Hb 9:14 : Die Heilige Gees en Christus (2)

DIE HERE JESUS SE DOOP EN BEDIENING

Verreweg die oorgrote meerderheid inligting oor die Here Jesus se lewe op aarde beskryf Sy publieke optrede as volwassene. Dit het egter maar drie tot drie-en-‘n-half jaar geduur  –  ongeveer tien persent van die tyd tussen Sy geboorte en Sy kruisiging. Oor Sy kinder- en jeugjare weet ons bloedweinig. Alles dui daarop dat Hy ‘n stil en lae-profiel lewe gely het. Wat het dus gebeur om die dramatiese ommekeer in Sy lewe te bewerkstellig? Wat het Hom gelanseer in ‘n openbare bediening wat die ganse wêreldgeskiedenis laat skarnier het? 
Die Bybelskrywers laat by ons geen twyfel nie: Sy doop en vervulling met die Heilige Gees. Al vier evangelies beskryf dit. Onmiskenbaar was dit nodig dat die Gees Hom formeel bekragtig vir Sy werk as Messias  –  as God se Groot Profeet, Priester en Koning.
Só stel Lk 3:21-22 dit: "Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: ‘Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My’" (vgl. ook Mt 3:13-17; Mk 1:9-11; Jh 1:29-34).
In die onmiddellik volgende vers lees mens dan dat Jesus begin preek het. 
Die Here was deeglik bewus daarvan dat die vervulling met die Gees plaasgevind het om Hom toe te rus vir Sy openbare bediening. Sy eerste preek is in Nasaret gelewer, met Jes 61:1 as teks: "Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig" (Lk 4:18-19). In die volgende vers sê Hy dan vir die mense: "Vandag is hierdie Skrifwoord … vervul."
Die Heilige Gees het Hom dus bekragtig om te preek, te red en te genees  –  en om te verlos.
In Mt 12:28 sê Jesus vir die Fariseërs: "Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom."
In Hd 10:38 getuig Petrus teenoor Kornelius-hulle: "Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom."

DIE HERE JESUS SE VERSOEKING

Hoewel nie baie plek in die evangelies aan die Here se versoeking van veertig dae afgestaan word nie (Mt 4:1-11; Mk 1:12-13; Lk 4:1-13), kan die belangrikheid daarvan beswaarlik oorskat word. Dit vind direk na Sy doop plaas, en is ‘n maak-of-breek-toets vir Hom  –  die Messiaanse ekwiwalent van Adam en Eva se versoeking in die tuin van Eden (Gen 3). Eers moes Hy die Satan oorwin, voordat Sy publieke triomftog ‘n aanvang kon neem.
Sou die Here hier geswig het, was die gevolge selfs meer katastrofies as destyds. Want Hy was nie bloot nóg ‘n Adam nie, Hy was die Laaste Adam (1Kor 15:45-49). Indien Satan hier die oorhand gekry het, was daar geen verdere vooruitsig op ‘n verlossingsplan van God nie. Die tweede sondeval sou finaal gewees het. Want watter mens sou kon slaag nadat die mens Christus Jesus misluk het? Ons lot sou net so hopeloos en onomkeerbaar as dié van die demoneryk gewees het. Maar natuurlik, selfs net die noem van so ‘n moontlikheid is eintlik absurd, amper heiligskennis. Hoe kan daar sprake wees van mislukking in enigiets wat die ware God doen  –  in hierdie geval die tweede persoon van die Goddelike Drie-eenheid?
En tog … Hy is as mens versoek en beproef. Moet vir geen oomblik dink dat dit nie ‘n ware toets was nie. Dit was nie net ‘n stuk simboliek nie; dit was verskriklik werklik. Maar die Heilige Geeshet Hom versterk en deurgedra  –  triomfantelik. Waar die eerste Adam misluk het, het die laaste Adam getriomfeer  –  en Sy sending om dermiljoene vanuit die nasies te verlos, was koersvas onderweg. Dit was nie die eerste keer dat die Heilige Gees se bekragtiging die voortgang van God se raadsplan verseker het nie, en beslis ook nie die laaste keer nie. Maar sonder twyfel was dit een van die mees belangrike en deurslaggewende momente. 
Matteus en Markus sê dat die Heilige Gees die Here in die woestyn ingelei het. Veral Markus gebruik ‘n sterk werkwoord in (Mk 1:12). Die Gees se leiding was bykans onweerstaanbaar. Die NAV vertaal uitstekend: "… die Gees het Hom weggevat die woestyn in …"
Maar vir ons doel is Lukas se beskrywing selfs nog meer betekenisvol. Lk 4:1 beskryf Jesus as vol van die Gees na Sy doop. Die vers gaan dan voort om te praat van die Gees se betrokkenheid by Hom. Dit handel egter nie oor die Here se gáán woestyn toe nie, maar oor hoe die Gees Hom tydens die veertig dae bekragtig het: Hy is "deur die Gees in die woestyn gelei." Die betrokke werkwoord is in ‘n vorm wat dui op tydsverloop in die verlede (‘n imperfektum passief). Die Gees het Hom dus dwarsdeur die tydperk bygestaan. En hierna het Jesus "vol van die krag van die Gees" na Galilea teruggekeer (Lk 4:14).
Die hele versoeking, van begin tot einde, was dus onder beheer van die Heilige Gees. As volkome mens was ons Here algeheel afhanklik van Sy leiding, wysheid en bekragtiging.
Dit kan met sekerheid aanvaar word dat die Here dwarsdeur die tyd van Sy vernedering ewe afhanklik van die Heilige Gees was.

DIE HERE JESUS SE KRUISIGING

Die Hebreërskrywer gee vir ons ‘n betekenisvolle mededeling met betrekking tot die Here Jesus se kruisiging en ons tema: Christus het "Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer" (9:14).
Die vraag kan gevra word  –  in alle respek  –   waarom Jesus so afhanklik was van die Gees tydens Sy kruisiging? Het derduisende mense nie al  –  sonder hulp van die Gees  –  hulleself aan die dood oorgelewer nie? Wat van Moslem-fanatici, of Japanese kamikaze-loodse?
In die eerste instansie was die Here Jesus se dood nie ‘n gewone dood nie. Op Golgota het Hy God se toorn teen die sondeskuld van miljoene mense gedra. Wat meer is, die onbeskryflik hegte verhouding wat Hy van ewigheid af met die Vader gehad het, is aan die kruis verbreek. Die verskriklike realiteit van "My God, My God, waarom het U My verlaat?", het Hy reeds onderweg na Golgota voorsien.
‘n Verdere antwoord lê in die feit dat die kruisiging  –  soos enigiets wat op die regte manier vir die lewende God gedoen word  –  ‘n stuk aanbidding was. En in Jh 4  gee die Here Jesus vir ons die kwalifikasies vir aanbidding wat Sy Vader behaag: dit moet in gees en in waarheid geskied (19-24, OAV). Dit moet dus in hartsopregtheid en volgens God se geopenbaarde wil geskied. 1 
Vir die Here Jesus se kruisiging om in waarheid te geskied  –  dus presies, in die fynste besonderhede, volgens die Vader se wil  –  moes Hy voortdurend deur die Heilige Gees gelei en verlig word. Hy het gevolglik nie op Sy menslike oordeel staatgemaak nie, maar die Gees vertrou  –  die Een wat die diepste geheimenisse van God deursoek (1Kor 2:10-11).
Vir die kruisiging om in gees te geskied  –  dus in hartsopregtheid voor die Vader  –  was Jesus ewe afhanklik van die Heilige Gees. God vereis altyd ‘n totaal harmonieuse verhouding tussen hart en hand, tussen gesindheid en daad. As Hy Homself teensinnig, murmurerend of selfs stoïsyns aan die kruisiging sou oorgegee het, sou dit nie vir die Vader aanvaarbaar gewees het nie. Nee, dit moes in volmaakte vrywilligheid, blymoedigheid, ywer en geloof geskied.
Sonder die Heilige Gees sou die mens Christus Jesus se aanbidding nie volmaak en aanvaarbaar voor die Vader gewees het nie. Maar te danke aan die derde persoon van die Drie-eenheid het Hy homself "sonder smet" aan God geoffer (Hb 9:14, OAV)  –  en sodoende ons verlossing verseker.

DIE HERE JESUS SE OPSTANDING

Die Bybel skryf Christus se opstanding direk aan die Vader toe (Hd 2:24; Rm 6:4; 1Kor 6:14; Gl 1:1; Ef 1:20). Voorts is daar sterk aanduidings dat die Here Jesus self op een of ander manier aktief daarby betrokke was (Jh 2:19-21; 10:17-18). Tog suggereer Rm 1:3-4 dat die Heilige Gees ook ‘n rol gespeel het. Die NIV stel dit só: "… regarding his Son … who through the Spirit of holiness was declared with power to be the Son of God by his resurrection from the dead: Jesus Christ our Lord."
Sekerlik is Rm 8:11 ook betekenisvol as dit van óns opstanding praat, en van die feit dat die Heilige Gees aktief daarby betrokke sal wees: "Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon." Die sterk en onverbreekbare parallel wat die Nuwe Testament tussen Christus se opstanding en ons s’n trek, maak dit feitlik seker dat die Gees ook in die Here se opstanding aktief was.

WAT SÊ DIT VIR ONS?

VOETNOTAS

1.  So ‘n vertolking volg vanuit die konteks. "Gees" koppel terug met v.20-21: nie die uiterlike van aanbiddingsplekke nie, maar die innerlikheid van die menslike gees. "Waarheid" koppel terug met v.22: nie die onkunde van die Samaritane, wat net die eerste 5 boeke van die Ou Testament aanvaar het nie, maar die volle waarheid van God se hele openbaring aan die mens.

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00