LUKAS 18:1-18 : NIKS SAL GEHEIM BLY NIE

In sy boek, The Great Evangelical Disaster, vertel Francis Schaeffer (1912-1984) van ‘n skerp rotsrif bo in die berge naby sy tuiste in Switserland. Weerskante van hierdie rif is daar twee diep valleie. Winterstye bedek sneeu die rif geheel en al. Die aaneenlopende eenheid is egter net ‘n illusie. Want die rif is ‘n waterskeiding. Dit beteken dat een deel van die sneeu, as dit smelt, na die een vallei afloop, en ‘n ander deel, in direkte kontak daarmee, na die oorkantse vallei.
Dis egter nie al nie. Een vallei is deel van die Rynrivier se opvanggebied. Dit beteken dat water wat aan daardie kant afvloei, mettertyd in die Ryn beland, en uiteindelik in die koue water van die Noordsee. Maar sneeu wat ‘n halftree verder smelt, beland in die meer van Geneve en Rhonerivier, en uiteindelik in die warm waters van die Middelandse See – ‘n duisend myl vanaf die Rynmonding.
Dis wat waterskeidings doen. Dit sny, dit verdeel, dit lê bestemmings vas – dis lotsbepalend.
Schaeffer gaan dan voort om aan te toon dat die kerk se Skrifbeskouing so ‘n waterskeiding is.
Inderdaad! Wat ons glo oor die Bybel is in elke opsig lotsbepalend. Die effekte daarvan kring baie ver uit – tot geslagte ná ons. God se waarheid is ‘n waarheid in ekwilibrium. Verskuif die hoekpenne net ‘n fraks, en kantelinge vind plaas wat die lewens en bestemmings – dikwels ewige bestemmings – van tallose mense ingrypend raak.
Voorwaar blind is die gelowige wat nie besef dat ons vandag op so ‘n waterskeiding staan nie. Eintlik is dit al lankal die geval. Maar deesdae is die aanslag teen een van die wekroepe van die kerk deur die eeue, Sola Scriptura, meer intens as ooit. Anders as in die verlede klim ongeloofsteoloë en Skrifkritiese predikante met al hoe meer brawade uit die kas. So byvoorbeeld het ‘n bekende teoloog en invloedryke opleier van predikante onlangs openlik in die media die God van die Bybel die rug toegekeer en panteïsme en panenteïsme gepropageer1. Sulke mense kan dit nou waag omdat ‘n groot deel van die institusionele kerk grootliks sy wil en vermoë om tug toe te pas verloor het.
In die lig hiervan wil ek vir ‘n paar weke kyk na hoe die Here en Sy apostels die Bybel gesien het. Ek is ‘n volgeling van Jesus en wil glo wat en soos Hy geglo het. Slimmer as Hy durf ek nie wees nie!

LK 8:1-18 : NIKS HET GEHEIM GEBLY NIE

Hoewel alle Bybelvertalings hierdie gedeelte onderverdeel in ‘n aantal los paragrawe, elkeen met sy eie opskrif, is dit eintlik ‘n eenheid.

Jesus was ‘n saaier
Die gedeelte begin met ‘n beskrywing van Jesus wat van dorp tot dorp die evangelie van die koninkryk verkondig. Skares mense luister na Hom. As Hy dan die bekende gelykenis van die saaier vertel, van ‘n man wat die "woord van God" saai (v.5-8; 11-15), is dit duidelik dat Hy in die eerste instansie van Homself praat. Só gaan dit nou maar eenmaal in Sy bediening: baie in die groot skare luister sonder om te hoor; ander hoor oënskynlik, maar weldra blyk dit dat ook hulle nie regtig begryp het nie; en dan is daar ‘n handjievol wat regtig en lewensveranderend verstaan.

Álles gaan geopenbaar word.
As net ‘n klein klompie mense dan baat vind by Sy prediking, waarom sloof Jesus Homself so af om orals te preek? Die antwoord op hierdie vraag word in die gelykenis van die lamp gegee (v.16-18).
God se lig vir die wêreld is aan ‘t kom in Sy persoon, prediking en werk. Hoe sou Hy dan soos ‘n askeet Homself kon afsonder? Hoe sou Hy God se waarheidswoord vir Homself kon hou, en dit wegsteek – soos onder ‘n bed?
Presies hoe belangrik Sy boodskap werklik is, verduidelik Hy in v.17. Die vers begin in die oorspronklike taal met "want", ‘n redegewende voegwoord (vgl. OAV). Dís die rede waarom Hy elke dag onvermoeid preek. Dís waarom die lamp op ‘n staander gesit moet word. Almal moet dit kan sien. Almal moet die boodskap hoor. Want die lig wat Hy bring, is ‘n lewensbelangrike boodskap van God! Dinge wat tot nou toe verborge was, gaan bekend gemaak word; trouens, dit gebeur reeds.
Die vers sê egter méér: God openbaar nie net nie, Hy openbaar alles! "Niks" van wat Hy aan die mens wil openbaar, gaan langer geheim bly nie. Dis waarom almal moet hoor. Dis lewensbelangrik. Dis God se finale woord aan die mens! Nou in hierdie dae praat Hy eens en vir altyd. Na dese gaan Hy niks verder sê nie.

Apostoliese ore
Vers 18 onderstreep die gewigtigheid van die saak. Die Here druk Sy dissipels op die hart om noukeurig na God se openbaring te luister, want die feit dat hulle nou "het", dui daarop dat hulle ook ontvangers van nog meer lig gaan wees. Hierdie belofte geld nie vir alle mense nie – net vir diegene wat "het". Wat hét hulle? Die antwoord is in v. 8: hulle het "ore" – ore wat kan "hoor" (v.8).
Hierdie vermoë om te kan hoor, is ‘n genadegawe van God – Hy het dit aan hulle "gegee" (v.10). En wat hoor hulle met hierdie bonatuurlike ore? Hulle hoor "die geheime van die koninkryk". Daarsonder sou geen apostel – wat staan nog ander mense – die geheimenisse van die koninkryk van God kon begryp nie. Selfs vir hulle wat elke dag saam met Jesus was sou hierdie diep waarhede versluier gebly het. In 1Kor 2:6-16 word verduidelik dat dit die Heilige Gees is wat die innerlike verligting gee.
Hierdie is ‘n waarheid wat die Jesus baie, baie sterk by Sy luisteraars wou tuisbring. Die Grieks van v.8 sê dat Hy oor en oor uitgeroep het: "Wie ore het en kan hoor, moet luister!" (Gr.imperfektum).

‘n Uiters belangrike tegniese begrip
Die Here Jesus gebruik ‘n baie betekenisvolle woord in v.10 (vgl. ook v.17): "geheim" (later in die Nuwe Testament "geheimenis"; en in die OAV "verborgenheid"). Die bepaalde woord (Gr.musterion), word meer as twee dosyn keer in die Nuwe Testament gebruik. Dit het konsekwent ‘n baie bepaalde betekenis. Dit dui op waarheid waarvan niemand sou gedroom het as God dit nie geopenbaar het nie – maar waarheid wat Hy inderdaad geopenbaar het.
So word die woord dan ‘n tegniese begrip wat dui op Nuwe Testamentiese openbaring.2

Openbaringsontploffing
Min het die dissipels besef hoeveel verbysterende openbaringslig in die volgende handjievol jare op hulle sou daag. Die kruis! Die opstanding! Die hemelvaart! Pinkster! Die Nuwe Testament!
Maar om hierdie waarheid te verstaan en te vertolk, daarvoor sou die apostels deur die Heilige Gees geïnspireer moes word (2Pt 1:21).

Opsommend
Die Here Jesus leer dus – weliswaar kripties, soos dit Sy manier is met die gelykenisse – ‘n paar kardinaal belangrike dinge in hierdie verse.
Eerstens, die oopbreek van ‘n massa allerbelangrike koninkryksopenbaring is op hande.
Tweedens, God gaan alles openbaar, die hele waarheid. Hy gaan niks terughou van wat Hy vir die mens wil sê nie. Natuurlik gaan Hy nie álle waarheid openbaar nie. Daar wag baie meer met en na die wederkoms. Maar Hy bedoel alles wat nodig is vir híérdie bedeling.
Derdens, hierdie openbaring geskied deur Jesus self. Dis in Sy persoon, woorde en werk.
Vierdens, só duiselingwekkend groots is die waarhede wat aan’t kom is, dat ‘n spesiale genadewerking van die Here in ‘n mens nodig is voordat hy hoegenaamd iets daarvan kan begryp.
Vyfdens, dit is van dringende belang om noukeurig ag te slaan op hierdie openbaring.

WAT SÊ DIT VIR ONS?

SLOTWOORD

Nog ‘n keer Francis Schaeffer: "As ons nie deur die woord en ons meegaande lewenstyl sterk standpunt inneem vir die waarheid en teen die valse leer nie, is ons besig om ‘n muur te bou tussen die volgende geslag en die evangelie."
Vergeet dit nooit nie: die kerk wat ons kinders en kleinkinders op ewigheidspaaie moet lei, word vandag gevorm.
‘n Heilige roeping rus op elkeen van ons! Moenie ‘n padda wees wat dood kook in die pot nie! En almal van ons is wagters op die mure! (Eseg 3).

Voetnotas
1. ByDie Burger, 28 Februarie 2009, p.4 (vgl. sy konklusie).
2..Vergelyk o.a. Rm 16:25-26; 1Kor 2:6-11; Ef 3:2-6; Kol 1:24-27; 1Tm 3:16; Op 10:7

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00