JOHANNES 16:12-15 : BOVERTREK-BELOFTES

Dis die aand voor die Here Jesus se kruisiging. Die dissipels besef Sy taak op aarde is bykans afgehandel. Geweldige gebeure is op hande. Hy gaan spoedig vertrek.

GEES-GEÏNSPIREERDE INSTRUMENTE

Sekerlik is een van die dissipels se grootste kwellinge in die bovertrek, behalwe hulle bekommernis oor hoe hulle sonder Jesus gaan regkom, hulle onvermoë om al die lering wat hulle van Hom ontvang het, te onthou. Wat gaan hulle doen as Hy nie meer daar is om te vra nie? Waarskynlik is bloedweinig op skrif.

Dis teen hierdie agtergrond dat ons die beloftes oor die komende Heilige Gees – die Voorspraak, die Trooster, die Helper – daar in die bovertrek moet verstaan (Jh 14:16-17; 14:25-26; 15:26-27; 16:7-15). Die Gees sal hulle probleem aanspreek. Hy sal hulle alles leer en herinner aan wat nodig is om te onthou. Só sal Hy hulle “in die hele waarheid lei” (Jh 14:26; 16:13).

Sonder twyfel word die inspirasie van die hele Nuwe Testament hier geïmpliseer.

Ons kan aanvaar dat die apostels nie net besondere herinneringshelderheid beleef het tydens hulle prediking en skryfwerk ná Pinkster nie, maar dat hulle ook ‘n besondere diepte-insig in die Here Jesus se lering en optrede ontwikkel het. Algaande is die geheimenisse van die Koninkryk vir hulle oopgebreek. Hulle kry ‘n wonderlike greep op die universeel-reikende omvang van God se verlossingswerk in Christus, op die geïntegreerde samehang daarvan, en op die uiteindelike en asemrowende afronding daarvan.

En so word die apostels instrumente deur wie God Sy besondere openbaring – Sy hele waarheid – aan die mens tot vervolmaking voer.

DIE UNIEKHEID VAN DIE APOSTELS

In Jh 14:26 word ‘n uiters belangrike feit geïmpliseer: die Gees sou die dissipels “herinner” aan wat hulle by Jesus geleer het. Dis ‘n belofte wat noodwendig nét op die apostels van toepassing kan wees. Hulle is oog- en oorgetuies van die Here se lewe, lering en werk. Mens kan tog nie herinner word aan iets wat jy nie geweet of beleef het nie. 1

Dit het egter meer as goeie geheues ingehou. Die unieke roeping van die apostels – om kanale te wees van Nuwe Testamentiese openbaring – het meegebring dat hulle sekere werkinge van die Gees ervaar het wat gelowiges daarná nooit weer beskore sou wees nie. Benewens die direkte openbaringe wat hulle ontvang het, het die Gees hulle in staat gestel om ook bevestigende “tekens en wonders en kragtige dade” te doen – “die dinge wat ‘n apostel kenmerk” (2Kor 12:12). 2 Die apostels (en hulle onmiddellike medewerkerskring) 3 se wonderwerke het as doel gehad om die Goddelike gesag en betroubaarheid van hulle prediking en geskrifte te bekragtig. Dit was God se stempel van gesag op die Nuwe Testamentiese openbaring!

Dit is insiggewend dat wonderwerke in die Bybel konsekwent gepaard gaan met God se gee van openbaring. In die Ou Testament was daar twee seisoene van wonderwerke. Eerstens, tydens die uittog- en intoggebeure – wat ook ‘n tyd van besondere openbaring was: die Wet en ander geskrifte deur Moses. Tweedens, in die tyd van Elia en Elisa – wat ook die aanvang was van die profetiese bediening, waardeur God Sy openbaring in die volgende eeue sou gee. Net so word die inspirasie van die Nuwe Testament deur allerlei bonatuurlike werkinge van die Here gekenmerk.

Sekere aspekte van die Gees se werk was dus beperk tot die apostels en hulle tyd. Vergeet dit nooit nie: daar is ‘n sekere diskontinuïteit tussen die apostoliese en die na-apostoliese kerk.

DIE HART VAN DIE NUWE TESTAMENT

Ons moet nog een tree vorentoe gee – ‘n lewensbelangrike tree. Hiersonder sou ons Skrifbeskouing bedenklik gebrekkig wees.

In Jh 16:14-15 sê die Here Jesus twee keer dat die Heilige Gees “dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (OAV). Daarmee sê Hy dat Sy persoon, werk en woorde die onderwerp van die Gees se verkondiging sal wees. En inderdaad is Christus die saambindende tema van die Nuwe Testament en apostoliese prediking (vgl. bv. 1Kor 1:18, 23-24, 30-31; 2:2).

Dis noodsaaklik om te verstaan dat Jesus Christus – as Profeet, Priester en Koning – die kulminering en vervolmaking van God se selfopenbaring aan ons is. Hebreërs 1:1-2 stel dit in ‘n neutedop: “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun” (vgl. Jh 1:14). Dis waarom God se besondere openbaring tot ‘n einde móés kom, want wat is daar om by Christus te voeg? Dis soos die boonste spits van ‘n piramide: hoër kán dit nie. Wie kán iets by Hom voeg? Wie, wat Hom ken, wíl iets by Hom voeg?

Ten diepste het die Heilige Gees gekom om Jesus Christus te verheerlik (Jh 16:14). J.I. Packer verduidelik dit iewers min of meer só: Sy werk is as ‘t ware om met ‘n kollig op Jesus Christus te skyn terwyl Hy in mense se harte fluister: “Glo in Hóm; kyk, gaan en luister na Hom; dien en eer Hom!” In respek kan mens sê dat die Heilige Gees die skaam Persoon van die Drie-eenheid is. Hy wil nie in die kalklig wees nie; Hy wil Christus daar hê.

Niks bring meer heerlikheid vir die Here Jesus hier op aarde nie as dat Sy dissipels hulle hoogste vreugde vind in die “hele waarheid” oor Hom. En dis waaroor die Heilige Gees se werk ten diepste gaan; dis Sy eintlike doel as hy ons innerlik verlig om die Nuwe Testamentiese geheimenisse te begryp.

Maar dit strek nog verder: soos gelowiges die evangeliewaarhede oor Christus meer en meer deel van hulle lewens maak, verander dit hulle lewens en maak dit hulle tot eer van die Here steeds meer Christus-gelykvormig (2Kor 3:18).

Waar die Heilige Gees werk, is Jesus Christus as Profeet, Priester en Koning in die sentrum van mense se denke, oortuigings, emosies, toewyding, gehoorsaamheid en verkondiging. Nie alleen het ons hier ‘n fundamentele merkteken van outentieke Christenskap nie, dit is die heel eerste lakmoestoets vir die Gees se werk in ‘n gegewe situasie. Daarenteen, waar ‘n ander gees aan ‘t werk is, is die mens in die middelpunt (vgl. Jh 7:18).

Die Gees van die waarheid maak Christus vir ons “… wysheid uit God, en geregtigheid en heiligmaking en verlossing” (1Kor 1:30, OAV).

SAMEVATTING EN TOEPASSING

Ons is gewoond daaraan om in die eerste instansie aan die apostels te dink as die eerste sendelinge. Inderdaad. Die woord apostel beteken immers uitgestuurde. Tog lê hulle primêre roeping dieper as om bloot bekeerlinge te maak. Hulle moes getuies wees van die vleeswording van die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid as hoogste en finale Godsopenbaring aan die mens. Hulle moes dit en die implikasies daarvan oraloor verkondig, die kerk daarin vestig, en dit vir komende geslagte op skrif stel.

As Jesus die gawe van die Heilige Gees in die bovertrek belowe, is dit eerstens hiérdie roeping van die apostels waaroor dit gaan. Miskien word dit die heel beste saamgevat in Jh 15:26-27: “Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.”

Wie was van die begin af by Jesus? Die apostels. Wat moet hulle na die Here se vertrek doen? Hulle moet getuig. Wat moet hulle getuig? Hulle moet presies verkondig wat die Gees van die Vader in waarheid getuig. Wat getuig Hy? Hy getuig oor Christus!

Dís waarom hulle die besondere gawe ontvang om wonderwerke te doen. Dit was bevestiging van die betroubaarheid van hulle getuienis.

Nog ‘n hoekpen vir ‘n regsinnige Skrifbeskouing is nou onontkombaar duidelik: die genoegsaamheid van die Bybel. 

As God se selfopenbaring dan tot finale afronding gekom het in die menswording van Jesus Christus, beteken dit dat ons niks verder nodig het nie vir leer en lewe, vir redding en ‘n heilige lewe. 

Hier lê die diepste rede waarom die regsinnige kerk deur die eeue sommige Christene se aansprake op allerlei buite-Bybelse openbaringe afgewys het. En inderdaad het die miskenning van die diskontinuïteite tussen die apostoliese en na-apostoliese tydvakke tot baie Godonterende skade en verwarring in die kerkgeskiedenis gelei.

Laat ons weer en weer in verwondering wees oor die geïntegreerde eenheid van Ou en Nuwe Testament. Die profete het vooruit getuur, Christus gesien, en op honderde maniere van Hom getuig (E149). Die apostels het as getuies teruggekyk en dieselfde boodskap ver en wyd geproklameer – net sóveel meer oopgevou en in fokus.

Waarlik, die Bybel is God se selfopenbaring; die Heilige Gees is die Agent, en Jesus Christus die fokus daarvan!

Die apostel Johannes se woorde in 1Jh 1:1-4 is ‘n gepaste slotwoord: “Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.”

VOETNOTAS

1. Dit is betekenisvol dat saamwees met die Here Jesus van Sy doop af tot en met die hemelvaart, die kwalifikasie was waaraan ‘n apostoliese opvolger vir Judas Iskariot moes voldoen (Hd 1:21-22).

2. Vgl. ook Mk 16:20; Hd 2:22; 14:3; 19:11-12; Rm 15:18-19; 1Kor 2:4-5; Hb 2:3-4.

3. Dele van die Nuwe Testament is deur die apostels se medewerkers geskryf, maar dit het geskied na aanleiding van hulle prediking en onder hulle leiding en toesig.

Paulus, skrywer van ‘n groot deel van die Nuwe Testament, was iets van ‘n uitsondering. Hy was ‘n apostel in eie reg, maar tog nie ‘n oog- en oorgetuie in die gewone sin van die woord nie. Hy beroep hom egter onder meer in Galasiërs en 2Kor 12 op bonatuurlike ervaringe en openbaringe wat hy gehad het. Dié het hy aan die beoordeling van die apostels onderwerp – waarna hulle hom as mede-apostel aanvaar het. (Gl 1:11-2:10). Hy sê dan ook dat hy “die dinge wat ‘n apostel kenmerk … verrig: tekens en wonders en kragtige dade” (2Kor 12:12). In elk geval staan dit vas dat dit wat Paulus gepreek en geskryf het volkome in harmonie is met die openbaring wat deur die ander apostels gekom het. In 2Pt 3:15-16 bevestig die leier van die apostels dat hulle Paulus se lering as deel van die Skrif beskou.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00