wie hieroor begin oplees, kom baie gou agter dat die realiteite van getrouheid aan die waarheidsevangelie en wêreldsending deur die eeue ligjare verwyder was van sovéél wat hedendaags deurgaan as suksesvolle kerkwees en lewende aanbidding. Ek is daarvan oortuig dat die apostels baie hedendaagse kerke as óf yskoue lykshuise vol selfvoldane huigelaars sou beoordeel het, óf as tempels van vleeslikheid en dwaling vol ervaringsbehepte wêreldlinge.
Volgens oorleweringe van die vroeë kerk het al die apostels  –  met die uitsondering van Johannes, wat wel ook sy kwota ballingskap gehad het  –  'n marteldood gesterf. Ontelbaar baie sendelinge het deur die eeue die hoogste tol betaal vir die evangelisering van die nasies. Tienduisende is vervolg oor standpuntinname vir die waarheidsevangelie  –  van spot en hoon en diskriminasie tot gevangeneskap, skavot en brandstapel. Miljoene dissipels het hulle rûe gedraai op welvaart en gerief en aanvaarding en bevordering, hulle kruis opgeneem, en soos hulle Here in die grond geval en gesterf vir die kompensasies van hierdie wêreld.

DIE GEES VAN UITREIKING

Dat Christus in die krag van die Gees na die sondegevalle wêreld uitgereik het, staan bo alle twyfel vas. En dat die Heilige Gees uitgestort is om presies dieselfde in die dissipels te doen, is eweneens iets wat niemand kan ontken nie.
Die Here Jesus se belofte in Jh 7:38, dat die Heilige Gees strome van lewende water uit Sy dissipels sou laat stroom, kan op niks anders as hierdie aspek van die Gees se werk dui nie. Palestina is woestynagtig, en water is die simbool van lewegewende krag in 'n verdorde wêreld. En presies só was dit nog altyd: Geesvervulde mense is sonder uitsondering 'n wonderlike seën vir hulle wat gebuk gaan onder die vloek van die sondeval.
Na Sy opstanding verskyn die Here aan Sy dissipels, en met 'n handelingsgelykenis stuur Hy hulle in die wêreld uit om te doen wat Hy  –  dié Gestuurde na 'n sondegevalle mensheid  –  tot op daardie oomblik gedoen het: "'Vrede vir julle!' sê Hy weer vir hulle. 'Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.' Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: 'Ontvang die Heilige Gees!'" (Jh 20:21-22).
By meer as een geleentheid voor Sy hemelvaart sê die Here Jesus Sy dissipels aan om die evangelie wêreldwyd uit te dra. En ten minste twee keer belowe Hy dat die Heilige Gees hulle vir die taak sal bekragtig:
"Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder… En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is" (Lk 24:46-49). "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld" (Hd 1:8).
Die boek Handelinge is 'n kroniek met die vervulling en uitwerk van bogenoemde beloftes as sentrale tema. Mens vind daarin die een bevestiging na die ander van die verskil wat die Heilige Gees in menselewens maak.
Wat 'n dramatiese metamorfose ondergaan Petrus nie! Die man wat voor die kruisiging te bang was om teenoor 'n diensmeisie te beken dat hy Jesus volg, preek op die Pinksterdag met verbysterende krag vir 'n reuse skare en drieduisend kom tot bekering.
Saulus, die vervolger van die gemeente, word 'n onstuitbare apostel wat grens na grens in heidenlande oorsteek met die evangelie. Wat van die Geesvervulde Stefanus (Hd 6-7)? En wat van Filippus (Hd 8)?
Ook die gemeente  –  die gewone lidmate  –  kon nie stilbly nie (Hd 8:4; 11:19-21).

'N SAMEVATTING VAN DIE LESSE WAT ONS LEER UIT DIE WERK VAN DIE HEILIGE GEES IN DIE LEWE VAN DIE HERE JESUS CHRISTUS

Waar die Gees van Christus regtig werk, sal bogenoemde  –  tot 'n mindere of meerdere mate  –  altyd tot uitdrukking kom. Geloofsekerheid, asook die lewensveranderende vrug daarvan, sal 'n toenemende werklikheid wees. Diensbaarheid, en nie voortdurende aansprake op kompensasie nie, sal mense se lewenswyse kenmerk. Die ontberinge, selfs die lyding wat hiermee gepaard gaan, sal sonder murmureringe aanvaar word. En uitreiking na 'n gevalle en verlore wêreld sal steeds die sentrale hartstog wees wat voorkeure bepaal.

Lewe jy 'n Geesvervulde lewe? Is jy lidmaat van 'n Geesvervulde gemeente? Behoort jy aan 'n ware of aan 'n valse kerk? (vgl. NGB Art. 29 in sy geheel).

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00